Peta gaan oorboord oor sybokke, sê raad

Peta gaan oorboord oor sybokke, sê raad
Deur Alet van der Walt
14 Junie 2018

Die versoek van die diereregtegroep Peta dat sybokhaarprodukte geboikot moet word, is genadeloos en kras teenoor die bedryf, sê die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) in ’n mediaverklaring.

Die plaaslike sybokhaarbedryf is geruk toe The Washington Post op 1 Mei ’n berig geplaas het waarin Peta beweer sybokke word vir hul wol geslag.
Peta het in April ’n video vrygestel waarin gesien kan word hoe sybokke wat geskeer word, hardhandig rondgesleep en rondgegooi word.
Op sy webblad word gesê bokke word met stomp messe geslag en raakgesny gedurende die skeerdery.
Die NLBR sê dit is belangrik dat Peta, as ’n burgerlike organisasie, sy rol as waghond vervul maar dat die voorvalle gebeur het by een of twee plekke waar die bokke geskeer is. Dit dien wel as ’n wekroep vir die bedryf om sulke praktyke uit te roei.
Die NLBR doen ’n beroep op mense wat die video sien om te besef dit is glad nie ’n ware beeld van die sybokhaarbedryf nie. Hy sê ook die bedryf speel ’n waardevolle rol in die sosio-ekonomie van die Karoo en dat dit onnodig is dat die bedryf as ’n geheel deur Peta op so ’n manier geteiken word.
Peta het verskeie groot modehuise genader om die gebruik van sybokhaar heeltemal te staak. Minstens 70 handelaars het reeds teen die gebruik van sybokhaar standpunt ingeneem ondanks die feit dat niemand Peta se bevindinge bevraagteken het die.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) se lewendehaweafdeling het ook sy ontevredenheid met Peta uitgespreek.
Grace de Lange van die DBV het vroeër gesê die video is reeds in Januarie of Februarie gemaak, maar Peta het nooit die voorvalle by die DBV aangemeld nie. Beamptes van die DBV kon nie in April vanjaar enige bewyse van mishandeling kry op plase wat besoek is nie.
De Lange sê egter die DBV is sterk gekant teen die manier waarop die diere in die video gedurende die skeerproses behandel is.
Pierre van der Vyver, bestuurder van die lanboumaatskappy OVK se sybokhaarafdeling, glo die bedryf gaan skade ly weens Peta se optrede, maar sê dit is nog te vroeg om te weet. Dit is beslis nie algemene praktyk nie. Van der Vyver sê kontrakte vir die skeerseisoen was reeds gesluit toe die bom gebars het.
“Dit is nou die stil seisoen, maar volgende jaar se ooreenkomste moet nog beding word. Ons sal in die nuwe seisoen sien wat gebeur.”
Van der Vyver sê die bedryf was self geskok dat die bokke nog in enkele gevalle so hardhandig hanteer word, maar sê in albei gevalle was daar nie toesig nie.
Van der Vyver se 95% van die videomateriaal wat op plase geneem is, is eintlik ’n goeie advertensie vir die bedryf.
“Maar toe kom Peta en wys die twee voorvalle,” sê hy.
Die slagting van ’n sybok in die video het ook emosies laat hoog loop, maar Van der Vyver sê verteenwoordigers van die vleisbedryf het na die video gekyk en sê geen van sy riglyne is oortree nie.
Daar is 900 000 sybokke in Suid-Afrika en as Peta sy sin kry, sal hulle almal geslag moet word – maar daaraan dink hulle nie, sê Van der Vyver.

Netwerk 24

Be the first to comment

Leave a Reply