Potgooi – Nuus en Weer 7 Junie 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Aangebied deur Yolanda Weeksdae om 9:30 (CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-06-07.094817

Hooftrekke

Drie vermeende transitorowers is gisteraand buite Hoedspruit in Limpopo in hegtenis geneem en een is doodgeskiet. Volgens die polisie het ‘n groep verdagtes ‘n geldwa op die R71 in die Tzaneengebied aangeval. Die rowers het gevlug, maar die polisie het hulle ingehaal en vasgetrek. Die polisiewoordvoerder, Motlafela Mojapelo sê meer besonderhede sal later bekendgemaak word.

 

  Die poskantoor en ‘n munisipale gebou op Botrivier in die Overberg is aan die brand gesteek tydens ‘n betoging. Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa sê betogers het die N-2 versper en die pad is tydelik gesluit, maar is sedertdien heropen. Africa sê dit is nie duidelik wat die rede vir die betoging was nie. Die munisipaliteit het volgens berigte gister onwettige woonstrukture verwyder. Verskeie gewelddadige betogings oor grond en behuising het die afgelope tyd in die provinsie voorgekom.

  Die voortgesette gewelddadige betogings aan die verre Wes-Rand word toegeskryf aan samesmelting van die Randfontein- en Westonaria-munisipaliteite in die Rand West City plaaslike munisipaliteit. Inwoners van Randfontein voer aan dat die munisipaliteit die mense van Westonaria bevoordeel wanneer hulle tenders toeken en werk toedeel. Verlede week het inwoners van Mohlakeng amok gemaak en geraamde skade van 50 miljoen rand aan infrastruktuur aangerig. ‘n Polisiestasie, biblioteek, gemeenskapsaal en munisipale kantore is deur die betogers afgebrand. Volgens ‘n inwoner in die gebied wat al jare lank daar woon, het die betogers ook verskeie kantore en winkels in die township afgebrand.

  Die Reserwebank het sy kommer uitgespreek oor die vlaag transitorooftogte wat die afgelope tyd voorkom. Die adjunkpresident van die Reserwebank, Francois Groepe sê die sentrale bank werk saam met verskeie rolspelers om nuwe maatreëls in te stel wat dit moeilik sal maak vir die rowers om die geld te gebruik en wat rowers sal ontmoedig om die aanvalle uit te voer. Hy sê die toename in transitorooftogte lei daartoe dat versekeringskoste styg en banke derhalwe ook hulle bankkoste moet verhoog.

  Die Departement van Binnelandse Sake sê sy nuwe Outomatiese Biometriese Identifikasiestelsel sal ‘n groot bydrae lewer in die stryd teen misdaad in die land. Die Departement het die nuwe biometriese stelsel verlede maand in Kaapstad bekendgestel. Die stelsel gebruik gesigsherkenning om individue te identifiseer, wat volgens die Minister sal dien as ‘n enkele bron vir biometriese bevestiging van die identiteite van plaaslike burgers en nie-burgers vir die onderskeie staatsinstellings en die privaatsektor. Die Direkteur-Generaal van Binnelandse Sake, Mkhuseli Apleni, sê die nuwe ID-slimkaarte bevat ook al die biometriese inligting om onder meer identiteitsdiefstal en misdaad hok te slaan.

  Die nuwe bestuurshoof van die Passasierspooragenstskap, Sibusiso Sithole het in die Parlement onderneem om passasiers te prioritiseer. Prasa het aangekondig dat Sithole vir 12 maande in die pos aangestel is. Die Prasa-raad sê hy sal intussen adverteer vir ‘n permanente bestuurshoof. Die agentskap gaan gebuk onder korrupsie en word gereeld gekritiseer vir sy onvermoë om betroubare vervoer te verskaf aan miljoene pendelaars wat van treine afhanklik is. Prasa het ook versuim om sy jaarverslag in die Parlement ter tafel te lê. Die sperdatum vir die verslag was September verlede jaar.

  Sewe mense is in die noorde van Mosambiek vermoor en talle huise is aan die brand gesteek. Die polisie sê die slagoffers is met kapmesse vermoor. Die aanvallers, vermoedelik djehadiste, het na bewering ook mediese voorraad by ‘n plaaslike gesondheidsentrum gesteel. Die Mosambiekse polisie het verlede week gesê hulle het nege van die insypelaars in dieselfde omgewing doodgeskiet en ‘n aanval op ‘n dorp gefnuik. Daar word vermoed dat die dieselfde groep aanvallers ook verantwoordelik was vir die onthoofding van tien mense verlede maand.

  Minstens elf mynwerkers is dood en nege is beseer in ‘n ondergrondse ontploffing in ‘n ysterertsmyn in die noordooste van China. Sowat 23 mense is gered. Die ontploffing het blykbaar plaasgevind toe mynwerkers plofstof in die skag afgegooi het. Vroeër het die staatsmedia berig dat ‘n vragmotor met plofstof naby die myn se ingang ontplof het.

