Potgooi – Nuus & Weer 1 Februarie 2019

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus & Weer 1 Februarie 2019

Aangebied weeksdae deur Yolanda om 9:30 (CAT)

Klik HIER om weer te Luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen FM Stereo & Netradiosa

Nuus Hooftrekke

  • Die geskil tussen die selfoonreus Vodacom en ‘n voormalige werknemer, Nkosana Makate, sal na verwagting weer in die hof gaan draai ná Makate aangedui het dat hy die bestuurshoof van die maatskappy se besluit op hersiening gaan neem. Vodacom het Makate 49 miljoen rand aangebied as vergoeding vir die PleaseCallMe – tegnologie. Makate dring aan op 70 miljard rand. Gister het ondersteuners by die maatskappy se hoofkantoor betoog. Vodacom sê hy volstaan by sy aanbod en beskou dit as billik. Die Konstitusionele Hof het in 2016 beslis dat die maatskappy Makate redelike en billike vergoeding moet betaal.
  • Die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, het die Menseregtekommissie se verslag oor die Klipspruit-wes sekondêre skool verwelkom. Probleme kom sedert 2017 by die skool voor weens die bruin gemeenskap se ontevredenheid oor die aanstelling van ‘n swart skoolhoof. Die MRK sê die gemeenskap se ontevredenheid is rasgemotiveerd en dat daar geen omgerymdhede was met die aanstelling van die hoof nie. Lesufi sê die aanstelling van skoolhoofde is dikwels ‘n moeilike proses. Die gemeenskap van Klipspruit-Wes het egter die Menseregtekommissie se verslag verwerp. Die woordvoerder van die groter Eldorado Park Sakeforum, Charis Pretorius, sê die MRK het die belangrikste kwessies nie in ag geneem nie. Dit sluit in dat ‘n Sadou-lid op die paneel wat die aanstelling gedoen het, en die nuwe skoolhoof, bure is. Pretorius sê die ontevredenheid het nie met die hoof se ras te doen nie, maar met die proses. Pretorius sê die onderwysdepartement het die gemeenskap van Klipspruit-Wes in die steek gelaat.
  • Die nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, begin vandag in dié pos. President Cyril Ramaphosa het haar aanstelling in Desember bekendgemaak. Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Michael Masutha stel Batohi vanoggend aan die personeel van die NVG voor waarna ‘n mediakonferensie sal plaasvind. Batohi, wat die eerste vrou is wat aan hoof van die NVG sal staan, is ‘n voormalige direkteur van openbare vervolging in Kwa Zulu-Natal. Sy was ook ‘n senior raadgewer by die Internasionale Strafhof in Den Haag. Ontleders en regskenners sê ‘n groot taak lê vir Batohi voor weens die ineenstorting van goeie bestuur by die NVG.
  • ‘n Cope-parlementslid, Dennis Bloem lewer vandag getuienis by die Zondo-kommissie na staatskaping. Dié voormalige voorsitter van die portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste sal na verwagtig lig werp op die betrekkinge tussen Bosasa en die departement. Gister het nog opspraakwekkende getuienis opgelewer toe ‘n werknemer van die Bosasa-filiaal, Global Technology Systems, Richard le Roux getuig het dat die ANC-voorsitter en minister van Minerale Hulpbronne, Gwede Mantashe drie van sy eiendomme deur Bosasa laat opgradeer het. Nog ‘n Bosasa-werknemer, Leon van Tonder het gister getuig dat hy opdrag gekry het van die bestuurshoof, Gavin Watson om bewyse en rekenaarhardeskywe te vernietig wat verband hou met onder meer tenders, spyseniering en ander ooreenkomste met Korrektiewe Dienste. Van Tonder het getuig dat hy kopieë gemaak het van sommige van die inligting om homself te beskerm.
  • Die oorskot van die Suid-Afrikaanse man wat in Mosambiek dood is, Andre Hanekom, het in Suid-Afrika aangekom. ‘n Onafhanklike na-doodse ondersoek sal uitgevoer word om vas te stel wat die oorsaak van Hanekom se dood is. Sy familie glo dat hy deur Mosambiekse regeringsamptenare vergiftig is. Die doodsertifikaat dui aan dat hy weens ‘n breinbesering dood is. Hanekom is in polisie-aanhouding dood voor hy in die hof kon verskyn op aanklagte van terrorisme. ‘n Mosambiekse koerant het vroeër die week berig dat die uitslag van ‘n lykskouing volgens die hospitaal waar Hanekom dood is, nie eers aan die familie bekendgemaak sal word nie.
  • Metrobusdienste in Johannesburg IS van vanoggend af weer in volle bedryf nadat busbestuurders hul staking gister beëindig het. Die diens is reeds gistermiddag gedeeltelik hervat. Die busbestuurders was ontevrede oor salarisse en hul werksomgewing. ‘n Ooreenkoms is gister met die bestuur van die busdiens bereik, maar besonderhede is nie bekendgemaak nie. Buspendelaars was sedert Maandag sonder vervoer.
  • Die ANC se verkiesingshoof, Fikile Mbalula het toegegee dat die onthulling voor die Zondo-kommissie na staatskaping ‘n negatiewe uitwerking op die ANC kan hê. Mbalula sê die party is bekommerd oor die inligting wat aan die lig kom. Hy sê die persepsie bestaan dat die party traag is om teen korrupsie op te tree. Mbalula sê dit sal nie help om op die verdediging te wees oor die getuienis nie. Van die hoogeplaaste ANC-lede wat by die korrupsie en staatskaping betrek word sluit in die party se voorsitter, Gwede Mantashe, ‘n NUK-lid Nomvula Mokonyane en die parlementslid Vincent Smith. Die waarnemende woordvoerder van die ANC, Zizi Kodwa het egter Woensdag gesê die party sal die geleentheid kry om sy kant van die saak voor die kommissie te stel. Hy sê daar is verskeie kwessies waar die party spesifiek ter sprake is, en oor dié kwessies sal die ANC duidelikheid gee wanneer hy voor die kommissie verskyn. Kodwa sê die party moedig mense aan wat by bewerings betrek word om die geleentheid te benut om voor die kommissie te verskyn as hulle ‘n alternatiewe weergawe van die gebeure het.
  • Die Kommunikasiewerkersvakbond by die SAUK het die aankondiging verwelkom dat ‘n vaardigheidsoudit gedoen gaan word. Die CWU sê hy het reeds verlede jaar gevra dat sodanige oudit gedoen word. Die SAUK het gister aangekondig dat hy nie die Artikel 189-kennisgewing oor personeelvermindering gaan hernu nie. Die openbare uitsaaier gaan nou met ‘n vaardigheidsoudit en daaropvolgende herstrukturering begin.
  • Die Nasionale Persklub in Pretoria het president Cyril Ramaphosa aangewys as sy nuusmaker van 2018. Die Nuusmaker word aangewys op grond van die mediadekking wat die persoon ontvang het en die impak wat dit op die samelewing gehad het. Die voorsitter van die Persklub, Jos Charle, sê sedert Ramaphosa die vyfde president van die demokratiese Suid-Afrika geword het, het hy die nuus van die dag oorheers op politieke en ekonomiese front. Charle sê alle oë is op die president, terwyl hy besig is met sy taak om ‘n beskadigde politieke omgewing, wat veral deur staatskaping oorheers is, reg te stel. Verskeie ander presidente het ook deur die jare die toekenning gekry. Die toekenningsleentheid sal later die jaar plaasvind.
  • Britsh Airways het passasiers gewaarsku dat gure weer in die suidooste van Engeland tot ontwrigting van binnelandse vlugte kan lei. Volgens die land se weerdiens is swaar sneeu vir laasnag voorspel in Londen, suid-Engeland en Wallis. Die lugdiens sê hy besef watter onsekerheid deur die weerstoestande veroorsaak word en het derhalwe maatreëls ingestel om besprekingsopsies in te stel wat aanpasbaar is.
  • Die Britse minister van Buitelandse Sake, Jeremy Hunt, sê die land sal dalk moet uitstel kry vir sy onttrekking aan die Europese Unie. Hy sê indien ‘n nuwe ooreenkoms met die EU kort voor die spertyd van 30 Maart bereik word, sal meer tyd nodig wees om wetgewing en ander maatreëls gereed te kry. Hunt sê in dié stadium is daar geen duidelikheid oor hoe die proses gaan verloop nie. Die Britse parlement het Dinsdag besluit dat die eerste minister, Theresa May ‘n nuwe ooreenkoms met die EU moet beding. Die EU het vroeër gesê nuwe onderhandelings is nie moontlik nie.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 19 Max 30

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en warm met reën of donderbuie

Min 19 Max 29

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n donderbui in die middag

Min 18 Max 29

Johannesburg – Bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 16 Max 27

Vereeniging – Bewolk en warm met ‘n donderbui in die middag

Min 16 Max 27

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 19 Max 32

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 16 Max 29

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en baie warm met verspreide donderbuie

Min 19 Max 31

Durban – Gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 22 Max 26

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en matig met verspreide donderbuie

Min 19 Max 29

Upington – Bewolk en bloedig warm

Min 23 Max 37

Kaapstad – Sonnig en baie warm

Min 19 Max 30

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en matig met ‘n donderbui

Min 20 Max 23

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n donderbui in die middag

Min 15 Max 26


 

Be the first to comment

Leave a Reply