Potgooi – Nuus & Weer 9:30 31 Oktober 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  31 Oktober 2018

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/PotgooiNuusEnWeerYol20181031.092809

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM Stereo, FM Gospel Avtive ) Radio CSA

Hooftrekke

  • Die veldbrande by Herbert op George en Karatara op Knysna het nou tot een saamgesmelt en woed oor ‘n gebied van sowat 65-duisend hektaar. Minstens agt mense is reeds dood in die brand. Die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van Plaaslike Regering, James Brent-Styan, sê die brand beweeg nou noordwaards.
  • Die burgemeester van die Koukamma-munisipaliteit in die Oos-Kaap, Samuel Vuso, het ‘n dringende versoek gerig vir bystand om die brande te blus wat ‘n aantal woongebiede in die munisipale gebied bedreig. Die brand het gisteraand steeds in die Tsitsikamma-gebied gewoed terwyl brandbestryders sterk wind moes trotseer om die brand te probeer stuit. Kommer bestaan egter dat die brand in die rigting van ‘n vulstasie in Stormsrivier kan versprei en toerismebesienswaardighede soos die Groot Boom en plantasies by Knysna kan vernietig. Vuso sê hulle is desperaat vir hulp aangesien die vier brandweerwaens van die munisipaliteit nie voldoende is nie.
  • Die Wes-Kaapse minister van Plaaslike Regering, Anton Bredell sal vandag besluit of die George- en Knysna-gebiede tot rampgebied verklaar moet word weens die brande wat in die omgewing woed. Bredell sê duisende hektaar plantegroei is vernietig en agt mense is reeds dood. Hy sê ‘n besluit moet geneem word oor wyses om bestendigheid in die gebied te bring. Hy sê die hulp van strukturele ingenieurs moet ingeroep word wat die moontlikheid van onder meer grondstortings kan ondersoek. Bredell sê hy sal die premier inlig ná sy vergadering met die nasionale rampbestuursentrum.
  • Die Wes-Kaapse verkeersafdeling sê alle paaie in die Suid-Kaap wat weens die veldbrande gesluit was, is weer vir verkeer oopgestel – insluitende die N2. Die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa sê hy was in verbinding met die polisiekantore van Knysna, Plettenbergbaai en Oudtshoorn en volgens hulle is alle paaie weer oopgestel. Die munisipaliteit van Knysna sê intussen dat die inwoners van Brenton wat gister na die plaaslike gemeenskapsaal geneem is, laat gisteraand weer terug is na hul huise. Die organisasie Gift of The Givers werk met die munisipaliteit saam om kos en komberse aan inwoners te voorsien. Dit sluit onder meer die inwoners van Sedgefield in waar die mense van Karatara gehuisves word. Die munisipaliteit sê die Karatara-gebied waar agt mense Maandag weens die brande gesterf het, is weer veilig. Die rook kan egter meebring dat die inwoners eers later na hul huise terug geneem word.
  • Die EFF se mosie van wantroue in die uitvoerende burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit in Limpopo het misluk nadat 27 ANC-raadslede daarteen gestem het. Die mosie van wantroue in Florence Radzilani is ingedien nadat die munisipaliteit vroeër 300-miljoen rand in die VBS-bank belê het. Radzilani is ook die ondervoorsitter van die ANC in Limpopo. Die 300-miljoen rand was die grootste enkele bedrag wat by die bank belê is. Radzilani was nie tydens die stemmery teenwoordig nie. Die Speaker van die raad, Fridah Nkondo, het in reaksie op die uitslag gesê die Reserwebank se bevindings teen Radzilani is ongegrond.
  • Die ANC se uitvoerende komitee in die Oos-Kaap gaan voort met planne om ‘n taakspan aan te stel om die ontbinde streekskomitee van Nelson Mandelabaai te vervang. Die streekskomitee is verlede week ontbind weens verskeie redes, insluitend die versuim om toe te sien dat minstens sewentig persent van die takke goed funksioneer. Die streekskomitee weier om die ontbinding te aanvaar, maar die P.U.K sê hy hou by sy besluit.
  • Aanduidings is dat die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, nie vandag haar pos gaan ontruim soos vooraf met die DA ooreergekom is nie. Twee maande gelede het De Lille op `n nuuskonferesie saam met die DA-leier Musi Mainane haar bedanking aangekondig. Hulle het toe gesê dat die DA hul interne aanklagte teen haar gaan laat vaar en sy op 31 Oktober as burgemeester sal bedank. De Lille sê egter nou op twitter dat sy haar bedanking aan die party gestuur het en nie aan die speaker van Kaapstad, Dirk Smit nie. Sy sê hy vertel leuens as hy sê sy het bedank. Die adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, Natasha Mazzone, sê die party se regsverteenwoordigers het aan De Lille geskryf dat die party verwag dat sy vandag haar kantoor sal ontruim soos daar ooreengekom is. De Lille sal na verwagting later vandag haar toekomsplanne bekend maak.
  • Intussen het die Speaker in die Kaapstadse Metroraad, Dirk Smit strafregtelike aanklagte by die Kaapstad Sentraal Polisiestasie ingedien teen De Lille, en ‘n raadslid, Brett Herron. Smit sê dit is gedoen in ooreenstemming met ‘n besluit deur die metroraad, na aanleiding van ‘n verslag deur die Bowmans regsfirma oor wanadministrasie. Smit sê die reg moet nou sy loop neem.
  • Die Ekurhuleni metroraad het sy finansiële hoof geskors. Die metroraad het Gugu Malaza vroeër die geleentheid gebied om redes te verskaf waarom sy nie geskors moet word nie. Die stadsbestuurder, Imogen Mashazi, het op grond van Malaza se antwoord besluit om haar wel te skors. Optrede teen Malaza is egter hangende weens ‘n ondersoek na haar weerhouding van inligting oor haar vroeëre afdanking by die SAUK. Mashazi sê die metroraad gaan voort met die ondersoek waarvan die uitslag einde Januarie verwag word.
  • Die polisie in Kaapstad het ‘n tweede persoon ingeneem vir ondervraging in verband met die moord op ‘n bekende prokureur, Pete Mihalik. Mihalik is gister doodgeskiet toe hy sy seun by die Reddam skool in Groenpunt afgelaai het. Die agtjarige seun is gewond. Die polisiewoordvoerder, Noloyiso Rwexana sê die ondersoek duur voort.
  • Die dodetal weens storms en oorstromings in Italië het tot tien gestyg. Skole en toeristebestemmings in verskeie streke is gesluit. Wind van tot 180 kilometer per uur is aangemeld en twee tornado’s het die kusdorp Terracina getref. In Venesië is groot dele van die stad volgens owerhede onder water. Ses mense is Maandag in Italië dood te midde van sterk wind, grondstortings en bome wat omgewaai is. Nog vier sterftes is gister bevestig.
  • ‘n Oudit deur die Ugandese regering en die Verenigde Nasies se Organisasie vir Vlugtelinge het bevind dat daar 300-duisend minder vlugtelinge in die land is as wat amptenare vroeër aangedui het. Die agentskap en die kantoor van die premier het berig dat een komma een miljoen vlugtelinge in Uganda hulp benodig, en nie een komma vier miljoen nie. Vroeër is berig dat korrupte amptenare die getal verhoog het. Die skuldiges is intussen geskors.
  • Die Amerikaanse ruimte-agentskap, NASA, sê sy Kepler-ruimteteleskoop gaan nie verder gebruik word nie omdat sy brandstof opgeraak het. Die onbemande teleskoop het in bykans tien jaar navorsers gehelp om meer as twee duisend 600 planete te ontdek waarvan sommiges selfs lewe mag hê. Die teleskoop, wat in 2009 die ruimte ingestuur is, het gewys dat daar miljarde verskuilde planete is wat die mensdom se siening van die ruimte verander het. Die navorsers het daarin geslaag om al Kepler se inligting af te laai voordat sy brandstof opgeraak het. Volgens NASA is Kepler se taak voltooi, maar sy ontdekkings sal nog vir jare bestudeer word. Die agentskap se volgende ruimteteleskoop, TESS, is in April die ruimte ingestuur.
  • Die Indonesiese owerheid het opdrag gegee dat alle Boeing 737 MAX-vliegtuie geïnspekteer moet word. Reddingswerkers het intussen nog slagoffers uit die see gehaal nadat ‘n nuwe vliegtuig van dié model Maandag in die see gestort het met 189 mense aan boord. Die vliegtuig van die lugredery Lion Air het neergestort kort nadat dit in Jakarta opgestyg het. Die slagoffers se oorskot word na ‘n hospitaal gestuur vir DNS-toetse. Die vlugopnemer is nog nie gevind nie. Lion Air sê intussen hulle sal binnekort met ‘n span van Boeing samesprekings voer oor die ongeluk. Die lugdiens het vroeër vanjaar aangekondig dat hy 50 van Boeing se 737-MAX vliegtuie gaan koop.

 

 

Die Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Bewolk en baie warm met donderbuie in die area

Min 16 Max 30

Nelspruit – Bewolk en matig met verspreide donderbuie

Min 15  Max 20

Pretoria –  Bewolk en warm, met donderbuie

Min 15   Max 28

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm met donderbuie

Min 15  Max 26

Vereeniging – Bewolk en warm met donderbuie

Min 14  Max 25

Rustenburg – Bewolk en baie warm

Min  18  Max 32

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en warm 

Min 8  Max 25

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en warm

Min  11  Max 27

Durban –  Bewolk en koel met reen

Min 16  Max 17

Oos-London – Bewolk en koel met reën in die namiddag

Min 12  Max 27

Upington – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 12  Max 27

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 15  Max 31

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 10  Max 17

En laastens

Sutherland – Sonnig en koel

Min 1  Max 15


 

Be the first to comment

Leave a Reply