 

Die SAUK sê hy beraadslaag met die musiekregte-verenigings, IMPRA en SAMRO, oor die betaling van tantieme aan kunstenaars en die skrywers van liedjies. Die betalings is vir liedjies wat op die SAUK se 18 radiostasies gedurende 2014 en 2015 gespeel is. Die SAUK se skuld aan kunstenaars het opgehoop toe die openbare uitsaaier in ‘n benarde finansiële situasie was. Die SAUK sê die verdeling van die beskikbare geld wat aan kunstenaars verskuldig is word nog tussen die twee verenigings uitgeklaar. Die president van IMPRA, Dodo Monamodi, sê hulle wil verseker dat tantieme die kunstenaars bereik en dat vervaardigers die geld regverdig verdeel.

  Die polisie sê intussen hulle is bekommerd oor items wat aan die polisie en die weermag behoort, wat in transitorooftogte in Limpopo gebruik word. Ondersoek word ingestel na die moontlikheid dat polisie- en weermaglede by die rooftogte betrokke is.

  President Cyril Ramaphosa sal moreaand die Eeufeesvierings van die Afrikanerbond in die Paarl bywoon en die bondsraad toespreek. Die Oudpresidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki het ook by geleentheid die bondsraad toegespreek. Spesiale oorkondes sal oorhandig word aan onder andere die historikus, prof. Hermann Giliomee, die teaterlegende Carel Trichardt en die grondwetkenner Dave Steward.

 

 

  • ‘n Man is in Ennerdale, suid van Johannesburg in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy seun doodgeskiet het omdat hy hom vir ‘n misdadiger aangesien het. Die polisie sê die man het sy 14-jarige seun na aandklasse by die Fred Norman-sekondêre skool geneem en vir hom in die motor gewag, waar hy aan die slaap geraak het. ‘n Polisiewoordvoerder, Mpande Khoza sê die seun het na die aandklas aan die motor se venster geklop. Die pa het volgens berigte gedink het hy word beroof en het een skoot afgevuur wat sy seun getref het. Die seun is onderweg na die hospitaal dood.
  • Suid-Afrikaanse sakevertroue het in Mei vir die vierde agtereenvolgende maand gedaal. Dit is hoofsaaklik weens minder handelsaktiwiteit en hoër verbruikersinflasie na ‘n styging in BTW. Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid se maandelikse sakevertroue-indeks het van 96 punte in April tot 94 in Mei gedaal. Die bestuurshoof van die Kamer, Allan Mukoki sê hoewel daar baie werk is wat gedoen moet word in die ekonomie, is daar optimisme dat dit in die toekoms beter sal gaan.
  • Die staatsdiensvakbond, die Vereniging van Staatsdiensamptenare, waarsku dat hulle die ekonomie tot stilstand gaan bring en groot ontwrigtings veroorsaak wanneer staatsdiensamptenare Maandag staak. Dit volg nadat salarisonderhandelinge met die regering op ‘n dooiepunt uitgeloop het. Die adjunk-hoofsekretaris van die vakbond, Tahir Maepa sê hulle beplan om alle grensposte te sluit, wat die land miljarde rand sal kos. Die vakbond dreig ook met ontwrigtings by howe en die Departement van Waterwese.
  • Die polisie het skokgranate en rubberkoeëls gebruik op betogers van twee dorpe van die Dikgatlong-munisipaliteit in die Noord-Kaap. Inwoners van Barkley-Wes en Delportshoop versper die R31 tussen die dorpe uit protes teen kragonderbrekings. Die inwoners is ontevrede met die munisipaliteit se veruim om 60-miljoen rand se skuld aan Eskom te betaal.

 

Die Weer

Die temperature in die hoofsentra van die land

Warmbad – mooiweer tot warm

Min 9 Max 22

Nelspruit –  mooiweer tot  warm in die namiddag

Min 10 Max 25

Pretoria – mooiweer tot warm

Min 14  Max 23

Johannesburg – mooiweer tot warm

Min 10 Max 18

Vereeniging – Sonnige dag

Min 10 Max 20

Rustenburg – mooiweer tot warm

Min 9 Max 23

Bloemfontein – Koel in die oggend en warmer in die namiddag

Min  6  Max 19

Kimberley – mooiweer tot warm

Min  10 Max 21

Durban –  mooiweer tot warm

Min  18 Max 23

Oos London – mooiweer tot baie warm in die namiddag

Min  18 Max 29

Upington –     warm en ‘n sonnige dag

Min 13 Max 24

Kaapstad – Bewolk met verspreide reen buie plek plek

Min 15 Max 18

Port Elizabeth –   sonnige dag

Min 17  Max 24

En laastens

Sutherland – regstreeks n  koue dag

Min 7 Max 14


 

Be the first to comment

Leave a Reply