Potgooi- Nuus en Weer 13 Februarie 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Aangebied deur Corrie Weeksdae om 9vm

Luister weer

Kennisgewing

  1. Die Radio raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die radio gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Nuus

Kaap ‘se water kan hou as verbruik laag bly’

Damvlakke in die Wes-Kaap staan tans op 22,6% in vergelyking met 34,7% verlede jaar, waarvan die laaste 10% ondrinkbaar is.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die provinsie is druk besig om die voortslepende waterkrisis te bestuur om te verseker dat geen munisipaliteit, insluitend die Kaapstad-metro, se water opraak nie.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die provinsie is druk besig om die voortslepende waterkrisis te bestuur.Foto: Deon Raath

“Ons bly optimisties dat die provinsie sy gewone winterreënvaltyd sal ingaan met ’n bietjie water wat nog oor is in die stelsel, mits die waterverbruik laag gehou kan word. Ons benodig die volgehoue ondersteuning van die publiek en ander belanghebbendes om dit te verseker.”

In die Kaapstadse metropool beteken dit elke persoon moet minder as 50 liter water per dag gebruik om dag zero te kan vermy.

Volgens Bredell is die jongste damvlakke egter kommerwekkend, al is daar ’n paar positiewe aanduidings.

“Die grootste dam wat water aan Kaapstad verskaf, die Theewaterskloofdam, is tans 11,7% vol. Hierdie dam word egter doelbewus afwaarts bestuur deurdat die water gepomp word na naburige damme in die Kaapstad-stelsel. Dit sluit in die boonste Steenbrasdam wat nou 81% vol is en die Bergrivierdam wat tans 52% vol is.”

Dit word gedoen om verdamping te verminder.

Bredell beklemtoon dat mense steeds water spaarsamig moet gebruik.

“Die hele provinsie, met die uitsondering van net ’n paar plekke, bly op ’n hoë risiko en in die greep van ’n knellende droogte. Om deur die krisis te kom, vereis ’n voortgesette spanpoging. Die jongste damvlakke is die Theewaterskloofdam 11,7% (30,8% in die ooreenstemmende tyd in 2017); die Voëlvleidam 17,3% (37,9%), die Clanwilliamdam 13,1% (42,7%) en die Brandvleidam 12,5% (27,03%).

Netwerk 24

Des van Rooyen stry 

Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het erken dat hy kort voor sy aanstelling as minister van finansies in Desember 2015 met die omstrede Gupta-familie vergader het.

Hy beweer egter dit was in sy kapasiteit as tesourier-generaal van Umkhonto weSizwe se veteranevereniging (MKMVA) in ’n poging om geld vir die vereniging se programme te werf.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het dié weergawe van Van Rooyen verwerp en bevind dat Van Rooyen vir die parlement gelieg het toe hy in reaksie op ’n parlementêre vraag beweer het dat hy nog nooit die Guptas as minister ontmoet het nie.

Mkhwebane het verder bevind dat Van Rooyen die etiekkode vir kabinetslede verbreek het en dat die president teen hom moet optree.

Dié bevindings word gemaak in ’n verslag wat Mkhwebane Maandag op die OB-webtuiste uitgereik het.

Netwerk 24

Chanté Pienaar (14), wat Sondag vermis geraak het, is Maandagaand opgespoor.

Chanté se ma, Billy Pienaar, het in ’n stemboodskap dankie gesê aan almal wat help soek het en het bevestig die tiener is terug in haar ouers se sorg.

Volgens Pienaar was Chanté by haar ouma, wat “sommer ’n hofbevel gekry het om haar uit my huis uit te verwyder”.

Pienaar het nie oor die hofbevel of redes vir die sogenaamde ontvoering uitgebrei nie.

Chanté het Sondagmiddag in die Steve Bikostraat-omgewing in Pretoria verdwyn.

Haar ouers, Jacques en Billy Pienaar, het hul kind omstreeks 15:00 by die polisie in Wonderboom as vermis aangemeld.

Skaars ’n uur voordat sy weggeraak het, het sy aan haar ouers gesê sy gaan buite speel. Haar oranje rugsak was ook weg.

Die hele gemeenskap, asook Laerskool Pierneef, waar Chanté ’n leerling is, het ingespring en gehelp soek.

Netwerk 24

MRK besig met ‘versoening’ in Gretha Wiid-saak

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) is tans besig met ’n versoeningsproses in die Gretha Wiid-saak.

Buang Jones, Gautengse hoof van die MRK, sê die ondersoek na Wiid, ’n Christelike motiveringspreker, se uitlatings oor homoseksualiteit in haar boeke is steeds aan die gang.

“Daar is tans ’n versoeningsproses aan die gang, maar meer as dit kan ek nie nou sê nie,” sê Jones.

Dit kom nadat die MRK sowat 70 klagtes oor Wiid se uitlatings ontvang het. Dit handel oor haar uitlatings oor homoseksualiteit in van haar boeke vir tieners.

Verskeie mense is omgekrap omdat Wiid in haar boeke vir tieners, Lyfslim vir seuns en Lyfslim vir meisies, geskryf het dis hartseer om homoseksueel te wees.

’n Paragraaf in Lyfslim vir meisies lui: “Ongeag wat die redes vir homoseksualiteit is (of jy nou met my saamstem of nie), dit bly hartseer. Sulke mense kan nooit op die normale manier kinders hê nie. En sou hulle kinders aanneem, sal die kinders nooit die wonderlike voorreg hê om ’n pappa én ’n mamma te hê nie.”

Jones het vroeër gesê die prima facie-oortredings hou verband met die reg op gelykheid, kinderregte en vryheid van spraak.

Haar uitsprake is verdoemend en simplisties en sonder hoop vir ’n kind

Netwerk 24

Weermag trek in Kimberly in

Die weermag sal alles in sy vermoë doen om Kimberliete tegemoet te kom vir die voorbereiding en ten tyde van Nasionale Weermagdag op 21 Februarie.

Die volgende dae en volgende week gaan duisende lede en voertuie van die nasionale weermag, vloot en lugmag die Diamantstad binnestroom.

Die president sal op 21 Februarie hulde bring aan gestorwenes van onder meer die SS Mendi, wat met 646 lede gesink het.

Die kranslegging om 09:50 by die Tweede Wêreldoorlog-senotaaf in Du Toitspanweg is ook ter ere van oudpres. Nelson Mandela, die eerste opperbevelvoerder van die nasionale weermag.

Netwerk24

Nie amptelik bevestig Zuma is herroep ná nag van drama

Daar was Dinsdag in die vroeë oggendure nog nie amptelike bevestiging dat pres. Jacob Zuma ná ’n nag van hoë politieke drama deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) herroep is nie.

Die SAUK het kort nadat die NUK se marathonvergadering van 13 uur omstreeks 03:00 geëindig het, berig Zuma is volgens SAUK-bronne in die NUK herroep.

News24 se bronne in die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam tussen nasionale konferensies, het ook só gesê. ’n Senior bron het dit ook aan die nuusagentskap Reuters gesê.

Die ANC het dit egter nog nie bevestig of ontken nie. Die party het deur die loop van die dag en nag geen inligting oor die vergadering bekend gemaak nie.

‘n Mediakonferensie vind om 12:00 by Luthuli-huis in Johannesburg plaas waar die NUK se besluit amptelik bekend gemaak sal word.

’n Brief sal Dinsdag aan Zuma gestuur word om hom oor die NUK se besluit in te lig.

Daar sal dan op sy antwoord gewag word.

Netwerk 24

‘Jy sal sien waartoe ek in staat is,’ sê JZ glo

‘n Bron sê daar was ‘n lang bespreking waarin pres. Jacob Zuma se ondersteuners, insluitende dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, sy eksvrou, vir meer tyd vir Zuma gevra het om sy sake af te handel.

Meer as 60% van die sprekers het egter aangevoer dat hy skadelik is vir die ANC en dadelik moet gaan.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa en Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal, is Maandagaand na Zuma gestuur om ‘n onderneming te verseker dat hy sou bedank.

Magashule het egter terug by die hotel Zuma se weiering om te bedank aan die vergadering gekommunikeer en blykbaar ‘n dreigement van Zuma herhaal: “You will see what I’m capable of”.

Dit het glo tot die eenparige besluit gelei om hom dadelik te herroep. Hy sal na Luthuli-huis ontbied word om die kommunikasie van die NUK se besluit Dinsdagoggend te ontvang.

As hy nie dadelik bedank nie, sal die ANC onmiddellik vra vir ‘n mosie van wantroue.

Netwerk24

Aanduidings is dat die ANC se Nasionale Uitvoerende Komiteelede die einde van die pad met president Jacob Zuma bereik het te midde van sy voortgesette weiering om te bedank. Onbevestigde berigte lui dat die NUK by sy marathonvergadering van 13 ure by die St George’s Hotel in Irene, wat vanoggend om drieuur verdaag het, besluit het om ‘n mosie van wantroue teen Zuma in te stel. Die president het blykbaar gevra om nog vir drie maande in sy amp aan te bly. Dit is egter verwerp..

Twee moontlike scenarios kan ontvou:

1. Pres. Jacob Zuma bedank. Hy moet die brief by die parlement indien waarna die adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, die waarnemende president sal word.

2. ‘n Mosie van wantroue in Zuma slaag. Zuma en sy hele kabinet moet bedank. Hierna sal Baleka Mbete, speaker, ingehuldig word totdat ‘n nuwe president binne 30 dae aangewys word.

Intussen sal die Speaker van die Parlement, Baleka Mbete, nog ‘n besluit moet aankondig oor die EFF se versoek dat die mosie van wantroue in president Zuma vandag moet plaasvind. Mbete het in die brief aan die EFF gesê sy sal die leier, Julius Malema, oor die kwessie antwoord. Sy het berigte ontken dat die versoek van die hand gewys is. Die mosie is aanvanklik geskeduleer vir 22 Februarie.

Sol Kerzner is terug in die land,

dié keer om sy hand aan ’n eksklusiewe residensiële ontwikkeling vir rykes te waag.

Die (nou bejaarde) Sonkoning, bekend vir sy eksotiese hotel- en oordontwikkelings in Suid-Afrika en oor die wêreld heen, gaan ’n deel van die omvattende Kerzner-familie se Leeukoppie-eiendom tussen Houtbaai en Llandudno in Kaapstad in ’n ekovriendelike landgoedontwikkeling ontwikkel.

Kerzner se laaste ontwikkeling op Suid-Afrikaanse bodem was die One&Only-hotel in die V&A Waterfront in 2008.

Hy sê sedert hy twee jaar gelede uit die hotelbedryf getree het, het hy baie tyd gehad om te dink, en besluit dit is dalk nie so ’n slegte idee om 10 ha van die Leeukoppie-eiendom van 150 ha te ontwikkel nie. Hy het dié eiendom in 1983 gekoop en dit is steeds sy Kaapstadse tuiste, waar hy oor die jare heen ’n magdom glanspersoonlikhede en hooggeplaastes onthaal het.

Een van die kernbeginsels waarop Kerzner sy gasvryheidsukses gevestig het, was om gaste se asem om elke hoek en draai weg te slaan. Hy hoop dat dit ook die geval gaan wees met die nuwe Kerzner Estate, met sy unieke perseel en panoramiese see- en berguitsigte.

Netwerk24

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

 

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 16 en maximum van 32

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met reën plek plek – met ‘n minimum van 17 en maximum van 30

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 19 en maximum van 31

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm – met ‘n minimum van 17 en maximum van 28

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 16 en maximum van 30

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 18 en maximum van 31

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met matige of swaar reën – met ‘n minimum van 17 en maximum van 29

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met ‘n minimum van 22 en ‘n maksimum van 31

Durban – Gedeeltelik bewolk en warm – met matige of swaar reën buie -met ‘n minimum van 22 en maximum van 28

Oos London – Gedeeltelik bewolk en warm – met matige of swaar reën buie – met ‘n minimum van 22 en maximum van 23

Upington – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met reën plek plek – met ‘n minimum van 25 en maximum van 33

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en baie warm – met matige of swaar reën buie – met ‘n minimum van 25 en maximum van 32

Port Elizabeth – Bewolk met ligte reën – met ‘n minimum van 16 en maximum van 21

En laastens

Sutherland – Bewolk met reën buie – met ‘n minimum van 15 en maximum van 26


 

Be the first to comment

Leave a Reply