Afrikaanse Idiome

Spreuke

‘n Spreuk, bv. dié van Salomo en Langenhoven, bevat altyd ‘n sedeles.
Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.
~ C.J. Langenhoven

Spreekwoorde
‘n Spreekwoord is ‘n stukkie waarheid of wysheid wat in die volksmond ontstaan het en wat as ‘n algemene waarheid beskou word.
Hy staan met sy een voet in die graf.
Betekenis: Hy is so na aan die dood asof sy een voet reeds in die graf is.

Idiome

‘n Idioom is ook ‘n spreekwoord, maar het gewoonlik ‘n dieper betekenis wat uit die tradisies, geskiedenis en leefwyse van ‘n volk gegroei het. Dis waarom idiome in Afrikaans nie noodwendig in Engels beskikbaar is nie. Dit is nie altyd moontlik om die betekenis van ‘n idioom uit die woorde af te lei nie, en maak baie gebruik van figuurlike spraak.
Jy kan dit vir die bobbejane vertel.
Betekenis: Ek glo dit nie
Piet is been-af op Sannie
Betekenis: Piet is verlief op Sannie.

A
Wie A sê, moet ook B sê — wie met ’n ding begin het, moet daarmee aanhou.
Altyd op dieselfde aambeeld hamer — herhaaldelik oor dieselfde ding bly praat.
Ek wil weet waar ek aan of af is — ek wil weet wat my posisie is (Eng.: “I want to know where I stand.”)
Sy aand- en môrepraatjies kom nie ooreen nie — wat hy nou sê, stem nie ooreen met wat hy vroeër te kenne gegee het nie
Aangeklam wees (twee rye spore loop, stukkend wees) — dronk wees.
Hoog by iemand aangeskrewe staan — in iemand se guns wees.
Aan iemand se adres gerig — spesiaal bedoel vir ’n bepaalde persoon.
Iets aandik — oordryf.
Van aangesig tot aangesig met iemand praat — ’n persoonlike gesprek met iemand voer.
Hoog in aansien wees — Hooggeag wees.
Iemand van aansien wees — iemand wees wat hoë agting in die gemeenskap geniet.
Sonder aansien des persoons — sonder om onderskeid te maak op grond van mense se stand, besittings, vermoëns of wat ook al.
Aanstaltes maak — voorbereidsels tref.
Die stoute skoene aantrek — dapper iets aandurf.
Al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ‘n lelike ding — mooi klere of versierings kan ’n lelike mens nie mooi maak nie
Die aap uit die mou laat — die geheim verklap.
Jou ’n aap skrik vir iets — geweldig daarvoor skrik.
’n Aap in die mou hê — slinkse streke verberg.
Nes ’n aap op ’n stokkie sit — erg beteuterd lyk.
So min van iets weet as ‘n aap van godsdiens (as ’n kat van saffraan) — geen kennis hoegenaamd van iets hê nie.
Die aapstuipe kry (die blouapiestuipe kry) — onbeheerbaar kwaad wees.
Hard met die aarde kennis maak — hard op die grond val.
Die abc van iets — die elementêre beginsels van iets.
Die achilleshiel van iemand — die kwesbare plek van iemand of die swak punt in sy karakter.
Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang — gesê van iemand wat die skuld op ’n ander probeer pak.
Die aftog blaas — vinnig retireer nadat jy nie in jou doel kon slaag nie.
Aftrek kry — gewild wees.
‘n Agterdeur oophou — ’n kans oophou om los te kom in geval moeilikheid of probleme sou opduik
Agteros kom ook in die kraal — al is ’n mens hoe stadig, kom jy ook maar waar jy wil wees.
Gods water oor Gods akker laat loop — dinge maar hul gang laat gaan sonder om iets van jou kant af te doen
Akkoord gaan met iets — met iets saamstem.
Die alfa en die omega — die begin en die einde.
Alkant selfkant — dis om ’t ewe, dit maak geen verskil nie.
’n Man van twaalf ambagte en dertien ongelukke — ’n man wat baie dinge aandurf, maar misluk met alles wat hy aanpak.
Op alles ja en amen sê — bloot saamstem met ander sonder om ooit ’n eie mening uit te spreek.
Amper, maar nog nie stamper nie — byna, maar nog nie heeltemal nie.
Die appel val nie ver van die boom nie — die kind is soos die pa of ma.
Ek het ’n appeltjie met jou te skil — ek wil ’n onaangename saak met jou bespreek
Net ’n appel en ei vir iets betaal — iets baie goedkoop verkry.
Arbeid adel — werk veredel ’n mens.
Ook ’n stuiwer in die armbus gooi — ook ’n bydrae tot die gesprek probeer lewer deur ’n onbenullige opmerking te maak.


B
Op jou baadjie kry — die onderspit delf.
Voor Baäl die knie buig — afvallig word; die ware leer versaak.
Baantjies vir boeties — betrekkings vir vriende en bloedverwante.
Eers baas, dan Klaas — eers die meerdere, dan die mindere.
Vir elke bagatel (aan die huil gaan, byvoorbeeld) — vir elke kleinigheid.
Bak en brou — knoei.
Gou by die bak, lui by die vak — gou om te eet, maar stadig om te werk.
Iemand ’n poets bak — iets grappigs doen ten koste van iemand.
Iemand van bakboord na stuurboord stuur (van Pontius na Pilatus stuur; van die kassie na die muur stuur) — iemand rond en bont stuur sonder dat hy werklik geholpe kom of iets kan uitrig.
Die bal misslaan — jou erg vergis.
Balke saag — snork.
Wie sal die kat die bel aanbind? — wie sal hierdie gevaarlike werk durf doen?
Beenaf wees (op ’n meisie) — verlief wees.
’n Goeie begrip het ’n halwe woord nodig — as iemand gou verstaan wat jy wil sê, hoef jy nie so volledig te verduidelik nie.
Die beste beentjie voorsit — jou bes doen sodat jy ’n goeie indruk kan maak.
Ou bene maak — oud word.
’n Berg van ’n molshoop maak (van ’n muggie ’n olifant maak) — iets groots maak van ’n nietigheid.
Die berg het ’n muis gebaar — dit waarna iemand so gretig uitgesien het, het toe op niks uitgeloop nie.
Iemand goue berge beloof — mooi beloftes maak.
Nuwe besems vee skoon — nuwe werkers werk goed, maar ’n mens weet nie hoe deeglik hulle hulle vorentoe van hul taak gaan kwyt nie
’n Saak bewimpel — nie met die volle waarheid voor die dag kom nie, onaangenaamhede in verband met ’n saak probeer toesmeer.
’n Nuwe blaadjie omslaan —opnuut begin met die voorneme om beter te doen.
Hy laat hom nie met ‘n blaas ertjies op loop jaag nie — hy word nie maklik bang nie, hy word nie deur kleinighede van stryk gebring of daardeur ontstel nie
Blad steek— handgee.
Blaffende honde byt nie (sy blaf is erger as sy byt) — hy dreig meer as wat hy werklik doen.
Sonder om te blik of te bloos — onbeskaamd.
Dis laaste sien van die blikkantien — jy sal hom nooit weer sien nie.
In die land van die blindes is eenoog koning — onder ’n groep mense wat niks van iets weet nie, blink die een mens uit wat wel so ’n bietjie kennis daarvan het.
Blind vir iemand se foute wees — onwillig wees om iemand se tekortkominge raak te sien.
Bloed kruip waar dit nie kan loop nie —Vir jou familie doen jy altyd meer as vir ander mense.
Sy bloed kook — hy is baie kwaad.
Bloed uit ‘n klip tap — iets onmoontliks probeer doen.
’n Saak blou-blou laat — ‘n saak (wat eintlik moet aangeroer word) nie bespreek nie (of dit nie afhandel nie).
’n Bloutjie loop — nie daarin slaag om ’n meisie joune te maak nie; teleurgestel word in jou verwagtings.
My blus is uit — ek is baie moeg, uitgeput.
Die bobbejaan agter die bult gaan haal — ’n moeilikheid tegemoet loop; jou vreeslik kwel oor iets wat nog glad nie eens gebeur het nie.
Dis ’n geslote boek — dis ’n geheim.
Dit spreek boekdele — dis ’n sprekende bewys.
Moenie die boer die kuns afvra nie — moenie te veel uitvra omtrent iets as iemand nie die geheim wil verklap nie.
’n Ou bok hou van jong blare — ou mans hou van jong meisies.
Bokveld toe gaan (lepel in die dak steek) — doodgaan.
In die bol gepik wees (met die maan gepla wees, van lotjie getik wees, ’n klap van die windmeul weghê, nie al jou varkies in die hok hê nie, nie reg wys wees nie) — nie by jou volle verstand wees nie
Dit gaan so tussen die boom en die bas — dit gaan so-so.
Hoë bome vang die meeste wind — mense in belangrike posisies word die meeste gekritiseer.
Buig die boompie solank hy jonk is — vorm die kind se karakter terwyl hy nog klein is.
Boontjie kry sy loontjie — ’n skelm spring sy straf nie vry nie.
Iemand om die bos lei — iemand bedrieg.
Die bordjies is verhang — toestande is nou anders (wie vroeër die wenner was, is nou die verloorder).
Iemand ’n brander stuur — iemand ’n kwaai brief stuur.
’n Ander man se briewe is duister om te lees — ’n mens kan nooit presies sê hoe dit finansieel, emosioneel of andersins met ’n ander mens gesteld is nie.
’n Broertjie dood aan iets hê — iets haat.
Dit nie breed hê nie — arm wees.
Dit gaan maar broekskeur — dit gaan maar swaar.
Mooi broodjies bak — iemand vlei of sy guns probeer wen deur inskiklikheid.
Jy sal dit nie kan bybring nie — jy sal dit nie kan bekostig nie.
C
Die rondte van vader Cloete doen — by almal aangaan wat jy om ’n bepaalde rede wil of moet nader, sonder om iemand oor te slaan.
D
Die skelm op heter daad betrap — op die skelm afkom terwyl die misdaad gepleeg word.
Iemand opdreun tot by oom Daantjie in die kalwerhok — iemand ’n behoorlike skrobbering gee of hom selfs letterlik terdeë te lyf gaan.
Daar sal dadels van kom — daar sal niks van kom nie.
Met dapper en stapper — te voet.
Hy weet waar Dawid die wortels gegrawe het — hy is op hoogte van sake en laat hom nie maklik fop nie.
Skoonheid vergaan, maar deug bly staan — deug alleen is onverganklik.
’n Deurtrapte skelm — ’n groot deugniet, ’n geslepe boosdoener.
Die doel heilig die middele — gesê wanneer ’n mens dink dat jy alle middele kan aanwend, selfs slegtes, solank jou oogmerk goed is.
Dit wil gedoen wees — dit sal moeilik wees om hierdie prestasie te ewenaar.
Donkerwerk is konkelwerk — ’n mens knoei wanneer jy in die donker werk.
Die een se dood is die ander se brood — die een word bevoordeel uit die skade wat ’n ander een ly.
Net een dood skuldig wees — niks ergers as die slegste kan ’n mens tref nie.
Van die dood in die wêreld gekom het, is ’n mens nie seker van jou lewe nie — ’n mens kan nooit seker wees wat in die toekoms sal gebeur nie.
Liewer dood as uit die mode — gesê waar iemand tot elke prys die mode volg.
Die doodskleed het geen sakke nie — ’n mens kan niks wat jy besit na die hiernamaals saamneem nie.
Duisend dode sterf — dikwels so bang wees asof jy sterf.
Kyk so ‘n doring! — skertsend gesê van iemand wat presteer het.
Dis vir my ’n doring in die vlees ¬(dit steek my dwars in die krop) — dis iets wat my erg hinder of irriteer.
Op die draad sit — nie kant kies nie.
Die draak steek — die gek skeer.
Nog nie droog agter die ore nie (sommer nog ’n kuiken of ’n snuiter) — nog ’n blote kind.
Iets dubbel en dwars verdien — iets in hoë mate verdien.
Geen bloue duit besit nie — absoluut niks besit nie.
Dun gesaai wees — skaars wees.
Die druiwe is suur — gesê wanneer iemand minagtend of verkleinerend van iets praat wat hy eintlik graag wil hê nie, maar nie kan kry nie.
Vir iemand duim vashou — baie graag wil hê dat iemand sukses moet behaal.
Ledigheid is die duiwel se oorkussing — niksdoeners bedink allerhande onheilighede.
So bang wees soos die duiwel vir ’n slypsteen — baie bang wees.
Gee die duiwel wat hom toekom — al hou jy nie van iemand of van sy dade nie, moet ’n mens erkenning gee aan die goeie wat hy wel ook doen.
Stille waters diepe grond, onder draai die duiwel rond — gesê van ’n skynbaar ingetoë mens wat heimlik allerhande stoutighede aanvang.

E
Lelike eendjie — vaal meisietjie wat min belofte toon (en tog uiteindelik baie mooi is wanneer sy groot is).
Soos water op ’n eend se rug — gesê van ’n vermaning waarop geen ag geslaan word nie.
Besin eer jy begin — dink voordat jy met iets begin.
Jou eersgeboortereg vir ’n bord lensiesop verkoop — dit wat vir jou dierbaar behoort te wees, nie behoorlik waardeer nie en maklik daarvan afstand doen.
Die eeu van (die masjien, die atoom, kernkrag, die ruimtevaart) — die tydperk van…
’n Eierdans uitvoer — so tussen moeilikhede deurstuur dat jy veilig anderkant uitkom.
’n Halwe eier is beter as ’n leë dop — liewer net ’ndeel van iets ontvang of besit as om heeltemal niks te kry of te hê nie.
Erfgeld is swerfgeld — geld wat geërf word, word gou verkwis.
Die elmboog gelig (deur die wingerd geloop, tiermelk gedrink) — te veel gedrink.
Hunker na die vleispotte van Egipte — verlang na die beter tye wat jy vroeër geken het.
F
Familie van Adam se kant af — baie ver langs verwant.
Vol fiemies wees — vol aanstellings of grille wees; oordrewe kieskeurig wees.
Flikkers gooi by ’n meisie — besondere aandag gee aan ’n meisie om haar belangstelling te win.
Moenie sê: “Fonteintjie, ek sal nooit weer van jou drink nie” — moenie iemand verwerp wie se hulp jy dalk later weer baie nodig gaan kry nie.
G
Gal afgaan — skerp veroordelend praat of skryf.
Met iemand se gal werk — iemand kwaai bestraf.
Jou pen in gal doop — uiters bitsig skryf.
Iemand ’n gat in die kop praat — iemand ompraat om iets te doen (in ongunstige sin).
Alte goed is buurmansgek — as ’n mens te goed is, word jy deur ander mense misbruik.
Die gelag betaal — alleen die straf dra nadat ander saam met jou oortree het.
Geld wat stom is, maak reg wat krom is — ’n mens kan baie met geld doen.
Genadebrood eet — van liefdadigheid lewe, soos wanneer ’n mens te oud is om nog te werk.
Die gewoonte maak die gewente — gewoonte raak tweede natuur.
Mense wat in glashuise woon, moenie met klippe gooi nie — ’n mens moet nie ander se foute kritiseer as jy self ook sulke gebreke het nie.
Goedkoop is duurkoop — goedkoop artikels se gehalte is gewoonlik so swak dat jy gou weer nuwes sal moet aanskaf en gevolglik meer sal moet betaal.
Alle grappies op ’n stokkie — laat ons nou ernstig raak ná die geskerts.
Van die gras af maak — doodmaak.
Nie gras onder jou voete laat groei nie — nie talm nie, maar ’n taak dadelik aanpak.
Daar is ‘n slang in die gras — daar is onraad, daar skuil iets agter.
’n Graswewenaar — ’n man van wie die vrou tydelik weg is.
Dis vir my Grieks — ek het daar geen benul van nie, ek verstaan dit glad nie.
H
Jou op die haai vlakte bevind — jou op die kaal en verlate vlakte bevind waar daar geen skuiling is nie.
Elke haan is koning op sy eie mishoop — elkeen is sterk op sy eie terrein.
Geen haan sal daarna kraai nie — niemand sal ooit iets daaroor rep nie.
Net ’n hanetreetjie — slegs ’n kort afstand.
Moenie jou kom haantjie hou by my nie — moenie so astrant wees in my teenwoordigheid nie.
Geen lui haar op jou kop hê nie — fluks wees.
Hare kloof— beuselagtige onderskeidings maak.
Hoe meer haas, hoe minder spoed — hoe haastiger jy is, hoe minder kry jy iets uitgerig.
Vir jou probleme op die hals haal — self die oorsaak van jou probleme wees.
Met hals en mag — met alle krag en geweld.
Dis nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie — dis nie om die doel wat voorgegee word nie, maar met ’n bybedoeling (soos waar ’n jong kêrel net vriende maak met ’n meisie se broer sodat hy die meisie beter kan leer ken).
Iemand iets hand en mond belowe — iemand iets met groot erns belowe.
Die hand in eie besoem steek — jouself ondersoek.
Met hand en tand beveg — met alle mag beveg.
Die hand diep in die sak steek — baie betaal; baie geld gee vir ’n saak.
Die een hand was die ander (as die een hand die ander was, word albei skoon) — dis tot altwee se voordeel as die een die ander help.
My hande is afgekap — ek is magteloos.
Iemand onder hande neem — iemand berispe.
Ek is so oud soos my hande, maar nie soos my tande nie — skertsend gesê wanneer iemand nuuskierig vra hoe oud jy is, maar jy die vraag wil ontwyk.
Sy hande staan vir niks verkeerd nie — hy is so vaardig met sy hande dat hy alle soorte handewerk kan doen.
Handgemeen raak — slaags raak, baklei.
(Meisies is) nie handvol nie, maar landvol — daar is baie om van te kies.
Waar die hart van vol is, loop die mond van oor — ’n mens is geneig om baie te praat oor dié dinge waaraan jy baie dink.
Jou hart aan iets ophaal — jou daarin verlustig.
Sy hart sak in sy skoene — sy moed begeef hom heeltemal.
Van jou hart ’n moordkuil maak — nie in woorde sê wat in jou gemoed omgaan nie.
Elke hart het sy smart — elke mens het sy eie sorge en hartseer.
Heelhuids van iets afkom —ongedeerd van iets afkom.
Net vir ‘n heen-en-weertjie na die bure gaan — die bure net vir ’n kort kuiertjie besoek.
Sag heengegaan — vredig gesterf.
Die hef in die hande hê — baas wees, die mag hê.
Met die helm gebore wees — gebore wees met die (veronderstelde) gawe om vooruit te sien wat in die toekoms gaan gebeur.
Hemel en aarde beweeg — alles in die werk stel, alles in ’n mens se vermoë doen (om jou doel te bereik).
Uit die blou hemel — onverwags.
In die sewende hemel wees — baie gelukkig wees.
Herwaarts en derwaarts — hiernatoe en daarnatoe.
Iemand heuning om die mond smeer — iemand vlei.
Almal hiet en gebied — almal links en regs beveel.
Op twee gedagtes hink — aarsel as jy tussen twee dinge moet kies.
Jou hoed vir iemand afhaal — iemand bewonder.
Jy kan jou hoed agterna gooi dat… — jy kan baie bly wees dat…
As jy ’n hond wil slaan, kry jy maklik ‘n stok — as jy iemand wil benadeel, kan jy maklik ’n kamtige rede vind om dit te doen.
Agter elke hond aan blaf — ander napraat sonder om ’n eie mening te hê.
Hond se gedagtes kry — agterdogtig raak.
’n Hond uit ’n bos gesels — vreeslik lekker gesels.
Ek kon nie hond haar-af maak nie — ek kon niks uitgerig kry met die taak wat ek wou of moes verrig nie.
Die hond in die pot kry — te laat wees vir ete.
Oor die hond se stert (of rug) wees — oor die ergste of die moeilikste wees.
Baie honde is ’n haas se dood — niemand is opdie duur teen ’n oormag bestand nie; baie kan vermag word waar mense saamwerk.
Eie honde byt die seerste — jou eie mense kan jou die meeste leed besorg.
’n Hondelewe lei — ’n ellendige bestaan voer.
Kommandeer jou honde en blaf self — doen self wat jy voorstel en moenie van ander verwag om dit vir jou te doen nie.
Honger is die beste kok — as ’n mens honger is, smaak alle kosse vir jou lekker.
Soveel hoofde, soveel sinne — soveel mense, soveel menings.
Te veel hooi op jou vurk neem — meer onderneem as wat jy kan uitrig.
’n Naald in ’n hooimied soek — ’n onbegonne taak aanpak; die feitlik onmoontlike probeer vind.
Hot en haar — rond en bont.
Dit hotagter kry — swaar kry.
Uit goeie hout gesny wees — van goeie afkoms of karakter wees.
As dit met die groen hout gebeur, wat sal dan met die droë geskied? ¬— As so iets met gerekende mense kan gebeur, wat dan van diegene wat nie so vernaam is nie?
Die huis (of plek) op horings neem — erg te kere gaan in die huis (of plek).
Elke huis het sy kruis — elke huis het sy sorge en probleme.
I
Jou iets inbeeld — jou ’n voorstelling van iets maak (byvoorbeeld: jou inbeeld hoe dit sal voel om ’n minister te wees).
Iemand inklim — iemand kwaai aanspreek.
Indaba hou — onderling beraadslaag.
Dit vorm skering en inslag van iets — dit is alles, dis die allerbelangrlkste in die saak.
Iemand invra — ondersoekende vrae aan iemand stel.
J
Jakkals verander van hare maar nie van snare nie — ’n skelm mens verander uiterlik maar nie innerlik nie.
Jakkals trou met wolf se vrou — die son skyn terwyl dit reën.
Die ware Jakob — die regte persoon of ding.
Mal Jan onder die hoenders — een kêrel onder baie meisies.
Jan en alleman — die deursneemens.
Liewer bang Jan as dooi(e) Jan — eerder versigtig as dood.
Jan Rap en sy maat — die hele gespuis.
Jan Taks — die belastinggaarder.
Iemand met ’n Janusgesig — ’n huigelaar.
‘n Vreemdeling in Jerusalem wees — iets nie weet nie wat almal weet.
Hiervoor sal jy Job se geduld en Salomo se wysheid nodig hê — in hierdie saak sal jy baie verdraagsaam en verstandig moet handel.
Die juk afgooi — vry word.
In dieselfde juk trek — saamwerk.
K
Iemand aan die kaak stel — iemand se skande, bedrog, oortreding openbaar.
Iemand kaal uittrek — iemand beroof van alles wat hy besit.
Hoe kaler hoe rojaler — hoe armer hoe spandabelriger.
Hoe kaler jonker hoe groter pronker — hoe die minder vermoënd iemand is hoe meer spog hy.
Iemand kaalkop die waarheid sê — iemand reguit berispe.
Oop kaarte speel — eerlik met iets uitkom; openlik sê wat aan die gang is.
Hy dink hy’s kaas (en dan is hy nog nie eens dikmelk nie) — hy dink hy is alte waffers; hy dink hy is vreeslik belangrik.
Die kalf is in die put — die werk moet dringend gedoen word al is dit ons op hierdie tydstip nie geoorloof om dit te doen nie, veral gesê van iets wat noodwendig op ’n Sondag (die rusdag) moet klaar kom.
Nie onder ’n kalkoen uitgebroei wees nie — nie so dom wees soos ander miskien sal dink nie.
Iemand kapittel (die kapittel voorlees, oor die kole haal, die kop was, voor stok kry, roskam, dieleviete voorlees of die leviete lees) — iemand ernstig berispe.
Die kar voor die perde span — agterstevoor te werk gaan.
Vir iemand die kastaiings uit die vuur haal — die moeilike, onplesierige, gevaarlike of vuil werk vir ’n ander doen.
Geen kat se kans hê nie — feitlik geen kans hê nie.
As die kat weg is, is die muis baas — as die baas (die ouers) weg is, maak sy werkers (die kinders) nes hulle wil
So min van iets weet as ’n kat van saffraan— geen kennis hoegenaamd van iets hê nie.
Dis nie ’n kat om sonder handskoene aan te pak nie — dis ’n gedugte, moeilike teenstander.
Die kat uit die boom kyk — dinge eers goed deurkyk voordat jy iets aanpak (byvoorbeeld voordat jy ’n transaksie beklink).
Die kat in die donker knyp — in die geheim stoutighede aanvang.
’n Kat in die sak koop — deur ’n verkoper bedrieg word wanneer jy iets koop.
Snags is alle katte grou — alle meisies is eenders in die donker.
’n Kaapse draai — ’n wye draai.
’n Keel opsit — aan die skreeu gaan.
Die keersy van die penning (of die medalje) — die ander (donker) kant van die saak.
Dis klaar met kees — dis klaarpraat; daar is niks meer aan te doen nie.
Nie vir iemand kan kers vashou nie — deur hom ver oortref word.
Sy kierang sal braai — sy oneerlikheid sal geopenbaar word.
Die kind met die badwater uitgooi — die goeie van ’n saak saam met die slegte verwerp.
Geen kind of kraai hê nie — niemand hê om voor te sorg nie.
Die kinderskoene ontgroei — nie meer ’n kind wees nie.
Vir iemand ’n klip uit die pad rol — iemand ’n groot guns bewys.
Hy het die klok hoor lui, maar hy weet nie waar die bel hang nie — hy weet daar so iets van, maar snap tog nie waaroor dit alles gaan nie.
Dit gaan klopdisselboom — dit gaan voorspoedig.
Nie die kloutjie by die oor kan bring nie — nie kan uitwerk hoe dinge eintlik inmekaar steek nie.
Kluitjies verkoop — leuens vertel.
Iemand met ’n kluitjie in die riet stuur — iemand met mooipraatjies afskeep.
Die kluts kwyt wees — van die spoor af wees; in die war wees.
Iemand knolle vir sitroene verkoop — iemand met mooipraatjies allerhande dinge laat glo.
Die koeël is deur die kerk (en die koster is gekwes) — dit is klaar gedoen en niks kan nou nie meer gedoen word om die saak te verander nie.
Hy is nie so groen dat ’n koei hom sal vreet nie — hy is nie so dom as wat ’n mens dink nie.
Dis ’n waarheid soos ’n koei — dis iets wat baie vanselfsprekend is.
Ou koeie uit die sloot grawe (of haal) — ou griewe, skandes of moeilikhede weer oprakel.
Oor koeitjies en kalfies gesels — sommer oor alledaagse dingetjies praat.
Koffie drink soos die kan hom skink — tevrede wees met wat jy kry.
Hy het van Koerland se vleis geëet — hy is baie lui.
Kolmuis vreet wasgoed — gesê van iemand wie se broek styf tussen die boude intrek.
Die kool is die sous nie werd nie — die beloning is nie al die moeite werd nie.
Hy sal sy kop stamp (sal sy rieme styfloop, dit sal hom suur bekom, hy sal hom vasloop) — groot moeilikhede wag op hom weens dit waarmee hy besig is.
Jou kop in ‘n bynes steek — jou met ’n saak bemoei wat jou in groot moeilikheid gaan dompel.
Jou kop op ’n blok sit dat iets waar is — so seker van iets wees dat jy jou kop sal laat afkap as dit nie so is nie.
Doller as kop-af kan dit nie — ’n mens is maar een dood skuldig; niks kan erger wees as die heel ergste nie.
Jy het self nog groen koring op die land — moenie ander mense se groot kinders kritiseer nie, want jou kinders is nog klein en jy kan nie waarborg dat hulle nie ook verkeerd sal gaan wanneer hulle groot is nie.
Kortgebaker, kortgebonde, kort van draad wees — gou kwaad word, opvlieënd wees.
Met die kous oor die kop tuiskom — met skade en skande huis toe kom.
Boeke te kus en te keur — baie boeke.
Vol kwinte wees — vol fiemies, grille wees.
Die kreeftegang gaan — agteruit gaan.
L
Die lakens uitdeel — die baas speel.
’n Lansie vir iemand breek — ’n gunsie of ’n goeie woordjie vir iemand doen.
Groot lantern, weinig lig — gesê as iemand in jou lig staan.
’n Laatperskegesig — ’n suur en onvriendelike gesig.
Ek laat my dit nie vertel nie — dit sal ek nie glo nie.
Hy lag of hy betaal word — hy lag baie lekker.
Ek lag my ’n boggel (’n ertjie, ’n papie, ek lag my siek, ek lag my dood, ek lag my slap) — ek lag vreeslik.
Land en sand aanmekaar praat — sonder ophou oor allerhande dinge praat.
Dis so lank as wat dit breed is — dis om ’t ewe.
Ou kalant, lank in die land — gesê van ’n vernuftige mens met baie ervaring; ook gesê van iemand wat slu en listig is.
Hoe later hoe kwater — hoe later dit word, hoe erger gaan dit.
So reg in die leeu se bek — so reg in die moeilikheid.
Die leeueaandeel kry — die grootste, die belangrikste gedeelte ontvang.
Hulle is legio — daar is ’n baie groot menigte van hulle.
Lekker is net ’n vinger lank — plesier is maar kort van duur.
Die lendene omgord — klaarmaak vir die stryd of werk.
Lepel in die dak steek (bokveld toe gaan) — doodgaan.
Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel — ’n leuen word altyd ontdek.
Lieg en bedrieg — baie oneerlik wees.
Die lier aan die wilger(boom) hang — ophou met dig (ophou met musiek maak).
In ligte laaie — in volle vlam.
Laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie — doen iets goeds sonder om dit vir almal te vertel.
Iemand met twee linkerhande — iemand wat baie onhandig is.
Nie links wees nie en iets doen — die taak dadelik aanpak.
Dis op almal se lippe — almal praat daarvan.
Iemand die loef afsteek — iemand oortref of sy plan verydel.
Lont ruik — agterdogtig raak.
Jou lyf wegsteek — skelm wees en nie jou deel doen wanneer daar gewerk moet word nie.
In lewende lywe — in eie persoon.
M
Jy kan dit maar op jou maag skrywe (en met jou hemp doodvee [of afvee]) — daar sal niks van kom nie.
Wie nie pas op sy tyd is sy maaltyd kwyt — as jy laat kom vir ete, kry jy nie kos nie.
Met die maan gepla wees (’n krakie of ’n streep hê, van lotjie getik wees, nie al jou varkies in die hokhê nie) — nie reg wys wees nie.
Met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word — soos ons ander mense behandel, sal ons ook behandel word.
Elke man soen sy vrou op sy manier — elke mens doen ’n ding op sy eie wyse.
Self sien hoe jy die mas opkom — self sien dat jy die taak gedoen kry.
Die inwendige mens versterk — eet.
Op hierdie mes kan ’n mens Kaap toe ry — hierdie mes is baie stomp.
Moedersielalleen — heeltemal alleen.
Tussen die lepel en die mond val die pap op die grond — ’n mens moet nooit te seker van iets wees nie.
As jy nie daardie mond gehad het nie, het die kraaie lankal jou oë uitgepik — jy kan darem baie praat, jy is darem baie glad met jou mond (met jou tong).
Iemand na die mond praat — iemand vlei.
Hy maak ’n skoorsteen van sy mond — hy rook baie.
Iemand die mond snoer — iemand laat ophou praat.
Jou mond verbypraat (verbrand) — iets sê wat jy eintlik nie moes gesê het nie.
Bitter in die mond maak die hart (of die maag) gesond — toe maar, die medisyne wat so sleg smaak, is eintlik baie goed vir jou; of die onaangename dinge wat jy nou ervaar, gaan jou ’n sterker mens maak.
Die môrestond het goud in die mond — soggens vroeg kry jy baie dinge gedoen.
As die muis dik is, is die koring bitter — as ’n mens genoeg geëet het, smaak die lekkerste kos nie meer lekker nie.
Haar kop is vol muisneste — sy is so verlief dat sy net die hele tyd aan haar kêrel dink.
In die middel van die wêreld wees — radeloos wees, nie weet wat om te doen nie.
Klein muisies het groot ore — kinders luister fyn en ’n mens moet versigtig wees wat jy voor hulle sê.
Murg in jou pype hê — sterk en daadkragtig wees.
N
’n Draad vir elke naald hê — altyd reg wees met ’n antwoord.
Iemand naaldsteek — probeer agterkom hoe iemand voel of hoe hy dink oor ’n saak; ook iemand inlig of waarsku.
Deur jou nek vir iets betaal — baie duur daarvoor betaal.
Deur jou nek praat — onsin praat.
Iemand ’n nekslag toedien — iemand iets aandoen wat hom heeltemal verpletter.
Die snuf in die neus kry — onraad bemerk, iets agterkom.
Dis neusie verby — die kans is verby; die gulde geleentheid is verlore.
Wie sy neus skend, skend sy aangesig — wie sy familie benadeel, benadeel homself.
Dit kom uit Noag se ark — dit is baie oud.
Jy kan maar op my nommer druk as jy hulp nodig het — jy moet maar net sê dan help ek jou.
’n Noot laer sing — nie meer sulke hoë eise stel nie.
Werk, hardloop, ens. dat die kromme note jou haal — baie hard werk, hardloop, ens.
Noustrop trek — baie swaar kry.
Dis van nul en gener waarde — dit beteken absoluut niks nie, dit het hoegenaamd geen waarde nie.
O
’n Ogie oor iets of iemand hou — sorg dat iets veilig is of dat iemand versorg is.
Dis olie op die vuur — dit maak dinge erger.
Jou nie onbetuig laat nie — die taak fluks aanpak en wys waartoe jy in staat is.
Sy loer al oor die onderdeur — sy begin in kêrels belang stel.
Uit die oog, uit die hart — iemand wat weg is (nie binne sig is nie) word maklik vergeet.
Iemand se oogappel — iemand se besondere gunsteling (byvoorbeeld sy enigste dogter).
Opgang maak — vooruitgaan.
