Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  4 Februarie 2019

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  4 Februarie 2019

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie, maar wel die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda.

Die programme word aangebied in samewerking tussen FM Stereo & Netradiosa.

HOOFTREKKE

  • Die adjunkminister van finansies, Mondli Gungubele, het ontken dat hy betrokke was by korrupsie by die Openbare Beleggingskorporasie. Gungubele en ander lede van die raad word deur `n fluitjieblaser daarvan beskuldig dat hulle hul nie gesteur het aan wat by die OBK gebeur het nie. Die beleggingskorporasie is die grootste batebestuurder in Afrika en bestuur staatspensioengeld en ander fondse van bykans 2 duisend miljard rand. `n Kommissie ondersoek tans bewerings van swak beleggings deur die voormalige waarnemende uitvoerende hoof, Dan Matjila, en ander direkteure. Gungubele sê die aantygings teen hom en en die raad is vergesog en hy kan nie meer wag om self voor die kommissie te getuig nie. Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, moet nog `n tussentydse raad vir die OBK aankondig. Bedankingsbriewe is Vrydag van die hele raad ontvang. Hulle voer as redes aan, die onstabiliteit by die korporasie te midde van bewerings van korrupsie teen minstens vier direkteure. Hulle sê die aantygings het ondraaglik geword. Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het nog nie `n tussentydse raad vir die OBK aangekondig nie.
  • Kaapstad se teenbende-eenheid het twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op `n tiener van Kraaifontein. Die woordvoerder, Andre Traut, sê die 13-jarige seun is blykbaar dood in `n skietery wat verband hou met bendegeweld. Hy sê die eenheid het `n ander skietvoorval ondersoek toe die twee mans van 24 en 35 jaar aangekeer is. Die twee word ook verbind met die moord op `n 32-jarige in die nabygeleë Scottsdene. `n Vuurwapen en ammunisie, wat blykbaar vier jaar gelede gesteel is, is by die verdagtes gevind. Traut sê `n derde verdagte is ook in verband met die Scottsdene-aanval aangekeer.
  • Die Minister van Internasionale Betrekkinge, Lindiwe Sisulu, gaan na verwagting vandag met diplomatieke verteenwoordigers van vyf lande vergader nadat hulle regstreeks aan President Cyril Ramaphosa geskryf het. Amerika, Brittanje, Nederland, Duitsland en Switserland het President Ramaphosa in ‘n brief gevra om op te tree teen korrupsie. Daar is die afgelope tyd verdoemende getuienis deur voormalige werknemers van Bosasa by die kommissie van ondersoek na staatskaping aangehoor. Senior regeringslui word in die getuienis by korrupsie betrek. Sisulu se departement sê die vyf lande het nie die korrekte diplomatieke kanale gevolg nie.
  • Die leier van Cope, Mosiuoa Lekota, sê Suid-Afrikaners moet daarop aandring dat daar opgetree word teen mense wat betrek word by staatskaping deur in die algemene verkiesing te stem vir verandering. Lekota het `n klein groepie ondersteuners toegespreek in Tongaat, noord van Durban, waar hy stemme gewerf het. Lekota sê getuienis deur voormalige werknemers van Bosasa oor senior regeringsamptenare wat omkoopgeld ontvang het, is skokkend. Hy sê geslagte van die land se kinders sal daarvoor moet betaal. Cope moet nog aankondig wanneer hy sy verkiesingsmanifes sal bekend maak. Lekota het die min ondersteuners by die geleentheid aan swak weerstoestande toegeskryf.
  • Die EFF-leier, Julius Malema, sê indien sy party aan bewind sou kom, sal hulle Suid-Afrikaners opvoed oor die belangrikheid van grondonteiening. Malema het ondersteuners in Soshanguve noord van Pretoria meegedeel dat die eerste eksperiment met nasionalisering sal wees om wildplase onder staatsbeheer te plaas. Malema het in `n onderhoud weer bevestig dat sy party sal sorg dat Artikel 25 van die Grondwet verander word sodat onteiening sonder vergoeding dadelik kan plaasvind.
  • Die Valke sê die omstrede pastoor, Shepherd Bushiri, en sy vrou sal vandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op aanklagte van geldwassery en bedrog ter waarde van 16 miljoen rand. Die egpaar is Vrydag by ‘n hotel in Rustenburg in Noordwes in hegtenis geneem. ‘n Woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi sê die inhegtenisneming volg na ‘n ondersoek wat verlede jaar van stapel gestuur is.
