Sy Uber-lisensie kwyt ná hy vroue uitgooi oor soen

Sy Uber-lisensie kwyt ná hy vroue uitgooi oor soen
14 Junie 2018

’n Uber-bestuurder se lisensie is opgeskort nadat hy twee vroue wat gesoen het uit sy motor in New York geskop het, berig Sky News.
Die paartjie, Alex Iovine (26) en Emma Pichl (24), het Saterdag van Brooklyn na Manhattan gereis toe hulle ’n “piksoentjie” op die lippe gedeel het. Ahmad El Boutari (35), die bestuurder, het hulle uit die motor geskop, wat ’n argument op straat veroorsaak het.
Die paartjie het aanvanklik gedink die man maak ’n grap, maar het gou besef hy is ernstig, berig Deccan Chronicle.
Die paartjie, wat twee jaar saam is, het ’n video van die relletjie op een van hulle se selfoon opgeneem.
Volgens Daily Mail sê Iovine hulle is bewus van Uber se beleid dat passasiers nie seks op die agtersitplek mag hê nie, maar ’n soen is ver daarvan.
Volgens Sky News het El Boutari gesê soenery is verbode in ’n Uber-motor en bygevoeg: “Ek wil nie met julle argumenteer nie, klim net uit my motor. Julle kan dit nie in die motor doen nie.”
Op ’n vraag hoekom hulle nie mag soen nie, het El Boutari gesê: “Dit is oneerbiedig.”
Uber sê volgens Deccan Chronicle in ’n verklaring: “Uber verdra nie diskriminasie in enige vorm nie en ons het na die passasier uitgereik oor haar ervaring. Ons ondersoek (die saak) en sal die toepaslike stappe doen.”
Iovine sê sy wag nog op reaksie van Uber. Sy het volgens Daily Mail ’n klag by New York se menseregtekommissie ingedien.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply