Potgooi – Nuus en Weer 12 September 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30 (CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-09-12.092918

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

 

Nuus

Nuus Hooftrekke

 

  • President Cyril Ramaphosa sê die vrees oor grondonteiening by diegene wat daarteen gekant is, begin verdwyn. Hy het gister in die Nasionale Raad van Provinsies gesê die vrees verminder weens die regering se gesprekke met belanghebbers. Hy sê wanneer mense meer begrip kry vir die uitwerking wat die land se grondbeleid op die meerderheid Suid-Afrikaners gehad het, besef hulle die noodsaaklikheid van grondhervorming. Hy het ook gesê die versuim om grondhervorming toe te pas, sal tot onbestendigheid in die land lei.
  • Ramaphosa sê ook die regering sal nooit Suid-Afrika aan ‘n ander land of entiteit uitlewer, of aan die hoogste bieër verkoop nie. Hy het ‘n vraag beantwoord oor Eskom se leningsooreenkoms van 30 miljard rand met die Chinese Ontwikkelingsbank. Hy sê Eskom het in die verlede ooreenkomste met die Afrika Ontwikkelingsbank, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds aangegaan sonder dat Suid-Afrika sy soewereiniteit verloor het.
  • Die polisie in Gauteng ondersoek die dood van twee laerskoolseuns van Kathlehong, oos van Johannesburg, wat gister by hul skool siek geword het. Die twee broers van sewe en tien jaar oud het gister by die skool van maagkrampe en naarheid gekla. Hulle is na ‘n kliniek gehaas waar hulle gesterf het. ‘n Onderwyser het het die familie van die kinders se dood gaan inlig, en nog ‘n kind van vyf jaar met dieselfde simptome by die huis aangetref. Die kind is na ‘n hospitaal gehaas. Die toestand van die derde kind is nie bekend nie.
  • ‘n Man is gisteraand dood in ‘n botsing reg van voor tussen ‘n motor en ‘n vragmotor op die N-9 tussen George en Uniondale. Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa sê die bestuurder van die vragmotor het van die toneel weggevlug. Hy sê die ongelukstoneel is reeds opgeruim en die pad is oop vir verkeer. Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
  • ‘n Gedenkdiens word vandag in die Ellispark-arena in Johannesburg gehou vir die drie brandbestryders wat verlede week in ‘n brand in ‘n gebou in die stad dood is. Mduduzi Ndlovu, Simphiwe Moropane en Meshack Muedi is dood toe hulle ‘n brand in die Bank van Lissabon-gebou probeer blus het. ‘n Kransleggingsplegtigheid sal ook vandag by die gebou plaasvind. Die gebou is een van agt in die Johannesburgse middestad wat na bewering nie aan gesondheids- en veiligheidsregulasies voldoen nie. Die drie mans sal oor die naweek in hul onderskeie tuisdorpe begrawe word.
  • Talle begunstigdes van maatskaplike toelaes in Noordwes sê hulle is in ‘n toestand van onsekerheid gelaat nadat hulle nie hul toelaes ontvang het nie. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Poskantoor twee maande gelede die verspreiding en uitbetaling van toelaes by Cash Paymaster Services oorgeneem het. Die poskantoor ondervind egter probleme met die invoer van die groot getal begunstigdes in sy rekenaarstelsel en die uitreiking van nuwe kaarte aan almal. Die waarnemende streekbestuurder van die Maatskaplike Sekerheidsagentskap, Sassa, Fanie Setshoga, sê Sassa en die poskantoor vorder goed met die oplossing van die probleme.
  • Die Chinese regering het gewaarsku dat proteksionisme deur individuele lande ‘n ernstige bedreiging inhou vir internasionale ekonomiese groei. Die land se adjunkpremier, Hu Chunhua het by ‘n streekberaad van die Wêreld Ekonomiese Forum in Hanoi klaarblyklik na die VSA verwys wat heffings van meer as 50 miljard dollar op die invoer van Chinese goedere ingestel het, en met merdere heffings dreig. Hu sê eensydige maatreëls is strydig met die reëls-gebaseerde multilaterale handelstelsel en bedreig die wêreldekonomie.
  • Die saak teen ‘n man van Galeshwe by Kimberely is in die landdroshof uitgestel tot Vrydag vir ‘n borgtogaansoek. Tshepo Jackson word aangekla van twee moorde, poging tot moord en brandstigting. Hy het na bewering die huis aan die brand gesteek waar sy vrou, hulle baba en nog ‘n vierjarige kind geslaap het. Hy bly in aanhouding.
  • Met die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers, is dit net weer bevestig dat Suid-Afrika sy plek as misdaadmekka verbeter het.

Daarbenewens is dit nou ook duidelik dat die Wes-Kaap tans die gevaarlikste gebied in die land is.

Bheki Cele, wat minister van polisie is nadat hy ‘n klompie jare gelede ook betreklik kortstondig kommissaris van polisie was, moes erken dat daar ‘n probleem is met misdaad.

Feitlik alle misdade het gestyg.

Sewe en vyftig mense word daagliks in die land vermoor, en dit is net duskant die 21 000 per jaar. Die moordsyfer het met 6,9% gestyg, en dit is die sesde agtereenvolgende jaar dat die moordsyfer styg. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 35,1 per 100 000 van die bevolking teenoor die wêreldgemiddeld van 7 per 100 000 van die bevolking. Dit beteken Suid-Afrika se moordsyfer is vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld.

Verkragting, seksuele misdrywe, bank rooftogte en veral transito rooftogte het skerp toegeneem. Ontleders sê die situasie grens aan ‘n oorlogsone.  “Dit is duidelik dat die vrede en voorspoed wat vaan 1994 belowe is, saam met Mandela se psigose van vrede, harmonie en naasteliefde, beslis nie bestaan nie,” was een ontleder se kommentaar aan Die Vryburger.

Meer as 2 miljoen misdade is aangemeld, en dit is bekend dat talle mense nie meer misdaad aanmeld nie as gevolg van die onwilligheid of onbekwaamheid van die polisie.

Dr. Ieter Groenewald van VF Plus sê Suid-Afrika is ʼn gewelddadige land en die publiek kan met reg sê hulle voel onveilig en dat misdaad toeneem in Suid-Afrika. Dit ten spyte van geringe afnames in motorkapings en rooftogte by woonhuise in die laaste boekjaar.

Volgens die polisie was daar 62 plaasmoorde in die 2017/18-boekjaar. Oor die afgelope ses jaar was daar ʼn toename van 10,7% in plaasmoord.

TLU SA, wat bekend is vir die betroubaarheid van sy plaasmoord en –aanval databasis, stem nie saam met die polisie se syfers nie, en sê volgens hulle databasis is 70 plaasmoorde geregistreer wat bykans 10% meer is as die amptelike statistiek.

Die voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, mnr. Henry geldenhuys, sê hierdie verskil, asook die noodsaaklikheid om uit een mond te praat oor ‘n onderwerp wat toenemende internasionale aandag trek, vereis konsolidasie. In hierdie verband het TLU SA etlike pogings aangewend om ‘n afspraak met die minister van polisie te maak ten einde hierdie verskil asook ander verbandhoudende kwessies met hom te bespreek, maar sonder enige konstruktiewe reaksie.

 

-Die bevolking het van 54 miljoen in 2010 “gegroei” tot 57,3 miljoen in 2017 maar dit sluit nie die 11 miljoen ongedokumenteerde immigrante in nie, sê die minister van polisie, Bheki Cele.

Ongedokumenteerde immigrante is egter niks anders nie as onwettige immigrante.

Intussen het die polisie se getalle met bykans 10 000 verminder in die ooreenstemmende tydperk, wat beteken dat daar een polisiebeampte vir elke 383 inwoners is.

Daar is tans ‘n tekort van 62 000 polisiebeamptes landswyd aldus die nasionale polisie kommissaris, Khehla Sithole.  Polisie kolleges kan 7 000 nuwe lede inneem dus sal dit bykans nege jaar neem om die agterstand uit te wis.

 

 

-Die $2,5 miljard lening van Sjina aan Eskom se terme is volgens Cyril Ramaphosa nog geheim maar Eskom sal nie deur die Sjinese oorgeneem word as hul nie die lening kan terug betaal nie.

Ekonome is verstom oor die uitlating omdat dit daarop neerkom dat hy reeds erken dat die moontlikheid bestaan dat daar ‘n probleem kan wees.

Hy het ook Sjina as vennoot van SA verdedig .

 

-Dit blyk dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie die vermoë het om 40% van R143 miljard se uitstaande belasting in te vorder nie. SAID is gewikkel in dispute of skuld wat meer as vier jaar uitstaande is.

SAID gaan glo konsentreer op die 60% wat moontlik verhaal kan word.

‘n Entiteit wat eens glad gefunksioneer het, is in ‘n gemors gedompel deur politici wat aanstellings gedoen het om hulself en mense soos die Guptas te bevoordeel.

Daar word nou openlik gevra wie nog enigsins vertroue kan hê in die land se regeringstelsels.

Bron: Die Vryburger

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Sonnig en warm met ‘n Min 16 en Max 29

Nelspruit – Sonnig en baie warm met ‘n Min 16 en Max 34

Pretoria – Sonnig en warm met ‘n Min 20 en Max 26

Johannesburg – Sonnig en warm met ‘n Min 16 en Max 25

Vereeniging – Sonnig en warm met ‘n Min 13 en Max 28

Rustenburg – Sonnig en warm met ‘n Min 14 en Max 29

Bloemfontein – Sonnig koud in die oggend en warmer later met ‘n Min 6 en Max 24

Kimberley – Sonnig koud in die oggend en warmer later met ‘n Min 9 en Max 25

Durban – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 18 en Max 28

Oos London – Gedeeltelik bewolk en warm met reën plek plek met ‘n Min 15 en Max 21

Upington –      Sonnig en koud in die oggend en warmer later met ‘n Min 10 en Max 23

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk met ligte reënbuie met ‘n Min 14 en Max 16

Port Elizabeth –   Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 14 en Max 17

En laastens

Sutherland – Sonnig en koud met ‘n Min -1 en Max 15


 

 

 

Be the first to comment

Leave a Reply