Potgooi – Nuus & Weer 9:30 13 September 2018 – Donderdag

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-09-13.092956

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

 

Nuus

DHL trok gevang met 87 onwettige immigrante

Die provinsiale verkeerspolisie het ‘n vragmotor met die maatskappy DHL se kentekens op, naby Pietersburg afgetrek en gevind dat daar 87 Malawiese burgers in die trok was sonder enige wettige dokumentasie.

Die vraag oor hoe die vragmotor verby doeanebeheer by Beit Brug deurgekom het, is nog nie beantwoord nie.

Intussen het drie Limpopo verkeersbeamptes in die hof verskyn rondom klagtes van korrupsie, diefstal en dwarsboming van die gereg. Nog nege beamptes sal binnekort in verskeie howe verskyn op soortgelyke klagtes.

Mabuza verstaan nie resessie nie

Volgens die adjunk baas van Suid Afrika, David Mabuza, is die land nie in ‘n tegniese resessie nie aangesien daar nie na die geheel gekyk word nie.

Volgens hom is die beoordeling van die land op ‘n kwartaal basis nie die korrekte wyse om die ekonomie te meet nie.  Die klein en medium ondernemings van die land sal die  ekonomie bevorder.

Hy ontken ook dat grondonteiening sonder vergoeding die ekonomie sal benadeel.

Hy het egter geswyg oor die groot staatsentiteite soos Denel, SAL, Eskom, Prasa, Spoornet en die Poskantoor wat miljoene opslurp en geen wins toon nie.

Brandweerwaens onder DA beheer ook stukkend

Aansprake dat die DA beter vaar in hulle beheer van stede as die ANC, word toenemend verkeerd bewys.

Na die brand in die Johannesburgse middestad, het dit aan die lig gekom dat dit nie net die ANC is wat versuim om noodsaaklike toerusting in stand te hou nie.

Die DA burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, moes erken dat die stadsraad eintlik 105 brandweerwaens nodig het, maar tans net 15 het. Hy moes verder erken dat van die 15 waens, slegs sewe in behoorlik werkende toestand is. Die ander agt is dus ook nie deur die DA-beheerde raad onderhou nie.

Nou word skielik 25 nuwe brandweerwaens aangekoop.

Poyntons gebou gesluit

Groter Pretoria se burgemeester en senior lede van die nooddienste het die onmiddellike ontruiming van die Poyntons gebou in Pretoria gelas.

Die Departement van Korrektiewe Dienste gebruik die gebou as hul hoofkantoor.

Water versterkers en water stoor tenks bestaan nie meer, dus sou ‘n brand ontstaan kan die vuur nie geblus word nie.

Foutiewe ligte wat vonke afgee is gevind in stoorkamers waar duisende lêers is.

Daar is glo in 2016 reeds aangetoon dat die gebou nie geskik is vir kantoorruimtes nie.

Na die brand van die Bank van Lissabon gebou in Johannesburg, waartydens drie brandweer beamptes dood is, het munisipaliteite skielik wakker geskrik en begin kyk na die toestand van geboue in die stede.

Tony Ehrenreich skuldig aan haatspraak

Die vorige sekretaris van Cosatu, Tony Ehrenreich, is deur die SA Menseregte Kommissie skuldig bevind aan haatspraak nadat die SA Joodse Raad ‘n klag teen hom gelê het weens ‘n Bakkiesblad opmerking.

Hy het gesê dat sou ‘n kind of vrou gedood word in die Gaza streek, die Joodse Raad ook mede aanspreeklik sal wees en die geweld van die mense van SA ervaar volgens die Bybelse spreuk: ‘n oog vir ‘n oog.

Dat dit haatspraak is en veroordeel word, kan volgens kenners bevraagteken word, maar klagtes van uitsprake deur lede van die EFF en BLF rondom boere wat gedood moet word, gaan ongestraf en onveroordeeld voort.

‘n Vorige klagte van haatspraak wat TLU SA teen Ehrenreich gelê het, het doodgeloop toe die staat geen vervolging wou instel nie.

Daar word nou bespiegel dat die Joodse Raad sterk invloed by die Mense Regte Kommissie het.

Intussen het Ramaphosa ook gaan kruip voor die Joodse gemeenskap en hulle die versekering gegee dat anti-semitiese gedrag en uitlatings nie geduld sal word solank hy die leier van die land is nie.

Parlement keur Zuma se pensioen goed

Die regerende ANC party het ‘n mosie goedgekeur dat die oud-afgesette president, Jacob Zuma, pensioen voordele moet ontvang. Dit ten spyte van sy beweerde betrokkenheid by staatskaping, sy R17 miljoen regskoste rekening en die astronomiese koste aan sy Nkandla woning waar hy sy harem huisves.

195 lede van die parlement het die mosie goedgekeur terwyl 95 lede daarteen gestem het.  Dit bewys volgens ontleders weereens die futiele “demokratiese” stelsel waarin Suid Afrika verkeer.  Selfs die mees korrupte word eenvoudig gesteun aangesien hy een van hul kaders is.

VF Plus het daarenteen voorgestel dat Zuma se pensioen na R1 per maand verminder word. Hulle het ten tyde van die Nkandla-sage al voorgestel dat sy salaris na R1 verminder word.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van VF Plus, sê dat die persoon in die kantoor van die president respek moet verdien. “President Jacob Zuma se optrede het nie respek verdien nie.

“Indien daar een persoon in die land is wat meer as enigiemand anders onregmatig verryk is, is dit pres. Zuma. Hy het ʼn persoonlike huis ter waarde van R246 miljoen gekry waaroor die belastingbetaler betaal het.

“Die ANC-regering betaal nou die prys vir wat oor die laaste tien jaar onder pres. Zuma se leierskap gebeur het, en verstommend genoeg probeer die ANC die voormalige president steeds help en beskerm,” sê dr. Mulder.

Intussen het Zuma aan studente in Mthatha gesê die konsep staatskaping bestaan nie en daar is “geen bewyse dat staatskaping bestaan nie”.

Swak opleiding rede vir misdaad styging

Die rede vir die buitensporige hoë misdaad wat deur die Suid-Afrikaanse minister van polisie bekendgemaak is, is nie omdat daar te min polisiebeamptes is, maar omdat die lede van die polisiemag nie na behore opgelei is nie. Mense word sonder genoegsame opleiding aangestel en is dus onbevoeg om die werk van ‘n polisieman te kan doen. Daarby is die dissipline in die polisiemag swak. Sonder dissipline kan geen polisiemag na behore funksioneer nie.

Dit is die kommentaar van die onderleier van die HNP, mnr. Peet Joubert.

Hy sê ‘n verdere leemte in die polisiediens is dat die nodige spesialis-eenhede afgeskaf is, waarsonder misdaad nie beheer kan word nie.

“Voorkoming van misdaad word wêreldwyd toegepas waar die polisie oor ‘n doeltreffende misdaad-inligtingsdiens beskik. Suid-Afrika se misdaad-inligtingsdiens is tot niet. Die polisie kry dus nie vooraf die nodige informasie nie. Sonder dié informasie het die polisie nie die vermoë om beplande misdaad vooraf te identifiseer nie en kan dan nie daadwerklik voorkomend optree nie.

“Vir die minister van polisie om dus te pleit vir meer lede in die polisie, sal nie die probleem aanspreek nie. Kundigheid, opleiding en dissipline moet in plek kom om misdaad in Suid-Afrika te kan bekamp,” sê mnr. Joubert.

Die feit dat plaasmoorde nou as ‘n aparte statistiek bekendgemaak is, maak dit ‘n noodsaaklikheid dat spesialis-eenhede onmiddellik aangestel moet word om plaasmoorde stop te sit. “Ons moet onthou dat met die afskaffing van die kommandostelsel is daar belowe dat ‘n plaaswagstelsel in die lewe geroep sou word. Daar is belowe dat reserviste gewerf sou word en dat hulle polisievoertuie sou hê om hulle werk te doen. Daarvan het dadels gekom.

“Die HNP glo nie die minister van polisie se beloftes dat misdaad hokgeslaan sal word nie. Dit kan nie gedoen word as die nodige kundige maatreëls nie met dringende spoed geïmplementeer word nie”, sê mnr. Joubert.

Vlaamse regering gee 30 miljoen euro vir gronddiefstal

“Dit is ‘n skande!”

Dit was die reaksie van die bekende Vlaamse joernalis en skrywer, Hector van Oevelen, nadat dit bekend geword het dat die Nasionaal-Vlaamse Alliansie (N-VA) regering van Vlaandere 30 miljoen euro (sowat R525 miljoen) gegee het vir grondhervorming in Suid-Afrika.

Mnr. Van Oevelen is ‘n groot Boerevriend en het Suid-Afrika tydens die Majubafees vir die 26ste keer besoek, en ook ‘n groeteboodskap daar namens die Vlaminge gelewer.

Die semi-regse N-VA regering het sy steun uitgespreek vir gronddiefstal tydens ‘n besoek van sy minister Didier Reynders aan Suid-Afrika se minister Lindiwe Sisulu (foto).

Reynders het gesê daar moet “’n gebalanseerde situasie” gevolg word rakende onteiening sonder vergoeding, en hy reken dit is die beste manier om grondhervorming deur te voer.

Sisulu het gesê die mense van die wêreld verstaan die onteieningsproses “verkeerd” en dat sy bly is dat die mense van België die SA regering verstaan en daarvoor die 30 miljoen euro gee.

In Vlaandere is daar intussen groot ontevredenheid dat die sogenaamde “nasionalistiese” regering, Vlaamse belastinggeld gee. Een publikasie het gesê hulle regering borg plaasmoorde met die skenking ruimskoots, wat die gevolg is van die rassistiese beleidskeuses van die Suid-Afrikaanse regering.

Ramaphosa versprei fopnuus

President Cyril Ramaphosa het die bewering gemaak dat die weerstand teen grondonteiening sonder vergoeding, besig is om steeds minder te word namate die regering met die die teenstanders daarvan in gesprek tree.

“Ramaphosa glo en versprei fopnuus,” was die reaksie van ‘n lid van TLU SA se Uitvoerende Komitee. “Ramaphosa is genooi om TLU SA se kongres volgende week in Pretoria by te woon, maar daarvoor sien hy nie kans nie,” is aan Die Vryburger gesê.

“Dalk kry hy dit reg om sekere van sy gespreksgenote te verblind met sy mooi praatjies, maar TLU SA bly onverbiddelik gekant teen grondonteiening sonder vergoeding, omdat dit niks anders is nie as diefstal,” wat die TLU SA UK-lid se reaksie.

“Die mark vertel ook ‘n ander verhaal. Grondpryse het met meer as dertig persent gedaal, en die rand verswak elke keer wanneer daar oor onteiening sonder vergoeding gepraat word. As Ramaphosa dus sê dat daar ‘n groter aanvaarding vir dié soort diefstal kom, verkondig hy fopnuus, wat ongeloofwaardig is.”

Bron: Die Vryburger

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

 

Warmbad – Sonnig en baie warm met ‘n Min 16 en Max 32

Nelspruit – Sonnig en baie warm met ‘n Min 15 en Max 33

Pretoria – Sonnig en warm met ‘n Min 18 en Max 28

Johannesburg – Sonnig en warm met ‘n Min 15 en Max 26

Vereeniging – Sonnig en warm met ‘n Min 11 en Max 26

Rustenburg – Sonnig en baie warm met ‘n Min 14 en Max 30

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en koud in die oggend maar warmer later met ‘n Min 9 en Max 23

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en koud in die oggend maar warmer later met ‘n Min 9 en Max 23

Durban – Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 18 en Max 22

Oos London – Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 15 en Max 22

Upington –      Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 11 en Max 23

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk met ligte reënbuie met ‘n Min 13 en Max 17

Port Elizabeth –   Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 14 en Max 19

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en koud met ‘n Min 1 en Max 14


 

Be the first to comment

Leave a Reply