Permakultuur

Wat is permakultuur?

Die woord is in die 1970’s deur twee Australiese ekoloë, Bill Mollison en David Holmgren, geskep.

Permakultuur steun op dissiplines en stelsels soos organiese boerdery, voedselwoude, geïntegreerde boerdery en volhoubaarheid. Biologiese en ekologiese stelsels en hoe mense dit beïnvloed en kán beïnvloed, vorm deel daarvan.

Die stelsel is daarop gemik om niks te vermors nie – nie hulpbronne soos water óf plek óf arbeid nie.

Dit kom daarop neer om ’n landskap te ontwerp wat die patrone en verhoudings in die natuur naboots en wat ruim kos, vesel en energie verskaf; met die mens se plek daarin verseker. Dit word onderlê deur drie beginsels: omgee vir die aarde, omgee vir mense en regverdige verdeling.

Die effense boomomhelser-gevoel veroorsaak dat permakultuur-aanhangers al as naïef, idealisties, pseudo-wetenskaplik of net idioties bestempel is. Maar vir sommige mense beteken dit voedselsekerheid.

Mollison se eerste boek, Permaculture One, was onverwags gewild en is in verskeie tale vertaal. Nietemin het een resensent dit as “opstokery” bestempel.

Hierop het hy gesê: “Ek leer mense om op hulself aangewese te wees; die wêreld se mees subversiewe praktyk. Ek leer mense om hul eie kos te kweek, wat skokkend subversief is. Maar dis vreedsame opstokery.”

Al hoe meer eksperimente in permakultuur begin oor die wêreld heen sukses behaal. In Bezuidenhoutpark in Johannesburg, skuins oorkant die familiegrafte van die oorspronklike Bezuidenhout-eienaars van die plaas Doornfontein, wat woongebiede geword het, lê die kostuin Siyakhana – sedert 2005 ’n geslaagde permakultuurtuin.

Dit is 2 ha groot en ’n projek van die Wits-universiteit se Gesondheidskonsor- tium. Dit is onder meer ’n demonstrasietuin, bewusmakingsprojek en verskaf groente en vrugte aan sowat 400 kinders in die middestad.

Lesers kan by siyakhana.org nog inligting kry en uitvind wanneer hul volgende permakultuurwerksessie aangebied word.

[Die artikel het oorspronklik in Beeld Pols op 24 Augustus 201 verskyn.]

Permakultuur op eie werf in blombeddings en selfs potte groei jou eie kos.

Dis moontlik om in jou eie dorpstuintjie groente te plant, organies met permakultuurbeginsels.

  • Moet verkieslik nie plante plant wat baie vyande het nie – rose is die groot, geliefde sondaar. As jy rose móét hê, plant knoffel of ander uieplante langs hulle. Krismisrose is nog iets wat peste lok.
  • Plant peperment by jou agterdeur miere hou nie van die reuk nie
  •  Plant groente en kruie tussen jou ander plante. Maar moenie blare langs blare, bolle langs bolle of blomme langs blomme plant nie.
  • Plant knolgroente of bolplante langs blomme of koolsoorte of enige van dié langs blaarplante. In dieselfde bedding as rose kan seldery en broccoli groei.
  • Een van die beginsels in permakultuur is om waar te neem. Kyk waar die water natuurlik afdraande vloei en maak dwarspaadjies of -voortjies vir die water wat uit die geut kom – en dan plant jy dors plante waar hulle dié water sal kry.
  • Oorweeg uil- en vlermuisbokse in jou tuin. As jy so gelukkig is dat hulle intrek, speel die vlermuise klaar met muskiete en motte. Die uile eet rotte en muise.
  • Gesonde plante en die beheer van insekte deur middel van hul natuurlike vyande speel klaar met die meeste plae. Moet ook nie te haastig gryp na gif nie.
  •  As daar ’n groot probleem is, kan ’n mens jou eie mengsel van kanola-olie (giftig vir insekte) en knoffel (wat hulle irriteer en vir hulle sleg ruik) gebruik.
  • Die meeste groente en kruie kan laat staan word om saad te skiet, want dit lok voëls wat ook insekte vreet.
  • Oes reënwater.
  • As jy net een permakultuur-ding doen, begin deur jou kombuisafval te herwin, maak jou eie kompos

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*