Potgooi – Nuus & Weer 9:30 1 November 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus & Weer 9:30 1 November 2018

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/PotgooiNuusEnWeer1November2018Yol20181101.092906

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM Stereo. & RadioCSA

Hooftrekke

  • Die Minister van Minerale Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê sy departement sal die regulering van onwettige mynbedrywighede landwyd uitbrei indien die twee loodsprojekte in Kimberley in die Noord-Kaap en Tubatse in Limpopo suksesvol is. Mantashe het vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Hy sê hoewel onwettige mynbedrywighede nie goedgepraat moet word nie en ‘n strafregtelike oortreding bly, is die regulering daarvan ‘n belangrike opsie. Talle mynwerkers by Kimberley wat as onwettige mynwerkers geklassifiseer word, het permittte ontvang om op ou mynhope te delf. Mantashe sê dit is belangrik om kleinskaalse mynbou te ondersteun.
  • Die liggaam van ‘n onbekende man het by Strand naby Kaapstad uitgespoel. Die polisie sê die oorledene is by die Macassarstrand gevind en was geklee in ‘n swart kortbroek en grys frokkie. Die polisie het ‘n beroep op die publiek gedoen om met hulle in aanraking te kom, met enige inligting wat met die ondersoek kan help.
  • Indoniese owerhede sê hulle het moontlik die vlugopnemer van ‘n passiersvliegtuig opgespoor wat Maandag in die see neergestort het met 189 mense kórt ná opstyging in Jakarta. Soek- en reddingswerkers het ‘n sein onder die water opgespoor wat moontlik van die vliegopnemer is. Duikers probeer die oorsprong daarvan vasstel, maar hul pogings word deur sterk seestrome gekortwiek. Die hoof van die Indonesiese reddingsoperasie, Muhammad Syaugi, sê die soektog gaan voort na die romp van die vliegtuig waarin die opnemer is. Hy sê wrakstukke, insluitende ‘n groot deel van ‘n vlerk, is in die gebied gewaar.
  • Die voormalige Kaapstadse burgemeesterskomiteelid, Brett Herron glo hy sal onskuldig bevind word aan enige beweerde ongerymdhede met die onregmatige verkryging van elektriese busse in die stad. Herron het die Speaker van die Raad gevra vir ‘n ondersoek na die bewerings wat in November verlede jaar aan die lig gekom het. Die Speaker, Dirk Smit het Dinsdag strafregtlike aanklagte ingedien teen Herron en die voormalige burgemeester, Patricia de Lille. Herron sê die Bowmansverslag het geen onregmatighede rakende hom gevind nie.
  • Die voormalige burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, het aangedui dat sy dit dalk sal oorweeg om `n nuwe party te stig, maar sê sy sal oor twee weke `n aankondiging doen. De Lille, wat gisteraand haar kantoor ontruim het, sê sy is daartoe verbind om `n alternatief vir die ANC te vind wat hom op die behoeftes van Suid-Afrikaners sal toespits. Sy sê haar doel is om die inwoners van die land te dien en om die land te probeer red.
  • Die uittredende Wes-Kaapse minister van Gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, sê die beveiliging van die gemeenskap sal sy prioriteit bly wanneer hy die burgemeester van Kaapstad word. Plato is die DA se burgemeesterskandidaat nadat Patricia de Lille bedank het. Hy word vandag as raadslid ingehuldig en die nuwe burgemeester word aanstaande week verkies. Plato het gister gemeenskappe besoek wat onder misdaad deurloop. Hy sê die polisie se sigbaarheid op plekke soos Macassar en Firgrove moet verbeter word.
  • Die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het tugstappe voorgestel teen amptenare van die Johannesburgse vullisverwyderingsdiens, Pikitup. Dit volg na ‘n klag deur ‘n inwoner oor die wanadministrasie in die verskaffingskettingbestuursproses. Mkhwebane het aanbeveel dat die raad van Pikitup stappe doen teen amptenare wat met Pikitup se voormalige bestuurshoof, Amanda Nair, saamgewerk het, asook teen huidige amptenare wat die werwing- en keuringsbeleid verontagsaam het. Die raad moet ook binne 60 dae alle onreëlmatige kontrakte met diensverskaffers of konsultante, kanselleer.
  • Die hoofaanklaer in Istanboel in Turkye, sê die Saoedi-Arabiese joernalis, Jamal Khashoggi, is verwurg en sy liggaam is in stukke opgekap. Saud al-Mojeb sê in ‘n verklaring sy moord is met voorbedagte rade gepleeg. Dit is die eerste amptelike bevestiging van hoe Khashoggi dood is. Die aanklaer sê Khashoggi is verwurg toe hy vier weke gelede die Saoedi-Arabiese konsulaat besoek het. Hy sê hulle het steeds nie besonderhede oor die plek waar Khashoggi se oorskot is nie. Die Turkse owerhede is uiters gefrustreerd met die gebrek aan samewerking van die Saoedi-Arabiese regering wat weier om 18 van sy burgers uit te lewer wat na bewering betrokke was by die moord. Hulle is in die hoofstad, Riaad, in hegtenis geneem.
  • Die meeste van die brande wat in die Suid-Kaap gewoed het, is onder beheer. Brandbestryders het die gunstiger weerstoestande benut om brande aan die Tuinroete te blus. Die wegholbrande het agt mense se lewens geëis, en honderde is haweloos gelaat. ‘n Koördineerder van die hulporganisasie Gift of the Givers, by Sedgefield, Mario Ferreira, sê sowat 600 mense word by verskeie gemeenskapsale, hoofsaaklik in die Knysna-omgewing, gehuisves.
  • Meer as `n honderd werkers van die Wes-Randse distriksmunipaliteit in Randfontein het hul sitstaking afgelas. Raadslede is gister vier ure lank in die gebou toegesluit omdat die munisipaliteit nie sy werkers betaal het nie. Die werkers is laat gisteraand beloof dat hul salarisse oorbetaal is. Die Werkers sê hulle gee die munisipaliteit tot vanmiddag tyd. Indien die betalings dan nog nie in hul bankrekenings reflekteer nie, sal die werkers, wat deur die vakbond DEMAWUSA verteenwoordig word, verdere stappe oorweeg.
  • ‘n Volbank regters van die Appèlhof in Bloemfontein sal vandag betoë aanhoor in die saak tussen die passasierspooragentskap, Prasa en die spooragentskap, Swifambo. Swifambo appelleer teen ‘n hooggeregshofuitspraak wat ‘n multimiljoenrandse kontrak vir nuwe lokomotiewe ter syde gestel het. Prasa het ‘n aansoek gebring teen Swifambo in die hooggeregshof in Johannesburg om die kontrak vir lokomotiewe, nietig te verklaar. Prasa sê daar was talle onreëlmatighede met die verkrygingsproses. Regter J Francis het in sy uitspraak bevind dat die lokomotiewe nie deur die komitee vir tegniese beoordeling, geëvalueer is nie. Dit het meegebring dat die diesellokomotiewe die maksimumhoogte oorskry het wat dus ‘n afwyking is van die vereistes en die verskaffing daarvan dus onregmatig was.
  • Die regering se presidensiële beraad oor geslagsmisdaad en geweld teen vroue en kinders begin vandag in Irene buite Pretoria. Bykans tweeduisend-200 verteenwoordigers sal na verwagting vir die beraad opdaag. Aktiviste teen geslagsmisdaad sê die beraad is `n geleentheid om streng wetgewing saam te stel om oortreders te straf wat vroue en kinders mishandel. Die aktivis en stigter van die organisasie, Youth for Survival in Pretoria, Mushi Mathe, sê mans behoort die stryd teen geslagsmisdaad te lei omdat ander mans groter begrip daarvoor sal hê.
  • Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n sewejarige meisie by die Dros-restaurant in Silverton in Pretoria verkrag het, verskyn vanoggend in die landdroshof. Die 20-jarige Nicholas Ninow het na bewering die kind van die speelarea agtervolg en haar in die manstoilette seksueel aangerand. Hy is voorlopig aangekla van verkragting, die besit van dwelms, aanranding en intimidasie. Ninow het tydens sy tweede verskyning sy aansoek om borgtog laat vaar en aan die hof vertel dat die polisie hom aangerand het. Die staat het om uitstel gevra om die saak verder te ondersoek. ‘n Datum vir die verhoor sal na verwagting vandag bepaal word.
  • ‘n Verdoemende verslag oor die Sol Plaatje munisipaliteit in Kimberley in die Noord-Kaap toon dat dié munisipaliteit wanfunksioneer en op die rand van ‘n ineenstorting is. Die Noord-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Brentley Vass, het ‘n taakspan aangestel om sake by die munisipaliteit te ondersoek. Dit het aan die lig gekom dat die finansiële hoof, Lydia Mahloko nie verkrygingsprosesse nagekom het nie. Sy het volgens die verslag ook gereeld die take van die munisipale bestuurder oorgeneem en eensydige en skadelike besluite geneem. Die taakspan het in hul verslag aanbeveel dat sy strafregtelik vervolg moet word. Hulle het haar optrede as roekeloos en oneties beskryf. Die raad moet nog die verslag bekragtig. Mahloko ontken die bewerings teen haar.
  • Meer as `n honderd werkers van die Wes-Randse distriksmunipaliteit in Randfontein het hul sitstaking afgelas. Raadslede is gister vier ure lank in die gebou toegesluit omdat die munisipaliteit nie sy werkers betaal het nie. Die werkers is laat gisteraand beloof dat hul salarisse oorbetaal is. Die Werkers sê hulle gee die munisipaliteit tot vanmiddag tyd. Indien die betalings dan nog nie in hul bankrekenings reflekteer nie, sal die werkers, wat deur die vakbond DEMAWUSA verteenwoordig word, verdere stappe oorweeg.
  • Die president van die internasionale sokkervereniging, Fifa, Gianni Infantino, het aangekondig dat die vereniging dit oorweeg om die aantal sokkerspanne vir die 2022-Sokkerwêreldbeker in Katar te vermeerder en ook meer lande in die streek te betrek by die aanbieding van die toernooi. Fifa het vroeër besluit om die aantal spanne vir die 2026-Wêreldbeker, wat aangebied sal word deur Amerika, Kanada en Meksiko, van 32 spanne tot 48 spanne te vermeerder. Infantino het erken dat ‘n groter aantal spanne in 2022 net met die samewerking van ander lande in die streek sal kan plaasvind. Katar bevind homself sedert Junie verlede jaar, egter in ‘n geskil met verskeie van sy buurlande, insluitende Saoedi-Arabië, Bahrein, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte.

 

Die Weer

Temperature vir vandag soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo.

Warmbad – Bewolk en warm met donderbuie

Min 15  Max 26

Nelspruit –  Bewolk en matig met reënbuie in die middag

Min  15  Max 21

Pretoria – Bewolk en matig met donderbuie

Min 13  Max 23

Johannesburg – Bewolk en matig met reën en donderbuie in die middag.

Min 12 Max 21

Vereeniging – Bewolk en matig met donderbuie

Min 12 Max  23

Rustenburg – Bewolk en warm met oggend donderbuie

Min 14  Max 27

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 6  Max 24

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 8  Max 26

Durban –  Bewolk en koel met middagreën of donderbuie

Min 16  Max 18

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 11  Max 18

Upington –       Sonnig en warm

Min 12  Max 28

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 10  Max 19

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 11  Max 18

En laastens

Sutherland – Sonnig en koel

Min 1  Max 17


 

Be the first to comment

Leave a Reply