Potgooi – Nuus en Weer 5 Junie 2018

Aangebied deur Yolanda weeksdae om 9:30 (CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-06-05.092927

 

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo

 

 

Hooftrekke

  • Die EFF sê die herbenoeming van die Kaapstadse Internasionale Lughawe moet mense nie verdeel nie. Dit volg nadat ‘n openbare vergadering gisteraand op die lughawe oor ‘n naamsverandering in chaos ontaard het. ‘n Khoisan-groep en EFF-ondersteuners het in ‘n woordestryd betrokke geraak en EFF-ondersteuners het die podium bestorm. Hulle eis dat die lughawe na die struggle-ikoon, Winnie Madikizela-Mandela hernoem word. Die Khoi-woordvoerder, Tania Kleinhans, sê die lughawe moet in ‘n geskiedkundige konteks na hulle voormoeder Krotoa hernoem word. Krotoa het in die 1600’s as kind in Jan van Riebeeck se kombuis gewerk en is later as tolk ingespan tussen die Nederlanders en die Khoisan. Dit is môre die spertyd vir die publiek om kommentaar en aanbevelings oor die naamsverandering in te handig.
  • Vonnisoplegging in die Henri van Breda-moordsaak begin vandag in die hooggereghof in Kaapstad. Van Breda is sowat twee weke gelede skuldig bevind aan die moord op sy pa, ma en broer by hulle huis in die De Salze landgoed by Stellenbosch
  • Die regspan van Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, sal na verwagting vanoggend hul betoë in die hooggeregshof in Kaapstad afsluit. Die span, onder leiding van advokaat Dali Mpofu, het gister aangevoer dat die DA se aansoek vir die skrapping van die klousule oor die beëindiging van lidmaatskap onkonsekwent en ongrondwetlik is. Mpofu en advokaat Johan de Waal het ook aangevoer dat die DA onwettige metodes gebruik het om De Lille as burgemeester te verwyder. De Waal sê die DA se Federale Uitvoerende Raad het nie behoorlik aandag geskenk aan die saak nie.
  • Motoriste sal vannag om middernag aansienlik duurder vir brandstof betaal, wat aanleiding kan gee tot traer verbruikersbesteding weens hoër inflasie. Die prys van petrol styg met 82 sent per liter wat die prys tot bó 15-rand per liter opstoot. Die Departement van Energie het verlede week ook aangekondig dat die dieselprys met 87 sent per liter styg en paraffien een-rand-nege sent ‘n liter duurder sal wees. Gas styg ook skerp met een-rand-38 sent per kilogram. Die stygings is vanweë ‘n swakker rand en ‘n styging in oliepryse. Dit is die derde keer vanjaar dat brandstofpryse styg.
  • President Cyril Ramaphosa sal sy eweknie van die betwiste Sahrawi Arabiese Republiek, Brahim Ghali, vanoggend by die Uniegebou in Preoria ontvang. Ghali besoek Suid-Afrika om diplomatieke steun te werf teen Marokko se besetting van Wes-Sahara. Suid-Afrika skaar hom by die standpunt van die meeste Afrika-Unie-lede dat Marokko se besetting onwettig is en dat die inwoners van Sahrawi oor hul eie sake moet kan besluit. Die AU het Marokko verlede jaar tot die liggaam hertoegelaat, hoewel talle drukgroepe die besluit veroordeel het. Suid-Afrika erken sedert 2004 die onafhanklikheid van die Sahrawi-republiek.
  • Die Vrystaatse departement van Gesondheid het erken dat daar ‘n ernstige personeeltekort in die Pelonomi-hospitaal se kraamafdeling is. Sowat 40 kraamverpleegsters het begin staak uit protes teen hul werksomstandighede. Hulle sê toestande het die afgelope naweek verder verswak toe dokters by die Bongani-hospitaal in Welkom se kraamafdeling begin staak het. Die LUR vir Gesondheid, Montsheng Tsiu, en die verpleegsters sal na verwagting vandag samesprekings voer oor die verpleegsters se griewe.
  • Tien vroue in Saoedi-Arabië het die eerstes geword wat hul rybewyse gekry het in die aanloop tot die formele opheffing van die vebod op vrouebestuurders. Saoedi-Arabië is die enigste land ter wêreld waar vroue nie toegelaat is om voertuie te bestuur nie. Die uitreiking van rybewyse is deel van die kroonprins, Mohammed bin Salman, se maatreëls om die konserwatiewe koninkryk te moderniseer. Die verbod op vrouebestuurders word amptelik op die 24ste van vandeesmaand opgehef.

Reisiger wil nog ver trap met sy derde vietse ‘vrou’

Die eerste keer toe ’n Marokkaanse avontuurlustige sy fiets gedurende sy Afrika-toer met ’n slot sluit, word sy fiets in die gewilde Oos-Kaapse vakansiedorp Jeffreysbaai gesteel.

So vertel Yassine Ghallam (32), ’n Marokkaanse burger, wat al sowat 23 500 km op die saal van ’n fiets bestee het terwyl hy Afrika verken.

Sy ekspedisie wat in Januarie 2017 begin het as deel van Ghallam se ervaring om eendag boeke oor die wêreld se verskillende kulture te kan skryf, is Vrydag onderbreek nadat hy sy fiets voor Jeffreysbaai se Islamitiese Sentrum vasgemaak het om die sentrum te gaan verken.

“Ek was binne tien minute in en weer terug buite en my fiets is in daardie tyd gesteel – ek kon dit nie glo nie.

“Gelukkig was my bagasie nie daarop nie,” sê Ghallam.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê ’n saak is Sondag aanhangig gemaak, maar die fiets is nog nie teruggevind nie.

Ghallam sê hy is gewaarsku oor misdaad in die gebied en daarom het hy besluit om sy fiets vas te maak.

“Ek het al deur baie plekke in Afrika gery, insluitend Ghana, Nigerië, Gaboen, die Kongo, Angola, Namibië, ensovoorts. Uit al die plekke waar ek was, het ek nie gedink dit sal hier (op Jeffreysbaai) gebeur nie.”

Ghallam sê hy het die fiets spesiaal in ’n toerfiets met rakke omskep om sy tent, kombuisgeriewe, slaapsak en klere van ongeveer 68 kg te kan dra.

“Die fiets noem ek Mama Africa en dit is soos my vrou, sy is heelpad saam met my.”

Netwerk24

Die weer

 

Die temperature in die hoofsentra van die land soos deur die Suid Afrikaanse weerburo

Die weer in jou area vandag

Geen weerwaarskuwings vir Dinsdag is deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik nie.

Gauteng

Dit sal aanvanklik gedeeltelik bewolk wees, andersins sonnig en koel. ’n Koue dag word voorspel vir Pretoria, waar die temperatuur van 5 °C tot 19 °C sal styg, en vir Johannesburg (4 °C en 18 °C). Vereeniging sal ysig koud wees met ’n minimum temperatuur van -1 °C wat sal styg tot ’n maksimum van 16 °C.

Mpumalanga

Gedeeltelik bewolkte toestande word aanvanklik in die oostelike dele verwag met miskolle die oggend in die Hoëveld. Dit sal andersins sonnig, maar koud wees en koel in die Laeveld. Mbombela (Nelspruit) sal koud wees (7 °C en 18 °C).

Limpopo

Miskolle word in die oggend in die sentrale dele verwag, andersins sal dit sonnig en koel, maar gedeeltelik bewolk in die sentrale en westelike dele wees. Polokwane sal koud wees met temperature van 5 °C en 18 °C.

Noordwes

Dit sal sonnig en koel wees met miskolle in die oostelike dele. Mahikeng sal aanvanklik baie koud wees (2 °C), waarna die temperatuur later tot 20 °C sal styg. ’n Ysige Vryburg se temperatuur sal daal tot -2 °C en later styg tot ’n koel 21 °C.

Vrystaat

Dit sal sonnig en koel wees, maar koud in die ooste. Mis word in die oggend in die oostelike dele verwag. In Bloemfontein sal die minimum temperatuur 0 °C wees en die maksimum 19 °C.

Noord-Kaap

’n Sonnige, koel dag word voorspel, maar dit sal warm tot baie warm wees op plekke aan die kus. In Kimberley sal die temperatuur van ’n ysige 1 °C styg tot 20 °C en in Upington van 4 °C tot 23 °C.

Wes-Kaap

Sonnige, koel weerstoestande word voorspel, maar dit sal warm wees op plekke in die binneland. Kaapstad sal koel tot matig wees met ’n minimum temperatuur van 10 °C wat tot 24 °C sal styg en in George word ’n minimum temperatuur van 5 °C verwag en ’n maksimum van 25 °C.

Oos-Kaap

Die westelike dele sal sonnig en koel wees. Die oostelike deel van die provinsie sal aanvanklik gedeeltelik bewolk, maar later sonnig en koel wees. Die verre suidoostelike dele sal gedeeltelik bewolk wees. Port Elizabeth sal koud wees (8 °C en 21 °C) en so ook Oos-Londen (10 °C en 21 °C).

KwaZulu-Natal

Mis word oor die binneland verwag met reën aan die kus in die oggend. Dit sal andersins gedeeltelik bewolk en koud wees, maar baie koud oor die hoogliggende westelike gebied. Reën word die middag in die noordooste voorspel. Die minimum temperatuur in Durban sal na verwagting 13 °C en die maksimum 20 °C wees. In Pietermaritzburg sal dit 6 °C en 18 °C wees.

 


 

 

 

Be the first to comment

Leave a Reply