Groote Schuur kry gespesialiseerde neurosentrum

Groote Schuur kry gespesialiseerde neurosentrum
Deur Elsabé Brits
14 Junie 2018

’n Beter begrip van die brein deur kenners in verskillende velde te betrek is die fokus van ’n nuwe neurowetenskap-navorsingsprogram aan die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Groote Schuur-hospitaal.
Die nuwe Neurowetenskapsentrum word gebou in een van die blokke van dié hospitaal nadat prof. Graham Fieggen, direkteur van die sentrum en hoof van chirurgie en neurochirurgie aan die UK, R128 miljoen vir die projek ingesamel het.
Volgens die UK sal navorsers en kliniese kenners van verskeie velde daar op brein- en senuweestelselsiektes in die Suid-Afrikaanse bevolking fokus. Verskeie velde se kenners sal betrek word, soos die gebied van infeksie, trauma, neuro-ontwikkeling, neurodegeneratiewe siektes, psigiatrie, sielkunde en snykunde.
Fieggen sê daar sal op kliniese sorg, akademiese navorsing en onderrig gefokus word. Dit is ’n unieke geleentheid om al die velde byeen te bring om behandeling te verbeter en die brein beter te begryp. Veral in die plaaslike bevolking, waarvan min navorsing nog gedoen is.
Die sentrum word in blok J gebou en sal gespesialiseerde toerusting huisves. Daar sal onder meer ’n biobank, laboratoriums, lesingsaal, ’n innovering- en leersentrum vir neurosnykunde en die beste toerusting wees om skanderings mee te doen.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply