300 gereed vir brande in W-Kaap

300 gereed vir brande in W-Kaap
Deur Jackie Kruger
17 Mei 2018

Bykans 300 brandbestryders van Werk met Vuur (WoF) gaan in die wintermaande in gereedheid wees vir die (winter-) brandseisoen in die suidelike dele van die Wes-Kaap.
In dié dele is daar heeljaar brandgevaar.
Voorbereidings vir die 2018/19-somerbrandseisoen is reeds aan die gang, sê Lauren Howard, ’n WoF-woordvoerder.
In die 2017’18-somerbrandseisoen het meer as 1 000 WoF-brandbestryders plaaslike brandweerdienste en ander vennote gehelp om 250 veld- en bosbrande in die Wes-Kaap te blus. Altesame 186 800 ha het gebrand.
Lugbystand soos helikopters en vliegtuie het bietjie meer as 1 360 vliegure afgelê.
In vergelyking met die 2016’17-somerbrandseisoen was daar ’n afname in brande. Volgens Howard kan dit toegeskryf word aan bewusmakingsprogramme oor brande en werksessies deur WoF in samewerking met belanghebbendes.
Weens die huidige droogte word daar ’n moeilike winter-brandseisoen verwag. Danksy vennootskappe met die Wes-Kaapse rampbeheersentrums, CapeNature, die Southern Cape Fire Protection Association, Sanparke en die Cape Peninsula Fire Protection Association kan daar gou opgetree word om veldbrande in bedwang te bring.
WoF het ook ’n nasionale span wat na enige plek in Suid-Afrika gestuur kan word om boere en grondeienaars te help om brande te bestry.
Die WoF-program vier vanjaar sy 15de bestaansjaar en help jaarliks om gemiddeld 2 500 veldbrande te bestry.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply