Potgooi – Gesondheid – Menopause 10 Mei 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Aangebied deur Cathy Donderdae om 11vm(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/CATHY20180510Menopause.110003

 

10 feite oor menopouse

Deborah Herd deel 10 dinge wat dokters wil hê jy moet weet

Wat is menopouse?

Menopouse verwys na die finale menstruele siklus en word bevestig wanneer ’n vrou 12 opeenvolgende maande lank nie haar maandstonde gehad het nie. Die tyd voor dit, wanneer haar maandstonde ongereeld is, word perimenopouse genoem. Dit kan twee tot drie jaar of so lank as 10 jaar duur.

Die meeste vroue begin in hul vroeë 40’s tekens sien, maar party ervaar dit al in hul middeltot laat-30’s. Die gemiddelde ouderdom waarop vroue hul menopouse kry, is 51.

1. Dis normaal!

Die menopouse is die natuur se manier om te sê dis tyd om op te hou babas maak en ’n bietjie pret te hê, sê prof. Peter Roos, ’n Kaapse ginekoloog en verloskundige, en ook die oudpresident van die Suid-Afrikaanse Menopousevereniging. Dit gebeur omdat die eierstokke ophou om estrogeen en ander hormone te vervaardig wat die reproduksiesiklus beheer.

Dit veroorsaak dat jou maandstonde ongereeld raak en eindelik ophou. Sommige vroue het geen ander tekens van die menopouse behalwe ongereelde maandstondes nie, maar baie ervaar warmgloede en nagsweet. Hulle sukkel ook om te slaap en ervaar buierigheid, breinbeneweldheid en algemene pyne en skete.

Dié simptome kan vir party vroue uitermatig wees en die lewe vir hulle baie moeilik maak. “Dis normaal, maar daar is gevolge wanneer jou eierstokke ophou werk,” sê Roos. “Voor die 1900’s, toe 50 as ’n goeie ouderdom beskou is vir vroue om te haal, was die menopouse nie so ’n groot bekommernis nie.

Deesdae leef vroue baie langer as 50 jaar en is die newe-effekte van die menopouse meer problematies.” Die goeie nuus is dat sowat 50% van vroue se simptome binne drie tot vyf jaar opklaar.

2. Handhaaf ’n gesonde lewe

Die eerste stap om die menopouse te beheer is om gesond te leef, sê Roos. “Menopouse-handhawing gaan nie net daaroor om dokter toe te gaan en ’n paar hormone te ontvang nie.” Navorsing toon dat mense wat ’n gesonde lewe lei minder erge simptome ervaar.

Eet verskeie kosse van al die voedselgroepe, oefen gereeld, handhaaf ’n normale gewig, moenie rook nie, en drink klein hoeveelhede alkohol. “As jy die gesondheidsprobleme in ag neem wat ná die menopouse intree – ’n hoër risiko vir hartsiekte en osteoporose – is fisieke oefening een van die min goed wat ’n verskil maak,” sê hy.

“Wanneer vroue gevra word waaraan hulle dink hulle sal sterf, sê hulle bors- en ovariële kanker. Maar die meeste sal weens hartsiekte, hoë bloeddruk en diabetes sterf, wat alles leefstylsiektes is.”

3. Moenie ly nie – Vind meer uit oor HVT

Hoewel ’n gesonde leefstyl die uitwerking van die menopouse kan help verlig, is hormoonvervangingsterapie (HVT) die enigste “baie doeltreffende” metode om die simptome te behandel, sê Roos. Hy benadruk egter dat ’n vrou net hormoonterapie moet kies nadat sy soveel moontlik huiswerk daaroor gedoen het.

Twintig jaar gelede is HVT as die “fontein van die jeug” beskou. Dokters het dit gereeld vir menopousale simptome voorgeskryf. Die standaardformule was ’n kombinasie van estrogeen en progestogeen.

In 2002 het die resultate van ’n Amerikaanse studie, die Women’s Health Initiative (WHI), getoon dat dié vorm van HVT die risiko vir sekere siektes verhoog het, veral borskanker, hartsiekte en beroertes. Media-opskrifte het vroue gebombardeer met die boodskap dat HVT gevaarlik is.

Vandag word die bevindinge baie anders geïnterpreteer. Wat is die ware risiko dus? “Ons kan nie die feit ignoreer dat sekere hormoonterapieë dalk die risiko vir borskanker met ’n baie klein hoeveelheid kan verhoog nie,” sê Roos.

“Dit neem gewoonlik vyf jaar vir die risiko om in te tree, maar dít is wat dit behels: As 1 000 vroue nie hormone neem nie, sal 100 borskanker kry; as 1 000 wel hormone neem, sal 101 borskanker kry. Dis nie ’n reuse-risiko oor vyf jaar nie, maar dis vir die vrou om te besluit of sy daardie klein risiko gaan waag.”

4. Sorg vir jou hart

Voor die menopouse het vroue ’n laer risiko vir hartsiekte as mans. Maar namate vroue ouer word en hul estrogeenvlakke daal, verhoog die risiko vir hartsiekte. Die WHIstudie het gevaarligte oor die uitwerking van HVT op hartgesondheid laat aangaan, maar volgens prof. Roos moet die tyd en soort HVT steeds in ag geneem word.

In onlangse studies is bevind dat die ouderdom waarop ’n vrou met HVT begin ’n invloed het op hetsy dit die hart sal beskerm of ’n risiko vir hartaanvalle en beroertes kan inhou, sê hy. “Daar is wat ons die venster van geleentheid noem vir vroue in hul 50’s, of binne die eerste 10 jaar ná hul laaste maandstonde, waar hormoonterapie waarskynlik voordelig eerder as gevaarlik is,” sê hy.

As menopousesimptome jou onderkry, maar jy is bekommerd oor hoe hormoonterapie jou hart sal beïnvloed, praat met jou dokter oor jou risiko.

 

5. Vaginale veranderinge is algemeen

Die afname in estrogeen het ’n uitwerking op baie dele van ’n vrou se liggaam, waaronder haar vagina en urienweg. Dit kan tot genito-urinêre sindroom van die menopouse lei, wat voorheen vulvovaginale atrofie genoem is, en dit raak glo 20% tot 45% van postmenopousale vroue.

Die vagina se wand word dunner, droër en minder elasties, wat ongerief, branderigheid of pyn gedurende seks kan veroorsaak. Dit verhoog ook die risko vir vaginale en blaasinfeksies en kan tot ’n ooraktiewe blaas lei. Dit kan uiteraard ’n vernederende en frustrerende toestand wees.

Baie vroue vind dit moeilik om dit met hul maat te bespreek, om nie eens van hul dokter te praat nie. Daar is behandelings, maar die toestand is geneig om progressief te wees en verbeter nie sonder mediese hulp nie.

Smeermiddels met ’n waterbasis, ’n gereelde sekslewe en oefening kan help, maar die doeltreffendste behandeling is topikale vaginale estrogeenterapie, wat “heeltemal veilig is omdat so min daarvan geabsorbeer word”, sê Roos.

6. Beheer die ‘meno-pot’

As jy agterkom dat jou liggaamsvorm verander – meer appel en minder peer – moenie verbaas wees nie. Hoewel daar geen wetenskaplike bewyse is dat die menopouse – of hormoonterapie – gewigstoename veroorsaak nie, is daar wel ’n herverspreiding van vet na die buik wat in dieselfde tyd as die menopouse plaasvind, en die sogenaamde “menopot” vorm.

Jy kan veroudering en jou leefstyl blameer. “Jy is dalk nie swaarder op die skaal nie, maar jou gewig skuif na jou maag toe. Dit gebeur met mans ook,” sê Roos. Namate ons ouer word, raak ons metabolisme stadiger en neem ons vetvrye liggaamsmassa af. Vroue raak gewoonlik minder aktief in hul 40’s en 50’s.

As jy minder kilojoules verbrand, verhoog jou gewig en vetmassa, en omdat jy minder atief is, neem jou spiermassa ook af. Ekstra gewig, veral om die buik, verhoog die risiko van baie siektes, waaronder kardiovaskulêre siekte, tipe 2-diabetes, hoë bloeddruk, osteoartritis en sommige kankers (soos bors- en kolonkanker).

Dit belemmer ook jou energievlakke en beweeglikheid en lei tot ’n swak selfbeeld. Dis nou die tyd om meer te beweeg, minder te eet en te leer om die veranderinge te aanvaar.

 

7. Jy is nie besig om jou varkies te verloor nie

Voel jou verstand ’n bietjie beneweld? Sukkel jy om goed te onthou en om te konsentreer? Jip, dis normaal. Volgens studies sê sowat 60% van perimenopousale en menopousale vroue dat hul geheue nie so goed is soos dit was nie. Maar moenie bekommerd wees nie – jy is nie besig om Alzheimer se siekte te kry nie.

In 2009 het navorsers aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles in die VSA bevind dat die geheue en leervermoë van die meer as 2 000 vroue wat oor vier jaar bestudeer is, ná menopouse na normaal teruggekeer het. Onthou dat die simptome van menopouse nie sielkundig is nie, maar fisiologies en baie werklik. Wys gerus hierdie artikel vir jou gesin as hulle dink jy’s besig om die kluts kwyt te raak.

8. Jy sal weer slaap

Een nag slaap jy nog soos ’n klip en skielik sukkel jy om aan die slaap te raak, of jy word gereeld in die nag wakker en kan nie weer insluimer nie. Versteurde slaap is een van die algemeenste simptome van die menopouse.

Wetenskaplikes is onseker oor hoe wisselende vlakke van estrogeen slaap kan beïnvloed, maar dit kan wees dat dit die vervaardiging van die brein-chemikalie serotonien beïnvloed, wat nodig is om melatonien, die slaaphormoon, te vervaardig. Algemene menopousesimptome soos warmgloede en nagsweet kan jou ook van ’n goeie nagrus weerhou.

“Dis belangrik, want te min slaap maak jou moeg en iesegrimmig, en dit het ’n uitwerking op jou geheue,” sê Roos. Dit maak dit ook moeilik om jou daaglikse take uit te voer en dít, saam met jou geïrriteerdheid, plaas druk op jou verhoudings.

Probeer vasstel of daar ’n onderliggende rede vir die slaapversteurings is: Kwel jy jou oor iets of sukkel jy om te ontspan? Word jy van warmgloede of nagsweet wakker? Dié drie simptome word gewoonlik die suksesvolste deur HVT behandel. Vra jou dokter vir raad.

9. Gaan vir ’n mammogram

Die menopouse is die tyd wanneer die meeste vroue vir gereelde mammogramme begin gaan om vir borskanker te toets. Dr. Jenny Edge, een van Suid-Afrika se top-borskankerspesialiste, beveel aan dat vroue wat ’n normale risiko vir dié kanker het van die ouderdom van 50 af elke twee jaar vir ’n mammogram (en ’n kliniese borsondersoek) moet gaan.

Vroue wat dalk oorerflike borskanker kan hê, moet reeds op die ouderdom van 40 begin, of 10 jaar vroeër as wanneer die jongste familielid borskanker gehad het.

10. Ja, jy kan steeds swanger raak

Gedurende die oorgang na die menopouse kan die simptome – warmgloede, nagsweet, onderbroke slaap en vaginale droogheid (om nie eens van die “meno-pot” te praat nie) – maak dat seks die laaste ding is waaraan jy dink. Die afname in testosteroon, wat ’n rol in ’n vrou se seksdrang en seksuele sensasie speel, kan ook jou behoefte beïnvloed.

’n Laer seksdrang is ’n algemene kwessie vir middeljarige vroue, maar dis net ’n probleem as dit jou en jou maat pla. Indien wel, bespreek dit met jou dokter. Daar’s niks wat hy of sy nog nie gehoor het nie. En onthou, jy kán gedurende die perimenopouse swanger raak.

Jou menstruele siklus is dalk ongereeld, maar dit is gevaarlik om aan te neem dat jy jou menopouse bereik het sodra jou maandstonde ophou. Jy is dalk net in die oorgangsfase. Wag totdat jy minstens ’n jaar sonder ’n maandstonde was voordat jy aanneem dat jy menopousaal is en nie swanger sal raak nie.

Roos sê ook: “Onthou dat daar ’n hoër risiko vir jou as ma en vir jou baba is wanneer jy op 40 of ouer swanger raak, en dis selfs gevaarliker as jy tussen 45 en 50 is.” Praat met jou dokter oor die beste voorbehoedmiddel vir jou.

Bron: Goeie Huishouding


 

Be the first to comment

Leave a Reply