  • Die DA het ‘n skrywe gerig aan die Menseregtekommissie oor die rassistiese kommentaar van die woordvoerder van Black First Land First, Lindsay Maasdorp, oor die tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark. Vier leerders is in `n ongeluk by die skool dood en meer as twintig ander beseer. Maasdorp het `n Facebook gebruiker ondersteun wat gesê het hy het geen simpatie vir die kinders nie. Die DA het ook met `n veldtog begin om die BLF van Andile Mngxitama te verhoed om aan vanjaar se algemene verkiesing deel te neem. Die DA-jeugleier, Luyolo Mpithi, sê hulle het gevra dat die ondersoek vinnig afgehandel word sodat die BLF verbied kan word om in die verkiesing te staan.
  • `n Geregtelike ondersoek om te bepaal of die Ford-motormaatskappy aanspreeklik is vir die dood van `n Ford-eienaar begin vandag in die Kaapstadse Hooggeregshof. Reshall Jimmy is in Desember 2015 dood toe sy Ford Kuga naby Wildernis in die Suid-Kaap aan die brand geslaan het. Die Nasionale Vervolgingsgesag het besluit om nie die maatskappy te vervolg nie. AfriForum se private vervolgingseenheid het egter besluit om die saak namens die Jimmy-familie verder te voer. AfriForum se ondersoekberampte, Andrew Leask, sê groot maatskappye moet aanspreeklik gehou word vir sulke voorvalle.
  • Die vakbondfederasie – Cosatu – se Sentrale Uitvoerende Komitee gaan vandag ‘n spesiale vergadering in Braamfontein, Johannesburg, hou om sy voorbereidings te bespreek vir die landwye staking aanstaande Woensdag. Cosatu wil beswaar maak teen die voortgesette werksverliese en afleggings in alle ekonomiese sektore. Cosatu sê die staking is ook weens die gevolge van verlede jaar se Werkskeppingsberaad wat nie daarin kon slaag om afleggings te voorkom nie.
  • Die water het gister uit `n boorgat op die Kaapse Vlakte gestroom nadat die Minister van Energie, Jeff Radebe, `n pomp op `n nuwe boorgat aangeskakel het. Die Islamic Relief Organisation of Saudi Arabia het vir die boorgat betaal. Die organisasie beplan om nog tien boorgate die volgende paar weke in die Wes-Kaap te laat boor. Vyf van die boorgate sal in die Kaapstadse metrogebied wees en die ander in die Karoo, insluitende by Beaufort-Wes. Die koste van die projek sal `n miljoen rand beloop. Radebe sê die boorgate volg na `n ooreenkoms tussen die ANC en dié nie-regeringsorganisasie.
  • Die Amerilkaanse president, Donald Trump, het weer bevestig dat hy beplan om Amerikaanse troepe aan Sirië te onttrek. In `n onderhoud met die televisie-netwerk CBS het hy gesê hy is egter van plan om die troepe in Irak te behou om, soos hy dit noem, `n ogie oor Iran te hou. Volgens Trump is Iran `n werklilke probleem. Hy sê Amerika het `n duur militêre basis in Irak wat goed geleë is om die Midde-Ooste dop te hou.
  • Amerika sê hy besig om humanitêre hulp vir Venezuela voor te berei na `n versoek van die opposisieleier, Juan Guaidó. Amerika erken Guaidó as tussentydse president van Venezuela. Die nasionale veiligheidsadviseur, John Bolton, sê hulle is besig met voorbereidings om noodsaaklike voorrade na die land te verskeep. Venezuela se ekonomie het onder President Nicolas Maduro in duie gestort en dit het wydverspreide hongersnood en `n tekort aan medisyne tot gevolg. Guaidó het ook `n beroep op die land se weermag gedoen om toe te laat dat humanitêre hulp in die land toegelaat word. Maduro het egter die Amerikaanse hulp verwerp en sê dit word net gedoen as voorwendsel vir militêre ingryping. Hy sê Venezuela sal nooit ‘n land van bedelaars word nie.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Bewolk en baie warm

Min 19   Max 31

Nelspruit – Bewolk en baie warm met  swaar donderbuie in die middag

Min 20  Max 31

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 17  Max 29

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 15   Max 27

Vereeniging –  Gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 14   Max 29

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 17  Max 31

Bloemfontein –  Gedeeltelik bewolk en warm

Min 13   Max 29

Kimberley –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 16   Max 30

Durban – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 22  Max 27

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 17  Max 26

Upington – Sonnig en bloedig warm

Min 21   Max 35

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 16   Max 24

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 17   Max 24

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 10  Max 27


 

Be the first to comment

Leave a Reply