Potgooi – Nuus en Weer 13 Julie 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Aangebied deur Yolanda weeksdae om 9:30

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-07-13.092910

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo

 

Nuus

Hooftrekke

 

Nog afleggings staar werkers van platinummyne in Rustenburg in Noordwes in die gesig. Dit nadat Impala aangekondig het dat hy van plan is om sy arbeidsmag te besnoei. Impala, wat werk aan meer as 30-duisend mynwerkers gee, het reeds verskeie afleggings gedoen. Die maatskappy sê hy verwag nog afleggings weens onbevredigende produksievlakke en laer metaalpryse. Die maatskappy is ook van plan om van sy skagte in Rustenburg sluit.

Altesaam 658 polisiedossiere het sedert 2013 uit speurtakke landwyd verdwyn hoewel slegs agt mense daaroor aangekla is. Vyf was polisielede. Die minister van polisie, Bheki Cele, het die inligting verstrek in antwoord op geskrewe vrae in die Parlement. Dit blyk dat die Wes-Kaap met 229 vermiste dossiere verreweg die meeste probleme in dié verband het. Tweede op die lys is Gauteng met 128, dan KwaZulu/Natal met 118, die Vrystaat met 97 en die Noord-Kaap met 54. In Limpopo het nie een dossier vermis geraak sedert 2013 nie, in Noordwes slegs vier, in Mpumalanga agt en in die Oos-Kaap 20.

Die ANC in die Noord-Kaap het beloof om in te gryp in die dooie punt tussen inwoners van Kimberley en die Sol Plaatje-munisipaliteit ná wydverspreide gewelddadige betogings in die stad vandag. Betogers het ‘n optog na die munisipaliteit se kantore gehou en geëis dat die munisipale bestuurder en finansiële hoof bedank. Betogers het oproerig geraak, eiendom beskadig en winkels geplunder. Verskeie is in hegtenis geneem. Die organiseerders van die protesoptrede sê hulle sal nie ophou voordat daar nie aan hul eise gehoor gegee is nie. Vergaderings tussen alle betrokke partye sal na verwagting binnekort plaasvind.

Padsterftes waarby kinders betrokke is, is aan die toeneem. Dit het aan die lig gekom tydens ‘n voorlegging deur die nieregeringsorganisasie Childsafe op die laaste dag van die Suider-Afrikaanse Vervoerkonferensie in Pretoria. ‘n Projekbestuurder van Childsafe, Ali Janmohammed, sê navorsing toon dat die meeste sterftes in Gauteng plaasvind. Hy sê die data is oor die afgelope drie jaar versamel. Janmohammed sê kinders was by meer as 60 persent van die sterftes betrokke.

Wes-Kaapse premier, Helen Zille, sê die verskuiwing van Panasonic se hoofkantoor van Johannesburg na Kaapstad sal ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die provinsie wees. Panasonic Suid-Afrika het pas sy nuwe Suid-Afrikaanse hoofkantoor in Century City naby Kaapstad bekend gestel. Zille sê dit dui op vertroue in die provinsiale regering om ‘n omgewing te skep wat bevorderlik is vir die sakesektor om werk te skep en die ekonomie te laat groei. Sy sê Panasonic se verskuiwing na Kaapstad sal die weg baan vir ander beleggers om dieselfde te doen.

Wetenskaplikes sê hulle het die vroegste bekende bewyse gevind wat die bestaan van die mens buite Afrika bewys. Die ontdekking van klipwerktuie, in China, dui daarop dat primitiewe mense ongeveer twee miljoen jaar gelede in die streek gewoon het. Daar word beraam dat die gereedskap 270 duisend jaar ouer is as die vorige vroegste bewyse van beendere en gereedskap wat in Georgië in gevind is. Die jongste vonds is deur ‘n span Chinees-Britse wetenskaplikes in Noord-China ontdek. Daar was geen bewyse van menslike besetting in Eurasië tot die ontdekking van die beendere en gereedskap in Georgië nie.

‘n Hof in Nigerië het meer as 100 mense tronk toe gestuur omdat hulle bande met die militantegroep Boko Haram gehad het. Dit is die jongste in ‘n reeks massaverhore van duisende verdagtes. Die 100 veroordeeldes is daaraan skuldig bevind dat hulle lede van ‘n tereurgroep is en dodelike aanvalle op militêre en burgerlike teikens beplan het. Hulle sal vonnisse vir tussen 20 en 30 jaar uitdien. Sowat 111 ander verdagtes is vrygespreek weens ‘n gebrek aan getuienis.

Tennis: Een speler van Suid-Afrika het deurgedring na die eindronde op die Wimbledon in Londen. Raven Klaasen en sy Nieu-Seelandse spelmaat, Michael Venus, sal in die dubbelspel-eindstryd meeding. Hulle het Engelsman Joe Salisbury en Frederik Nielsen van Denemarke in die halfeindronde geklop. Die telling was 7-6, 3-6, 6-3, 6-4. Klaasen se landgenoot, Kevin Anderson, sal môre in die enkelspelhalfeindronde vir mans speel. Die agtste gekeurde Anderson kom op teen die Amerikaanse negende gekeurde, John Isner, te staan. Anderson het gister ‘n groot opskudding veroorsaak toe hy die agtste gekeurde kampioen, Roger Federer van Switserland, in die kwarteindronde geklop het.

 

KENNISGEWING VAN DIE ONDERBREKING VAN DIE ELEKTRIESE TOEVOER.
DIE VOLGENDE AREAS SAL GERAAK WORD:

GEDEELTE VAN THEMBALETHU OOS LYN

KENNISGEWING geskied hiermee dat die elektriese toevoer onderbreek sal word op VRYDAG 13 JULIE 2018 VANAF 08:00 TOT 17:00 met die doel om veranderings aan elektriese hoofleidings te maak. Klante word gewaarsku om die installasie as lewendig te beskou vir die volle periode aangesien die toevoer enige tyd gedurende die periode aangeskakel mag word.

Sou omstandighede verhoed dat die werk gedoen kan word gedurende bogenoemde periode, sal die werk gedoen word op DINSDAG 17 JULIE 2018 VANAF 08:00 TOT 17:00.

 

‘Ongekende anargie’ op Hermanus

 

Die Zwelihle- informele nedersetting by Hermanus het Donderdag soos ’n oorlogsone gelyk nadat ontstoke betogers, gewapen met klippe en sinkplate, vir ’n derde agtereenvolgende dag met polisie gebots het en chaos in die kusdorp veroorsaak het.

Volgens die Wes-Kaapse polisie is 45 betogers sedert Woensdag in verband met die onluste in hegtenis geneem, waarvan 16 verdagtes tydens Donderdag se gewelddadige betogings aangekeer is.

’n Groep van ongeveer 2 000 woedende inwoners het Donderdag die strate ingevaar, inwoners geïntimideer en daarop aangedring dat hul leiers wat op klagte van openbare geweld en aanhitsing in hegtenis geneem is, vrygelaat moet word.

Volgens inwoners is daar van huis tot huis gegaan en is mense in Zwelihle geïntimideer om deel te neem aan betogings.

Die polisie en wetstoepassers in die gebied moes behoorlik bontstaan en is met klippe bestook terwyl rommel en brandende motorbande en selfs winkeltrollies gebruik is om paaie, insluitend die R43, in die gebied te versper. Ontstoke inwoners het sinkplate as skild gebruik teen die rubberkoeëls en traanrook wat die polisie afgevuur het om die skare uiteen te jaag.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat die polisie Donderdagoggend om 06:00 in Zwelihle ontplooi is.

Bron: Netwerk24

Motorkopers moet teen dié slenter waak

Die polisie het ’n waarskuwing uitgereik dat mense wat voertuie wil koop nie vooraf ’n deposito aan verkopers moet betaal nie.

Lt.kol. Thulani Zwane, ’n polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê veral die polisie in die Ugu-kluster, het die afgelope tyd van heelwat voorvalle bewus geword waar mense op die internet of deur die gedrukte media deur voornemende voertuigverkopers bedrieg is.

Zwane sê die voertuie word as winskope geadverteer en kopers is dan oorhaastig om ’n deposito aan die verkoper te betaal.

Die verkoper gee ’n bankrekeningnommer en sodra die geld oorbetaal is, word dit onttrek en die selfoonnommer van die verkoper werk dan ook nie meer nie.

Dit is gewoonlik in hierdie stadium dat die slagoffer agterkom hy of sy is bedrieg en is hul geld kwyt, sê Zwane.

Die slagoffer se droom om ’n voertuig teen ’n winskoop aan te skaf lê dan aan skerwe, sê Zwane.

Die polisie sê mense moet liefs voertuie by geregistreerde motorhandelaars koop en as jy wel op ’n advertensie reageer, maak seker die voertuig bestaan, sê sy.

Bron: Netwerk24

Cyril lok eensklaps R133 mjd. se beleggings na SA

Pres. Cyril Ramaphosa se ambisieuse plan om $100 miljard se beleggings te lok om Suid-Afrika se sukkelende ekonomie aan die gang te kry, het Donderdag ’n stewige hupstoot gekry.

Saoedi-Arabië het hom Donderdag daartoe verbind om $10 miljard (sowat R133 miljard) in die land te belê. Dié belegging sal na verwagting in die energie- en kragsektor belê word.

 

Ramaphosa het Donderdag in die hawestad Jeddah met koning Salman bin Abdulaziz al Saud vergader.

Suid-Afrika voer ’n geraamde 47% van sy olie uit Saoedi-Arabië in en die regering beskou dié land as ’n strategiese vennoot in die Midde-Ooste. Die totale handel tussen die twee lande het verlede jaar meer as R56 miljard beloop.

Saoedi-Arabië is ook ’n groot belegger in Suid-Afrika, veral ten opsigte van hernubare energie.

Ramaphosa is besig met ’n aggressiewe plan om beleggers na die land te lok wat spartel met ’n hoë werkloosheidsyfer en armoede.

Hy is op ’n drie dae lange buitelandse besoek wat Woensdag in Abuja, Nigerië, begin het en wat in die Verenigde Arabiese Emirate sal eindig.

