Hermanus-spanning ontlont, werkkomitee saamgestel

Hermanus-spanning ontlont, werkkomitee saamgestel
Deur Warda Meyer
18 Mei 2018

Inwoners van Zwelihle op Hermanus het Donderdagaand met senior amptenare van die Overstrand-munisipaliteit vergader om ’n werkkomitee saam te stel wat die belange van albei groepe op die hart sal dra.
Spanning het die afgelope paar dae hoog geloop nadat Zwelihle-inwoners die strate ingevaar het en probeer het om grond te beset.
Betogers het hul fokus geskuif na die skilderagtige strandeiendom by Schulphoek waar hulle strukture wou oprig.
Schulphoek was eens munisipale eiendom. Dit is later aan ’n privaat ontwikkelaar verkoop.
Chris Nissen van die Menseregtekommissie het bevestig dat die kommissie die gemeenskap en amptenare van die plaaslike munisipaliteite om een tafel gekry het om behuisingskwessies te bespreek.
Dié vergadering is op ’n neutrale plek by die nuwe hawe gehou, terwyl die polisie en munisipale wetstoepassers die situasie gemonitor het.
“ ’n Samewerkingsooreenkoms is bereik. Daar sal saamgewerk word met die forum wat vroeër deur Bonginkosi Madikizela, LUR vir menslike nedersettings in die Wes-Kaap, saamgestel is,” het Nissen gesê.
Volgens Nissen het die feit dat Madikizela reeds aangedui het dat die regering beplan om Schulphoek, wat ’n klipgooi van Zwelihle is, terug te koop, het gehelp om die mense te kalmeer.
Madikizela het bevestig dat Schulphoek se eienaars ingestem het om die grond aan die regering te verkoop.
Hy wou nie sê wat die verkoopprys sal wees nie. “Dit maak nie saak hoeveel hulle vra nie, want wat hulle ook al vra, moet kragtens wet aan ’n waardasieproses onderwerp word.”
Madikizela sê hulle sal waardasies van drie waardeerders kry “en die een gebruik wat redelik is”.
Nissen sê die kommissie sal ’n oorsigrol speel.
Intussen sal Dan Plato, LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vrydag ’n opvolgvergadering oor veiligheidsake met inwoners van die gebied hou.
“Ek gaan nie oor behuisingskwessies nie, ek gaan om met die mense te praat oor veiligheidskwessies,” het die LUR gesê.
Die polisie het vroeër Donderdag rubberkoeëls gebruik om te verhoed dat ’n groep betogers die Abagold-perlemoenaanleg bestorm. Hulle het ook bevestig dat die gebied teen die aand veel rustiger was.
Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het gesê “die dorp is weer stil, daar is geen insident om te rapporteer nie.”
Traut het vroeër gesê drie mans is Woensdagaand in hegtenis geneem in verband met die betogings.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply