Aanvaller geskiet wat 2 in moskee in Kaap doodsteek

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Aanvaller geskiet wat 2 in moskee in Kaap doodsteek
Deur Warda Meyer
14 Junie 2018

Twee mense is in ’n moskee in Malmesbury doodgesteek en hul aanvaller is deur die polisie doodgeskiet nadat hy in die vroeë oggendure hom teen inhegtenisneming verset en op die polisie afgestorm het.
Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê dat provinsiale speurders tans besig is om die misdaadtoneel te fynkam vir leidrade.
“Die Malmesbury-polisie is na ’n plaaslike moskee uitgeroep waar hulle twee mense dood aangetref het en verskeie ander wat beseer is. Die aanvaller, vermoedelik in sy 30’s en gewapen met ’n mes, was steeds op die toneel en het op die polisie afgestorm toe hulle hom probeer oorreed het om homself oor te gee.”
Volgens Traut het die aanvaller die polisie geïgnoreer en probeer om die beamptes ook aan te val waarna hy doodgeskiet is.
Traut sê die polisiewaghond Opod sal die aanvaller se dood ondersoek.
Die Moslem Juridiese Raad (MJC) het sy skok en afgryse uitgespreek ná die aanval. “Ons kan bevestig dat twee mense dood is terwyl hulle in I’tikaaf was en ’n ander gereelde ‘musallee’ (iemand wat besig is om salah te doen – bid) van die masjied is tydens die voorval beseer.”
Besonderhede oor die aanval is steeds onduidelik en die MJC het die Moslem-gemeenskap gemaan om nie hul eie afleidings te maak totdat die regte inligting oor die voorval ingewin is nie.
Die MJC-president en sy adjunkte is op pad na die moskee.
I’tikaaf word gewoonlik gedurende die laaste tien dae van Ramadan waargeneem as ’n tydperk van intense geestelike introspeksie.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply