Potgooi – Aktueel 5 Mei 2017

Aangebied deur Corrie elke Vrydag om 5nm

Indien jy wil adverteer op die radio of ons web blad of blootstelling  ook internasionaal vir jou produk wil hê kontak my gerus vir ‘n pakket om jou sak te pas

Nooi gerus al jou vriende en familie om saam met ons te kuier gaan like ons facebook blad gaan na tunein al die skakels om te luister is is op die facebook blad en die web blad en ook by al die program aankondigings

Daar is nie ‘n verskoning nie want met tunein kan jy enige tyd enige plek wêreldwyd saam kuier maak nie saak of jy op die onherbergsaamste gebied of in jou kar is nie met tunein kan jy op enige sel foon , android tablet of slimfoon saam kuier solank jy internet opvangs het

Ek gee gratis domains weg wat jy nie elke jaar hoef te hernu nie met slegs ‘n ongelooflike R20 hosting fooi per maand so  as jy ‘n web blad van jou eie wil hê om jou produk te bemark van skrywer tot koekbakker  kontak my ek help jou graag

 

Vandag  begin ons met die nuutste brokkies in die nuus Die program is saam gestel uit 21 Artikels

Artikel 1

 

Staking aan bou van dam kos R1 miljard meer

May 2, 2017  

Aangesien daar gesloer word met die verhoging van die wal van die Clanwilliam-dam se wal, gaan die proses wat aanvanklik R2,2 miljard sou gekos het, nou R1 miljard meer kos.

Die rede daarvoor is dat die betrokke minister, Nomvula Mokonyane, die bouwerk ses maande gelede laat stop het vir ‘n tenderproses.  Intussen is al die ander infrastruktuur, soos geteerde paaie, werkswinkels en watersuiweringsaanleg is reeds in plek, terwyl eiendomme in die vergrootte waterarea reeds onteien is. Nou gebeur daar niks.

Die damwal gaan met 13 meter verhoog word om die damkapasiteit met 70 miljoen m³ te vergroot.

Vryburger

Artikel 2

Vandale laat duisende pendelaars lank wag

Deur Romantha Botha 05 Mei 2017 16:46

Alle Metrorail-treine in Kaapstad is Vrydagmiddag meer as ’n uur lank vertraag nadat vandale Donderdag seintoerusting op die spoornetwerk beskadig het.

Duisende pendelaars was gevolglik Donderdag en Vrydag tydens spitstyd gestrand toe meer as 20 treine gekanselleer moes word.

Daphne Kayster, ’n Metrorail-woordvoerder, het gesê die vertragings was weens vandalisme van seintoerusting by Nolungile en Bishop Lavis.

Kayster sê dit het tot die kansellasie van treine op die sentrale lyn gelei.

Vandale het ook seintoerusting in die Langa-Bonteheuwel-Lavistown-gebied en in Nonkqubela beskadig.

Sy sê die voortdurende plundering en diefstal van Metrorail se bates, naamlik kabels en ander metaalkomponente, lei daartoe dat daar nie aan klante se verwagtinge en behoeftes voldoen kan word nie.

Treine moes afsonderlik magtiging kry voordat hulle kon ry, wat langer vertragings tot gevolg gehad het, sê Kayster.

Metrorail het vir die onvermydelike vertragings om verskoning gevra en pendelaars bedank vir hul geduld.

Donderdag, tydens spitsverkeer, was alle treine langer as twee ure vertraag en honderde mense het lank op stasies op treine gewag.

Teen Vrydagmiddag het Metrorail nog nie gereageer op vrae oor hoe lank die vertragings sal voortduur, of hoe lank dit gaan neem om die seintoerusting te vervang nie.

Netwerk24

Artikel 3

Man swaar gevonnis vir dubbele plaasmoord

Deur Marietie Louw-Carstens 03 Mei 2017 14:36

’n Dubbele plaasmoord wat die gemeenskap van Musina in 2010 geruk het, is as “barbaars en onmenslik” in die hooggeregshof in Thohoyandou, Limpopo, beskryf.

Regter Khami Makhafola het dit Dinsdag só genoem in die vonnisoplegging van Gibson Banda (46), ’n Zimbabwiër, wat aan die moord op Johan Greyvenstein (54) en sy vrou, Annelise (53) skuldig bevind is.

Makhafola het Banda vir elke moord ’n lewenslange vonnis opgelê en ’n bykomende 21 jaar vir roof met verswarende omstandighede, asook die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Banda het as tuinier by die Greyvensteins gewerk en het hulle met hul eie .38-rewolwer doodgeskiet.

Die egpaar was bekend in die Musina-distrik en is op 2 November 2010 oorval en vermoor toe hulle ná ’n besoek aan die dorp by die huis aangekom het. Die Greyvensteins het by hul dogter, Samantha Jansen, gekuier en hul inkopies was nog agter op die bakkie waarin hul lyke gevind is.

Jansen sê sy is verlig dat Banda swaar gestraf is. Die familie is erg getraumatiseer deur die moorde en die voortslepende hofsaak wat bykans sewe jaar gesloer het. Jansen het destyds gesê haar ma se laaste woorde aan haar was: “Ek is lief vir jou, my kind.”

’n Buurman van die Greyvensteins het onraad vermoed toe hy hulle nie in die hande kon kry nie en het die polisie ontbied. Hul Toyota Hilux-bakkie het verlate onder ’n treinbrug op hul hoewe op die Campbell-pad, sowat 10 km buite Musina, gestaan. Dit was sowat ’n kilometer van hul huis.

Johan is agter sy linkeroor geskiet. ’n Seil is bo-oor sy lyk gegooi waar hy skuins bo-op sy vrou in die kajuit van die bakkie gelê het.

Die polisie het die .38-rewolwer, ammunisie, twee silwer polshorlosies, ’n Panasonic-videospeler, ’n Sanyo-DVD-speler en ’n sweismasjien by Banda gekry.

Die hof het gehoor dat Banda ook twee Raleigh-fietse en die Greyvensteins se twee selfone gesteel het.

Banda het onskuldig gepleit.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Adv. Ivy Thenga, NVG-direkteur in Limpopo, het die vonnis verwelkom.

“Geregtigheid het geskied. Dit is net bitter jammer dat onskuldige mense dood is.”

Netwerk24

Artikel 4

Coligny-boere het ‘nooit aan kind geraak nie’

Deur Simon Sonnekus 03 Mei 2017 14:57

Die twee mans van Coligny wat verdink word van die moord op Matlhomola Mosweu (16) sê hulle het nooit aan die kind geraak nie.

Hennie Du Plessis, wat namens die verdediging van Phillip Schutte (34) en Pieter Doorewaard (26) vir brig. Clifford Kgorane ondervra het, het in die hof die beskuldigdes se verklaring gelees.

“Die twee beskuldigdes was op pad van die Rietvleiplaas, waar hulle besig was met boerderybedrywighede toe hulle twee seuns gewaar het wat sonneblomme steel. Toe hulle die seuns konfronteer, het die een hom oorgegee, terwyl die ander een in die land weggehardloop het. Hulle het die seun beveel om op die bakkie te klim en het nie ’n hand teenoor hom gelig nie,” het Du Plessis gesê.

Volgens die verklaring was Schutte en Doorewaard op pad na die polisiekantoor toe hulle stadiger begin ry het om te draai. In die draai het die kind van die bakkie afgespring.

“Die beskuldigdes sê hulle het onmiddellik stilgehou en gesien hoe die kind sonder enige beweging lê. Hulle het toe ’n man en ’n vrou wat in dieselfde rigting gestap het, gevra om die kind op te pas terwyl hulle polisiekantoor toe jaag,” het Du Plessis gesê.

Schutte en Doorewaard het toe vir die polisie verduidelik wat gebeur het en hulle gevra om ’n ambulans te ontbied.

“Wat meer moes hulle doen? Hulle het die polisie genader en vir hulle verduidelik waar die seun is. Geeneen van hulle is dokters nie en hulle was onder geen verpligting om te bly nie. Hulle het gedoen wat enige redelike mens sou doen sonder mediese bystand,” het Du Plessis aan Kgorane gestel.

Kgorane het egter gesê as dit hy was, sou hy van sy selfoon af hulp ontbied het en op die toneel gebly het.

“As ek nie polisie kon bereik nie, sou ek die pasiënt weer oplaai en hom na ’n plek neem waar ek hulp kon ontbied. Ek sou daarna teruggegaan het na die toneel, veral omdat die motor deel is van die misdaadtoneel,” het Kgorane gesê.

Du Plessis het verder gesê die beskuldigdes dra geen kennis van enige ooggetuie nie en ontken ten sterkste aantygings dat hulle die ooggetuie dronk gemaak het en op hom geskiet het.

Intussen het landdros Magaola Foso vir Kgorane oor die kole gehaal omdat die ooggetuie nog nie deelgeneem het aan ’n uitkenningsparade nie.

“Kan die beskuldigdes, soos wat dit nou staan, verbind word met die kind?” het hy vir Kgorane gevra.

Die hof het intussen vir middagete verdaag en sal om 14:00 hervat word.

Artikel 5

Coligny: Mans 3 keer na polisie met verdagtes

Deur Hanti Otto 05 Mei 2017 13:00

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte moes sover die jaar reeds drie keer verdagtes vang wat hul werkgewer se sonneblomme gesteel het en hulle self na die polisie neem.

Dié inligting het Vrydag in aanvullende borgtogverklarings deur die twee mans in die landdroshof in Coligny uitgekom.

Die twee word van die moord van die 16-jarige Matlhomola Mosweu aangekla.

Hulle het gevoel die aanvullende verklarings is nodig, nadat daar “verrassende” inligting tydens brig. Clifford Kgorane, ’n lid van die ondersoekspan, tydens hulle borgtogaansoek uitgekom het.

Luidens die verklarings was die beskuldigdes op 20 April net klaar met hul werk op die plaas, Rietvlei, en op pad na die dorp.

Omstreeks 09:30 het hulle twee seuns sien sonneblomme van hul werkgewer se oes steel.

“Ons kon een vang, maar die ander een het weggehardloop. Ons het nooit ’n hand vir die kind (wat hulle gevang het) gelig nie. Ons het hom beveel om agterop die bakkie te klim sodat ons hom na die polisiestasie kon neem.

“Dit is belangrik om te weet dat die voorval (rakende Matlhomola) nie ’n geïsoleerde voorval was nie. Ons is in die verlede verskeie kere deur werkers van die plaas gekontak oor mense wat sonneblomme steel. Ons het die verdagtes gevang en na die polisie geneem.

DIE POLISIE HET NOG NOOIT ’N PROBLEEM MET HIERDIE METODE VAN ONS GEHAD NIE

Borgtogverklarings

“Die polisie het nog nooit ’n probleem met hierdie metode van ons gehad nie,” het die mans gesê.

Dit was om die draai op die grondpad, toe die beskuldigdes spoed verminder het, dat Matlhomola glo van die bewegende bakkie afgespring het in ’n poging om te ontsnap.

Volgens die beskuldigdes het hulle dadelik omgedraai en was geskok om die kind, wat bewusteloos gelyk het, op die grond te sien lê.

Aangesien nie een van hulle enige noodhulpkennis het nie, het hulle besluit om hulp by die polisiestasie, so 2 tot 3 km verder, te gaan soek.

Dit was toe wat hulle ’n man en ’n vrou in die pad sien stap het.

“Ons het hulle aangesê om die kind op te pas dat ander karre nie oor hom ry nie. Ons is na die polisiestasie toe waar ons die voorval gerapporteer het en ’n ambulans versoek het. Ons het ook die ligging van die plek gegee waar die kind gelê het.

“Die polisiebeampte met wie ons gepraat het, het net ons kontakbesonderhede gevat, gesê die polisie sal die saak verder opneem en ons kontak indien nodig. Nooit het die polisie versoek dat ons die bakkie aan hulle oorgee nie,” het Doorewaard en Schutte aangevoer.

Hulle was nie bewus van enige ooggetuies soos die brigadier aangevoer het nie.

“As daar was, sou ons hulle gevra het om na die kind te kyk terwyl ons gaan hulp soek,” het die verklarings afgesluit.

Netwerk24

Artikel 6
Coligny: Nóg betogers daag op by hof

Deur Hanti Otto 05 Mei 2017 14:42

Waar daar Vrydagoggend buite die landdroshof in Coligny se hoofstraat net ’n handjievol betogers was, het hulle teen middagete tot ’n massa vermeerder van wie talle skoolkinders blyk te wees.

Die polisie het ’n linie tussen die singende en skreeuende betogers en die hof se heining gevorm om te verseker dat dinge kalm bly.

In die hofsaal, waarvan die deure deur die polisie gesluit is, het landdros Magaola Fosco in ’n stadium gesteurd deur die venster gekyk toe die mense buite luidrugtig begin raak.

’n Forsgeboude polisieman in volle onlustedrag het uitgestap. Sekondes later het die betogers sagter gesing.

Die hof se deure is as ’n veiligheidsmaatreël gesluit, maar ook sodat niemand van buite af die twee beskuldigdes, Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34), se gesig kon sien nie, omdat daar nog ’n uitkenningsparade gehou moet word.

Die twee word daarvan beskuldig dat hulle op 20 April vir Matlhomola Mosweu (16) van ’n bakkie afgegooi het, wat die kind se dood veroorsaak het.

Doorewaard en Schutte hou vol dat die kind self van die bakkie afgespring het toe hulle hom na die polisie wou neem.

Adv. Pieter Smit, vir Doorewaard, het intussen met sy betoog vir die beskuldigdes se vrylating op borgtog begin.

Hy het gesê dat brig. Clifford Kgorane, lid van die ondersoekspan, ten tyde van die borgtogaansoek toegegee het dat die staat se enigste getuie onder getuiebeskerming is en dat hy twyfel of die beskuldigdes hulle verhoor sal ontduik as hulle borgtog sou kry óf met getuienis sal inmeng.

Daarby, het Smit gesê, sal die twee beskuldigdes by ander adresse, ver van Coligny af, bly indien hulle op borgtog vrygelaat word.

HIERDIE GETUIE HET EERS DIE AAND VOORDAT DIE BORGTOGAANSOEK SOU BEGIN, SY VERSKYNING OP TELEVISIE GEMAAK

Adv. Pieter Smit, vir Doorewaard

Smit het aangevoer dat Kgorane sy eie getuienis weerspreek het en nie geloofwaardig is nie.

Hy het ook verwys na die sogenaamde “ooggetuie” wat glo gesien het hoe die beskuldigdes die kind van die bakkie afgegooi het en dat hulle hom (die ooggetuie) toe aangerand en geïntimideer het.

“Hierdie getuie het eers die aand voordat die borgtogaansoek sou begin, sy verskyning op televisie gemaak. Daar het hy beweer dat daar drie verdagtes was. Volgens Kgorane is hy vertel daar was twee verdagtes.

“Hy sê die beskuldigdes het die ooggetuie by sy huis gaan dreig, nadat hy sy adres vir hulle gegee het.

“Wat is die waarskynlikheid dat die ooggetuie, soos beweer is, sy regte adres sal gee nadat die mans hom – volgens die getuie – ontvoer het, aangerand het, met die kar gejaag en skote op hom afgevuur het en hom soveel drank gevoer het dat hy siek geword het?” het Smit gevra.

Dit maak ook nie sin nie, het die advokaat gesê, dat die beskuldigdes die oorledene, volgens die ooggetuie, twee maal van die bakkie afgegooi het, die ooggetuie geïntimideer het, maar self na die polisie is, die presiese ligging van die “misdaadtoneel” gegee het en probeer het om die kind se lewe te red.

In teenstelling daarmee het ao. Jeremiah Modisane getuig dat die beskuldigdes reeds twee maal dat hy aan diens was, kinders by die Coligny-polisiekantoor aangebring het wat glo op die plaas mielies wou steel.

“Volgens Modisane se getuienis was daar nooit enige bewerings dat die beskuldigdes die kinders aangerand het nie. Hy het getuig dat op die dag van die voorval die beskuldigdes hulle ná die voorval kom aanmeld het, mediese hulp versoek het en geskok en bang gelyk het.

“Dit staaf die beskuldigdes se weergawe.”

Die betoë in die borgtogaansoek het om 14:00 voortgegaan.

Netwerk24

Artikel 7

Grondgryp-saak teen Malema uitgestel

05 Mei 2017 13:50

Die hofsaak wat spruit uit Julius Malema, EFF-leier, wat sy party se ondersteuners aangemoedig het om onbewoonde grond te beset, is in die landdroshof in Newcastle tot Oktober uitgestel.

Staatsaanklaers het gevra dat die saak op 13 Oktober voortgaan, terwyl ’n ander hof nog moet beslis oor die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956. Malema word ingevolge dié wet aangekla en sy regspan het aangedui hulle wil die wet ongrondwetlik laat verklaar.

Nadat die hof Vrydag verdaag het, het Malema weer ’n beroep op sy ondersteuners gedoen om grond te beset, omdat hy meen ’n wit regter “sal nooit die pyn van die grondkwessie verstaan nie”.

NIKS IS PYNLIKER AS OM DIÉ STRYD VIR ’N WIT REGTER TE PROBEER VERDUIDELIK NIE, WANT GEEN WIT MENS SAL DIT OOIT VERSTAAN NIE

“Niks is pynliker as om dié stryd vir ’n wit regter te probeer verduidelik nie, want geen wit mens sal dit ooit verstaan nie,” het Malema volgens die party gesê.

“Gaan beset asseblief grond. Die stryd vir grond het daartoe gelei dat talle swart mense nou ’n tuiste het.”

Malema is in 2016 twee keer daarvan aangekla dat hy die Wet op Oproerige Byeenkomste oortree het deur opmerkings wat hy aan ondersteuners in Newcastle en Bloemfontein gemaak het.

Hy is sedertdien ook ingevolge gemene reg vir dieselfde uitlatings aangekla. Dié saak sal in Julie verhoor word.

Die EFF-leier het in 2014 aan sy ondersteuners gesê hulle moet onbewoonde grond beset, omdat hulle dit nodig het om te werk en te eet.

“As daar onbewoonde grond is, sal ons dit gaan beset . . . julle moet dieselfde doen,” het hy by dié geleentheid gesê.

Die EFF hou vol dat die aanklagte teen Malema ’n mors van tyd is, en dat dit ’n poging is om die party se aandag van sy politieke program af te lei. – News24

Artikel 8

Regter bedank voor tugverhoor.

Nadat ‘n joernalis ‘n waarskynlike “van die rekord”-gesprek met ‘n Regter openbaar gemaak het, en die Regter as gevolg daarvan geskors is hangende ‘n tugproses, het die Regter besluit om te bedank.
Die joernalis, Gillian Schutte, het uittreksels van geskrewe korrespondensie met Regter Mabel Jansen oor die voorkoms van verkragting in die swart kultuur geplaas, en dit het tot verontwaardiging van mense uit daardie kultuur gelei.
In skynbare vertroulike korrespondensie met die joernalis, het die Regter uit haar ervaring op die regbank gedeel en daarvolgens die stelling gemaak dat in die swart kultuur is ’n vrou daar om hulle plesier te gee en dit word as ’n absolute reg gesien en ’n vrou se toestemming is nie nodig nie.
Die Regter het ook uit haar ervaring gepraat toe sy aan die joernalis gesê het dat sy nog ’n swart meisie moet ontmoet wat nog nie verkrag is teen die tyd dat sy omtrent 12 was nie. “Ek is doodernstig.”
Nadat die joernalis die inligting openbaar gemaak het, het die Regter verskeie doodsdreigemente ontvang.
Skynbaar het die joernalis niks oorgekom nie nadat sy een van die etiese reëls van die joernalistiek, naamlik om “van die rekord” gesprekke te openbaar, oortree het, maar die Regter is op spesiale verlof geplaas terwyl die Regterlike Dienskommissie (RDK) besig was om die saak te ondersoek met die oog op ‘n dissiplinêre verhoor.

Foto: Regter Mabel Jansen.

Die Vryburger, 5 Mei 2017

Artikel 9

Zuma nederlaag in hof dalk net tydelik

Die ANC-president, Jacob Zuma, het uit die hooggeregshof in Pretoria weggestap met ‘n kostebevel teen hom in sy sak, en ‘n bevel dat hy binne vyf dae die rekord, korrespondensie en verslae oor sy besluit van 31 Maart om Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas as minister en adjunkminister van finansies in die pad te steek, aan die DA se prokureurs te verskaf.

Regter Bashier Vally het gesê hy sal later redes vir die kostebevel teen Zuma verskaf.

Die DA het in die aansoek voor die hof aangevoer dat Zuma irrasioneel opgetree het met sy omstrede kabinetskommeling, en het hulle aansoek op hofreël 53 gebaseer.

Grondwetkenners stem egter in hierdie opsig saam met Zuma se verweer dat dié reël net van toepassing is op administratiewe besluite en nie op uitvoerende besluite nie.

Daar word algemeen verwag dat Zuma teen die bevinding gaan appelleer en kenners is van mening dat dit waarskynlik suksesvol sal wees.

Foto: Regter Bashier Vally

Vryburger

Artikel 10

Bob kom slaap in Durban

May 5, 2017 –

Die Zimbabwiese diktator, die 93-jarige Robert Mugabe, het ook onverwags opgedaag by die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se beraad in Durban.

Dit is egter onseker wat hy daar doen. Hy is al bekend daarvoor dat hy vas aan die slaap is by amptelike geleenthede, en in Durban was dit geen uitsondering nie. Toe die verrigtinge behoorlik op dreef gekom het, het sy slapie net so goed op dreef gekom.

Dit is nie seker of hy op pad was om te slaap nie, en of hy nog deur die slaap was toe hy die stelling gemaak het dat Zimbabwe se ekonomie, naas dié van Suid-Afrika, die beste van die vasteland is.

Hy het ontken dat Zimbabwe ‘n falende staat is en geroem op die land se 14 universiteite (waarvan heelwat deur kolonialiste gebou is) en dat 90% van die land se inwoners geletterd is.

Van die mense in die gehoor het openlik vir hom gelag.

Vryburger

Artikel 11

SAID aangevat oor agterstallige terugbetalings

May 5, 2017 –

Boere en sakemanne worstel al jare met die probleem dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sloer met terugbetalings van BTW.

In sommige gevalle is die bedrae so groot, dat besighede wat die terugbetalings moet kry, met geweldige kontantvloei probleme te kampe kry as gevolg daarvan, en in ‘n hele aantal gevalle het dit selfs gelei tot die likwidasie van besighede.

Na aanleiding van die klagtes wat ook by VF plus uitgekom het, het dié party besluit om ‘n klag oor die saak by die ombudsman vir belasting in te dien.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se voorsitter en parlementêre woordvoerder oor ekonomie, sê dit is ironies dat die inkomstediens self nou op hierdie wyse bykomende druk op sakeondernemings plaas aangesien die voeteslepery met BTW-uitbetalings ʼn groot invloed het op maatskappye se kontantvloei.

Hy sê dit is so goed as om die gans wat die land se goue eiers moet lê, van kos en water te ontneem, maar steeds te verwag dat die mandjie weer en weer gevul moet word.

“Dit is ook opmerklik dat ʼn tendens ontstaan het dat oudits toenemend gedoen word waar die SAID terugbetalings moet doen, maar nie wanneer die situasie omgekeerd is nie.

“Die VF Plus is ook gevra om vas te stel of die inkomstediens nie vir politieke doeleindes misbruik word nie deur onder meer parlementslede van opposisiepartye uit te sonder vir ouditering. Die inkomstediens sal hieroor antwoorde moet verskaf,” sê adv. Alberts.

Vryburger Nuus

Artikel 12

Hoër Onderwys ook in geldknyp

May 4, 2017 –

Die skuld word nou voor die sogenaamde #FeesMustFall-veldtog geplaas, maar die feit is dat die Departement van Hoër Onderwys onder geweldige finansiële druk verkeer.

Die departement se verantwoordelike minister, die kommunistebaas, Blade Nzimande, moes die erkenning in die parlement maak. Hy probeer nou om geld te kry by die parlement.

Desnieteenstaande probeer hy volhou met die sosialistiese beleid van gratis onderrig aan die sogenaamde laermiddelklas-huishoudings.

Tog wil dit voorkom of daar onderliggend ‘n groter probleem is aangesien die departement verlede jaar R32 miljard gekry het, en vanjaar in die middeltermynbegroting ook R5 miljard toegeken is aan die departement.

Vryburger Nuus

Artikel 13

Motoriste ignoreer e-tol

May 4, 2017 –

Sonder om openbare proteste te hou, paaie te versper, of brand te stig en winkels te plunder, het motoriste in die veral Pretoria en Johannesburg gebiede, stil-stil hulle eie protes aan die gang, met suksesvolle resultate.

Motoriste steur hulle nie noemenswaardig aan die e-tol stelsel op die paaie rondom die twee stede nie, en Sanral het nie die vermoë om die gelde te verhaal nie.

Die sukses van dié situasie is dat Sanral nie geld het om nog meer paaie in tolpaaie te omskep nie. Hulle het beoog om nog e-tolprojekte van meer as honderdmiljard rand  te vestig, maar kan dit nie meer doen nie omdat motoriste hulle nie betaal nie.

Die bestuurshoof van Sanral het hulle posisie versigtig beskryf as “geldelike onsekerheid”, maar kenners meen dat Sanral dalk baie dieper in die moeilikheid is as wat hulle wil erken, omdat die tolpadstelsel nog afbetaal moet word omdat die geld daarvoor in die buiteland geleen is.

Vryburger Nuus

Artikel 14

Land neig na anargie

May 4, 2017 –

Saam met die gewelddadige protesoptrede, wil dit voorkom of sekere misdade opvlam, wat die land in totale anargie kan laat verval.

Transito rooftogte het die afgelope tyd ‘n sterk toename getoon, terwyl ook plaasaanvalle en –moorde ‘n merkbare toename toon.

In die Wes-Kaap, waar mense gedink het dit nog relatief veilig en rustig is, is egter ‘n ander tendens waargeneem, en dit is die toename in bomdreigemente.  Die laaste maand is nie minder nie as sewe bomdreigemente op verskeie plekke in die Wes-Kaap ontvang.  Die meeste van die dreigemente word per e-pos gestuur.

Die minister van finansies se adviseur het ook reeds gedreig dat ‘n oorlog kan uitbreek om by radikale ekonomiese transformasie uit te kom, en hy is nog nie deur sy minister of die land se president gerepudieer nie, wat die oorlogsklimaat in die land verhoog.