Hy het Woensdag met Nigerië se president, Muhammadu Buhari, vergader in ’n poging om die dikwels gespanne verhouding tussen dié twee sterk lande van die vasteland te verbeter.

Bron: Netwerk24

 

2 jaar vir pastoor wat honde mishandel, laat veg

 

James Bennie, ’n deeltydse pastoor van Edenpark aan die Oos-Rand, is tot twee jaar tronkstraf gevonnis nadat hy honde vir gevegte gebruik het en in haglike omstandighede aangehou het.

Bron: Netwerk24

 

Sesjarige in hospitaal ná leerkrag hom aanrand

’n Sesjarige seun van die Oos-Kaap is glo só erg deur ’n onderwyser aangerand dat hy in ’n hospitaal opgeneem is.

Die voorval het glo op 13 Junie by die Island View-plaasskool op die Grootvlei-plaas in die Alexandria-distrik gebeur.

Luidens ’n verklaring van Edmund van Vuuren, DA-woordvoerder oor onderwys in die Oos-Kaap, is ’n aanrandingsaak geopen en die seun is in ’n hospitaal in Port Alfred opgeneem.

Bron: Netwerk24

 

Betogers in Kimberley gee nie bes

 

Betogers het Donderdagaand voortgegaan om ’n skrikbewind in die Galeshewe-woonbuurt in Kimberley te voer.

’n Winkelsentrum is geplunder en betogers het ’n brand buite ’n gemeenskapsaal gestig.

Lt.kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê ’n paar mense is in verband met die beskadiging van eiendom in hegtenis geneem.

“Die situasie is nog baie gespanne in die woonbuurt,” sê Mooi.

Die middestad was Donderdagaand vreedsaam.

Volgens Thumelo Mosikare, wat die betoging help reël het, eis die gemeenskap dat Mangaliso Matika, die uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, bedank.

“Die hele gemeenskap is ontsteld en hulle sê hulle gaan Kimberley regeer totdat die burgemeester besluit om te bedank,” sê Mosikare.

Betogers eis ook dat Goolam Akharwaray, munisipale bestuurder, en Lydia Mahloko, die finansiële hoof, saam met hom bedank.

Mosikare sê die burgemeester het die betogers Donderdag agter ’n glasvenster by die munisipaliteit met ’n mikrofoon toegespreek. Maar die skare was nie tevrede met wat Matika in sy toespraak gesê het nie.

Die polisie het vroeër die dag met rubberkoeëls op die betogers losgebrand en hulle met skokgranate uitmekaar gejaag. Betogers het later die polisie met klippe bestook. Talle winkels is beskadig en geplunder.

Drie mense is in die geweld beseer en na die naaste hospitaal gebring.

Bron: Netwerk24

 

Ondersoek hoe 3 sussies op Facebook ‘weggegee’ word

 

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling wil uitvind hoe dit gebeur het dat die foto van drie Johannesburgse sussies wat glo sorgbehoewend is, op Facebook verskyn het.

By die inskrywing Dinsdag word ’n huis vir hulle gesoek.

Die feit dat die kinders se moontlike sorgbehoewendheid nie by die owerhede aangemeld is nie, is strydig met die Kinderwet. Ingevolge art. 110 van dié wet moet onder andere kerkleiers sulke gevalle by ’n kinderbeskermingsorganisasie (soos Childline), die departement van maatskaplike ontwikkeling of die polisie aanmeld.

Past. Des Naidoo van die Metro Family Church in Kibler Park, Johannesburg, sê die drie sussies se ongetroude ma is in sy gemeente.

“Sy kon nie meer na hulle omsien nie en het die kerk se hulp gevra om vir hulle ’n huis te kry. Ons het dit nie by die owerhede aangemeld nie omdat ons wou probeer om die sussies in een huis bymekaar te hou.

“’n Sakeman het intussen aangebied om die ma geldelik te ondersteun sodat die kinders by haar kan bly. Ons sou die regte wetlike prosedures gevolg het indien die kinders in iemand anders se sorg geplaas moes word.”

Bron: Netwerk24

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 11 Max 21

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en koud in die oggend en warm  in die middag

Min 10 Max 26

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 13 Max 19

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en koud

met reën plek plek Min 11 Max 17

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en koud

Min 11 Max 19

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en koud in die oggend en warm in die middag

Min 10 Max 20

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk met matige tot swaar reën buie en koud in die oggend en warmer in die middag

Min 7 Max 20

Kimberley – Gedeeltelik bewolk met matige tot swaar reën en koud in die oggend en warmer in die middag

Min 8 Max 20

Durban – Gedeeltelik bewolk met reën plek plek koel in die oggend en warmer in die middag

Min 14 Max 27

Oos London – Gedeeltelik bewolk met ligte reën buie en koel

Min 14 Max 18

Upington – Gedeeltelik bewolk en baie koud in die oggend

Min 4 Max 17

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en koud met reën plek plek

Min 11 Max 14

Port Elizabeth –   bewolk met ligte reën en koud met

Min 13 Max 14

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en baie koud

Min 3 Max 6


 

 

Be the first to comment

Leave a Reply