Potgooi – Nuus & Weer 9:30 14 September 2018 – Vrydag

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-09-14.092830

 

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

 

 

Nuus

 

SAUK begin met afleggings

Die SAUK is sodanig in die moeilikheid dat hy begin het met ‘n proses van afleggings om koste te bespaar.

Dit is nie seker op hierdie stadium hoeveel werknemers afgelê gaan word nie, en veral kontrakwerkers is nie meer hulle werk seker nie. Daar word egter tans bespiegel dat tussen 600 en 800 mense afgelê kan word.

Intussen is steeds meer mense besig om hulle tv-lisensies te kanselleer as gevolg van die SAUK se gedienstigheid aan die regering. Die SAUK het skynbaar bowendien nie meer die vermoë om lisensies te inspekteer nie.

Misdaad: stop transformasie nou!

Die skokgolwe oor die skerp styging in die meeste ernstige misdade, gaan nog lank met ons wees, en daarom sal die debat oor die oorsake en oplossings nog lank voortduur, sê mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA.

“Uiteraard sal die kwessie van misdaad en plaasmoorde weer aandag kry op ons jaarkongres volgende week Woensdag in Pretoria, alhoewel die tema is ‘Dag Zero vir voedsel op die Tafel’”, sê mnr. Meintjes.

“Die feit dat moorde in die algemeen met 6,9% gestyg het, en dat dit die sesde agtereenvolgende styging is, is meer as kommerwekkend.  Vir die landbouers is dit net so kommerwekkend dat daar tans 178 beeste, 249 skape en 115 bokke per dag gesteel word.

“Ook veediefstal neem toe, terwyl diefstal van gewasse ook aan die toeneem is. Baie misdade word nie eens meer aangemeld nie as gevolg van die gebrek aan vertroue in die polisie.

“Die gebrek aan vertroue het gekom saam met transformasie. Eers wou die polisie van ‘n “mag” na ‘n “diens” transformeer, en het daarmee van sy tande laat trek. Toe moes die polisie gedemilitariseer word, en later het hulle weer die militêre range teruggekry.  Dit het onsekerheid en koersloosheid geskep, net soos transformasie op ander plekke en terreine dieselfde onsekerheid en koersloosheid geskep het. Daarbenewens is broodnodige kundigheid uitgefaseer ter wille van ‘n sieklike rasgebaseerde transformasie. Dit het nie net gelei tot die verswakking van die polisie nie, maar ook van Eskom, SAL, Poskantoor, Transnet, Prasa, Denel, SAUK en ander.

“Misdaad gaan nie minder word nie. Binne die volgende vyf jaar gaan die laaste van die ou kundigheid in die polisie met pensioen gaan, en sal die transformasie sy volle siklus bereik het. Misdaad gaan styg in plaas van afneem.

“Die tyd het aangebreek dat transformasie gestop word, dat gekyk na kundigheid en bekwaamheid, gepaardgaande met ‘n passie vir dienslewering van die hoogste vlak, en ‘n onberispelike werksetiek. Dan sal misdaad opgelos word, sal Eskom tariewe onder beheer bly, sal pensioenarisse nie wonder of die Poskantoor hulle geld gaan voorsien nie, en sal minder treine afgebrand word,” sê mnr. Meintjes.

“Boer” mag gebruik word

Die bevinding van die Grondwethof dat die woord “Boer” – soos gebruik in ʼn sogenaamde struggle-lied – op sigself nie haatspraak is nie, maar dat dit wel onvanpas kan wees, is ʼn tegniese uitspraak en kan verkeerdelik vertolk word dat die woord vryelik in sulke liedjies gebruik kan word.

Dr. Pieter Groenewald van VF Plus sê in sy reaksie op die uitspraak die werklikheid is dat die gebruik van die woord “Boer” gelees moet word binne die konteks van die liedjies waarin dit gebruik word aangesien dit nou reeds sinoniem geraak het met haatspraak in slagspreuke soos “kill the boer, kill the farmer” en “shoot the boer” wat oudpresident Jacob Zuma baie sing.

“Die spesifieke lied waarin gesing word ‘hit the boer’ (slaan die boer), kan daarom in hierdie konteks gesien word as aanhitsing tot geweld teen boere, maar dit is ook bekend dat ‘Boer’ in besonder verwys na die Afrikaner.

“Die VF Plus sou daarom verwag dat die Grondwethof ʼn sterker uitspraak teen die gebruik van die woord moes lewer, en daarop moes gewys het dat dit moontlik kan lei tot aanstigting tot geweld.

“Die vraag moet ook gevra word of liedjies wat sê ‘slaan die swartes’, oor dieselfde kam geskeer sal word sou sulke liedjies ontstaan,” sê dr. Groenewald.

“Dit is jammer dat die Grondwethof ‘n gulde geleentheid verby laat gaan het om te wys dat wittes en veral die Afrikaner, ook slagoffers van rassisme is.”

Civitas gebou ook ‘n gevaar

Die Civitas gebou in Pretoria is volgens gesondheidswerkers nie geskik om in te werk nie en het geëis dat die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, ‘n alternatiewe werksplek moet voorsien.

Daar is glo nie water vir die badkamers nie en die brandbestrydingsproeiers is ook ontkoppel.

Die Civitas gebou was op ‘n stadium ‘n spog gebou maar is intussen verwaarloos sonder onderhoud en instandhouding – twee woorde wat al hoe minder gehoor of uitgevoer word.

AA voorspel dieselverhoging van R1,38

Die AA voorspel dat die landbousektor die hardste getref gaan word in Oktober met ‘n verwagte verhoging van diesel van R1,38 per liter.

Die landbou sektor is steeds besig om te herstel van die uitgerekte droogte die afgelope jaar. Insetkoste sal styg wat verbruikers pryse sal raak en ook die inflasie koers sal beïnvloed.

Oktober is bedrywige tye in landbou in die hele land aangesien beide somer- en winteraanplantings dan gedoen word.

Noord Kaap verkeersbeampte vas

Dit het die Valke, die Taktiese Reaksie Span en die Plaaslike Misdaad Eenheid jare geneem om een verkeersbeampte en ‘n bestuurskool eienaar te arresteer wat onwettige leerling- en bestuurderslisensies uitgereik het sedert 2014.

Die twee het oor naweke die verkeerskantore in Prieska gebruik om die lisensies te “verkoop”.

Beide sal binnekort in die hof in Prieska verskyn.

Metrospoor ontspoor

Metrospoor het duisende pendelaars gestrand gelaat weens hul onvermoë om die getal pendelaars te hanteer. Minibusse en busse van Golden Arrow moes ingespan word om pendelaars tussen Van der Stel en Strand te vervoer.

Prasa beoog om R16 miljoen in ‘n gesamentlike projek te stort om dienste te verbeter en 100 ekstra veiligheidsbeamptes te ontplooi om treine te beveilig.

Intussen het Prasa aangekondig dat hy binnekort begin met dissiplinêre optrede teen minstens 10 werknemers wat betrek word in ‘n aantal verslae, insluitend die ontsporingsverslag van die vorige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela in 2015.

Prasa het in die 2016/2017-boekjaar ‘n verlies van byna ‘n miljard rand getoon, ná ‘n verlies van R544 miljoen die vorige jaar. Onstabiliteit en wanadministrasie het bygedra tot Prasa se ellendige toestand.

Die lig gaan op

Die ANC se verkiesingshoof, Fikele Mbalula het verklaar dat Suid Afrika ‘n Piesangrepubliek is en sy rede is dat daar toegelaat is dat uitlanders sonder enige dokumente besighede alhier bedryf.

Skielik moet Spaza winkels wat deur uitlanders bedryf word, deur die regering gereguleer word. Uitlanders is glo welkom maar moet dit wettig doen.

Dit volg op die polisie se statistiek wat toon dat daar miljoene onwettige Afrikane in die land is.

Intussen wys ontleders daarop dat dit ironies genoeg die uitlanders is wat die land verarm nie, maar die ANC kaders met hul Indiese broeders wat die land bankrot gesteel het.

Al meer chaos in skole

Skole in die sogenaamde Gauteng misdaadparadys is in chaos en al meer probleme sien die lig.

Slegs enkele voorbeelde wat die afgelope maand aandag gekry het, is ‘n leerling wat ‘n skootdans uitgevoer het by die Sikhululekile Secondary School in Pretoria, rassistiese leerlinge van die Genl. Smuts Hoërskool in Vereeniging wat verlede Vrydag betoog het teen wit onderwysers en geweier het om klasse by te woon, leerlinge wat by bende-gevegte betrokke geraak het en ‘n leerling van Eldorado Park Secondary School wat ‘n vuurwapen op ‘n onderwyser gerig het.

Ook in Noordwes gaan dit nie veel beter nie, en ‘n saak wat beslis tot op regeringsvlak aandag getrek het, toe sewentienjarige leerling by die Ramotshere High School in Dinokana, ‘n 24-jarige onderwyser aangeval en doodgesteek het.

Die VF Plus glo dat die wangedrag van leerlinge by skole in Gauteng die gevolg is van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se pogings om gedragskodes by skole te verwyder en sy voortdurende inmenging in die bestuur van skole. Die probleme wat die afgelope maand by skole uitgebreek het, is ‘n simptoom van die afwesigheid van dissipline en disrespek vir enige vorm van gesag, sê mnr. Philip van Staden.

Die VF Plus het reeds in Augustus 2016, vir Lesufi gewaarsku om nie van gedragskodes in skole ontslae te raak nie en dat dit tot algehele chaos en wanorde in skole sou lei. Die waarskuwing van die VF Plus is nou besig om waar te word.

“Lesufi sal moet begin besef dat sy hardkoppige optrede besig is om skole in Gauteng heeltemal te omskep in wettelose instellings wat gaan dien as opleidingsentrums vir misdadigers eerder as opvoedkundige instellings waar leerders orde en dissipline moet leer,” sê mnr. Van Stade

Rusland bult sy militêre spiere

In Rusland se grootste militêre oefening word die land se slaankrag vertoon soos wat dit nog nooit tevore gedoen is nie.

Meer as 300 000 soldate sal aan die week lange oefening deelneem terwyl Sjina ook sy beskeie deel bydrae en 3 000 soldate stuur om ervaring en kennis op te doen.

Die reuse magsvertoning sal ook meer as 36 000 oorlogstenks, kanonne, vliegtuie, helikopters en ander artillerie gebruik vir die oefening waaraan 80 oorlogskepe sal meedoen.

Rusland het die afgelope drie jaar miljarde dollar spandeer aan die opgradering van sy militêre toerusting en maak daarop aanspraak dat hy oor ballistiese missiele beskik wat deur geen militêre toerusting uitgeskakel kan word nie.

Militêre deskundiges sê alhoewel Rusland sy militêre vermoë ’n reuse hupstoot gegee het, kan die land nie ’n volskaalse oorlog bekostig met sy huidige swak ekonomiese vermoë nie.

Die deelname van Sjina word deur Westerse waarnemers beskou as ’n opleidingsgeleentheid vir die Sjinese wat nie bedrewe is in oorlogvoering nie, en omdat dit ’n eerste keer is dat die twee lande saam optree, kan dit gesien word as ’n boodskap van samewerking waarvan die Weste moet kennis neem

Egiptiese hof veroordeel 75 ter dood

’n Hof in Kairo het 78 mense ter dood veroordeel weens hulle beweerde betrokkenheid gedurende 2013 se sogenaamde sitstaking ter ondersteuning van die Moslem Broederskap.

Die massaprotes is deur die polisie opgebreek, maar dit het die lewens van meer as 600 mense geëis toe veiligheidsmagte ook behulpsaam geraak het om die protesoptrede te stop.

Die veroordeeldes is glo ondersteuners van die Morsi wat klaarblyklik die Broederskap ondersteun het.

In ’n verhoor waarby 739 mense hulle saak probeer verdedig het, het die Kairo strafhof senior lede en leiers van die Broederskap die doodstraf opgelê en is Essam al-Erian en Mohamed Beltagi onder diegene wat saam met hulle Islamitiese prediker, Safwat Higazi, gehang is.

Gedurende die onrus is meer as 40 000 mense in hegtenis geneem, waarvan ’n klein aantal vrygelaat is, maar die grootste aantal is aangehou vir oortredings wat wissel van moord tot beskadiging van eiendom.

Die Egiptiese owerheid het glo honderde mense die doodstraf opgelê en nie gehuiwer om talle in die openbaar te hang ten spyte van internasionale besware nie.

Bron: Die Vryburger

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Sonnig en baie warm met ‘n Min 18 en Max 33

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 17 en Max 35

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 17 en Max 29

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 16 en Max 26

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 11 en Max 27

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 15 en Max 32

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en koud in die oggend maar warmer later met ‘n Min 7 en Max 23

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 12 en Max 25

Durban – Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 18 en Max 23

Oos London – Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 15 en Max 23

Upington –      Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 15 en Max 26

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en koel met ligte reënbuie met ‘n Min 13 en Max 16

Port Elizabeth –   Gedeeltelik bewolk en koel met ‘n Min 15 en Max 18

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en koud met ‘n Min 3 en Max 16


 

Be the first to comment

Leave a Reply