Vryburger Nuus

Artikel 15

Nog ‘n afgedankte minister bedank

May 4, 2017 –

Die voormalige adjunkminister van kuns en kultuur, Rejoice Mabudafhasi, het ook besluit om die parlement vaarwel toe te roep.

Sy is tydens Zuma se laaste omstrede kabinetskommeling ook uitgelaat, en sy het nou besluit om te bedank soos ander voormalige ministers en adjunkministers.

Sy sê egter dat sy oud word en nie meer lus het vir die gejaag van die politieke lewe nie aangesien sy al ‘n parlementslid was vanaf 1994.

‘n Ander afgedankte minister, Pravin Gordhan, het egter te kenne gegee dat hy nie van plan is om as parlementslid te bedank nie.

Foto: Rejoice Mabudafhasi

Vtyburger Nuus

Artikel 16

Minister se revolusionêre raadgewer aangekla

May 3, 2017 

Die omstrede revolusionêre raadgewer van die minister van finansies, is my die Mensregtekommissie (MRK) aangekla vir haatspraak, intimidasie en aanhitsing tot geweld.

Prof Chris Malikane, raadgewer van Malusi Gigabe, die nuwe minister van finansies, het die naweek by ʼn byeenkoms van die groep Blacks in Dialogue in Johannsburg gepraat van ʼn ‘gewapende rebellie’ teen die minderheid in Suid-Afrika is ʼn realistiese opsie/aksieplan om hul doel te bereik.  Hy het gesê dat ‘n tweederde meerderheid in die parlement verkieslik is bo ‘n oorlog om by radikale ekonomiese transformasie uit te kom, maar dat ‘n besluit om die wapen op te neem moet nog bespreek word.

Die klagte teen Malikane is gelê deur adv. Alberts namens VF Plus.  Adv. Alberts sê hierdie uitsprake is totaal onaanvaarbaar en veral in die konteks van die huidige politieke klimaat in Suid-Afrika wat reeds oorverhit is op rasse-gebied weens die uitsprake en optrede van pres. Jacob Zuma en daarom kan dit nie geduld word nie.

“Sulke uitlatings is niks anders nie as haatspraak en die intimidering van minderhede. Dit is gemik teen elke persoon wat van die ANC verskil ten opsigte van die regering se planne om radikale ekonomiese transformasie teweeg te bring deur ʼn verandering aan die Grondwet.

“Die ANC moet sê of hulle met Malikane se uitlatings saamstem aangesien dit alombekend is dat hy optree as Gigaba se raadgewer,” sê adv. Alberts.

Foto: Adv. Anton Alberts

Vryburger Nuus

Artikel 17

Steeds meer wil land-uit

May 4, 2017 –

Sedert Jacob Zuma se omstrede kabinetskommeling, het navrae oor emigrasie met ‘n yslike 250% gestyg.

‘n Firma wat mense help om te emigreer, het die syfers bekend gemaak, en het bygevoeg dat mense wat nie kan emigreer nie, kyk na ‘n sogenaamde Plan B.

Talle mense is tans besig om ook ‘n ander land se paspoort te bekom, wat dit in tyd van nood makliker maak om na ‘n ander land oor te skuif.

Daar was egter reeds tydens die gewelddadige sogenaamde #FeesMustFall proteste mense wat begin kyk het na moontlikhede om hulle in ander lande te vestig.

Die meeste van die mense is sakemanne wat bekommerd is oor die politieke stabiliteit in die land, en wat kyk na ander moontlikhede sodra die radikale ekonomiese transformasie daartoe gaan lei dat hulle sakebelange en eiendom in die slag kan bly.

Die meeste mense wat skynbaar navraag doen oor emigrasie, is blankes in hulle veertigs, terwyl heelwat mense met groot ekonomiese bates ook daarna kyk, wat kan beteken dat die land verder verarm kan word indien die bates die land verlaat.

Vryburger Nuus

Artikel 18

Tutu kleindogter ook rassisties

May 3, 2017 –

‘n Kleindogter van Desmond Tutu, Nyaniso Burris, het ook die sosiale media gebruik om haar haat teen witmense te verwoord. Nadat die storm daaroor losgebars het, beweer sy egter dat sy nie witmense haat nie, maar dat sy net ‘n aanhaling gebruik het uit ‘n televisiereeks.

Sy het op haar Facebook-blad geskryf: “Dear white people, you made me hate myself as a kid so now I hate you and that’s my secret shame.”

‘n Polisiekaptein wat egter ‘n ou spreekwoord aangehaal het, is weens rassisme uit die polisie geskop, en verdere aksie rondom Burris word met belangstelling dopgehou.

Alhoewel sy sê dat sy nie witmense haat nie, het sy ‘n hele verbitterde relaas gegee van hoe sy as swart kind nooit die “mooi pop” was soos blankes nie, en dat sy geleer is om skaam te wees oor haar swart vel.

Haar oupa Tutu was die voorsitter van die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie, en jare na sy “versoeningskommissie” het hy beweer dat die skade wat aangerig is deur apartheid onmoontlik is om te ontkom en het daarom “welvaartsbelasting” vir blankes voorgestel.

Vryburger Nuus

Artikel  19

Nog ‘n hoë geskors

May 3, 2017 –

Nog ‘n hooggeplaaste met ‘n nie-Afrikaner van is uit haar pos geskors hangende ‘n ondersoek na onreëlmatighede waarby baie geld betrokke is.

Sy is Mildred Nosisa Mlinjana, uitvoerende hoof van die Pensioenfonds vir Munisipale Raadslede (MCPF).

‘n Forensiese ondersoek word tans gedoen, en die ondersoek kan nog weke of selfs maande duur. Sy kry dus intussen wel haar volle salaris.

Ten tyde van haar skorsing mag sy geen kontak maak met enige munisipaliteit of raadslid van ’n munisipaliteit in Suid-Afrika nie.

Vroeër het dit al aan die lig gekom dat die Raad op Finansiële Diens­te (RFD) moontlike bedrog en korrupsie van miljoene rande by dié fonds ondersoek.

‘n Bedrag van R97 miljoen word in die verband genoem.

Vryburger Nuus

Artikel 20

Zuma dikvellig teen proteste

May 4, 2017 –

Die naweek se vernedering het duidelik geen indruk op ANC-leier Jacob Zuma gemaak nie, en baie duidelik is hy nie van plan om gehoor te gee aan oproepe en optredes wat sy bedanking eis nie.

Hy het in antwoord op ‘n vraag hoe dit voel om uitgejou te word, gesê dit is demokrasie aan die werk, en dis mense se reg om dit te doen.

Hy sê dat in lande waar diktators regeer, daar geen proteste is nie. Debatte, protesoptrede en om iemand uit te jou is deel van die kultuur van demokrasie, volgens Zuma.

“Ek is bly dat Suid-Afrika baie volwasse geword het en dat julle ‘n president het waarmee julle kan gesels oor enigiets wat julle pla,” het hy gesê.

Vryburger Nuus

Artikel 21

Coligny borgsaak verpolitiseer

May 3, 2017 –

Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) doen tans in die hof op Coligny aansoek om borgtog nadat hulle gearresteer is in verband met die dood van die 12-jarige swart seun, wat later geblyk het ‘n 16-jarige te wees, en wat sy nek gebreek het toe hy van ‘n bakkie afgespring het omdat hy nie aan die polisie uitgelewer wou word nie.

Dit wil voorkom of die saak nou verpolitiseer word. Ondersoekers het bevind dat Coligny se protesoptrede begin het oor dienslewering, maar dat die dood van die kind toe die hooftema gemaak is om die gewelddadige barbarisme beter te verdedig.

Tydens die borgaansoek is getuienis aangehoor dat die twee mans ‘n moontlike getuie sou dronk gemaak het en hom gedreig het om niemand te vertel wat sou gebeur het nie.

Die staat staan borgtog vir die mans teë en beweer dat as hulle vrygelaat sou word, die gemoedere in die dorp weer tot ‘n plofbare situasie kan lei.

Intussen het mnr. Michal Groenewald, leier van die VF Plus in Noordwes, gevra dat die reg sy gang moet gaan en dat die saak nie verpolitiseerd moet word nie.

Hy het bevestig dat die protes-aksie op die dorp duidelik as ʼn dienslewerings-aksie begin het, en dat sekere elemente die voorval van die seun daarna aangegryp het om geweld aan te blaas.

Hy sê die gemeenskap moet nie toegelaat word om so ʼn groot invloed met die aanloop tot ʼn hofsaak uit te oefen dat ʼn landdros selfs vir sy lewe vrees nie.

“Dit is ongesond as ʼn situasie ontstaan waar die gemeenskap byna ʼn tipe boendoehof buite die hof vorm en mense skuldig bevind en as moordenaars bestempel nog voor die saak begin het.

“Die regsbeginsel dat niemand skuldig is totdat ʼn hof so bevind het nie, geld ook in hierdie geval,” sê Groenewald.

Vryburger Nuus

 


 

Be the first to comment

Leave a Reply