Minimum Loon

Boere moet nou al hul beplanning begin doen vir die hoër arbeidskoste wat die nuwe minimum loon teweeg gaan bring, sê die TLU SA. Die voorgestelde minimum loon tree na verwagting aanstaande jaar op 1 Mei in werking en daar is aanduidings dat die landbousektor vir die eerste jaar 90% van die nuwe loon sal moet betaal, sê die TLU SA in ’n mediaverklaring.

Dit beteken dat die volle nasionale minimum loon op 1 Mei 2019 op die landbou van toepassing sal wees en boere moet nou al begin beplan vir die verwagte toename in arbeidskoste, sê die organisasie.

“Die deurlopende inmenging deur die Regering in entrepreneurs se keuse oor hoe die produksiefaktore bestuur moet word om tot by winsgewendheid uit te kom, wek kommer,” sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA.

“Dit behoort op die Regering se weg te lê om ’n klimaat te skep waarbinne beleggers en entrepreneurs met vertroue graag sake wil doen sodat die ekonomie kan groei en gedy. Op elkeen van die produksiefaktore naamlik ondernemerskap, kapitaal, grondstowwe en arbeid hang daar tans meer vraagtekens en onsekerheid as wat daar sprake van stabiliteit na vore kom.”

“Die onsekere beleidsomgewing, met inbegrip van bewerings oor staatskaping, veroorsaak dat daar feitlik onmoontlik groei in die ekonomie verkry kan word. In hierdie proses kan werksverliese en gevolglike toenemende landelike armoede net toeneem,” lui die verklaring verder.

 

Bron: Landbou.com

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*