Jy kan mielies in sy ore plant — sy ore is vuil.
Jou oorhoeks werk — jou oorwerk.
Oorhoop lê (of oorhoeks raak) met iemand — rusie hê met iemand.
Gou oorsuiker (na die bure toe) — ’n vinnige besoekie (aan die bure) bring.
Iemand die ore van die kop praat — irriterend babbel by iemand.
Die ore spits — met groter aandag luister.
Die ore laat hang — mismoedig wees.
Jou ore uitleen — na allerhande praatjies luister.
Dit gaan orrelstryk — dit gaan baie goed; alles verloop uitstekend.
Van die os op die esel (van die os op die jas) — gesê deur ’n spreker voordat hy die huidige gespreksonderwerp los en iets heeltemal anders aanroer.
P
Pa staan vir iets — die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
Dit staan soos ’n paal bo water (dat sy die mooiste meisie in die klas is) — sy is duidelik en ongetwyfeld (die mooiste meisie in die klas).
Die breë pad — die pad na die verderf.
Die smal pad — die pad na die ewige lewe.
’n Padda in die keel hê — hees wees.
Van ’n padda vere probeer pluk — die onmoontlike probeer vermag (soos om geld van iemand te probeer kry wat geen sent op sy naam het nie).
Nie vir koue pampoen skrik nie — nie deur kleinighede van stryk gebring of ontstel word nie
As dit pap reën, moet jy skep — benut die geleentheid terwyl dit daar is.
Jou ouma die paplepel leer vashou — iemand iets probeer leer wat eintlik meer van die saak weet as jy.
Iemand met die paplepel voer — iemand werktuiglik en bietjie vir bietjie iets leer; ook iemand aan die lewe hou met aalmoese.
My geheue speel my parte — my geheue laat my in die steek.
’n Gegewe perd moet jy nie in die bek kyk nie — ’n geskenk moet jy nie kritiseer nie.
Jou pêrels voor die swyne werp — iets vir iemand doen wat dit nie waardeer nie of wat nie werd is om só deur jou gehelp te word nie; ook iets moois of kosbaars vir iemand gee wat dit nie kan waardeer nie.
Die perke oorskry — te ver gaan.
Bly sit met die gebakte pere — bly sit met ander se moeilikheid.
’n Bitter pil om te sluk — ’n moeilike ding om te verwerk.
Gee ’n man die pinkie, dan vat hy die hele hand — gesê van iemand wat alles wil hê as jy hom iets gee.
Dieselfde poeding met ’n ander sous — dieselfde ding in ’n ander vorm.
Al is ’n pot nog so skeef, hy kry ’n deksel — die lelikste mens kry tog iemand om mee te trou.
Die pot verwyt die ketel (dat hy swart is) — ander word berispe vir foute wat jy self maak.
Praatjies vul geen gaatjies nie — met ’n blote gepraat rig ’n mens nie veel uit nie.
Is Saul ook onder die profete? — skertsend gesê as jy iemand in ’n kring (veral in goeie geselskap) aantref waar jy hom nie verwag nie.
R
Jou rammetjie-uitnek hou — jou grootman, windmakerig of parmantig hou.
Eie reg gebruik — iets sonder wetlike goedkeuring doen.
Hy is altyd links van die regering — hy is altyd teen die stroom op.
Polities taamlik regs wees — polities neig om konserwatief te wees.
Iemand met twee regterhande — iemand wat baie handig is.
Daardie persoon is my regterhand — daardie persoon is my belangrikste hulp, my troue steun.
’n Renons in iemand of iets hê— ’n groot teësin in iemand of iets hê.
’n Reputasie hê — ’n slegte naam hê.
Die rieme neerlê — weghardloop, die loop neem.
Jou rieme styfloop — in die moeiilkheid beland.
’n Riemtelegram — ’n ongegronde gerug.
Rinkink — baljaar, te kere gaan.
Alle paaie lei na Rome — ’n mens kan jou doel op verskillende maniere bereik; of dit is so ’n belangrike plek dat alle paaie soontoe lei.
Rome is nie in een dag gebou nie — ’n groot werk kom nie gou tot stand nie.
Die ronde waarheid — die volle waarheid.
Hoe rooier hoe mooier — rooi trek aandag.
Geen rook sonder vuur nie (daar is nooit ’n rook nie of daar brand ’n vuurtjie, waar ’n rokie is, moet ’n vuurtjie wees) — in elke gerug is daar ’n kiem van waarheid.
Vroeg ryp, vroeg rot — kinders wat te gou grootword, is ook gou niks werd nie.
Iemand rot en kaal steel — al die besittings van iemand steel.
Jou oor ’n dooie rot verheug — oorhaastig bly wees oor iets; bly wees oor iets wat tog nie gaan gebeur nie; bly wees oor iets nietigs in die waan dat dit iets belangriks is.
Iemand in die rug steek — iemand in die geheim benadeel.
My rug is breed — ek kan baie laste dra; ek kan baie verdra.
Iemand rugsteun — iemand sterk ondersteun.
S
Iemand uit die saal lig — iemand beroof van sy posisie (in byvoorbeeld ’n rugbyspan of ’n bestuursliggaam).
Dis ’n hele sabbatsreis daarheen — dis ver soontoe.
Sak, Sarel — moenie so oordryf nie.
Een brandsiek skaap steek die hele trop aan — een slegte mens kan die hele gemeenskap se ondergang beteken.
Slaags raak — baklei.
’n Sak sout met iemand opeet — genoeg ondervinding saam met iemand opdoen sodat julle mekaar goed leer ken.
Dis net die oortjies van die seekoei — wat aan ons bekend is, is slegs ’n baie klein deeltjie van die volle waarheid of die eintlike probleem (goeie alternatief vir die Anglisistiese “punt van die ysberg”).
Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou — as jy slegte geselskap opsoek, word jy ook sleg.
Met jou siel onder jou arm loop — verveeld wees en nie weet hoe om die tyd te verwyl nie.
Hoe meer siele hoe meer vreugde — hoe meer mense daar is, hoe plesieriger gaan dit.
Soos ’n splinternuwe sikspens lyk — baie netjies en windmakerig aangetrek wees.
Iemand skaakmat sit — iemand so vaskeer (figuurlik) dat daar geen uitkomkans vir hom is nie.
Deur skade en skande word ’n mens wys — deur sware onder¬vinding raak jy verstandig.
Almal of alles oor een kam skeer — almal of alles op dieselfde manier behandel, sonder om enige onderskeid te maak.
’n Tong soos ’n skeermes hê — bitsig en kwetsend in jou gesprekke wees.
As die skoen jou pas, moet jy dit maar aantrek — as jy skuldig is, moet jy dit wat gesê is maar op jouself toepas.
Die stoute skoene aantrek en iets doen — al jou moed bymekaarskraap en iets doen.
Skoenmaker, hou jou by jou lees — bepaal jou by dit waarvan jy iets weet en moenie jou bemoei met dinge waarvan jy geen benul het nie.
’n Skuifmeul kry — ’n kans kry om uit die moeilikheid te kom.
Skouer aan die wiel gooi —daadwerklik optree.
Die argument hou nie meer steek nie — die argument geld nie meer nie.
Daar is ’n skroef los by hom — hy is nie reg wys nie; hy is nie by sy volle verstand nie.
Daar is ’n slang in die gras — iewers is iets nie pluis nie, dinge lyk verdag.
Jou dae in ledigheid slyt — nooit ’n steek werk verrig nie.
Die son trek water — dit word laat.
Son in die weste, luiaard op sy beste — as dit laat word, is die luiaard die fluksste.
Alles vir soetkoek opeet — alles glo wat jy hoor.
Die spit afbyt — die gevaarlikste of moeilikste werk (of die vuil werk) doen.
Steen en been kla — baie kla.
Vier stewels in die lug lê — onderstebo lê.
Stiefmoederlik behandel — sleg behandel,
Met ’n stink spoed beweeg — vreeslik vinnig beweeg.
’n Stok in die wiel steek — iets verhinder; iemand dwarsboom.
Iemand onder stof loop — iemand onderstebo loop of baasraak.
In die stof byt — sneuwel.
’n Stofwolk opskop — vreeslik te kere gaan, maar niks uitrig nie.
Met die stroom saamgaan — slaafs doen wat die meerderheid doen of die tydgees navolg.
Die strop om die nek hê — pas getroud wees (skertsend).
Die beste stuurlui staan aan wal — dis maklik om ander te kritiseer as jy nie in hul posisie is nie.
Die strydbyl begrawe — vrede sluit.
Iets uit jou duim suig — iets versin.
Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor — klein kindertjies sê ’n ding soos hy is sonder om die waarheid te verbloem.
Dit sal jou suur bekom — jy sal daarvoor boet.
Een swaeltjie maak nog geen somer nie — een goeie teken is nie genoeg nie.
Jou brood in die sweet van jou aangesig eet — baie swaar ’n bestaan maak.
T
Ek het nog g’n taal of tyding ontvang (oor wat my familielede in Londen aanvang nie) — ek het niks gehoor (oor wat hulle alles daar doen nie).
Iets met lang tande doen — iets teësinnig doen.
Jy moet hare op jou tande hê — jy moet jou man kan staan.
Met ’n mond vol tande sit — beteuterd sit en niks praat nie.
Jou tande vir iets slyp — jou klaarmaak om iets te geniet.
Die kinders sit en tande tel — die kinders sit en luister wat die grootmense praat.
Ek laat nie op my tone trap nie — ek laat niemand my beledig nie.
Trou is nie perdekoop nie — trou is ’n ernstige stap.
Oos wes, tuis bes — in jou eie huis is jy die gelukkigste.
Hy is ouer as twaalf — jy kan hom nie sommer fop nie.
Jou twak is nat — jy sal dit nie regkry nie, dit sal misluk.
Sy turf sit — sy plan het misluk; hy kry dit nie reg nie.
U
Lyk soos ’n uil op ’n kluit — eensaam, beteurterd, onnosel lyk.
’n Uiltjie knip — ’n bietjie slaap.
Jy kan nie net spog nie, jy sal moet uithaal en wys — dit help nie om net te koop te loop met wat jy kan doen nie, wys vir ons waartoe jy in staat is.
Sy is uitgeknip haar ma — sy lyk net soos haar ma.
Heeltemal uitrafel — ongebonde te kere gaan.
V
Die swakker vat (die skone geslag) — die vrou.
Met vlieënde vaandels slaag — met groot sukses slaag.
Met anderman se vere (geleende vere) pronk — iets gebruik wat aan ’n ander behoort en dan die eer daarvoor ontvang.
Ver van jou goed, naby jou skade — as jy nie naby jou besittings is om ’n ogie daaroor te hou nie, word dit deur ander mense verniel.
Iemand iets aan die verstand bring — iemand iets goed laat begryp.
Geen vinger verroer om iemand te help nie — niks doen om iemand te help nie.
Die vinger op die wond lê — wys waar die gebreke is.
Lang vingers hê — geneig wees om te steel.
Iemand op die vingers tik — iemand berispe.
My vingers jeuk om dit te doen — ek is baie lus om dit te doen.
Die vingers verbrand — in die moeilikheid kom (deur in ’n ander se sake in te meng).
Tweede viool speel — ondergeskik wees.
Onder valse vlag vaar — jou uitgee vir iemand anders as wat jy is.
Dis vinkel en koljander (die een is soos die ander) — die twee dinge of mense is presies eenders (veral gesê van ’n identiese tweeling).
Nog vis, nog vlees — nie ’n deel van die een groep nie en ook nie van die ander nie.
Hoër vlieg as jou vlerke lank is — te weelderig vir jou vermoë lewe; iets probeer doen wat bokant jou vermoë is; meer onderneem as waartoe jy in staat is.
Vlerksleep by ’n meisie — by ’n meisie kuier om haar liefde te wen.
Twee vlieë in een klap slaan — twee dinge gedoen kry deur een daad.
’n Vlieg in die salf — ’n onaangenaamheid wat ’n saak bederf.
Lyk soos ’n vlieg wat in karringmelk geval het — spierwit aangetrek wees.
Vlieë vang — met ’n oop mond sit.
’n Ou voël met kaf probeer vang — ’n bedrewe persoon probeer kul.
Elke voël sing soos hy gebek is — elkeen handel na sy aard en volgens sy eie insigte.
Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat… — ek het êrens verneem dat…; ek het ’n gerug gehoor dat…
Voet in die wind slaan, jou uit die voete maak — vinnig padgee, vlug.
Met die verkeerde voet uit die bed klim — in ’n slegte bui opstaan.
Vra is vry en weier daarby — jy mag wel enigiets vra, maar dit kan jou ook geweier word.
Jou vuurdoop deurstaan — die moeilike aanvanklike toets slaag (byvoorbeeld jou eerste dag in ’n nuwe skool waar ontgroening nog nie afgeskaf is nie).
Weet hoe die vurk in die hef steek — presies weet hoe sake staan.
W
Voor op die wa wees — vrypostig wees.
Om die waarheid te sê, moet ek lieg — ek kan werklik nie met sekerheid sê nie.
Die kop bo water hou — net nie ten onder gaan nie, net lewe.
Gods water oor Gods akker laat loop — sake hulle loop laat neem.
Groot lawaai, weinig wol (meer lawaai as wol) — gesê van iemand wat baie praat, maar min doen.
Die mens wik; God beskik — die mens oorweeg wel hoe om dinge te doen, maar God bestier ons weë.
Wolf skaapwagter maak — iemand wat onbetroubaar is ’n verantwoordelike taak gee.
’n Wolf in skaapklere — ’n skynheilige mens.
Met die honde blaf en die wolwe huil — met almal saampraat.
Wors in ’n hondestal soek — iets soek waar jy dit nie sal kry nie.
Van jou wysie af raak — gek word.
Y
Die ys breek — ’n begin maak met ’n lastige saak.
Smee die yster terwyl dit warm is — benut die geleentheid solank daar nog geesdrif is (byvoorbeeld deur gou jou bankbestuurder vir ’n lening te vra nadat jy hom oortuig het dat jy ’n goeie sakeplan het).
Ysterklou in die grond slaan — vasstaan of vinnig weghardloop

 

Bekende vergelykings by byvoeglike naamwoorde

 

So alleen soos my vinger
So bang soos ’n bok vir ’n skoot hael
So bang soos die duiwel vir ’n slypsteen
So bekend soos die bont hond wees ( = oral taamlik ongunstig bekend wees)
So bitter soos aalwyn
So bitter soos gal
So bleek soos die dood
So bleek soos ’n laken
So bleek soos ’n lyk
So blind soos ’n mol
So blink soos ’n spieël
So blou soos die hemel
So dapper soos ’n leeu
So dig soos ’n pot
So dikvellig soos ’n renoster
So dom soos ’n esel
So dood soos ’n mossie
So doof soos ’n kwartel
So dronk soos ’n hoender
So duidelik soos daglig
So dun soos ’n plank
So fris soos ’n vis
So geel soos borrie
So geel soos goud
So geduldig soos Job
So giftig soos ’n geitjie
So glad soos seep
So gou soos nou
So groen soos gras
So hard soos ’n klip
So hees soos ’n makou
So honger soos ’n wolf
So hoog soos die wolke
So kaal soos ’n rot
So kaal soos my vinger
So koppig soos ’n muil
So krom soos ’n hoepel
So lastig soos ’n vlieg
So lelik soos die nag
So lig soos ’n veer
So maer soos ’n kraai
So mak soos ’n lam
So mal soos ’n haas (moontlik onder Engelse invloed: As mad as a March hare)
So moeg soos ’n hond
So nat soos ’n kat
So oud soos die berge
So oud soos die Kaapse wapad
So oud soos Metusalem
So oud soos my hande, maar nie soos my tande
So plat soos ’n pannekoek
So reg soos ’n roer
So reguit soos ’n kers
So rein soos ’n duif
So rooi soos bloed
So rooi soos ’n kalkoen
So sag soos satyn
So siek soos ’n hond
So skaars soos hoendertande
So skeef soos ’n krap
So slim soos die houtjie van die galg
So soet soos suiker
So stadig soos ’n trapsuutjies
So stadig soos harmansdrup
So steeks soos ’n muil
So sterk soos ’n bees
So stil soos ’n muis
So suinig soos ’n vrek
So suur soos asyn
So swaar soos lood
So taai soos ’n ratel (taai = gehard)
So taai soos ’n tameletjie (taai = onaangenaam klewerig of moeilik om te hanteer)
So trots soos ’n pou
So verstandig soos Salomo
So vet soos ’n vark
So vinnig soos blits
So vinnig soos die wind
So vry soos ’n voël (op ’n tak)
So vuil soos ’n vark
So waar soos padda manel dra
So waar soos ek leef
So wit soos ’n laken

Vergelykings by werkwoorde

Aanteel soos konyne
Bewe soos ’n riet
Brand soos ’n kool vuur
Drink (suip) soos ’n vis
Jaag soos die duiwel
Klou soos klits
Klou soos ’n neet
Lewe soos kat en hond ( = in onenigheid lewe)
Lieg soos ’n tandetrekker
Neerslaan soos ’n os
Opskiet soos paddastoele
Pronk soos ’n pou
Rook soos ’n skoorsteen
Sit soos ’n uil op ’n kluit ( = iewers sit en eensaam, verleë of onnosel lyk)
Skop soos ’n volstruis
Skree soos ’n maer vark
Slaap soos ’n klip
Stink soos ’n muishond
Swem soos ’n vis
Verdwyn soos ’n groot speld (in ’n hooimied)
Verskil soos dag en nag
Vloek soos ’n matroos
Vrek soos vlieë
Soveel van iets weet as ’n kat van saffraan
Werk soos ’n esel

Vergelykings by selfstandige naamwoorde

’n Geheue soos ’n olifant hê (gesê van iemand wat baie goed kan onthou)
Geld soos bossies ( = baie geld)
’n Hart soos ’n klip hê (gesê van ’n ongevoelige mens)
Kinders soos orrelpype ( = baie kinders van allerhande groottes in een gesin)
Oë soos ’n valk ( = baie skerp oë)
’n Maag soos ’n volstruis hê (gesê van iemand wat alles kan eet)


 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*