CIA kry sy eerste vrouedirekteur

CIA kry sy eerste vrouedirekteur
18 Mei 2018

Die Amerikaanse senaat het Donderdag gestem om Gina Haspel as direkteur van die Sentrale intelligensiediens (CIA) te bevestig nadat talle demokrate toegegee het om vir haar te stem ten spyte van die omstredenheid oor haar betrokkenheid in die wrede ondervraging van vermeende terroriste ná 9/11.
The Washington Post berig ’n publisiteitsveldtog en laaste poging deur voormalige direkteure John Brennan en Leon Panetta, wat glo vyf demokrate oortuig het om hul stemme te heroorweeg, was die rede waarom sy die verkiesing gewen het. Sy het die stemming met ’n uitslag van 54 teenoor 45 gewen.
Haspel (61), die eerste vrouedirekteur, is die afgelope 33 jaar in diens van die CIA en het volgens The Washington Post nie so ’n goeie verhouding met pres. Donald Trump soos die voormalige direkteur, Mike Pompeo, nie.
Die nasionale radiostasie NPR berig sy is sedert William Colby, wat in die 70’s die direkteur was, die eerste direkteur wat uit die agentskap kom.
The Washington Post berig sy het ’n groot rol gespeel in Trump se streng optrede teen Rusland ná ’n chemiese aanval op ’n voormalige Russiese spioen in Engeland, Amerika se intelligensievennote, en het glo aanbeveel dat die Russiese diplomate in Amerika die land moet verlaat.
Haspel is vroeër daarvan beskuldig dat sy by die vernietiging van beeldmateriaal en ander bewysstukke van die marteling van gevangenes betrokke was. Oudpres. Barack Obama en ander het die manier waarop twee lede van Al-Kaïda in dié tronk ondervra is later as ’n “marteling” beskryf, berig die BBC.
Haspel se loopbaan in die CIA het 1985 begin toe sy in Ethiopië gestasioneer was. Sy is later tot bevelvoerder in Bakoe in Azerbeidjan bevorder en het op 11 September 2001 deel van die CIA se teenterrorisme-eenheid geword. In haar veldtog om die volgende direkteur te word het sy en haar ondersteuners die historiese betekenis van haar nominasie beklemtoon en hoe dit vroue in die agentskap sal bevorder.
“Dit is nie in my aard om uit te lig dat ek as vrou genomineer is vir ’n topposisie nie, maar dit sou ’n fout wees as ek dit nie uitwys nie. Veral vanweë al die ondersteuning wat ek ontvang het van jong vroue in die CIA wat meen dat dit ook goed vir hul vooruitsigte sal wees,” het sy verlede week in haar bevestigingsverhoor aan senators gesê.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply