Potgooi – Nuus & Weer 17 Januarie 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Aangebied deur Corrie weeksdae om 9vm

 

Vrystaatse munisipaliteite kan nie ʼn “Dag-Zero” vir water bekostig nie en munisipaliteite en die provinsiale regering het ʼn verantwoordelikheid om toe te sien dat water so ver moontlik vir inwoners beskikbaar bly, sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse wetgewer.

Sy sê dit is onaanvaarbaar dat swak tot geen instandhouding en hoë uitstaande skuld aan waterrade, droogtegeteisterde dorpe se watertekorte vererger.

“Die ANC-regering het die afgelope 23 jaar instandhouding en opgradering van waterinfrastruktuur afgeskeep. Miljarde rand gaan verlore weens waterlekkasies, en vervalle watersuiweringsaanlegte bedreig die beskikbaarheid van skoon water.

“Die knellende droogte van die afgelope paar jaar in die provinsie plaas enorme druk op waterverbruikers en dit is die plig van provinsiale en plaaslike owerhede om ʼn vinger op die pols van gebrekkige waterhulpbronne in die provinsie te hou.

“Die VF Plus sal ʼn vraag aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Sisi Ntombela, rig om uit te vind wat haar departement doen om te verseker dat skaars waterhulpbronne in die provinsie gedurende droogtetye effektief bestuur word.

“Net soos inwoners die verantwoordelikheid het om water spaarsamig te gebruik, rus die onus ook op die departement en munisipaliteite om te verseker dat, selfs in droogtetye, water aan inwoners beskikbaar is.

“Dit sluit onder meer in dat, waar nodig, waterbesparingsmaatreëls geïmplementeer word, maar ook dat die Vrystaatse regering en munisipaliteite verantwoordelikheid neem vir lekkasies weens stukkende pypleidings wat ʼn enorme hoeveelheid water verlore laat gaan.

“Waar dit wil voorkom of die Kaapstadse metroraad nie behoorlik voorsiening gemaak het vir watertekorte nie en krisisbestuur daartoe gelei het dat inwoners nie net water moet bespaar nie, maar ook nou meer moet betaal vir die gevolglike verlies aan waterinkomste, wil die VF Plus toesien dat dieselfde lot nie die inwoners van Vrystaatse munisipaliteite tref nie.

“Die VF Plus wil weet wat ons owerhede doen om “Dag-Zero” in munisipaliteite in die provinsie te voorkom.

“VF Plus-raadslede in die provinsie sal ook vrae hieroor by hul onderskeie munisipale rade indien om te verseker dat munisipaliteite hul grondwetlike verpligting om water aan inwoners te voorsien, nakom,” sê Wessels.

Die Vryburger

Die hof het ten gunste van Hoërskool Overvaal besluit wat die departement van onderwys verhinder om 55 sogenaamde Engelssprekende leerlinge toe te laat tot die skool.

Regter Bill Prinsloo het bevind dat daar twee Engelstalige skole in die omgewing is wat inderdaad nog plek het om leerlinge in te neem, en dat Overvaal vol is dus nie deur Lesufi se departement gedwing kan word om hulle in te neem nie.

Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyato Lesufi, was woedend oor regter Prinsloo se uitspraak, en het onmiddelik aangekondig dat die departement gaan appelleer teen die uitspraak.  Daarvoor het hy weer belastingbetalersgeld nodig om sy stryd teen Afrikaans en blankes voort te sit.

Ouers wat aan die verloorkant van die hofsaak was het na die uitspraak gesê dat hulle die skool sal afbrand tot op die grond. Lesufi het egter gevra dat hulle net moet dans en sing as die skool begin, en hulle beloof dat hy die saak die Grondwethof sal voer.

VF Plus se adv. Anton Alberts het die uitspraak as “bemoedigend” beskryf, en sê dit wys opnuut dat die politieke speletjies van die Gautengse onderwysdepartement net skade bring vir wit en swart ouers en leerlinge.

Adv. Alberts sê die hof met dié uitspraak bevestig dat die Gautengse onderwysdepartement die skolestelsel op só ʼn wyse manipuleer dat rassepolarisasie onafwendbaar word wanneer vol Afrikaanse skole gedwing word om Engelse leerlinge in te neem al kan hulle nie.

“Die VF Plus het al verskeie kere vasgestel dat daar enersyds nie genoeg skole gebou word in Gauteng om al die tale te akkommodeer nie, asook dat bestaande infrastruktuur nie voldoende gebruik word nie, soos hierdie saak nou uitgewys het.

“Dis is duidelik die hof het bevind dat die Gautengse onderwysdepartement onder Panyaza Lesufi eerder daarin belang stel om politiek te bedryf as om hul grondwetlike pligte na te kom deur seker te maak daar is genoeg geriewe om leerders van alle tale te akkommodeer.

“Hierdie uitspraak is bemoedigend en ek hoop indien dit op appèl geneem word, die appèlhof dieselfde siening sal handhaaf,” sê adv. Alberts.

Die Vryburger

 

Die Openbare Vervolgingsgesag het beslagleggingsbevele onderteken waarvolgens die Bate Beslagleggings Eenheid vandag op van die bates van die berugte Indiese familie beslag gaan lê. Bates ter waarde van R1,6 miljard word hierdeur geraak.

Die eenheid het in drie hof aansoeke gevra vir die bevele en ‘n kurator sal aangestel word om toesig te hou oor die bates.  Volgens die aansoek is die bates verkry deur misdadige handelings.

Die aansoek sou gepaard gaan met bevele van arrestasie van persone wat betrokke was in die betrokke sake. Daar word wel verwag dat een van die Gupta broers gearresteer gaan word maar dit is nie seker wie dit gaan wees nie.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne word ook met die saak verbind.

Beslaglegging sal gedoen word op bates sowel as gelde in banke , plaaslik en oorsee.

Waarnemers glo dat die tydsberekening die posisie van die direkteur van Openbare Vervolging, Shaun Abrahams, kan bevoordeel.  Daar word bespiegel dat die ANC op sy eerskomende vergadering kan besluit om Abrahams te vervang, maar die feit dat hy nou lasbriewe laat uitreik het om staatskaping te bekamp, kan die planne om hom te vervang, bemoeilik.

Deurdat grondeisers tot nou toe feitlik deur die bank nie in grond belang gestel het nie maar eerder in geld, het die staat self in besit gekom van feitlik al die grond wat sedert 1994 in die grondhervormingsproses oorgedra is.

Dr. Pieter Groenewald, leier van VF Plus, sê die vraag is dus waarom hierdie grond, wat reeds in staatsbesit is, nie voortaan in die grondhervormingsproses gebruik kan word nie aangesien dit enige sprake van onteiening sonder vergoeding, soos nou deur mnr. Cyril Ramaphosa, leier van die ANC in die vooruitsig gestel word, onnodig sou maak.

Volgens dr. Groenewald verwelkom hy die erkenning van Ramaphosa dat die meeste van die landbougrond wat tot dusver oorgedra is “braak lê en nie bewerk word nie”. Hy sê dit is een van die grootste probleemareas rakende grondhervorming waarop Ramaphosa en die regering eerder moet fokus.

Antwoorde op parlementêre vrae van dr. Groenewald toon aan dat slegs een persent van die grond wat die regering deur grondhervorming verkry het, deur wettige eienaarskap aan ʼn eiser oorgedra is.

“In 93% van alle suksesvolle eise het die eisers nie grond verkies nie, maar geld. Dit beteken dat die totale proses tot nou byna dubbel soveel gekos het as wat dit moes kos aangesien die grondeienaar betaal moes word, en daarna ook die eiser. In effek raak die staat sodoende ook die eienaar van die grond.

“Van die 7% wat wel grond verkies het, het 90% totaal misluk. Slegs een uit tien kommersiële plase wat deur grondhervorming bekom is, is in ʼn wisselende mate van sukses steeds in bedryf. Talle hiervan moes teen groot koste deur herkapitalisering van ondergang gered word”, sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald sê dié feite maak dit duidelik dat die ANC bloot om politieke gewin besig is met skadelike retoriek oor grondhervorming om die massas te mislei.

“Die VF Plus sal graag van die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming wil verneem presies hoeveel grond sedert 1994 in staatsbesit gekom het deur die grondhervormingsproses, hoe dit tot dusver benut is, en wat daarmee beoog word.”

TLU SA het vroeër geëis dat grond waar kompensasie deur die staat aan eisers uitbetaal is as deel van die restitusieproses, beskou moet word as grond wat reeds “hervorm” is en as sodanig in ‘n grondoudit aangetoon moet word.

Die Vryburger

Temperature vir vandag vir die hoof sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

 

Warmbad –  Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 19 en maximum van 33

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm met matige of swaar reën met ‘n minimum van 17 en maximum van 33

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm – met ‘n minimum van 21 en maximum van 36

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 21 en maximum van 33

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en  baie warm –  met ‘n minimum van 20 en maximum van 34

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 20 en maximum van 34

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm met reën plek plek met ‘n minimum van 23 en maximum van 33

Kimberly – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm met matige tot swaar reën buie met ‘n minimum van 24 en ‘n maksimum van 37

Durban – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 23 en maximum van 30

Oos London – Gedeeltelik bewolk en warm – met reën plek plek – met met ‘n minimum van 23 en maximum van 28

Upington – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm – met matige tot swaar reën – met ‘n minimum van 27 en maximum van 40

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en warm – met ‘n minimum van 21 en maximum van 28

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk  en warm  – met reën plek plek – met ‘n minimum van 22 en maximum van 25

Sutherland – Mooi weer en baie warm – met ‘n minimum van 16 en maximum van 32


 

Be the first to comment

Leave a Reply