Natasha se lyk moontlik in vrieskas gehou

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Natasha se lyk moontlik in vrieskas gehou
Deur André Damons
14 Junie 2018

Natasha Mans (46), wat sowat twee weke gelede spoorloos verdwyn het, is vermoedelik eers in ’n vrieskas gehou voordat haar lyk Woensdag met ‘n skietwond in die bors in haar vriend se erf in Groenvlei, Bloemfontein, gevind is.
Die polisie het Woensdagmiddag net voor 14:00 afgekom op Mans se lyk onder ’n boom agter in haar vriend Dennis Casten se erf in Castenweg.
Casten, wat Mans as vermis aangemeld het, het Woensdagoggend glo op haar lyk afgekom en toe die polisie ontbied.
Netwerk24 het verneem sy hele erf is Woensdagaand as ’n misdaadtoneel verklaar en hy moes sy huissleutels glo aan die polisie oorhandig.
Mans het einde verlede maand spoorloos verdwyn. Sy het glo haar vermoorde dogter, Noeline Koekemoer (15), se as by haar gehad.
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van moord word ondersoek omdat ’n voorlopige ondersoek daarop dui dat Mans in die bors geskiet is. Sy is ook nie geskiet op die plek waar haar lyk gevind is nie.
Haar lyk was koud en die vermoede bestaan dat sy eers in ’n vrieskas gehou is voordat sy onder die boom gelos is.
Sy is vermoedelik eers onlangs vermoor.
Mans se lyk is in die verste hoek van die erf gevind. Polisiebeamptes en patoloë was meer as ’n uur daar besig voordat die lyk verwyder is.
Volgens Marope is die rewolwer, wat by haar lyk gevind is, vermoedelik nie die moordwapen nie.
’n Nadoodse ondersoek sal bepaal wanneer Mans vermoor is. Talana Mans, Natasha se tante wat sy sedert haar tienerjare “Mamma” noem, was Woensdagaand te emosioneel om te praat.
Jolanca Jacobs, ’n vriendin van Mans, het gesê dit is baie hartseer. “Ek het altyd geweet sy sou nooit haar eie lewe neem nie. Sy was ’n sterk mens.”
Marope kon nie Woensdagaand bevestig of Mans nog dieselfde klere gedra het as waarmee sy sowat twee weke gelede verdwyn het nie.
Polisiekundiges van Pretoria sal na verwagting Donderdag na Bloemfontein reis om met die ondersoek te help.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply