Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  21 November 2018

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  21 November 2018

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-11-21.145854

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie, maar wel die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM Stereo.

Hooftrekke

  • Die LUR vir Samewerkende Regering in Limpopo, Jerry Ndou, het erken dat ‘n aantal van die provinsie se munisipaliteite op die rand van ‘n ineenstorting is. Ndou sê die provinsiale regering het by die munisipaliteite ingegryp. Die munisipaleiteite van Fetakgomo/Tubatse is vandeesweek weens finansiële wanbestuur onder administrasie geplaas, terwyl die regering ook die Modimolle/Mookgopong-munisipaliteit se magte oorgeneem het. Ndou het in die provinsiale wetgewer gesê die provinsie het met ernstige uitdagings te make.
  • Die adjunk-minister van Justisie, John Jeffrey, sê die departement is besig met die nodige prosesse om haatspraak strafbaar te maak. Dit volg ná klagtes deur ‘n aantal nie-regeringsorganisasies dat die parlement sloer met die afhandeling van die Wetsontwerp op die Voorkoming van Haatmisdaad en Haatspraak. Jeffrey het op ‘n werksessie van die navorsingsgroep – South African Liaison Office – in Kaapstad gepraat. Hy sê sommige groepe is bekommerd dat die beoogde wetgewing hul vryheid van spraak sal inperk.
  • Die Kaapstadse metroraad het ‘n leningsooreenkoms van een-komma-drie miljard rand met die Duitse ontwikkelingsbank KFW aangegaan. Die geld sal aangewend word vir die uitbreiding en opgradering van sommige watersuiweringsaanlegte. Die woordvoerder in die burgemeester se kantoor, Greg Warner, sê ‘n aantal van die stad se 25 aanlegte moet opgegradeer word, soos dié by Zandvliet, Bellville, Macassar en Potsdam. Warner sê die lening aan die Metro is teen ‘n aanvaarbare koers.
  • Die Gautengse regering sê stappe is ver gevorder om grond wat vir behuising geoormerk is, beskikbaar te stel. Die LUR vir Behuising, Uhuru Moiloa sê duisende hektaar grond is vir lae-koste behuising geïdentifiseer. Erwe wat reeds munisipale dienste het, sal ook beskikbaar gestel word aan diegene wat hul eie huise wil bou. Dit is deel van die program om ongebruikte grond, vinniger beskikbaar te stel. Moiloa sê professionele spanne is aangestel om die proses te hanteer. Die drie maatskappye sal na verwagting aanstaande week terugvoering gee oor die vordering tot dusver.
  • Die minibustaxi-organisasie – Santaco – het ‘n 25-persent aandeel in die taxifinansieringsmaatskappy – SA Taxi – bekom in ‘n transaksie wat een-komma-sewe-miljard rand beloop. SA Taxi se woordvoerder, Maroba Maduma, sê die transaksie sal ‘n reuse transformasie in die taxibedryf meebring. SA Taxi verskaf finansiering vir nuwe voertuie.
  • Die adjunkminister van Basiese Onderwys, Enver Surty, sê hy wil binne twee jaar van alle puttoilette by skole ontslae raak. Surty het dit gesê aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys wat hy toegespreek het oor die departement se gereedheid vir die 2019-skooljaar. Hy sê die departement het onderneem om alle puttoilette op ‘n veilige manier op te vul.
  • Die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge vergader vandag met die bestuur van die Openbare beleggingskorporasie te midde van kommer oor talle twyfelagtige beleggings. Die korporasie is die afgelope ruk in omstredenheid gehul oor die verlies van miljarde rand se staatspensioengeld wat in die beleërde maatskappy Steinhoff belê is. Die voorsitter van SKOOR, Themba Godi sê dit is hulle eerste vergadering met die korporasie om hul geldelike situasie te bespreek.
  • Die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, sit vanoggend sy getuienis voort by die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping in Johannesburg. Gordhan het gister besonderhede verskaf oor sy beperkte interaksies met die Guptas en ook sy vertolking van die staatskapingsproses. Amptenare van die Tesourie sal na verwagting ook vandag getuig. Gordhan het vroeër aan die kommissie gesê daar was nooit ‘n sakeverhouding tussen hom en die Guptas nie. Hy sê die Gupta-broers het verskeie pogings aangewend om met hom te vergader, maar sy kantoor in daardie stadium, die Tesourie, het geweier.
  • n ANC-parlementslid sê die party sal hom in die toekoms daarvoor beywer om welvaartbelasting in te stel as deel van belastinginvordering, om groter ekonomiese groei te bewerkstellig. Thandi Tobias sê dié opsie is ‘n beter keuse, eerder as om verkoopsbelasting te verhoog, omdat hoër BTW slegs arm mense benadeel. Tobias het tydens die parlementêre debat oor die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Tariewe en Monetêre Bedrae en die Wysiging van Inkomstewette gesê dit het tyd geword om regter Dennis Davis se aanbevelings in sy verslag oor welvaartbelasting in werking te stel.
  • Amptenare van die Tesourie en die Johannesburgse Metro sal vandag mondelinge voorleggings doen by ‘n ondersoek na die rioolbesoedeling van die Vaalrivier. Dit is die laaste dag van die ondersoek onder leiding van die Menseregtekommissie in Johannesburg. Die Departement van Omgewingsake, die Midvaal-munisipaliteit en Sasol het reeds voorleggings gedoen. Daar word beraam dat sowat 150 megaliter rou riool daagliks in die rivier beland. Die Johannesburgse Metro sal na verwagting verduidelik of hy bydra tot die besoedeling van die rivierstelsel, terwyl die Tesourie moontlik planne kan voorlê oor finansiële hulp aan die betrokke munisipaliteite om die besoedelingsprobleem aan te spreek.
  • Die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge vergader vandag met die bestuur van die Openbare beleggingskorporasie te midde van kommer oor talle twyfelagtige beleggings. Die korporasie is die afgelope ruk in omstredenheid gehul oor die verlies van miljarde rand se staatspensioengeld wat in die beleërde maatskappy Steinhoff belê is. Die voorsitter van SKOOR, Themba Godi sê dit is hulle eerste vergadering met die korporasie om hul geldelike situasie te bespreek.
  • Elf verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met ‘n transitorooftog twee maande gelede naby Mahikeng in Noordwes, sal vandag in die Molopo-landdroshof om borgtog aansoek doen. Drie van die verdagtes is werknemers van ‘n sekuriteitsmaatskappy. Die polisie het die rowers aangekeer nadat die eerste verdagte wat in hegtenis geneem is, ‘n bekentenis gemaak het. Die verdagtes het reeds vier keer in die hof verskyn. Die staat het tot dusver hulle borgtog teengestaan omdat hulle adresse nog bevestig moet word en ondersoek ingestel word of die mans enige hangende sake of vorige veroordelings het.
  • Kaapstad se Metroraad sê die MyCiti-busdiens word teen 85 persent kapasiteit bedryf. Dit is ten spyte van die voortslepende staking deur sommige MyCiti-werkers, wat reeds langer as ‘n maand duur. Werkers eis hoër salarisse, beter werksomstandighede en ook byvoordele soos ‘n mediese fonds. ‘n Lid van die Burgemeesterskomitee, Felicity Purchase, het pendelaars om verskoning gevra, en sê die stad hoop om binnekort ‘n volledige busdiens te lewer.
  • Die polisie het bevestig dat die Strand-polisie in Kaapstad ‘n saak van poging tot moord ondersoek nadat ‘n fietsryer op die pad tussen Strand en Gordonsbaai met ‘n mes aangeval is. Verlede week was daar ‘n soortgelyke aanval op twee fietsryers op dieselfde pad. ‘n Polisiewoordvoerder, Noloyiso Rwexana, sê die fietsryer is langs die pad met ‘n mes in sy kop gevind. Rwexana sê hy is in die hospitaal opgeneem. Sy vra dat enigiemand met inligting die polisie kontak.
  • President Donald Trump sê Amerika sal ‘n standvastige vennoot van Saoedi-Arabië bly en dit maak nie saak of lede van sy koninklike familie bewus was van die beplande moord op die andersdenkende joernalis, Jamal Khashoggi, nie. Trump sê die waarheid oor die beplanning en uitvoering van die moord sal waarskynlik nooit bekend wees nie. Hy sê hy keur nie die misdaad goed nie, maar plaas Amerika se belange eerste. Trump sê hy gaan nie ‘n land wat honderde miljarde dollar bestee het en hom gehelp het om die olieprys laag te hou, wegwys nie, en hy gaan nie die Amerikaanse of wêreldekonomie vernietig deur dwase optrede teen Saoedi-Arabië nie.
  • Die Verenigde Nasies het agt lede van sy vredesmag vereer, wat verlede week in die Demokratiese Republiek die Kongo in ‘n aanval doodgeskiet is. Die agt was van Malawi en Tanzanië. Nog tien vredesmaglede is gewond toe rebelle die groep in ‘n hinderlaag gelei het. Die groep het diens gedoen in die stad Beni om gesondheidswerkers te beskerm wat ebola-pasiënte versorg.
  • Niemand het nog aanspreeklikheid aanvaar vir die aanval in Kaboel in Afghanistan, waar minstens veertig mense dood is nie. Tientalle is gewond in ‘n bomontploffing by ‘n saamtrek van Moslemleiers. Hulle het die geboortedag van die profeet Mohammed herdenk, toe die bom in ‘n saal ontplof het.
  • Die Britse eerste minister Theresa May vergader vandag met die president van die Europese Kommissie, Jean-Claude Junker, in Brussel, België, oor Brittanje se toekomstige bande met die EU ná Brittanje se uittrede uit die EU. EU-lidlande is reeds besig om ‘n politieke verklaring oor die kwessie op te stel. Die verklaring sal deel vorm van die Brexit-ooreenkoms. Dit sal na verwagting Sondag amptelik aanvaar en onderteken word by ‘n beraad.

 

 

 

Die Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 13  Max 33

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 14  Max 30

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 15   Max 32

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 13 Max 30

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 10  Max 30

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm

Min  14  Max 35

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en warm 

Min 14  Max 26

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en warm

Min  9  Max 27

Durban –  Bewolk en matig met reën en donderbuie

Min  17  Max 21

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en koel met verspreide reën en donderbuie

Min 12  Max 19

Upington –       Sonnig en baie warm

Min 14  Max 30

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en matig

Min  13  Max 20

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en matig met verspreide reën en donderbuie

Min 12  Max 19

En laastens

Sutherland – Sonnig en matig

Min 3  Max 19


 

Be the first to comment

Leave a Reply