Potgooi Nuus en Weer 8 Junie 2018

Aangebied deur Yolanda Weeksdae om 9:30 (CAT)

Klik HIER om wee te luister

https://archive.org/details/yol2018-06-08.092937

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo

Nuus Hooftrekke

Die voedselgroep Tiger Brands het nuwe senior aanstellings gemaak. Die maatskappy moes vroeër die jaar van hul produkte aan die mark onttrek weens die uitbreking van listeriose. Pieter Spies is die nuwe bestuurder van ontwikkeling in Tiger Brands se graanafdeling en Yokesh Maharaj, is aangestel as die bestuurder van ontwikkeling vir uitvoere en internasionale afdelings. Die uitbreking van listeriose het Tiger Brands tot dusver sowat drie-komma-65 miljoen rand gekos en het tot die bedanking van sy destydse ontwikkelingshoof, Grattan Kirk, gelei.

  In Soweto moet ‘n man vandag in die Protea-landdroshof verskyn nadat hy sy seun doodgeskiet het toe hy hom na bewering vir ‘n misdadiger aangesien het. Die polisie sê volgens die man se verklaring het hy in sy motor vir sy seun gewag nadat hy hom vir ekstra klas by die skool afgelaai het. Die man het skynbaar aan die slaap geraak. Die seun het met sy teruggekeer aan die venster geklop. Hy het geskrik en geskiet. Die seun is onderweg na die hospitaal dood. Dit volg kort na ‘n voorval vroeër die dag by die skool toe ‘n graad-12-meisie onderweg huis toe deur ‘n groep mans ontvoer en verkrag is.

  Die interministeriële taakspan wat ondersoek instel na knelpunte in Noordwes sal na verwagting vandag met lede van die wetgewer vergader. Die Noordwes-regering is onder administrasie geplaas ná gewelddadige betogings in talle dorpe en die gevolglike bedanking van Supra Mahumapelo as premier. Die komitee sal na verwagting die wetgewer oor die kabinet se besluite inlig. Die sitting van die wetgewer om ‘n nuwe premier te kies is intussen onbepaald uitgestel. Die sitting sou môre plaasgevind het. Die ANC sê hulle het nog nie besluit wie Mahumapelo moet opvolg nie en hulle beraadslaag nog met hul lede. Die kantoor van die Speaker sê die uitstel gee ook die geleentheid vir die onderskeie party om hulle vir die verkiesing voor te berei.

  Die agentskap vir maatskaplike sekerheid, Sassa, sê hy vorder goed om sy kontrak met die diensverskaffer Cash Paymaster Services te beëindig vóór die spertyd wat die Konstitusionele Hof aan hom gestel het. Sassa het aan die Parlement se komitee vir Maatskaplike Ontwikkeling gesê hy hoop dat CPS se huidige Sassa-kaarte teen einde Augustus vervang sal wees. Die agentskap se bestuurder, Raphaahle Ramokgopa, sê hulle wil eers die kaarte van begunstigdes vervang wat hul geld by betaalpunte ontvang.

  Suid-Afrika moet meer doen om beleidsekerheid te skep wat die een-komma-twee duisend miljard rand se beleggings wat President Cyril Ramaphosa in die vooruitsig stel, na die land te lok. Dié vermaning is gerig op ‘n vergadering van die organisasie Brand SA en 22 Europese sakeverteenwoordigers in Johannesburg. Die Europeërs sê die ondoeltreffendheid van die regering is ‘n groot struikelblok vir moontlike beleggers. Sakelui sê hulle wil onder meer duidelikheid hê oor wetgewing oor grondbesit, kopiereg en minerale hulpbronne.

  Die Khoisan-gemeenskap in die Nelson Mandelabaai Metro het ‘n voorstel ingedien dat die Port Elizabeth-lughawe vernoem moet word na ‘n Khoisan-leier, Dawid Stuurman. Stuurman het teen Nederlandse en Britse kolonialisme geveg. ‘n Woordvoerder van die groep, hoofman Crawford Fraser, sê Stuurman was nie net ‘n plaaslike leier nie, maar ook ‘n nasionale leier. Die sperdatum vir die indiening van voorstelle aan die Lughawensmaatskappy, was om middernag. Die Lughawensmaatskappy sê hulle het ‘n oorweldigende aantal voorstelle ontvang.

  Die DA-leierskap in die Wes-Kaap het die verwydering van die uitgesette burgemeester van Knysna as ‘n staatsgreep beskryf. Eleanor Bouw-Spies is gister tydens ‘n spesiale raadsvergadering deur ‘n mosie van wantroue uit haar pos verwyder. Twee DA-raadslede het die ANC se mosie ondersteun. Die nuutverkose burgemeester, Mark Willemse was ook ten gunste van die mosie. Die leier van die DA in die Wes-Kaap, Bonginkosi Madikizela sê hy sal die munisipaliteit môre besoek. Die nuwe burgemeester het intussen bekendgemaak dat hy binnekort sy burgemeesterskomitee sal aanwys. ‘n Woordvoerder van die munisipaliteit sê raadslid Elrick van Aswegen van COPE, is reeds as onderburgemeester aangewys.

  Die R43 naby Hawston in die Overberg is weens voortslepende betogings gesluit. Inwoners brand bande en wetstoepassers is op die toneel. Die verkeershoof, Kenny Africa, sê hulle monitor ook die situasie by Botrivier waar inwoners aan die voet van die Houwhoek-pas klippe na motoriste gooi. Geweld het Maandag uitgebreek toe die munisipaliteit plakkershuise op ‘n oop stuk grond afgebreek het. ‘n Poskantoor en ander geboue is in die geweld beskadig. Intussen is inwoners van Machadodorp in Mpumalanga besig om die R-36 te versper en verkeer na Carolina word ontwrig. Die betogers eis dat ‘n maatskappy wat met padkonstruksie besig is hulle in diens neem.

  Boere is optimisties dat die weeklange staking in Kirkwood in die Oos-Kaap teen die einde van die week verby sal wees. Van die boere het tydens ‘n vergadering wat deur Sanco, plaaswerkers en die LUR vir landbou, Xolile Nqatha bygewoon is, onderneem om werkers 20 rand per uur te betaal. Die stakers eis ‘n verhoging van 15-persent, terwyl werkgewers agt persent bied. Die bedryf het reeds miljoene rand verloor nadat infrastruktuur en drie trekkers aan die brand gesteek is. Die staking het ook veroorsaak dat kinders gister nie skool kon bywoon nie. Sanco sê van die boere was nie te vinde vir die verhoging van 20-rand per uur nie en die vergadering word vandag voortgesit.

  Henri van Breda se regspan het aangedui dat hulle van plan is om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer. Regter Siraj Desai het Van Breda vroeër in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gevonnis tot drie keer lewenslange tronkstraf vir die moord op sy ma, pa en broer asook 15 jaar vir poging tot moord op sy suster, Marli. Hy sal ook ‘n jaar vir regsverydeling moet uitdien. Desai het Van Breda as ‘n koelbloedige moordenaar bestempel. Van Breda is voorheen skuldig bevind aan die moord op sy ma, pa en broer wat hy in 2015 met ‘n byl aangeval het. Sy regspan het volgehou dat ‘n vreemdeling by die huisin die De Zalze-landgoed in Stellenbosch ingebreek het en die gesin aangeval het. Medici het bevind dat Van Breda se wonde wat hy glo tydens die geveg met die inbreker opgedoen het, self toegedien is. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle sal Van Breda se aansoek tot appèl teenstaan.

  Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het sy saak van bedrog en korrupsie teen die voormalige waarnemende polisiekommissaris, Khomotso Phahlane en sy medebeskuldigdes voorlopig teruggetrek in die handelsmisdaadhof in Pretoria. Die hof het geweier om die saak vir ‘n derde keer uit te stel. Die aanklagte hou verband met Phahlane en sy vrou wat na bewering motors van ‘n motorhandelaar as geskenk ontvang het.

  President Cyril Ramaphosa word môre in Toronto in Kanada verwag vir vergaderings met moontlike beleggers en sakemanne voordat hy na Quebec sal vertrek vir die jaarlikse G7-beraad. Die leiers sal onder meer kwessies soos inklusiewe groei, die ontwikkeling van toekomstige werksgeleenthede asook klimaatsverandering onder die loep neem. Ramaphosa sal deelneem aan die sogenaamde “Summit Outreach” waar lande – wat nie aan die G7 behoort nie – uitgenooi word om die wêreld se belangrikste probleme te bespreek. Die G7 fokus vanjaar op ekonomiese groei en die rol van oseane en maritieme lewe in die ondersteuning van plaaslike en nasionale ekonomieë. Suid-Afrika het reeeds die belangrikheid van sy oseane deur middel van Operasie Phakisa beklemtoon.

‘n Ooreenkoms is bereik tussen sitrusprodusente en werkers op Kirkwood in die Oos-Kaap. Ingevolge die ooreenkoms sal werkers 20 rand per uur betaal word. Die ooreenkoms is onmiddellik van krag. Werkers het die afgelope week gestaak en groot skade is aangerig toe stakers ‘n pakhuis en plaasimplemente aan die brand gesteek het. Die polisie monitor steeds die situasie. Vroeër het ‘n woordvoerder van die sitrusprodusente, Mark Keun gesê die bedryf kan nie bekostig om meer tyd te verloor nie. Hy sê hy hoop die werkers kan dadelik terugkeer werk toe.

  Die Polisie is besig met ‘n ondersoek na ‘n gewapende roof gisteraand by die Eden Park-polisiekantoor, oos van Johanneburg. ‘n R5-aanvalsgeweer en twee leë magasyne kon nog nie opgespoor word nie. Die polisie sê twee gewapende man het die polisiekantoor bestorm en die kluis se sleutels geëis. Die verdagtes het in ‘n wit bakkie gevlug. Die Gautengse provinsiale kommissaris, Deliwe Delange het opdrag gegee dat ‘n ondersoek so gou as moontlik begin word sodat skuldiges vasgetrek kan word.

  Nog vyf mense is in die noorde van Mosambiek vermoor. Polisieversterkings is in die Cabo Delgado distrik ontplooi, maar die aanvalle duur voort. Die polisie meen die aanvallers is dieselfde groep wat Dinsdag sewe mense vermoor en verlede week tien mense onthoof het. Die aanvalle, deur vermeende djehadiste, vind plaas in die gebied wat tans vinnig ontwikkel as ‘n gasproduserende gebied.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – mooiweer tot warm

Min 11 Max 26

Nelspruit –  mooiweer tot warm in die namiddag

Min 10 Max 28

Pretoria –  mooiweer tot warm in die namiddag

Min 15  Max 25

Johannesburg – mooiweer tot warm

Min 11 Max 19

Vereeniging – mooiweer tot warm

Min 11  Max 22

Rustenburg – koud en warmer in die namiddag

Min 9  Max 23

Bloemfontein – regstreekse koue dag

Min  7 Max 19

Kimberley – Koud en sonnig in die namiddag

Min  11  Max 21

Durban –  bewolk met verspreide reen buie

Min 17 Max 24

Oos London – mooiweer tot warm

Min  17 Max 21

 

Upington –     koud met mooiweer in die namiddag

Min 13 Max 25

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk met verspreide  reen buie plek plek

Min  15  Max 19

Port Elizabeth –   mooiweer tot warm

Min 16  Max 19

En laastens

Sutherland – Bewolk en koud

Min 3 Max 8


 

Be the first to comment

Leave a Reply