2 verkragters van jong meisies sit lewenslank

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

2 verkragters van jong meisies sit lewenslank
Deur Candice Bezuidenhout
17 Mei 2018

’n Man (44) is Dinsdag in die streekhof in Eshowe in KwaZulu-Natal tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ’n 11-jarige familielid in 2016.
Die slagoffer was die dag van die voorval by haar huis in die Emakhasaneni-omgewing buite Melmoth saam met familielede, toe sy aandete vir die beskuldigde moes neem. Nadat sy die man se hut betree het, het hy haar gegryp, op sy bed neergepen en haar verkrag. Hy het ook gedreig om haar en haar familie te vermoor as sy iemand sou vertel.
Die meisie het stilgebly, maar nadat die man haar in Februarie 2017 weer verkrag het, het sy haar suster daarvan vertel, wat die saak by die polisie aangemeld het.
’n Saak van verkragting is dadelik aanhangig gemaak.
In ’n ander voorval is ’n 46-jarige man van die Kwanyamazane-omgewing ook Dinsdag in die streekhof in Pietermaritzburg lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy ’n 14-jarige meisie in September 2016 verkrag het. Sy het by haar vriendin gekuier toe die beskuldigde haar roep en winkel toe stuur om sigarette te gaan koop. Toe sy terugkeer, het hy die deur gesluit, haar hande vasgebind, haar mond toegeplak en haar verkrag. Hy het ook gedreig om haar dood te maak as sy enigeen van die verkragting vertel. Die meisie het egter dadelik die voorval by die bure aangemeld, wat die meisie se ma in kennis gestel het.
Die waarnemende polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, genl.maj. Bheki Langa, het die vonnisse verwelkom en sê verkragters hoort agter tralies.
“Ons is tevrede met die vonnisopleggings. Dit sal ’n sterk boodskap stuur aan voornemende verkragters in die provinsie dat ons gespesialiseerde eenhede sal verseker dat diegene wat betrokke is, swaar gestraf word,” het hy gesê.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply