WEF: SA se ekonomiese plan is katastrofies

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Deur Elvira Wood 09 Mei 2017 08:37

Anders Borg, voorsitter van die Wêreld- Ekonomiese Forum se inisiatief vir wêreld finansiële stelsels.
As Suid-Afrika voortgaan om sy ekonomie te nasionaliseer en radikale ekonomiese transformasie as beleid te handhaaf, is dit net ’n kwessie van tyd voor die ongelykhede en strukturele probleme tot ’n katastrofiese ekonomiese krisis gaan lei.

Dit is die mening van Anders Borg, voorsitter van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se inisiatief vir wêreld finansiële stelsels en voormalige Sweedse minister van finansies.

Borg het die WEF se Afrika-2017 kongres in Durban bygewoon.

Hy sê in ’n meningstuk op die WEF se webwerf hy het nog nooit soveel verwysing na radikale ekonomiese transformasie gehoor nie en twyfel of daar binnekort van dié beleid afgesien kan word.

Volgens hom het Malusi Gigaba, minister van finansies, nie daarin geslaag om beleggers gerus te stel nie.

“Hy staar dalk ’n baie steil leerkurwe in die gesig.”

Borg sê ook: “die huidige ekonomiese model met ’n tekort op die lopende rekening, wat meer is as dié van meeste ontluikende markte gekombineer en met staatskuld wat vinnig styg, is onvolhoubaar.

“As die volgende president ook op die beleid van radikale ekonomiese transformasie soos voorgestaan deur pres. Jacob Zuma gaan aandring, is Suid-Afrika op pad na ’n ekonomiese ineenstorting wanneer die wêreldekonomie weer daal.

ONS KAN SEKER WEES AS DIE NUWE LEIER VAN DIE ANC VOORTGAAN MET RADIKALE EKONOMIESE TRANSFORMASIE, DIE GEVOLGE DAARVAN RAMPSPOEDIG GAAN WEES.
Anders Borg
“Die ineenstorting sal die vorm aanneem van ’n klassieke krisis in ’n tekort op die lopende rekening tesame met ’n geldeenheid wat gaan vryval, dubbelsyferinflasie, ’n skerp ineenkrimping van die bruto binnelandse produk (BBP) en ’n dramatiese styging in werkloosheid,” voorspel hy.

“Ons kan seker wees as die nuwe leier van die ANC voortgaan met radikale ekonomiese transformasie, die gevolge daarvan rampspoedig gaan wees.”

Borg sê wat hy eerder hoop sal gebeur is dat die ANC ’n leier kies met ’n ambisie om die Suid-Afrikaanse ekonomie te moderniseer.

Hy meen as die nuwe regering – ná die volgende verkiesing – ’n program begin om ongelykhede en mededinging te herstel het Suid-Afrika ’n realistiese kans staan om sy BBP per capita met tussen 4% en 5% te groei.

“Met die regte beleid sal dit moontlik wees om werkgeleenthede te skep en werkloosheid te verminder.”

Die vyf belangrike komponente wat hy aanbeveel Suid-Afrika op moet fokus om sy ekonomie te moderniseer is:

1. Fiskale herstrukturering wat sal verseker die staatsektor se skuldvlak word verlaag tot onder die 40% van die BBP die volgende vyf tot tien jaar.

2. Hervorming in die arbeidsmark om buigbaarheid toe te laat.

3. Die sakeklimaat moet verbeter word. Die regulatoriese las moet verminder word en beleid oor buitelandse direkte investering moet verbeter word.

4. Die onderwysstelsel moet hersien word. Die beste manier om ongelykheid te verminder is deur goeie onderwys te bied.

5. ’n Slim plan rakende herverdeling. Die huidige programme vir swart ekonomiese bemagtiging ondermyn Suid-Afrika se vermoë om buitelandse beleggers te lok.

Borg sê ongelukkig dink hy nie regering sal sy wenke volg nie en dink die ANC sal ’n leier wat in Zuma se voetspore gaan volg kies.

Redes hoekom hy dink Suid-Afrika kan nie uit die bose kringloop kom nie:

1. Politiek: daar is druk uit verlinkse geledere soos dié van Julius Malema se EFF wat op selfs meer radikale ekonomiese transformasie aandring as wat die ANC voorstel.

2. Korrupsie: daar is te veel mense wat voordeel trek uit die huidige stelsel. Daar sal herstrukturering moet wees van sektore wat beskerm word wat beteken hierdie maatskappye kan nie voordele betaal nie.

3. Erfenis van apartheid: Daar is baie min vertroue in Suid-Afrika tussen wit en swart maar ook tussen verskillende etniese groepe. Vertroue is nodig om strukturele herstrukturing moontlik te maak.

Gegrond hierop, voorspel Borg die mees waarskynlike uitkoms is “Suid-Afrika is oppad na ’n strukturele aanpassingsprogram saam met die Internasionale Monetêre Fonds.

“Die dreigende krisis kan uitgestel word weens gunstige internasionale gebeure. ’n Langdurige wêreldwye herstel sal meer tyd gee. As die pryse van ystererts, steenkool en platinum aanhou styg terwyl oliepryse onder druk bly kan dit wondere vir handel verrig.

“As die herstel in die VSA internasionale rentekoerse hoër druk en China, wat Suid-Afrika se grootste handelsvennoot is, se ekonomie verlangsaam, gaan die druk baie gouer as verwag vererger,” voorspel hy.

“Die warm en gemaklike atmosfeer in Durban is in skrille kontras met die feit Suid-Afrika al hoe verder op dun ys beweeg met hierdie onvolhoubare ekonomiese model.”

Netwerk24


 

Be the first to comment

Leave a Reply