Cosatu: ‘Pravin beloof meer as 0% aan Eskom’

Cosatu: ‘Pravin beloof meer as 0% aan Eskom’
Deur Francois Williams
14 Junie 2018

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het belowe hy sal seker maak Eskom-onderhandelaars keer terug met ’n aanbod van meer as 0% aan vakbonde, het die vakverbond Cosatu gesê ná ’n vergadering met die minister Woensdagmiddag.
Volgens Cosatu het hulle dit baie duidelik gemaak aan Gordhan dat hoewel hulle sy pogings steun om die staatsondernemings reg te ruk, sal hulle nie toelaat dat werkers gedwing word om vir die sondes van ander te betaal nie.
Volgens Cosatu is Eskom se loonaanbod van 0% vir vanjaar “uitlokkend”.
Gordhan het luidens ’n Cosatu-verklaring beloof hy sal seker maak Eskom-onderhandelaars hanteer die loononderhandelings ernstig.
Al drie die vakbonde by Eskom – Solidariteit, die NUM en Numsa – het teen Woensdag loondispute teen Eskom by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verklaar, en daar word nou gewag op ’n datum vir die arbitrasie-prosedure.
Solidariteit eis ’n verhoging van 9,5%, terwyl die NUM en Numsa verhogings van 15% eis. Phakamani Hadebe, hoof van Eskom, het Woensdagmiddag gesê as hy die 15%-verhoging moet gee, sal dit Eskom R1,5 miljard ekstra kos en sy salarisrekening tot R14,5 miljard per jaar opjaag.
Cosatu sê in ’n verklaring hy steun die pogings om die ligte aan die brand te hou en die nutsmaatskappy tot sy eertydse glorie te herstel, want hy verstaan Eskom se rol in die ekonomie.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply