Potgooi- 9vm Nuus & Weer 11 Januarie 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Aangebied deur Corrie Weeksdae om 9vm

Klik  HIER om weer te luister

Nuus 9vm 11 Januarie 2018

 

KENNISGEWING.

 

  1. Die Radio raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die radio gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking met Netradiosa & FM stereo

 

Drie geboue in Rustenburg afgebrand

In die voortslepende vete tussen taxi eienaars en dwelmsmokkelaars is ses geboue in die sentrale gedeelte van Rustenburg afgebrand, waarvan een ‘n berugte taverne was en van die ander vir prostitusie gebruik is.

Die drie geboue was bewoon deur uitlanders en dit is klaarblyklik nie ‘n xenofobiese aanval nie,  maar dit is welbekend dat uitlanders verantwoordelik is vir verkoop en smokkel van dwelms. Van die dwelmhandelaars werk selfs met sekere polisielede saam, en ‘n polisielid is op heterdaad betrap toe hy dwelms verkoop het.

Talle Nigeriërs is ook uit die dorp verdryf.

Vryburger

Waterkrisis in Kaap

Kaapstad met sy meer as 4 miljoen inwoners staar die ergste droogte in 100 jaar in die gesig en 22 April kan die stadsraad alle watertoevoer beëindig.  Dit sal gebeur as damvlakke 13,5% bereik.

Dit sal beteken dat inwoners by 200 waterstasies elk 25 liter per dag sal ontvang.  20 000 mense sal by elke stasie moet toustaan om water te ontvang, en daar word verwag dat dit tot ongelukkigheid en selfs geweld kan lei.

Vryburger

 

Boere moet kwart van hulle plase vir SEB afstaan

Die onlangse aankondiging deur die regering dat die Kode vir Swart Ekonomiese Bemagtiging aangepas word sodat minstens ‘n kwart van elke boerdery voortaan in swart besit moet wees indien daar produkte aan die regering verskaf word, het bepaalde uitwerking op kleiner boerderye wat ‘n omset tussen R10 miljoen en R50 miljoen het.

Dit is bekendgemaak in ‘n Staatskoerant gedurende Desember 2017.

“TLU SA is van oortuiging dat kos nie kleur het nie, en gevolglik produseer lede van die unie voedsel aan alle verbruikers in die land en selfs aan inwoners van ons buurstate sonder om voorwaardes te stel”, sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA.  ”Ons is uitgesproke voorstanders van die vryemarkstelsel en die erkenning van privaat besit en gevolglik is ons van mening dat hierdie bepaling bepaalde dwang impliseer op individuele entrepreneurs ten opsigte van hul voorkeur ekonomiese keuse en reg tot assosiasie wat direk indruis met beide Art 18 asook Art 22 van die Grondwet.”

Vryburger

 

Ramaphosa wil gronddiefstal wettig

 

Onder die dekmantel van “wetlike onteiening” (boonop sonder vergoeding), beloof die nuutverkose ANC president dat grond in privaatbesit “gevat” gaan word.  In gewone Afrikaans beteken dit die wettiging van diefstal.

Dit is die kommentaar van mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, nadat die nuwe ANC-leier, Cyril Ramaphosa, die aankondiging gemaak het.

“In dieselfde asem word bepaalde voorwaardes gestel, naamlik dat die ekonomie nie geskaad moet word nie en dat voedselsekerheid nie nadelig geaffekteer moet word nie.

“Gegewe erkenning deur die regering self, dat die produktiewe benutting van landbougrond wat ingevolge die restitusieproses reeds aan begunstigdes oorgedra was, asook die kortstondige beskikbaarstelling van miljarde rand se hulpverlening aan mense wat nie kan of wil boer nie, klaaglik misluk het, beloof hierdie nuwe belofte niks goed vir Suid-Afrika nie”, sê mnr. Meintjes.  Hy vra voorts “Waar in die wêreld het onteiening sonder vergoeding, en die voortgesette verval van landbougrond tot buitelandse vertroue, ekonomiese groei en hoër voedselproduksie gelei?”

Mnr. Meintjes beklemtoon dat die tyd aangebreek het dat Suid-Afrika die werklike uitdagings wat die land in die oë staar, identifiseer vir wat dit is.  Nie alleen word wetsgehoorsame burgers in hul eie land, ongeag die “nie-rassige” hoeksteen van ‘n sogenaamde “modelgrondwet” aan verskeidenheid wette wat blatant pro-swart en anti-Afrikaans is, onderwerp nie, maar stel ‘n snelgroeiende bevolking toenemende eise aan ‘n baie klein belastingbasis.  Daardie proses spoed voort terwyl die RSA se “rommelstatus”, toenemende landelike armoede, die verval van infrastruktuur, verlaging van skolastiese en akademiese standaarde, die lewering van basiese dienste, bandelose misdaad en ‘n skreiende gebrek aan toekomsbeplanning aan die orde van die dag is.

“Geen ideologie, gerugsteun deur oppervlakkige populistiese beloftes wat nie met ekonomiese beginsels tred hou nie, gaan vir ons heil sorg nie.  As mnr. Ramaphosa regtig ‘n onhanteerbare situasie wil skep, dan moet hy aktief meewerk om hongersnood te bevorder.  Sy belofte om grond sonder vergoeding te onteien, skep potensiaal om opnuut rewolusie te ontketen.  Onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding, is diefstal

Vryburger

 

SASCOC dank Reddy af

Die SA Sport Konfederasie en Olimpiese Komitee (SASCOC) het ‘n verklaring uitgereik waarin gesê is dat die hoofuitvoerende beampte van SASCOC, Tubby Reddy, afgedank is.

‘n Ondersoek het getoon dat Reddy, Vinesh Maharaj en Jean Kelly geskors is weens verskeie onreëlmatighede. Reddy word verder  beskuldig van seksuele teistering van ‘n werknemer van SASCOC.

Sportliggame word al jare geteister deur wanbestuur en finansiële onreëlmatighede,  in so ‘n mate dat atlete dikwels nie finansieel ondersteun word tydens Olimpiese Spele en ander internasionale byeenkomste nie.

Vryburger

 

Adjunksweep van ANC se man in die moeilikheid

Die man van Dorries Eunice Dlakude, die adjunksweep in die parlement, is gearresteer vir meineed . Vusi Dlakude het valslik beweer het dat  hy gekaap was in Hectorspruit. Later het dit geblyk dat hy drie mans vervoer het vir ‘n saketransaksie.  Sy voertuig is gevind met ‘n vuurwapen, ammunisie, ‘n byl en ‘n knaldemper.  Die saak is uitgestel  tot 21 Februarie.  Dalk moes Dorries haar sweep gebruik om Vusi in toom te hou.

Vryburger

DA in Kaap wil De Lille laat pos

Die DA se uitvoerende komitee in Kaapstad het ‘n aanbeveling deurgegee aan die party se topstruktuur dat Patricia de Lille onthef moet word van haar pos as burgemeester van Kaapstad.

Volgens Grant Twigg, voorsitter van die DA in die Moederstad Metroraad, het hulle nie meer vertroue in haar het nie. Volgens die raad kan sy nie stabiliteit, eenheid en funksionaliteit verseker  nie.

Die DA se nasionale voorsitter het egter gesê hy dink Twigg was voortydig om die media by die saak te betrek aangesien die prosesse binne die DA nog aan die gang is en toegelaat moet word om afgehandel te word.

Intussen het De Lille gedreig dat sy regsaksie sal neem indien die DA haar skors en dat sy alles sal doen om haar pos as burgemeester te behou.

Dit wil egter voorkom of De Lille redelike probleme het aangesien die Ouditeur-Generaal skynbaar ook op onreëlmatighede rakende die bestuur in haar stadsraad afgekom het. Hy het sy verslag egter teruggehou in die lig van die hangende ondersoeke teen haar.

Vryburger

 

Sekuriteitswag geskiet by stasie

Die United National Transport Union het gevra dat alle treindienste in en om Kaapstad opgeskort word tot en met die veiligheid van treindrywers, sekuriteitspersoneel en passasiers gewaarborg word.

Dit volg na die dood van ‘n sekuriteitswag by die Chris Hani stasie in Khayelitsha Dinsdagaand. Hy is geskiet tydens ‘n gewapende roof by die stasie.

Metrospoor beplan ‘n sekuriteitsheining om stasies te beveilig.  Die koste sal in die omgewing van R68 miljoen beloop maar ondervinding het getoon dat geen heining of muur die misdadigers weerhou van hul aktiwiteite nie.

Richard Walker, streeksbestuurder van Metrospoor, het intussen alle treindienste op die sentrale lyn opgeskort.

Vryburger

 

Zuma jnr. en Kaapse “Mafia”

Dit blyk dat Jacob Zuma se seun, Duduzane, verbintenisse het met Nafiz Modack.

Modack is betrokke by die Kaapse ondergrondse beweging wat na bewering nagklub eienaars afpers as deel van die totale sekuriteitsoorname van klubs.

Modack is tans in hegtenis en in die hofsaak wat aan die gang is blyk dit dat Modack  met top polisiebeamptes asook regeringsamptenare kop in een mus is.  Modack en Zuma jnr. se verbintenis is bevestig deur ‘n foto wat in die media na vore gekom het.

Duduzane word dus nie net verbind met die Guptas nie, maar nou ook met die onderwêreld van Kaapstad en hopelik sal die ondersoek na staatskaping hierdie nes ook ontbloot.

Vryburger

Weer

Temperature vir die hoof sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad –  Gedeeltelik bewolk met reën plek plek- met ‘n minimum van 15 en maximum van 24

Nelspruit –Bewolk met ligte reën – met ‘n minimum van 14 en maximum van 26

Pretoria – Gedeeltelik bewolk met ‘n minimum van 18 en maximum van 28

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk met swaar reën met tye met ‘n minimum van 18 en maximum van 26

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk met swaar reën met tye  met ‘n minimum van 16 en maximum van 27

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en warm met reën plek plek met ‘n minimum van 18 en maximum van 30

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en warm met swaar reën plek plek met ‘n minimum van 19 en maximum van 30

Durban – Gedeeltelik bewolk met ‘n minimum van 20 en maximum van 26

Oos London – Gedeeltelik bewolk met met ‘n minimum van 23 en maximum van 28

Upington – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm met ‘n minimum van 26 en maximum van 38

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n minimum van 20 en maximum van 32

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk met ‘n minimum van 22 en maximum van 27

Sutherland – Bewolk en baie warm met ‘n minimum van 17 en maximum van 34


 

Be the first to comment

Leave a Reply