41% van slagoffers is kinders

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Verkragting: 41% van slagoffers is kinders
Deur Andrea Küsel
17 Mei 2018

Kinders was die slagoffer in 41% van alle verkragtings wat die afgelope drie boekjare aangemeld is.
Bheki Cele, minister van polisie, het in ’n parlementêre vraag-en-antwoordsessie gesê 50 926 kinders was in dié boekjare die slagoffer uit ’n totaal van 124 526 verkragtings wat aangemeld is.
In dieselfde tydperk is 2 689 kinders vermoor.
Zakhele Mbhele, die DA se woordvoerder oor polisie, sê Woensdag in ’n verklaring luidens die statistieke is daar ’n suksesvolle skuldigbevinding in 21% van die kinderverkragtings, en een uit drie van die kindermoorde.
Kinders word meestal met vuurwapens (734 gevalle) vermoor. In 725 gevalle is ’n mes gebruik, en in 251 ’n skerp voorwerp. In 214 gevalle is kinders met die hand vermoor. Gif, pangas, petrolbomme en skroewedraaiers is ook gebruik.
Hierdie statistieke is bekend gemaak nadat die DA in Augustus 2017 aan die minister van polisie gevra het hoeveel kinderverkragtings en -moorde oor die afgelope drie boekjare plaasgevind het.
Mbhele doen ’n beroep op Cele om ’n sterk standpunt in te neem teen die “sinnelose verlies van lewens en die wreedaardige moord op ons kinders”.
* “Lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris, is geskok oor die moord op twee jong meisies, wie se lyke Dinsdag in ’n veld by Thokoza gekry is,” lui ’n verklaring wat deur kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, uitgereik is.
Die meisies, onderskeidelik agt en nege jaar oud, is Sondag vir die laaste keer lewend gesien toe hulle saam gespeel het.
“Die meisies is Maandag as vermis aangemeld en die soektog na hulle het onmiddellik begin. Die lyke is deur ’n gemeenskapslid gevind wat die polisie ontbied het,” sê Masondo.
’n Soektog na verdagtes is intussen deur die polisie begin. “Ek moedig die gemeenskap aan om saam met die polisie te werk om die moordenaar(s) te vind,” sê De Lange.
Die meisies se name word deur die polisie weerhou totdat al hul naasbestaandes van hul dood in kennis gestel is. Die polisie het hulle reeds geïdentifiseer.
* Intussen wag die polisie in Pretoria nog op ’n verslag van die outopsie van Katlego “Katli” Joja (10), ’n outistiese meisie wie se lyk op 6 Mei in ’n rivier in Mamelodi gevind is.
Brig. Mathapelo Peters sê dié verslag sal die polisie help om die oorsaak van haar dood te bepaal.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply