Potgooi Uit die Hart van die Boer 13 April 2016

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Uit die hart van die Boer 13 April 2016

Uit die Hart van die Boer elke Donderdagmiddae tussen 4nm en 6nm waar ons gesels oor alles van belang vir die Boer van Landbou voedselsekerheid tot die huidige toestande in die land

 

Om 5nm Pittige Politiek (Pie Pie) deur Fanie Cronje! ‘n Humoristiese Kykie na die kwessie van korrupsie, kader ontplooiing en ander verwante aangeleenthede. Hoe dit eskaleer en gebruik en gedryf word deur verskeie belangrike rolspelers in die Suid Afrikaanse konteks. Ook ‘n vergelyking van soortgelyke aksies/optredes in die verlede, maar ook hoe dit tans verskil en die omvang van hoe dit manifesteer.

 

5nm

Pie Pie 14

meer oor die optogte, rassisme  en radikale ekonomiese transformasie.

 

Die program is saamgestel deur  Artikels 36

 

Artikel 1

Kan die rand die mielieprys red?

Hoe ver moet die wisselkoers verswak voordat mielies teen gelykbreekvlakke uitgevoer kan word?

Die vorige weke is finansiële nuus deur die verswakking van die rand oorheers, met ‘n gepaardgaande styging in die mielieprys.  Dit het die gedagte laat posvat dat die wisselkoers dalk die ridder op die wit perd vir vanjaar se mielieprys kan wees.

As gevolg van die groot verwagte oes verhandel mielies by uitvoerpariteitsprysvlakke. ‘n Verhoging in die internasionale prys van mielies of ‘n verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar het ‘n verhoging in die uitvoerprys tot gevolg.

Op 27 Maart 2017 het die R/$-wisselkoers tot ʼn intradag-hoogtepunt van R12,31 versterk. Dit is ‘n vlak wat twee jaar gelede laas gesien is. Die Julie 2017-witmieliekontrak het op dieselfde dag tot ʼn intradag-laagtepunt van R1677 per ton gedaal. Hierna het albei omgedraai en wit mielies het op 4 April tot so hoog as R2094 verhandel voordat dit effens teruggesak het. Julie 2017-witmielies se prys het in ses verhandelingsdae met R417 per ton tussen laagte- en hoogtepunte gestyg.

Invloed op pariteitspryse
Die rand het in dieselfde tyd tot R13,94 vir ‘n Amerikaanse dollar verswak, ‘n daling van R1,63 (tussen intradag-laagte- en hoogtepunte). Die prys van mielies op die Chicago Mercantile Exchange (CME) of internasionale prys het gedurende hierdie tyd min gewissel en het byna geen invloed op pariteitspryse gehad nie.

Graan SA publiseer gewasbegrotings vir mielies wat in die volgende streke opgedeel word: Noord-Kaap (besproeiing), Noordwes-provinsie, Sentraal- en Noordwes-Vrystaat, Oos-Vrystaat en die Oostelike Hoëveld. Die gemiddelde vaste- en veranderlike koste om mielies te produseer word vir elkeen van hierdie streke bereken en ʼn gelykbreek JSE (Safexprys), met inagneming van die streke se vervoerdifferensiaal, word dan bepaal.

Hoewel die gelykbreek JSE of Safexprys tussen R2900 en R2200 per ton (pryse afgerond) wissel, moet die meerderheid produsente ʼn Safex-prys van R2700 kry om koste te verhaal. Teen huidige prysvlakke realiseer mielieboere steeds ‘n verlies, die verlies is net kleiner as twee weke gelede.

Hoe ver?
Hoe ver moet die wisselkoers verswak voordat mielies teen gelykbreekvlakke uitgevoer kan word? Teen huidige wêreld-prysvlakke vir mielies moet die wisselkoers tot ongeveer R18 per dollar verswak voordat Safexpryse tot R2700 sal styg (hierdie vlakke kan effens wissel, afhangende van watter parameters in berekenings gebruik word).

Die belangrikste plantmaande vir mielies in Amerika is April en Mei. Pryse is sensitief vir slegte nuus (té nat, té droog, ens.) en neig gewoonlik opwaarts. As internasionale pryse in hierdie tyd met ‘n halfdollar per skepel sou styg en die rand verswak tot rondom R16/dollar, kan Safexpryse ook tot gelykbreekvlakke styg.

Verliespryse vir boere
Dit is dus onwaarskynlik dat die wisselkoers tot oestyd sodanig sal verswak dat produsente nie verliespryse gaan realiseer nie, maar die huidige politieke klimaat sluit so ‘n verswakking glad nie uit nie.Indien dit wel gebeur, sal dit ‘n duur redding wees. Die effek op volgende seisoen se koste om mielies te plant sal astronomies wees.

* Johann Strauss is ʼn navorser by BVG Commodities

Landbou.com

Artikel 2

Staking stuit KZN-boer nie

’n Geskil tussen ’n boer en werkers op ’n plaas naby Newcastle het op ’n staking uitgeloop wat reeds ses weke lank duur.

Werkers van die Normandien Boerdery naby Newcastle is al vir ses weke op ’n wettige staking omdat die eienaar van die plaas, mnr. Lawrence Hoatson, weier om die vakunie waarvan hulle skynbaar lede is, te erken.

“Die werkers is vry om lid van enige unie te wees, maar niks dwing my om daardie unie te erken nie. Hulle is dus op ’n wettige staking, maar ons werkverrigtinge gaan aan soos normaal, met tydelike werkers.

“Hierdie selfde Unie, Idawu, is ’n nuwe unie wat ek in my saagmeule op Newcastle erken het. Uit slegte vorige ervaringe, waar hierdie unie met staak-sertifikate by die saagmeule opgedaag het nog voordat ons met loon-onderhandelinge begin het, weier ek om hulle op die plaas te erken,” sê Hoatson.

Geskil oor beeste
Volgens die Witness is die werkers ontevrede oor beide die loon wat hulle betaal word en hul beeste wat Hoatson laat skut het. “Dit is twee onverwante sake. Die geskil oor die beeste kom al 12 jaar lank aan. Die aanvanklike ooreenkoms met die werkers op die plaas is dat hulle 60 beeste op ’n 100ha stuk grond mag aanhou. Uiteindelik was daar meer as 300 beeste op hierdie stuk grond. Ongeag talle hofbevele wat die Regering gedwing het om alternatiewe weiding vir die beeste te kry weens oorbeweiding, het niks gebeur nie.”

Tans is die staking in sy sesde week en die Departement Gemeenskapsveiligheid was op 11 April op die plaas om met die stakende werkers te vergader om ’n oplossing vir die geskil te vind. “Ek betaal meer as die minimumloon en hierdie is bloot ’n nuwe unie, wat my werkers wat nie wou staak nie, intimideer het. Die Unie wil ’n politieke standpunt probeer maak en dus weier ek om met hulle te skakel,” se Hoatson.

Landbou.com

 

Artikel 3

Grondplafonne ‘sal begunstigdes benadeel’

Die vasstel van grondplafonne sal wéér tot die nadeel van begunstigdes van grondhervorming wees, sê Agbiz.

Begunstigdes van grondhervorming kan weer eens tweede kom wanneer grondplafonne vir landbougrond ingestel word, sê mnr. Theo Boshoff, bestuurder: Regsintelligensie by Agbiz.

Die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit, wat voorsiening maak vir die daarstel van grondplafonne en ’n langtermynhuurstelsel van landbougrond vir buitelanders, is volgens Afrisake tot 17 Mei verleng. Dit gee belanghebbendes meer tyd om die voorgestelde wetgewing deur te gaan en kommentaar te lewer.

Boshoff sê die staat wil basies met die wetsontwerp self bepaal hoeveel hektaar grond ’n groot-, medium- en kleinskaalse boer mag besit en die eienaar dwing om enige oorskot grond aan die staat beskikbaar te stel vir herverdeling.

Eerbare gedagte?
“Met die eerste oogopslag lyk dit na ’n eerbare idee dat die staat van die rykes gaan vat en aan die armes gee. Maar as mens eers begin dink aan die praktiese gevolge van hierdie wetsontwerp, besef jy dat die begunstigdes van grondhervorming weer eens aan die kortste end trek.”

Boshoff sê deur die instelling van grondplafonne, sal die departement met lappies grond sit wat lukraak oor ’n streek of distrik versprei sal wees.

In dié stadium bestaan geen aanduiding hoe grondplafonne werklik sal lyk nie. Dit is dus onmoontlik om vas te stel hoeveel grondeienaars in ’n sekere gebied gedwing sal word om ’n deel van hulle grond te verkoop of wat die grootte daarvan sal wees.

Hoe groot moet plaas wees?
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het al aangedui dat belanghebbendes sal moet ooreenkom of ’n kleinskaalse kommersiële plaas op 1000 hektaar gestel, ’n mediumskaal kommersiële plaas 2 500 hektaar en ’n grootskaalse kommersiële plaas op 5 000 hektaar vasgestel moet wees. ’n Plafon van 12 000 hektaar is ook voorgestel vir bosbou, wildplase en hernubare energieplase, veral plase vir wind-energie. Oorskot grond tussen hierdie kategorieë sal onteien en herverdeel word.

Hierdie manier om grond te selekteer, blyk volgens Boshof goed deurdink te wees en neem nie die behoeftes van die begunstigdes in ag nie.

Afgesnyde stukke gronb
Geen versekering bestaan dat die afgesnyde stukke grond bewerkbare grond sal wees, toegang tot water, paaie of munisipale dienste sal hê wat kritiek is indien die begunstigde ’n aspirant boer is.

“Verder terwyl die hoofeiendom ’n ekonomies lewensvatbare eenheid mag wees, is daar geen versekering dat die grond wat as ’n “oorskot” gesien word, ’n lewensvatbare eenheid in eie reg sal wees nie.”

Stukkies oorskotgrond
Boshoff sê indien ’n begunstigde slegs ’n klein stukkie oorskotgrond kry waarop hy moet boer, sal hy steeds moet meeding in ’n wêreldwye ekonomie, maar sal die geleentheid ontneem word om voordeel te trek uit dit wat ekonomie van skaal bied. Só ’n situasie mag hulle tot mislukking doem.

Boshoff sê mens kan dus nie help om te wonder of die begunstigdes beter daarby sal baat vind as die sowat R2,5 miljard wat jaarliks vir grondhervorming geoormerk word, nie eerder gebruik word om bestaande landboubesighede vir begunstigdes aan te koop nie.

Landbou.com

‘Hou die landbou in die hoofstroom’

 

Artikel 4

Klimaat se verandering soos tydbom

Die landbou moet nou reeds rondom klimaatverandring beplan en kan nie wag vir môre nie, sê ’n kenner.

Klimaatverandering is ’n tydbom wat lê en wag en sal grootskaalse veranderings in die landbou noodsaak, het dr. Ilse Trautmann, hoofdirekteur van navorsing en tegnologiese ontwikkelingsdienste van die Wes-Kaapse departement van landbou, gesê.

Sy het gesê die voorkoms van die komando wurms wat Suider-Afrika hierdie somer vir die eerste keer getref het en groot skade aan gesaaides aangerig het, en totale hap aan die beursies  is aan aardverwarming verbind. Sy het bygevoeg die landbou moet nóú reeds beplan en kan nie wag vir môre nie.

Dit sluit die identifisering van gewasse in wat beter by die verwagte moeiliker boerderytoestande sal aanpas, en die uitskakeling van gewasse wat nie die mas opkom nie. “Die Wes-Kaap het in die onlangse verlede miljarde rande se skade weens natuurverskynsels gehad. Dit sal planne met oplossings verg,” het sy gesê.

Dr. Johan Strauss, senior landboukundige, het gesê menige Wes-Kaapse boere haal reeds wingerde uit en vervang dit met sitrus, omdat die provinsie betreklik min sitrussiektes het en nie deur swartvlek gepla word nie. Selfs koringboere plant nou sitrusbome.

Mnr. Darryl Jacobs, assistent-direkteurgeneraal, het gesê sekere dele sal nie langer voedsel kan produseer nie, maar nuwe gebiede sal beskikbaar raak. “Die goeie nuus is dat die landbou op die vooraand van ’n industrieëe revolusie staan wat boere sal help om voort te bestaan,” het hy gesê.

Lanbou.com

 

Artikel 5

Genadereën val in Calvinia

Te midde van ’n droogte wat tot die opdroog van die Kareedam gelei het, het die Calvinia-gemeenskap die afgelope naweek ’n stewige bui reën ontvang.

Calvinia se boere en gemeenskap juig oor die reën wat die afgelope naweek in dié gebied uitgesak het.

Die Kareedam, wat die omgewing van water voorsien, het vroeër vanjaar opgedroog en noodhulpprojekte is van stapel gestuur om water en voer te verskaf waar nodig. Die plaaslike munisipaliteit het sewe boorgate gebruik om dorpenaars van water te voorsien, maar weens lae watervlakke is dié boorgate nie meer ’n betroubare bron van drinkwater nie.

Mnr. Burre Burger, ’n sakeman van Vredendal, lei reeds ’n geruime tyd pogings om hulp vir Calvinia te organiseer en het ook ’n bidgeleentheid vir inwoners gereël wat desperaat is vir water. Te midde van dié waternood was die 38 mm reën wat die naweek geval het, baie welkom. Die reën het ook gepaard gegaan met ’n bui hael. Ongelukkig het meeste van die reën in die dorp geval en nie in die dam se opvangsgebied nie.

Intussen het ander dele van die Noord-Kaap ook reën gekry, met onder meer 50 mm in Brandvlei, 38 mm op Upington en 36 mm in Kimberley.

Vryburger

5nm

Pie Pie 14

meer oor die optogte, rassisme  en radikale ekonomiese transformasie

 

 

Artikel 6

Waardeketting moet volhoubare landbouplan uitwerk

April 12, 2017

Die regering gebruik die boere se kundigheid om sy radikale ekonomiese transformasie te help deurvoer, terwyl dit uiteindelik na die ANC se verklaarde doelwit van sosialisme en kommunisme lei.

Dit was die waarskuwing van mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, tydens ‘n volhoubaarheidseminaar wat TLU SA in Pretoria aangebied het.

Mnr. van Zyl sê die neiging is om gedurig reaktief te wees op die ANC se planne, wat in elk geval almal misluk.

Die doel van die beraad was om die hele landbou waardeketting te betrek by die opstel van ‘n landbouplan. Daarmee moet pro-aktief opgetree word om ‘n volhoubare alternatief te stel vir die regering se planne, wat ideologies gedrewe is en nie ekonomiese realiteite in ag neem nie.

Die vergadering het besluit dat so ‘n plan opgestel moet word.  TLU SA het sy Landbouplan vir  Volhoubaarheid aangebied as besprekingsdokument waarvandaan die debat verder gevoer kan word.  Die president van TLU SA, mnr. Louis Meintjes, sê egter die plan moet nie ‘n plan van ‘n organisasie wees nie, maar van die hele landbousektor, met insluiting van die waardeketting.

Die aanwesiges, wat verskeie instellings in die waardeketting verteenwoordig, het die gedagte van so ‘n plan ondersteun, en verdere gesprekke sal nou gevoer word met belanghebbendes ten einde ‘n groter opvolgvergadering te hou ten einde so ‘n plan op te stel.

Foto: Mnr. Bennie van Zyl

Vryburger

Artikel 7

Boere moet bedag wees op grondbesettings

April 12, 2017

Op die sosiale media het berigte die rondte gedoen van verwagte plaasbesettingsoor groot dele van die land.

Dit was na aanleiding van die EFF se dreigement om op 6 April massaal grond te gaan beset.

Tydens ‘n landelike veiligheidstrategievergadering wat plaasgevind het tussen TLU SA en die polisie in Noord-Transvaal, het die provinsiale SAPD bevestig dat hulle intelligensie afdeling niks opgetel het oor die moontlike grootskaalse besettings nie.  Die lys met plekke waar besettings sou voorkom, is ook nie van die polisie afkomstig nie.

Mnr. Dricus Botha, streekverteenwoordiger van TLU SA in die organisasie se noord streek, sê boere moet in elk geval waaksaam wees en hulle plase gereeld patrolleer.  Hy het boere ook gevra om duidelike “Geen Toegang / Privaat Eiendom” kennisgewingborde op heinings en hekke aan te bring, en om seker dat hekke toe is. “Boere moet asseblief seker maak wanneer hulle kampongs besoek, wie is mense wat nie daar hoort nie en dit moet onmiddellik gerapporteer word, sodat hulle deur die SAPD verwyder kan word voor daar ’n insident ontstaan,” sê mnr. Botha.

Limpopo SAPD het teenoor TLU SA bevestig dat hulle op elke oproep om hulp tydens onwettige betreding sal optree, al is dit net twee mense. Dis nie nodig om bewys van eienaarskap van die eiendom as voorvereiste beskikbaar te hê nie.

 

Artikel 8

Damprojek in weegskaal weens rommelstatus

Deur Elise Tempelhoff 12 April 2017

Suid-Afrika se afgradering na rommelstatus het nou ook die toekoms van die Lesotho-hooglandprojek in die weegskaal geplaas.

Die aanvanklike bedrag vir die konstruksie van die dam is tot onlangs nog op R26 miljard geraam, maar dié bedrag gaan nou waarskynlik opskiet tot R30 miljard, het Leon Basson, DA-woordvoerder oor water en sanitasie, Woensdag gesê.

Volgens Basson moet Suid-Afrika die geld in die buiteland – en moontlik by die Wêreldbank – gaan leen. “Wie gaan nou vir ons geld leen en hoe gaan Suid-Afrikaners hierdie bedrag terugbetaal?”

Basson sê uit parlementêre vrae en antwoorde deur Nomvula Mokonyane, die minister, blyk dit die departement van water en sanitasie is boonop R4,3 miljard in die rooi.

“Die departement is bankrot,” het Basson gesê. “Die DA vra dat Mokonyane in die pad gesteek word en die departement onder administrasie geplaas word.”

Mokonyane word ook daarvan beskuldig dat sy by die tenderprosesse vir die Lesotho-hooglandprojek ingemeng het en dat die projek nou met etlike jare vertraag is. Die skema sou aanvanklik in 2019 afgehandel gewees het, maar die vooruitskatting is nou dat die eerste water teen die middel of einde 2026 aan Gauteng gelewer sal word. Basson sê hy is bevrees Suid-Afrika se afgradering tot rommelstatus sal beteken dat die projek nog verder vertraag word.

City Press het Sondag berig die departement se finansiële situasie is so benard dat hy vir die afgelope sewe maande geeneen van sy “honderde” kontrakteurs vir hul dienste kon betaal nie.

Volgens die koerant het “interne kontrole, die bestuur van projekte en kontrakte in duie gestort”.

Basson het gesê Mokonyane het verlede maand in die parlement erken die departement is in ’n geldelike verknorsing. Sy het aan die portefeuljekomitee oor water en sanitasie gesê die departement het aan die einde van Februarie R1,467 miljard aan diensverskaffers geskuld.

BASSON HET GESÊ MOKONYANE HET VERLEDE MAAND IN DIE PARLEMENT ERKEN DIE DEPARTEMENT IS IN ’N GELDELIKE VERKNORSING.

Die departement sou wel R474 miljoen van sy skuld aan kontrakteurs kon betaal.

Mokonyane het bygevoeg die departement het R238 miljoen tot sy beskikking gehad om sy werknemers se salarisse vir Maart te betaal.

Basson het Lulu Johnson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor water en sanitasie, in ’n brief gevra dat verdere ondersoeke na die departement en sy twee entiteite, die TCTA (die Trans-Caledon-tonnelowerheid) en die Waterhandelseenheid (wat rou water aan onder meer boere en myne verkoop) gedoen moet word.

Die Waterhandelseenheid skuld die Reserwebank glo bykans R3 miljard. “Dit moet ondersoek word,” het Basson gesê.

Hy vra ook dat die nasionale tesourie ’n voorlegging oor die finansiële situasie van die departement aan die parlement doen en dat die ouditeur-generaal versoek word om met die ondersoek te help.

“Ons wil ook weet hoe Suid-Afrika se rommelstatus die koste en befondsing van die Lesotho-hooglandskema gaan beïnvloed.”

Die departement van water en sanitasie het nie Woensdag op navrae gereageer nie.

Netwerk24

Artikel 9

Dit was ’n klomp rassiste, sê Zuma

Deur Reneilwe Dhludhlu 10 April 2017

Rassisme? Wat jy waar kry?

So het politieke partye en drukgroepe Maandag ge­reageer op pres. Jacob Zuma se aanspraak dat rassisme oop en bloot ten toon gestel is in Vrydag se anti-Zuma-optogte.

Zuma sê die “rassistiese aanslag” in Suid-Afrika het versterk en “word nie meer weggesteek nie” omdat rassiste nie meer bang is om uitgevang te word nie.

Hy het in Boksburg gepraat by die jaarlikse herdenking van die sluipmoord op Chris Hani, SAKP-­leier.

Zuma beweer van die betogers in Vrydag se optogte het plakkate rondgeswaai wat swart mense as bobbejane uitbeeld.

“Ons het gedink die oortuigings wat op die plakkate ten toon gestel is, is in 1994 begrawe.”

Hy sê dit is duidelik dat “sommige van ons wit landgenote” swart mense verag.

Save SA sê in ’n verklaring dit lyk of Zuma die rassekaart uit desperaatheid speel om verdeeldheid te saai.

Die beweging daag Zuma uit om ’n klag by die Menseregtekommissie in te dien sodat die bewerings deeglik ondersoek kan word.

 

Save SA sê hy veroordeel alle plakkate wat moontlik rassisties is en dat hy dit nie sou toegelaat het as hy so iets opgemerk het nie.

Volgens Save SA is die optogte trouens gekenmerk deur ’n sterk gevoel van rassesamehorigheid.

Ook die EFF sê Zuma is “oneerlik”.

“Ons het niks rassisties in die betogings gesien nie,” sê Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF.

Hy sê die betogers het by hul hoofdoelwit gebly, naamlik om te eis dat Zuma bedank.

Ook die DA sê dat Zuma rassisme as verskoning gebruik om uit ’n moeilike situasie te kom.

“Ons het die plakkate van ­almal wat in Johannesburg betoog het, geassesseer. Die ergste wat ons gesien het, was ‘Voertsek Zuma’. Die res het gesê hy moet bedank en ons gaan aanhou om dit te sê,” sê Refiloe Ntsekhe, woordvoerder van die DA.

Sy sê volgens die ANC is alles deesdae rassisties.

“Maar as ons ’n rassistiese party is, hoekom gaan ons nou (Woensdag) saam met die EFF en ­Cope betoog en nie net met ons wit lede nie?”

* Die opposisiepartye beplan vir Woensdag – toevallig Zuma se verjaardag – ’n dag van aksie teen Zuma in Pretoria.

Vryburger

 

Artikel 10

SA steier vanjaar onder plaasmoordeDeur Alet van der Walt  23 Februarie 2017

Die land steier reeds vanjaar – veral die afgelope drie weke – onder die gewelddadige moorde wat op die platteland en veral op plase gepleeg word.

TLU SA se statistieke toon dat 56 aanvalle en 19 moorde reeds vanjaar op plase oor Suid-Afrika heen voorgekom het. Sedert 1 Februarie alleen was daar 30 aanvalle en 16 moorde op plase landwyd.

Die statistieke spreek vanself en dit is ’n onbetwisbare feit dat plaasaanvalle skerp gestyg het, terwyl die vlakke van geweld in hierdie aanvalle geweldig toegeneem het.

Die Vrystaat, Noord-Kaap, Oos-Kaap en die Wes-Kaap is die enigste provinsies wat nie onder hierdie vlaag van geweldsmisdade op plase deurgeloop het nie.

In hierdie vier provinsies is nog geen moorde vanjaar gepleeg nie, terwyl daar wel drie nie-gewelddadige plaasaanvalle in die Vrystaat was.

Dit is nie duidelik waarom sekere provinsies op die oomblik nie so erg deur plaasaanvalle geraak word nie.

Goeie verhoudinge

Bertus van der Westhuizen, veiligheidsverteenwoordiger van die TLU SA in die Vrystaat en ’n boer van Heilbron, sê hy glo goeie verhoudinge op plase, goeie verhoudinge met die polisie tesame met die veiligheidsmaatreëls wat bestaan, speel ’n reuse-rol in die bekamping van misdaad.

Van der Westhuizen sê boere het verskeie WhatsApp-veiligheidsgroepe in landelike gebiede begin om hul kommunikasie met mekaar te verbeter. Die groepe is baie waardevol om enigiets van veediefstal tot plaasaanvalle te voorkom en misdadigers vas te trek.

Vrystaat Landbou (VL) sê in ’n mediaverklaring dat misdaad net suksesvol bekamp kan word as daar goeie verhoudinge op voetsoolvlak tussen die polisie en die plaaslike gemeenskap bestaan.

VL kon die afgelope paar jaar daarin slaag om baie goeie verhoudinge met die polisie op te bou.

Misdaadsiklusse

’n Misdaadkenner wat in die voorkoming van plaasaanvalle spesialiseer, Lukas Swart, maan egter dat boere in stiller gebiede nie te gerus moet wees nie. Hy sê hy doen al die afgelope 27 jaar sy eie navorsing oor misdaadneigings en hy het gevind dat daar siklusse is waarin provinsies geteiken word.

Swart sê misdaad in Suid-Afrika is baie goed georganiseerd. Daar is beslis ’n 18-maande-siklus waarbinne misdadigers sekere gebiede teiken.

Rol van politiek

Swart lê die geweldige hoë vlakke van geweld in die nuutste aanvalle voor die deur van die EFF-leier, Julius Malema. Malema se uitsprake dat boere grond gesteel het, jaag die emosies op.

HOEWEL MISDA-DIGERS PLASE VIR EIE GEWIN TEIKEN, SWEEP POLITIEKE UITLATINGS SOOS DIÉ VAN MALEMA MENSE OP.

Lukas Swart

Swart sê ook hy glo dat misdaad en politiek dikwels hand aan hand loop. Hoewel misdadigers plase vir eie gewin teiken, sweep politieke uitlatings soos dié van Malema mense op.

Die aantal moorde en die wreedaardigheid van hierdie plaasaanvalle, styg altyd wanneer politiek ’n rol speel.

Swart sê ook baie van die aanvallers wat die laaste tyd betrokke was en in hegtenis geneem is, is onlangs op parool vrygelaat.

Boere moet ook weer die ou Marnet-radiostelsels in hul huise opknap en begin gebruik. Misdaadsindikate maak ál meer van seinblokkeerders gebruik.

Die gesofistikeerde toerusting, wat in Amerika ontwikkel is, blokkeer hoër frekwensies soos dié van selfone, die seine van elektriese hekke, motorhuisdeure, alarmstelsels asook van tweerigtingradio’s.

Marnetradio’s werk op ’n baie laer frekwensie en die blokkeerders beïnvloed nie dié radio’s nie.

Netwerk24

Agri SA, TLU SA en AfriForum het almal beroepe op boere gedoen om by veiligheidsgroepe in te skakel

Netwerk24

Artikel 11

2 vas ná plaasaanval by Potch

Deur Susan Cilliers 11 April 2017

Twee vermeende plaasaanvallers is vasgetrek sowat twee weke nadat hul makker in ’n gewapende rooftog op ’n plaas naby Potchefstroom doodgeskiet is.

Isack Kutoane (34) en Saro Daniel Matome (50) het reeds in verband met die aanval op Donderdag 23 Maart op Conrad Beukes se plaas in die landdroshof in die stad verskyn.

Hulle bly in aanhouding en verskyn op 24 April weer in die hof, sê kapt. Amanda Funani, polisiewoordvoerder. Die twee staan tereg op aanklagte van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.

Hulle is verlede Maandag in ’n informele nedersetting by die Ikageng-township naby Potchefstroom vasgetrek.

Een van vermoedelik ’n groep rowers het Beukes (70) die oggend van die aanval kort voor 08:00 in sy plaashuis oorval. Dié rower was gemasker en met ’n 9 mm-pistool gewapen. Beukes het teruggeveg en die rower is noodlottig in die struweling gewond.

Beukes kan nie die besonderhede oor die skietery bekend maak nie omdat hy ’n verklaring daaroor moes aflê. Hy het in die worsteling met die rower skaaf- en kneusplekke oor sy hele lyf opgedoen.

Van sy werkers het tydens die aanval twee gemaskerde mans buite die huis gesien wat egter kort ná die skietery te voet gevlug het.

Die polisie het ná die aanval beslag gelê op Beukes se handwapen en die pistool wat die rower by hom gehad het. ’n Koeël uit Beukes se wapen het die rower getref en sy dood veroorsaak, sê lt.kol. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder.

Beukes het kort ná die aanval gesê daar was die afgelope paar jaar al 25 inbrake op sy plaas sowat 10 km buite Potchefstroom.

Hy het in Februarie reeds ’n brief aan dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gestuur waarin hy kla oor die gereelde inbrake en diefstalle in hul omgewing en het om hulp gevra omdat die polisie se hulpbronne beperk is. Boere in die omgewing doen daarom self saans patrollie, maar hulle is veral bedags kwesbaar omdat hulle nie dan ook patrollie kan doen nie.

Netwerk24

 

Artikel 12

3 wat glo aanval, ontsnap uit selle

Deur Marietie Louw-Carstens 09 April 2017

Drie vermeende plaasaanvallers is steeds soek nadat hulle Vrydagaand uit die Haenertsburg-polisieselle in Limpopo ontsnap het.

Die drie mans kan glo verbind word met ’n aanval in Januarie op ’n bejaarde egpaar en een van hul werkers buite dié dorpie wat tussen Polokwane en Tzaneen geleë is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê dit is nog nie duidelik hoe die drie mans ontsnap het nie.

Die polisie het dit agtergekom toe hulle Vrydagaand roetinerondtes in die selle gedoen het.

Abel Modiba (27) en Thomas Nkuna (33) was albei verhoorafwagtend nadat hulle weens twee huisrooftogte aangekla is.

Elia Makgaba (28) wat weens ’n aanklag van gewapende roof in aanhouding was, het saam met hulle ontsnap.

Die drie mans was na bewering betrokke by die aanval in Januarie op Richard Wiggill (72) en sy vrou, Anita (64) van Haenertsburg.

Daar is by ’n venster van hul huis ingebreek waarna die egpaar met kabelbinders en elektriese kabels vasgebind is. Hulle is al twee oor die kop geslaan.

Die plaaswerker, ene Alex, is ook aangeval en van sy selfoon beroof. Die Wiggills se bakkie en huisware is gesteel.

Collin Wiggill, die egpaar se seun, het gesê sy ouers het vir hul lewe gevrees.

“Hulle is aanhoudend geskop en met die dood gedreig.”

Die egpaar en Alex moes bebloed vir sowat ’n driekwartier deur bosse strompel om by bure hulp te ontbied.

Ngoepe het gesê die polisie het ’n reusesoektog begin na die ontsnaptes. Enigiemand met inligting kan die Haenertsburg-polisie by 082 565 8191 bel.

Netwerk 24

Artikel 13

Plaasaanval: Nederlander sterf

Deur Leanne George 09 April 2017

Vyf gewapende aanvallers het ’n Nederlander in ’n plaasaanval naby Barberton in Mpumalanga vermoor.

Peet van Es (55) en sy vrou, ­Arine Prins, het Vrydagaand saam met ’n familievriend op hul klein plasie in die Moseley-omgewing, aan die R40 tussen Barberton en Mbombela (Nelspruit), gekuier. Prins is blykbaar ook in haar 50’s.

Sy het aan die Barberton ­Times gesê haar man het later die aand op die huis se boonste verdieping geslaap toe boewe met klapmusse iewers ná 20:00 by die huis ingebars het.

Die boewe het Prins glo aangerand en bly vra waar die kluis is, berig die Barberton ­Times.

Sy en die kuiergas is met elektriese kabels vasgebind.

Twee van die aanvallers het messe gehad en die ander drie 9 mm-pistole.

Van Es is in sy bed oorval.

Hy het wakker geword en met die aanvallers begin stoei.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê Van Es is met ’n onbekende skerp voorwerp in die stoeiery doodgesteek. Die bure het die Hi-Tech-veiligheidsmaatskappy rondom 00:30 ontbied nadat Prins hulp gaan soek het.

Hi-Tech-veiligheidswagte het omstreeks 00:50 by die plaas aangekom, met die polisie kort op hul hakke.

Die boewe is weg met die egpaar se silwer Chevrolet-bakkie propvol huisraad, waaronder ’n televisie, juweliersware en elektriese toerusting. Hlathi sê die polisie is op soek na die silwer bakkie met die registrasienommer FYD 843 MP.

Netwerk24

Artikel 14

KZN-plaasmoord: Nóg drie vasgetrek

Deur Reneilwe Dhludhlu 26 Maart 2017 11:36

Nóg drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op die Britse egpaar wat in Februarie in KwaZulu-Natal ontvoer en vermoor is.

Roger en Christine Solik is op 17 Februarie in die dorp Nottingham Road aangeval.

Nadat ’n buurman die huis op dié dag in “wanorde” aangetref het, is Christine (57) se lyk later in ’n rivier by Nzinga in Impendle gevind. Haar voete en hande was met draad vasgebind en haar gesig met ’n kussingsloop bedek. Roger (66), wat aan Parkinsonsiekte gely het, se lyk is op 20 Februarie sowat 3 km daarvandaan gevind.

Die polisie, in samewerking met K9-taakspanlede, het Vrydagaand ’n deurbraak gemaak toe hulle drie verdagtes in Umlazi en Impendle vasgetrek het.

“Die polisie het deur die nag na die verdagtes gesoek, en inligting het hulle na Umlazi gelei, waar die hoofverdagte in hegtenis geneem is,” sê kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder.

Sy sê verdere ondersoek het hulle na Impendle gelei, waar die ander twee verdagtes vasgetrek is. Hulle is in besit van ongelisensieerde vuurwapens en gesteelde eiendom gevind.

Volgens Gwala is een van die vuurwapens wat gevind is, in Orlando as gesteel aangemeld.

Sy sê die vuurwapens sal nou aan ballistiese toetse onderwerp word.

Thulani Moses Mthembu (43) is reeds op 1 Maart in verband met die moord vasgetrek.

Byna twee weke gelede was die polisie op soek na ’n tweede verdagte, Xolani Brian Ndlovu (32). Hy is glo ’n bekende figuur in Umlazi, Mpophomeni, Mafakatini en France in Pietermaritzburg.

Die polisie kon nie bevestig of hy deel is van die drie wat nou in hegtenis geneem is nie.

Dié drie sal Maandag in die Howick-landdroshof verskyn.

Netwerk24

 

Artikel 15

Agri SA maan teen misbruik van plaasmoord-syfers

Deur Sarel van der Walt 14 Maart 2017 17:16

Agri SA se beveiligingskomitee sê hy het op ’n vergadering met ’n hoëvlak-afvaardiging van die polisie gemaan dat statistieke oor plaasaanvalle en -moorde nie gebruik moet word om emosies onnodig op te jaag nie.

Johannes Möller, president van Agri SA, sê die verkeerde aanwending van statistieke lei tot onrustigheid in die landbougemeenskap.

“ ’n Ontleding van die onlangse plaasmoordstatistieke wat in die media gerapporteer is, toon dat van die moorde, volgens die definisie van ’n plaasaanval, nie ’n plaasmoord was nie.

“Die voorkoms van plaasmoorde die laaste tyd spreek boekdele van die volgehoue misdaadaanslag op boere, plaaswerkers en hul gesinne. Dit benadeel ook Suid-Afrika se strewe na voedselsekerheid en ’n stabiele landelike gebied,” het Möller luidens ’n verklaring van Agri SA gesê.

“Die uitsprake oor grondbesetting wat uit verskeie oorde gepropageer word, is ten sterkste deur die komitee veroordeel. Dit het hoë prioriteit geniet op die vergadering met die polisie.”

Agri SA verwerp ten sterkste uitsprake oor die besetting van landbougrond en aansprake dat boere hul grond op ’n onregmatige wyse bekom het en dat dit daarom geregverdig sou wees om die grond te beset en terug te neem.

Gebeurlikheidsbeplanning om dié optrede teen te staan, is bespreek en Agri SA se provinsiale organisasies is versoek om dit tot op plaaslike vlak deur te voer.

Die komitee het bevestig dat Agri SA se inligtingsdokument oor die hantering van grondbesetting wat oor jare aangepas is, die inwerkingstelling van sy protokol vir toegang tot plase en deurlopende skakeling met die plaaslike polisie, aspekte is wat op plaaslike vlak toegepas moet word.

“Bestaande polisiebeleid en -prosedures oor die hantering van betredings- en grondbesettingsklagtes, is weer eens bevestig.

“Agri SA het ’n beroep op die polisie gedoen om plattelandse polisiekantore aan te moedig om dit toe te pas.”

Agri SA se Agri Securitas Trustfonds sal op boereverenigingsvlak aanvullende bydraes lewer om die gemeenskappe te help om hul eie veiligheid te verbeter, sê Möller.

Netwerk24

 

Artikel 16

2 vas ná plaasaanval by Potch

Deur Susan Cilliers 11 April 2017 12:59

Twee vermeende plaasaanvallers is vasgetrek sowat twee weke nadat hul makker in ’n gewapende rooftog op ’n plaas naby Potchefstroom doodgeskiet is.

Isack Kutoane (34) en Saro Daniel Matome (50) het reeds in verband met die aanval op Donderdag 23 Maart op Conrad Beukes se plaas in die landdroshof in die stad verskyn.

Hulle bly in aanhouding en verskyn op 24 April weer in die hof, sê kapt. Amanda Funani, polisiewoordvoerder. Die twee staan tereg op aanklagte van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.

Hulle is verlede Maandag in ’n informele nedersetting by die Ikageng-township naby Potchefstroom vasgetrek.

Een van vermoedelik ’n groep rowers het Beukes (70) die oggend van die aanval kort voor 08:00 in sy plaashuis oorval. Dié rower was gemasker en met ’n 9 mm-pistool gewapen. Beukes het teruggeveg en die rower is noodlottig in die struweling gewond.

Beukes kan nie die besonderhede oor die skietery bekend maak nie omdat hy ’n verklaring daaroor moes aflê. Hy het in die worsteling met die rower skaaf- en kneusplekke oor sy hele lyf opgedoen.

Van sy werkers het tydens die aanval twee gemaskerde mans buite die huis gesien wat egter kort ná die skietery te voet gevlug het.

Die polisie het ná die aanval beslag gelê op Beukes se handwapen en die pistool wat die rower by hom gehad het. ’n Koeël uit Beukes se wapen het die rower getref en sy dood veroorsaak, sê lt.kol. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder.

Beukes het kort ná die aanval gesê daar was die afgelope paar jaar al 25 inbrake op sy plaas sowat 10 km buite Potchefstroom.

Hy het in Februarie reeds ’n brief aan dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gestuur waarin hy kla oor die gereelde inbrake en diefstalle in hul omgewing en het om hulp gevra omdat die polisie se hulpbronne beperk is. Boere in die omgewing doen daarom self saans patrollie, maar hulle is veral bedags kwesbaar omdat hulle nie dan ook patrollie kan doen nie.

Netwerk24

Artikel 17
Man (72) 4 dae lank vasgebind ná plaasaanval

Deur Susan Cilliers 05 April 2017

’n Bejaarde man wat vier dae en nagte vasgebind en beseer op ’n bed gelê het nadat hy op ’n plaas beroof is, het die aanval oorleef.

Richard Stoffberg (72) is op 31 Maart gevind nadat iemand hom om hulp hoor skree het op die plaas Rietfontein in die Boons-omgewing naby Rustenburg in Noordwes.

Stoffberg is op 27 Maart oorval, aangerand en van sy Nissan-bakkie beroof, sê kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg. Twee mans is reeds in verband met die aanval en rooftog vasgetrek.

Stoffberg was erg ontwater en vol kneusplekke toe hy gevind is.

Volgens sy swaer, prof. Rob Kinsley, het hy ’n skedelfraktuur en sy hele liggaam is pimpel en pers. Die plaas het vroeër aan die Kinsleys behoort, maar Stoffberg woon steeds daar.

Kinsley, ’n hartchirurg by die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg, sê hy was besig met ’n opehartoperasie toe hy verlede Vrydag die nuus oor sy swaer kry.

WAT HY DEURGEGAAN HET, WAS SUIWER MARTELING. DIE ROWERS HET SY HANDE EN VOETE VASGEBIND EN AANVANKLIK OOK ’N TOU OM SY NEK GESIT, MAAR DIT LATER AFGEHAAL

Rob Kinsley, swaer

“Ek is eers na die verkeerde hospitaal en het hom eers die volgende dag in ’n hospitaal naby Carletonville (aan die verre Wes-Rand) gevind.”

Kinsley het Stoffberg toe na sy huis in Johannesburg geneem, waar hy nou aansterk.

“Wat hy deurgegaan het, was suiwer marteling. Die rowers het sy hande en voete vasgebind en aanvanklik ook ’n tou om sy nek gesit, maar dit later afgehaal,” sê Kinsley.

Augoustides sê twee broers van onderskeidelik 18 en 19 jaar is in verband met die rooftog in hegtenis geneem.

“Die polisie het ’n wenk gekry dat hulle met Stoffberg se Nissan-bakkie na die Frischgewaagd-township naby Delareyville gevlug het.”

Daniël (19) en Thabang Mthembu (18) is daarna by die huis van ’n familielid in hegtenis geneem. Die Nissan-bakkie en ’n vuurwapen is ook op die perseel gevind, sê Augoustides.

Daniël werk op ’n plaas naby Rietfontein waar die rooftog plaasgevind het.

Die twee broers het Maandag in die hof in Atamelang naby Delareyville verskyn op aanklagte van poging tot moord en die diefstal van ’n motorvoertuig.

Hulle word steeds aangehou.

Netwerk24

Artikel 18

Reuse-soektog na 3 ná boervrou op plaas oorval is

Deur Kaydene Davids 27 Maart 2017 21:14

Verskeie buurtwagte in Bloemfontein het Maandagaand ’n reuse-soektog na drie mans begin nadat hulle vroeër die aand ’n boervrou op ’n plaas op die pad na Jagersfontein aangerand en met ’n duur Duitse motor en verskeie vuurwapens en geld gevlug het.

AfriForum en ander buurtwagte het noodreaksieplanne in en om Bloemfontein, asook in Kimberley, in werking gestel nadat drie mans Elsabe van der Westhuizen (in haar 50’s) Maandag omstreeks 18:15 op die plaas Deyselsrust JF18, sowat 15 km buite Bloemfontein, aangeval en met kabels vasgebind het terwyl haar man, Wynand, in Bloemfontein was.

Die mans het daarna in Van der Westhuizen se grys Audi met registrasienommer FBW551FS en vuurwapens gevlug. Dit is nie seker of hulle in die rigting van Bloemfontein of Kimberley gery het nie.

’n Ingeligte het aan Netwerk24 gesê die mans het Elsabe net ná 18:15 op die plaas oorval, hardhandig hanteer en vasgebind.

Die mans het die kluis se sleutels geëis, waarna Elsabe gesê het sy weet nie waar dit is nie.

Volgens die ingeligte het die mans eindelik die sleutel gekry en vuurwapens en geld uit die kluis gebuit.

Hulle het daarna met Elsabe se Audi gevlug.

Die ingeligte sê Elsabe is gelukkig nie erg beseer nie, maar sy is erg getraumatiseerd.

Volgens die ingeligte was die polisie teen laataand steeds op die toneel.

Netwerk24

Artikel 19

Bejaarde boer van Villiers aangeval, beroof

Deur Alet Van Der Walt 23 Maart 2017 10:41

’n Bejaarde boer van Villiers in die Vrystaat is Woensdagmiddag op sy plaas ingewag en deur vier mans aangeval en beroof.

Jan Lourens (73) se seun, Danie, sê die vier mans het sy pa erg aangerand en sy pa is nog in ’n toestand van skok.

“My pa is nog deurmekaar en ons kon nog nie al die inligting uit hom kry nie,” sê Danie.

Lourens sr. het blykbaar Woensdagmiddag sy plaaswerkers omstreeks 17:00 huis toe gevat. Met sy terugkeer het die mans hom by die plaasopstal van sy plaas Arbeid ingewag en aangeval. Die plaas is ongeveer 11 km buite Villiers.

Die mans het hom vasgebind en onder meer vuurwapens, bankkaarte en ’n selfoon geroof.

MY PA HET MET HULLE SAAMGEWERK EN GEGEE WAT HULLE GEËIS HET.

“My pa het met hulle saamgewerk en gegee wat hulle geëis het,” sê Danie.

Hulle het egter ongeveer drie uur lank in die huis deurgebring en selfs vir hulle kos gemaak en in die huis geëet en gedrink.

’n Buurman van Lourens, Hennie Oosthuizen, het onraad vermoed toe Lourens nie om 20:00 op die gebruiklike radiotoets gereageer het nie.

Oosthuizen het ook na Lourens se selfoon gebel en toe hy dié ook nie antwoord nie het Tolla Pretorius, ’n buurman wat naby Lourens bly, gaan ondersoek instel.

Danie Lourens sê sy pa het blykbaar op ongeveer dieselfde tydstip daarin geslaag om homself te bevry. Die aanvallers het toe reeds van die toneel gevlug. Pretorius het ander boere se hulp ontbied.

Die mans het nie ’n voertuig gebruik nie en te voet in die rigting van Villiers se Qalabotjha-township gevlug. Die laaste spore is glo naby die township opgemerk.

Lourens sê die mans het goed Afrikaans gepraat en glad nie klapmusse of handskoene gedra nie.

Die polisie is tans besig om die plaashuis te fynkam en die honde-eenheid is ook na die toneel ontbied, sê Danie.

Kapt. Levhani Hani, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê die polisie sal later Donderdag ’n volledige verklaring oor die voorval uitreik.

Netwerk24

 

Artikel 20

 

 

Gyselaars op hul plaas weens misdaad

Die eienaars van ’n Kaapse groenteboerdery wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier, oorweeg dit om kosproduksie te laat vaar weens ’n eindelose aanslag van misdadigers.

Mnr. Edwin Buhr van die familie-groenteboerdery Edwern-Heim buite Kraaifontein in die noordelike voorstede van Kaapstad het tussen 20 Januarie en middel Maart 31 sake by die polisie aangemeld wat verband hou met vandalisme en onwettige betreding op die plaas.

Kort voor Kersfees is mnr. Lourenzo de Bruyn, die plaas se werktuigkundige, ernstig beseer toe diewe wat hy verjaag het terwyl hulle helder oordag groente op die plaas gesteel het, hom met ’n mes en skroewedraaier in sy knieë en bors gesteek het en hom verwoed geslaan en geskop het. De Bruyn ontvang steeds fisioterapie ná die aanval.

Oor die jare het die boerdery reeds sowat R10 miljoen aan sekuriteitsmaatreëls bestee, met beperkte sukses. Booswigte intimideer die plaas se sekuriteitswagte en jaag selfs plaaswerkers uit hul huise om koperkrane en elektriese drade te steel om vir skroot te verkoop.

Daar is al drie maal op mnr. Rudi Engelke, bestuurder van die boerdery en Edwin se skoonseun, geskiet, en drie van sy werknemers het ook al onder ’n koeëlreën deurgeloop. In 2004 is die Engelkes se neef, mnr. Bernhardt Buhr, doodgeskiet tydens ’n roof van die plaas se kontantlone.

Te min speurders
Van die 31 sake het dadels gekom – Engelke kry telkemale ’n paar weke ná die klag ’n SMS dat die saak gesluit is weens ’n gebrek aan bewyse. “[Die Kraaifontein-polisie] hanteer op ’n daaglikse basis moorde en ander ander plan vir misdaad, dan is dit te verstane dat kosdiefstal nie ’n prioriteit is nie. Na my mening is plaasaanvalle egter ’n aanval op ’n nasionale sleutelpunt,” sê hy.

Brigadier Gerda van Niekerk, die plaaslike stasiekommissaris, sê die stasie het onlangs 60 ekstra polisielede bygekry, wat meer sigbare polisiëring moontlik maak. Hul speurtak kan egter steeds nie die mas opkom nie. “Dit is ’n spesialisarea en jy gryp nie sommer net ’n speurder uit die lug nie,” sê sy.

Mnr. Dieter Buhr, Edwin se seun, het ’n jaar gelede ’n hektaar lusern geplant om te sien of dit as ’n alternatiewe produk op die plaas verbou kan word. “Dit is nie ’n aartappel, kool of pampoen wat ’n waarde het vir diewe nie. Ons hoop dat ons met hierdie strategie en ’n paar nuwe idees oor veiligheid en sekuriteit nog ’n paar jaar tyd op die plaas kan koop, maar dis net ’n kwessie van tyd voordat die misdadigers hier by ons en omliggende plase die oorhand gaan kry. ’n Mens kan net tot op ’n punt baklei en dan moet jy die streep trek.”

Hernieude aanslag
Toe Engelke 25 jaar gelede op die plaas gekom het, was daar geen omheining nie. Een heining van 1,2 m is verhoog tot 1,8 m, toe is nóg ’n 1,8 m-heining bygevoeg. Albei dié heinings is verhoog en ’n elektriese heining is bygevoeg. “Maar niks het ooit volkome gehelp nie. As ons in die oggend wakker word, dan is daar stukke van die driedubbele heining met ’n vragmotor totaal uit die grond gepluk en weggery om as skrootyster verkoop te word.”

In 2007 kon hulle danksy ’n uitstekende koolprys ’n muur byna reg rondom die plaas bou. Hulle moes dit ná ’n jaar hoër maak en nog ’n jaar later ’n elektriese draad bo-op die muur aanbring. “Dit het die skelms lank uit die plaas gehou, maar die afgelope ses maande is hulle met mening terug. Dit is ’n groep jong manne wat die area, ten spyte van allerhande tipes sekuriteit, totaal vernietig.”

Eers het die booswigte die elektriese draad bo-op die muur met takke en pale begin aftakel. Toe begin breek hulle sommer gate in die muur om aartappels te steel. “Daar was sommige nagte tot 15 mense in die landerye besig om te steel,” sê hy.

Negatief
Me. Liezel Buhr-Engelke, Edwin se dogter en Rudi se vrou, meen dit is moeilik om optimisties te bly in hierdie omstandighede. “Dit bly ’n negatiewe omgewing waarin ons boer en dit beïnvloed ons. Ons werktuigkundige werk nie meer aan plaaswerktuie nie. Hy herstel daagliks die geplunder, diefstal en vernietiging.

“My pa is ’n ongelooflike sterk mens en hy bly positief. Deurentyd was dit sy krag en optimisme wat ons almal moed gegee het om aan te hou. Maar selfs hy raak nou moedeloos, want die aanvalle is nie meer net klein diefstal nie; dit beloop honderdduisende rande. Dit kom ál nader aan jou persoonlike sfeer en die dreigemente raak ál ernstiger,” sê sy.

Landbou.com

Artikel 21

Plaasmoord in KZN skok

Die moord van ’n boer net buite Pietermaritzburg plaas die belangrikheid van behoorlike beveiliging op plase opnuut op die agenda.

Die 53-jarige mnr. Edwin Mapstone en sy vrou, Jean, is omstreeks 02:00 op Vrydagoggend (31 Maart) in hul huis op hul plaas naby Thornville aangeval.

“Mapstone is met ’n skerp voorwerp gesteek en doodgeskiet. Sy vrou het ook steekwonde opgedoen, maar het daarin geslaag om te ontsnap en is in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem vir behandeling,” het lt. kol. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, verduidelik.

Kwanalu, KwaZulu-Natal se landbou-unie, se uitvoerende hoof, me. Sandy la Marque, het die aanval ten sterkste veroordeel. “Ons innige medelye gaan aan die Mapstone-familie. Ons is erg bekommerd oor die sinnelose geweld van hierdie aanval en dring aan daarop dat geregtigheid geskied.

“Die uitwerking van ’n aanval van hierdie aard is nie net vernietigend vir vriende en familie van die slagoffers nie, maar vir die ganse boerderygemeenskap. Dit is ’n aaklige herinnering aan die realiteit van die tye waarin ons leef. Ons kan die noodsaaklikheid dat boere alle moontlike veiligheidsmaatreëls in plek het en dat hulle paraat bly, nie genoeg beklemtoon nie,” het La Marque gepleit.

Die motief vir die aanval is steeds onbekend, ’n saak is geopen en die Thornville-polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord.

“Daar is nog geen arrestasies gemaak nie en ons versoek enigiemand met inligting oor moontlike verdagtes om die Thornvill- polisiekantoor te kontak of Crime Stop by 08600 10111 te skakel,” het Zwane versoek.

Landbou.com

Artikel 22

Aanwas, grondhervorming en die landbou

Hoe raak die groeiende bevolking, verstedeliking en grondhervorming die landbou in Suid-Afrika?

In 2030 sal meer as 70% van Suid-Afrika se bevolking verstedelik wees. Wat beteken dit vir die landbou? Johann Bornman van Agri Development Solutions (ADS) doen navorsing en ‘n grond audit  met die samewerking van Landbouweekblad.

ʼn Kwessie van bepalende belang vir grondgebruik in Suid-Afrika is die faktor van die bevolkingsdigtheid en migrasie. Bevolkingsgetalle met ʼn digtheid gemeet aan hektaar per persoon  het vanaf 174 hektaar per persoon in die 1600’s (toe was daar na raming 700 000 mense in totaal in Suid-Afrika), progressief geskuif tot ʼn verhouding van 2,2 hektaar in 2015. Dié verhouding gaan verder afneem tot 1,8 hektaar in 2030.

Daarteenoor het verstedeliking van 23,4% in die vroeë 1920’s eksponensieel gegroei tot ongeveer 65% tans (totale bevolking geraam op 56,9 miljoen mense). Na verwagting gaan die bevolking in die RSA tot 66,9 miljoen in 2030 groei (wat ʼn toename van 17,6% verteenwoordig) met 71,3% van die bevolking wat verstedelik.

Wat van landbougrond?
Waar laat dit ons met landbougrond? As van die standpunt uitgegaan word dat 97,03 miljoen hektaar grond in die RSA geskik is vir boerdery-doeleindes (dit sluit in bewerkte en bewerkbare grond) dan was die verhouding in die 1600’s ongeveer 138,6 ha per persoon.

In 1946 het dié verhouding tot 8,5 hektaar afgeneem en verder gedaal tot 1,7 hektaar in 2015. Dit sal na verwagting sowat 1,5 hektaar per persoon in 2030 beloop.

Ten opsigte van kommersiële landbougrond was die verhouding in 1993 ongeveer 2,2 hektaar per persoon en na raming 1,05 hektaar per persoon in 2016. Indien die Regering se strategie vir grondhervorming tot uitvoer gebring word teen 30% van kommersiële grond tans in wit hande en ʼnn mense neem aan dat 50% van die transformasiegrond produktief in produksie bly, dan neem die verhouding tot 0,76 hektaar per persoon af teen 2030. (Of, dit daal met 28,9% vanaf 2016 tot 2030.)

Grond uit produksie
Indien transformasiegrond uit produksie gestel word, soos wat in die verlede gebeur het, verswak die verhouding tot 0,62 hektaar per persoon of met 41,5% (2030 teenoor 2016).

Die vraag is of dit moontlik is om voedselvoorsiening op dié basis in stand te hou? Die antwoord is: Kwalik.

Groot omsigtigheid is nodig met die verkryging van grond (lees landbougrond) nie alleen deur die Regering en mense van kleur nie maar ook alle ander dissiplines in die ekonomie.

Dis noodsaaklik dat om alle landbougrond in die RSA produktief te bedryf as die land selfvoorsienend vir sy voedsel wil bly. Die risiko van die strategie van grondhervorming en die implikasie in die gevalle van mislukking spreek vanself. Suid-Afrika kan dit gewoon op geen manier bekostig nie.

* Geskryf deur Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions

Landbou.com

 

Artikel 23

ANC in Limpopo: ‘Opposisie is op verloorpad’

Deur Marietie Louw-Carstens 05 April 2017

Die ANC in Limpopo vertrou steeds dat pres. Jacob Zuma die land kan lei.

Nocks Seabi, sekretaris-generaal van die ANC in Limpopo, het Woensdag by ’n mediakonferensie in Polokwane gesê die ANC-LP’s wat opposisiepartye se kant wil kies, is op ’n “verloorpad.”

“Ons raai diegene af wat dit oorweeg om hulle by opposisiepartye te skaar.”

Die ANC in Limpopo is ook gekant teen Vrydag se beplande nasionale massaoptog teen Zuma.

“Ons verwelkom pres. Zuma se kabinetskommeling.”

Seabi ontken gerugte dat Stan Mathabatha, premier, uit sy pos gelig gaan word ten sterkste.

Ruth Bhengu, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, en afgevaardigde na Limpopo, sê die spesiale provinsiale komitee (PUK) het op 6 Maart vergader ná gerugte in die media dat Mathabatha se dae getel is.

Bhengu sê lede van die PUK het voorgestel dat Mathabatha se kop moet rol.

Ná besprekings is bevind daar is geen behoorlike beoordeling van Mathabatha as premier gedoen wat tot sy afdanking kon lei nie.

Bhengu sê daar is “relatiewe stabiliteit” in die ANC op nasionale en provinsiale vlak.

“Die dae is verby wat ons persoonlike veiligheidswagte moes kry om ons tydens vergaderings te beskerm.”

Sy sê die ANC in Limpopo is baie sterker as in 2012 toe Cassel Mathale as premier bedank het nadat vyf provinsiale staatsdepartemente onder administrasie geplaas is.

Netwerk24

Artikel 24

Rommelstatus ramp vir armes – Basa

Deur Elvira Wood 04 April 2017

Standard & Poors (S&P) se besluit om Suid-Afrika se beleggingstatus tot rommel te verlaag is ’n direkte gevolg van swak leierskap en self dienende politieke gewin wat bo nasionale belang geplaas word, sê Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa).

“Die president se aksies in die vroeë oggendure verlede Vrydag was duidelik nie in nasionale belang nie.

“Basa en verskeie ander organisasies het gewaarsku sulke roekelose gedrag kan tot ’n afgradering lei. Dit het ongelukkig ’n werklikheid tot die nadeel van die banksektor, sakeondernemings en elkeen in Suid-Afrika geword,” sê hy.

Hy verduidelik die afgradering gaan daartoe lei dat Suid-Afrika hoër rente op sy skuld moet betaal wat weer tot minder geld vir maatskaplike ontwikkeling gaan lei.

“Dit gaan ’n direkte impak op die mees kwesbaarste lede in ons samelewing hê,” voorspel hy.

“Die president moet verantwoordelikheid neem hiervoor. Ons moet die krisis waarin ons ons bevind erken.”

Hy het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om saam te staan om goeie en aanspreeklike bestuur, met ’n leierskap wat deur die belange van alle Suid-Afrikaners ingelig is in plaas van ’n klein groepie met gulsige belange wat op selfverryking ten koste van die mees kwesbare mense fokus, te verseker.

“Hierdie soewereine afgradering gaan tot ’n skerp daling van reeds lae vlakke van beleggersvertroue lei. Negatiewe beleggersentiment gaan die ekonomie wat reeds sukkel direk ondermyn,” sê Coovadia.

Netwerk24

 

Artikel 25

Suid-Afrika amptelik ‘n rommel onder Zuma

 

Die kabinetskommeling van ANC-president Jacob Zuma, is direk daarvoor verantwoordelik dat die internasionale graderingsinstelling,Standard & Poor’s, Suid-Afrika se kredietgradering na rommelstatus verlaag het.

Standard &Poor’s voer aan dat die nuwe minister van finansies, Malusi Gigaba, geen vertroue of geloofwaardigheid in die finansiële wêreld kon vestig nie.  Gigaba het trouens net nadat hy die portefeulje oorgeneem het, aangekondig dat die staat meer skuld sal aangaan om projekte te finansier. Hy het egter nie gemeld watter projekte dit sal wees nie, maar dit word algemeen aanvaar dat dit projekte sal wees rondom swart bevoordeling sodat die radikale ekonomiese transformasie teen groot koste deurgevoer kan word.

Die verbruikers gaan direk hierdeur getref word aangesien ekonome voorspel dat die rentekoerse aansienlik kan styg in die afsienbare toekoms, dat die ekonomiese groeikoers nog laer gaan wees en dat die belastingbetalers die rekening sal moet betaal vir verhoogde rente op staatskuld.

VF Plus het in sy reaksie op die afgradering gesê dat Zuma wat weer eens bewys het dat hy sy eie belange bo dié van Suid-Afrika  stel.  “Die mense van Suid-Afrika wat reeds gebuk gaan onder finansiële druk gaan nou swaarder kry en dit is alles veroorsaak deur pres. Zuma,” sê VF+.

Intussen het Moody’s Investor Service, een van die ander drie groot graderingsinstellings, aangekondig dat hy Suid-Afrika se kredietstatus op hersiening met die oog op afgradering geplaas het.

Soos verwag het die rand verder gedaal na die aankondiging.  Die rand het gedaal tot R13,81 teenoor die dollar, tot R14,73 teenoor die euro en tot R17,18 teen die pond.

Vryburger

Artikel 26

Tweede aardbewing tref SA in 24 uur

April 4, 2017

 

Na gisteroggend se aardbewing met middelpunt naby Klerksdorp, is die land gisteraand ook deur ‘n skudding geruk.

Die tweede skudding se middelpunt was in Botswana en het 6,8 op die Richterskaal geregistreer. Die skokke is gevoel oor die grootste deel van Noord- en Wes-Transvaal, maar tot in Pretoria, Middelburg en selfs Bloemfontein en Durban.  Geen berigte van beserings of skade is gerapporteer nie.

Gisteroggend se skudding was toe amptelik 4,6 op die Richterskaal en is ook wyd gevoel

Vryburger

Artikel 27

 

Nuwe ministers keur omstrede projekte goed

April 4, 2017

 

Die sperdatum vir die kontrakte vir die omstrede kernprogram, was eergister, en die nuwe minister van finansies, Malusi Gigaba, se handtekening staan skynbaar onder die dokumente, nadat Pravin Gordhan geweier het om dit te onderteken.

Dit beteken skynbaar dat die maatskappy wat in beheer van die bou van die kernkragstasies gaan wees, die maatskappy van Khulubuse Zuma.  Hy gaan oor die volgende 20 jaar skynbaar sowat R50 miljard in sy sak druk – as die projekte betyds afgehandel kan word, anders sal die koste nog styg.

Hierdie inligting is openbaar gemaak deur ‘n ANC-lojalis van Natal, Sibusisiwe Mngadi. Sy sê sy weet dat die openbaarmaking van hierdie inligting haar en haar se familie se lewens in gevaar kan stel, maar dit is nie waarvoor sy die sogenaamde “struggle” deurgemaak het nie.

Intussen sê adv. Anton Alberts van VF Plus dat ‘n ander omstrede projek wat sterk weerstand ondervind het, nou wel gaan begin nadat dit deur Zuma goedgekeur is.  Dit is die skaliegas projek in die Karoo, wat deur hidrobreking ontgin gaan word en wat die gevaar loop om die reeds skaars ondergrondse waterbronne, sodanig te besoedel dat dit onbruikbaar gaan wees.

Adv. Alberts noem dit “die eerste salvo van pres. Jacob Zuma se radikale ekonomiese staatskaping”.

Foto: Khulubuse Zuma

Vryburger

Artikel 28

Ellende onder ANC, voorspoed onder Verwoerd

April 5, 2017

Die besluit van Standard & Poors om Suid-Afrika tot rommelstatus af te gradeer, het nie as ’n verrassing gekom nie. Dié afgradering dreig lankal en het nou ’n werklikheid geword – onder ANC-bewind.

Die hoofsekretaris van die HNP, mnr. Louis van der Schyff, sê in ‘n verklaring dit het by die ANC-bewind mode geword om die skuld vir alles wat as gevolg van swak regering en bestuur gebeur, voor die deur van apartheid te lê. “Daarom is dit nodig om nou, met dié afgradering, ’n vergelyking te tref tussen die regerings van die ANC, nou, en die NP onder wyle dr. HF Verwoerd met sy suksesvolle beleid van afsonderlike ontwikkeling.

“In die sestigerjare was Suid-Afrika ’n eerstewêreldland. Suid-Afrika het op ekonomiese gebied onder die top tien westerse lande getel en was die sterkste ekonomiese land in Afrika. Die Engelse pers het geskryf South Africa is suffering from a surfeit of prosperity and is a shining example of success on ’n troubled continent. (Rand Daily Mail, 30 Julie 1966) Die ekonomiese groeikoers was 6% en die inflasiekoers was 2% en 74% van nuwe arbeid kon jaarliks in die formele sektor opgeneem word. Werkloosheid het bykans nie bestaan nie. Die ekonomiese groeikoers onder die blanke bevolking was 5,7% en onder die swart bevolking 7,8%. Dit het goed gegaan met al die mense in Suid-Afrika.

“Die suksesverhaal van dr. Verwoerd het die verbeelding van die wêreld aangegryp. Dit is alles vernietig deur ’n grypsugtige ANC-bewind. Die jongste “sukses” van rommelstatus van die ANC gaan net nog meer ekonomiese druk op die belastingbetaler plaas, wat in hoofsaak die blanke belastingpligtige gaan raak.

“Die Afrikanervolk het, toe hy die politieke mag gehad het, die sukses soos hierbo aangehaal, vir al Suid-Afrika se mense behaal. Ons is moeg om die ekonomiese melkkoei van ’n onbevoegde regering te wees.

“Ons sal die ideaal om as volk vry te wees en oor onsself te regeer, nie prysgee nie. Dan sal ons weer die sukses waartoe ons volk in staat was, en is, herstel,” sê mnr. Van der Schyff.

Vryburger

Artikel 29

Groot protes Vrydag teen Zuma

April 5, 2017

 

Verskeie organisasies beplan eerskomende Vrydag ‘n optog in Pretoria teen pres. Jacob Zuma, nadat sy onbesonne kabinetskommeling gelei het tot die ekonomiese afgradering van die land. Die Save SA-veldtog gaan voort met die optog ongeag wat die regering sê.

Die ANC- regering het die optog gekritiseer omdat dit dalk die land tot stilstand kan bring, en in teenstelling met ander gewelddadige betogings wat die gemeenskap tot stilstand bring, het ‘n regeringswoordvoerder nou gesê dit kan onvoorsiene gevolge vir die land se kwesbare ekonomie hê.

TLU SA het hom geskaar by die groeiende weerstand teen President Zuma en die onlangse verwikkelinge wat tot Standard & Poor’s se stap gelei het om die RSA ekonomie tot Rommelstatus af te gradeer.

“Die president se kortsigtige dog verreikende besluite strek tot nadeel van die deursnee bevolking en die gevolge daarvan, veral op finansiële gebied, sal nog lank gevoel word.  Op hierdie manier betaal onskuldige en wetsgehoorsame landsburgers die prys vir subjektiewe en selektiewe bevoordeling en benadeling van mense wat dit die minste verdien. Terwyl die president groot gewag maak daarvan om mense se waardigheid te herstel, het dit ‘n vernietigende effek op diegene wie se waardigheid deur rasgebaseerde wetgewing, ideologiese beleid en ongekende geweldsmisdaad teen weerloses vernietig word,” sê TLU SA.

Vryburger

Artikel 30

Rommelstatus moet eintlik gemorsstatus wees

April 5, 2017

Die nuus van krediet-afgradering van Suid-Afrika is ook vir die landbou slegte nuus, al kan boere wat uitvoer moontlik voordeel trek uit ‘n tuimelende rand.  In die groter prentjie van die landsekonomie en stabiliteit, is dit egter erg nadelig, ook vir landbou.

Mnr. Louis Meintjes, TLU SA se president, sê dat die land se rommelstatus in wese ‘n kompliment is, want as daar ‘n gemors status sou wees, sou Suid-Afrika onder die ANC daarvoor kwalifiseer.  “Die rommelstatus spreek net die ekonomie en beleggersvertroue aan, maar op beleidsvlak het die land reeds ‘n gemorsstatus bereik met ‘n regering waarvan die ministers mekaar weerspreek, beleid wat van dag tot dag verander en waar revolusies van verskillende aard bepleit word,” sê mnr. Meintjes.

“Al prioriteit wat daar vir landbou nou is, is om voedsel op die tafel te plaas vir die land se inwoners, so bekostigbaar moontlik.  Die rommelstatus gaan ‘n invloed op voedselpryse hê, en lesse in Egipte het al getoon dat hoë voedselpryse wat onbekostigbaar word, tot revolusie kan aanleiding gee.  Daarom moet landbou hom geheel en al onttrek van die regeringspolitiek, wat ideologies gedrewe is en nie met die realiteit van die ekonomie rekening hou nie.  Die boere kan die stabiliserende mag in die land wees, mits hulle hulle nie laat aflei en verlei deur die regering se mislukkende beleid nie.  Die ANC moet alleen pa staan vir die land se toestand, en ons as boere moet net doen wat ons moet doen, en dit is om te boer. Ons doen dit al lank reeds ten spyte van die ANC-regering en sy beleid, en nie danksy ‘n ANC-regering nie,” sê mnr. Meintjes.

Foto: Mnr. Louis Meintjes

Vryburger

Artikel 31

Vuwani in derde dag van onluste

April 5, 2017

 

Die inwoners van Vuwani is reeds drie dae besig met protesoptrede oor die inlywing van die gebied by die Malumulele munisipaliteit.

Paaie word versper en op sekere dele van die paaie word die teer selfs uitgegrawe.

Meer as 30 skole is reeds in die gebied afgebrand of beskadig en volgens berigte was die polisie en opstokers handgemeen.

Vryburger

Artikel 32

Al weer bedreig deur El Nino?

April 4, 2017

Suid-Afrika kan soos die res van Suider Afrika, in die volgende somer weer ’n droogte beleef wat die streek se voedselsekerheid in ’n drukgang plaas.

Gedurende die afgelope somer het die reën oor ’n wye gebied groot verligting gebring, en is opgaardamme asook die ondergrondse watertafel tot bevredigende vlakke gebring.

Landbou deskundiges wys daarop dat die mielieoes vanjaar rekord syfers kan behaal as daar nie onverwagse skade opduik nie.

Die saaiboere het blitsvinnig opgetree toe die kommandowurm sy verskyning gemaak het, en is oeste grotendeels gered.

Die belangrikste opgaardamme het begin oorloop, en slegs die Wes-Kaap se watertekorte is nog kritiek, maar die voorspellings dui daarop dat die winterreën eersdaags sal uitsak.

Die kommerwekkende is egter dat voorspellings daarop dui dat Suid-Afrika weer ’n droogte kan verwag in die somer van 2017-2018, wat weer eens die reeds geknelde boere verder kan verarm.

Alhoewel dit nog te vroeg is om met sekerheid te sê dat ’n opvolg El Nino weerpatroon verwag kan word, is die vroeë aanduidings tog dat die hele suidelike deel van Afrika onderwerp gaan word aan ’n droogte.

Vryburger

Artikel 33

Ses jaar geskors met R10 miljoen in die sak

April 4, 2017

Die voormalige misdaad intelligensiebaas, Richard Mdluli, sit nou al net meer as ses jaar tuis met volle betaling.

Hy is ses jaar gelede gearresteer waarna hy geskors is. Daar is 18 klagtes teen hom. Hy word onder meer verbind met die moord op sy voormalige vriendin se man, Oupa Abel Ramogibe, terwyl klagtes van intimidasie, ontvoering, aanranding met die opset om ernstig te beseer en regsverydeling ook teen hom en ‘n medebeskuldigde ondersoek word. Hy het na bewering ook familielede onregmatig aangestel as betaalde lede van die misdaad intelligensie afdeling.

Nadat Mdluli in 2011 aanvanklik gearresteer en geskors is, is die klagtes teen hom  teruggetrek, waarna hy weer met sy werk kon voortgaan. Net daarna het die organisasie, Freedom Under Law, ‘n saak aanhangig gemaak waarna die hof gelas het dat hy inderdaad geskors moet word.

Sedertdien het skynbaar niks verder gebeur nie, en sit Mdluli tuis met volle betaling en alle byvoordele. Sy salaris het die belastingbetalers skynbaar al sowat R10 miljoen gekos, terwyl hy steeds ‘n voltydse lyfwag en motorbestuurder en ‘n staatsvoertuig, terwyl hy steeds besigheidsklas vlieg.

Mdluli se regsverteenwoordiger trek net sy skouers op en verwys navrae aan die hof wat Mdluli se skorsing gelas het. Dit word ondersteun deur die waarnemende polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, wat net sê dat die beslissings van die howe gerespekteer word.

Hy bly dus in gevolge ‘n hofbevel geskors, maar die polisie is nie van plan om dissiplinêr teen hom op te tree nie, terwyl daar van die vervolgingsgesag ook skynbaar geen aksies verwag hoef te word nie.

Mdluli word volgende jaar 60, en skynbaar word daar daarop gewag sodat hy met volle voordele op pensioen kan gaan

Vryburger

Artikel 34

Kredietreguleerder moet Zuma-lening ondersoek

April 4, 2017

Die VF Plus sal aanhou soek na antwoorde oor die lening van byna R8 miljoen aan pres. Jacob Zuma om sy deel van die opknappingswerk by Nkandla te betaal en het nou ook die Nasionale Kredietreguleerder gevra om vas te stel hoe die president met sy salaris so ‘n groot lening kon kry, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts het die Openbare Beskermer (OB) in Augustus verlede jaar versoek om die ondersoek te doen, maar die OB het nou geantwoord dat die Nasionale Kredietreguleerder in ‘n beter posisie is om die aangeleentheid te ondersoek.

Ingevolge die destydse bevel van die OB moes pres. Zuma ‘n bedrag van R7,8 miljoen terugbetaal. Teen ‘n rentekoers van slegs 10% sal die terugbetaling R75 270 per maand beloop. Dit terwyl sy salaris voor aftrekkings R2,8 miljoen per jaar beloop.

Die lening is bekom van VBS Mutual Bank, voorheen bekend as die Venda Bouvereniging.

Volgens adv. Alberts is dit verontrustend dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat staatsamptenare se pensioengeld bestuur, ‘n aandeel van 25,26% in VBS het.

“Die VF Plus sal nie toekyk dat die OBK se fondse deur iemand soos pres. Zuma as sy persoonlike spaarvarkie gebruik word nie. Dit is bloot nie moontlik dat die president met sy salaris byna R8 miljoen kon leen nie.

“Die VF Plus is vasbeslote om ‘n antwoord hieroor te kry en sal die ondersoek van die Kredietreguleerder fyn dophou,” sê adv. Alberts.

Vryburger

Artikel 35

Denel en Gupta verhouding deel van staatskaping

April 3, 2017

Die poging van die wapen vervaardiger Denel om voort te gaan met ‘n ooreenkoms met die wapen vervaardiger VR Laser kom neer op staatskaping, aldus Pravin Gordhan.

VR Laser word verbind met die Gupta broers en ‘n ooreenkoms tussen Denel en VR Laser is deur die tesourie gestop as gevolg van verkeerde en/of geen nakoming van tender prosedures.

Die verwagting is dat die ooreenkoms onder die nuwe minister van finansies wel toegelaat sal word.

Vryburger

Artikel 36

Water kan met tenkwaens aangery word in Kaapstad
Deur Eugene Gunning 04 April 2017 22:12
Die aanry van water in tenkwaens vorm deel van die Kaapse metroraad se gebeurlikheidsbeplanning vir wanneer die waterkrisis buitensporige afmetings sou aanneem.

Dit het vroeër geblyk dat Kaapstad nog 100 dae se water oor het voordat die krane leegloop. Vrae het daarna ontstaan oor hoe die situasie hanteer gaan word in uitsonderlike omstandighede.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir onder meer waterdienste, het by navraag gesê in die ergste situasie, waar damvlakke onder 10% daal, sal bepaalde stappe ingestel word.

Limberg het gesê die waterdruk kan verlaag word. In dele waar die waterdruk dan baie laag is, kan tenkwaens ingespan word om water aan te ry.

DIT IS OOK MOONTLIK DAT WATERBESPARINGSAPPARATE GEKOPPEL KAN WORD BY VERBRUIKERS WAT NIE HOU BY DIE BEPERKTE WATERVERBRUIK NIE.
Voorts kan onderbreekte watertoevoer en baie streng beperkings op watergebruik toegepas word.

Dit is ook moontlik dat waterbesparingsapparate gekoppel kan word by verbruikers wat nie hou by die beperkte waterverbruik nie.

Dit is onwaarskynlik dat daar nie reën sal wees oor die volgende drie maande nie en die huidige onttrekking konstant sal bly. Die landbousektor sal in die volgende weke sy onttrekkings verminder en die weer sal koeler word.

Vroeë winterreën sal die beskikbaarheid van water vermeerder.

Volgens haar sal die beskikbaarheid van water in die somer steeds onder druk wees, veral as reënval in die winter onder die gemiddelde is.

Die situasie word dopgehou en strenger waterbeperkings sal ingestel word sodat die teikens van die nasionale departement van water en sanitasie behaal kan word.

Die teiken is om waterverbruik te verminder van 700 miljoen liter per dag na 600 miljoen liter per dag.

’N SITUASIE DAT KRANE LEEGLOOP, WORD NIE VOORSIEN NIE EN ALLES MOONTLIK SAL GEDOEN WORD OM SO IETS TE VOORKOM.
Sy sê daar moet in gedagte gehou word dat dit ’n waterskaars streek is. Met klimaatsverandering aan die orde van die dag sal mense water baie verstandiger moet gebruik. As dit nie gebeur nie, sal Kaapstad nie ’n volhoubare stad kan wees nie.

’n Situasie dat krane leegloop, word nie voorsien nie en alles moontlik sal gedoen word om so iets te voorkom.

Volgens haar sal mense water moet spaar in die winter. Daar moet in gedagte gehou word dat dit lank sal neem vir damvlakke om te herstel en die droogte kan voortduur.

Die moontlike gebruik van ontsoutingsaanlegte vorm deel van die noodbeplanning.

Netwerk24

 

Be the first to comment

Leave a Reply