Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  5 Februarie 2019

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  5 Februarie 2019 – Dinsdag

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar wel die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die nuus word aangebied in samewerking tussen FM Stereo & Netradiosa

Nuus Hooftrekke

  • Die naweek se reën in sommige gebiede in die Wes-Kaap het daartoe gelei dat van die riviere vir die eerste keer in vier jaar vloei. Damme in die provinsie het tans 46 komma ses persent water teenoor die 23 komma ses persent in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Die Wes-Kaapse departement van Plaaslike Regering- en Omgewingsake het egter benadruk dat water steeds spaarsaam gebruik moet word.
  • Die saak teen 17 mynwerkers wat verband hou met die gewelddadige staking by die Lonmin platinummyn op Marikana in 2012, is in die Hooggeregshof op Mahikeng uitgestel. Die mynwerkers staan tereg op 26 aanklagte, onder meer moord, roof en opsetlike saakbeskadiging. Dit hou verband met die moord van tien mense in aanloop tot 16 Augustus 2012, toe die polisie 34 mynwerkers doodgeskiet het tydens ‘n onwettige staking. Die mynwerkers ontken skuld en vra dat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging die saak terugtrek.
  • ‘n Joernalis is een van die twee getuies wat geskeduleer is om by die kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig wat vanoggend sy werksaamhede in Parktown in Johannesburg hervat. Die joernalis sal na verwagting getuig oor dreigemente en intimidasie tydens ‘n ondersoek na die Bosasa-groep. Die getuies se name is weens kommer oor hulle veiligheid nie deur die kommissie bekend gemaak nie. News24 berig egter dat sy hoofredakteur, Adriaan Basson gaan getuig. Die kommissie sal ook getuienis aanhoor van sy eie ondersoekbeamptes. Sedert die kommissie sy werksaamhede vir die jaar hervat het, het getuienis gefokus op Bosasa en die omvang van korrupsie by die Departement van Korrektiewe Dienste. Die voormalige voorsitter van die parlement se portefeulje komitee oor Korrektiewe Dienste, Dennis Bloem, het getuig oor korrupsie by die departement wat terugdateer tot 2004. Hy het getuig dat hy saamstem met die getuienis van die voormalige bedryfshoof van Bosasa, Angelo Agrizzi.
  • ‘n Senior lid van die polisie se teenkorrupsietaakspan, Kobus Roelofse sal vandag sy getuienis voor die Mokgoro-ondersoek in Pretoria afhandel. Die ondersoek fokus op die geskiktheid van die geskorste advokate, Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi vir hulle poste by die Nasionale Vervolgingsgesag. Roelofse het verlede week getuig dat hy van die Richard Mdluli bedrogsaak verwyder is en van wangedrag aangekla is om die ondersoek te ontwrig. Die hoof van die Batebeslagleggingseenheid, Willie Hofmeyr, wat verlede week getuig het, sal ook sy getuienis afsluit. Hy het vertel hoe die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen, van rampokkery aangekla is en dat Jiba die voormalige aanklaer, Gerrie Nel, in hegtenis laat neem het sodat hy nie die voormalige polisiehoof, Jackie Selebi moes vervolg nie. Booysen wat gister in die getuiebank was, het gesê Jiba se besluit om hom te skors was irrasioneel.
  • President Cyril Ramaphosa sal vanmiddag die Mynbou-indaba in Kaapstad toespreek. Hy sal die eerste dienende president wees wat as spreker by die Indaba optree. Rolspelers in die mynbedryf verwag van Ramaphosa om die regering se standpunt oor onteiening sonder vergoeding duidelik te maak. Hulle het aan die SAUK gesê hulle wil ook hoor dat die regering ‘n konserwatiewe benadering volg, eerder as nasionalisering en grondwetwysigings. Na verwagting sal Ramaphosa ook van die geleentheid gebruik maak om beleggers te probeer oortuig dat Suid-Afrika ‘n goeie beleggingsbestemming is.
  • Die geregtelike ondersoek na die dood van ‘n Ford-eienaar wie se voertuig drie jaar gelede in die Suid-Kaap aan die brand geslaan het, is tot 18 Maart uitgestel. Die burgerregtegroep, Afriforum, het die ondersoek aangevra om te bepaal of enigeen aanspreeklik gehou kan word vir die dood van Reshall Jimmy. Sy Ford Kuga het aan die brand geslaan tydens ‘n vakansie in die Wildernis in Desember 2015. Die geregtelike ondersoek, wat gister begin het, is uitgestel weens uitstaande bewysstukke. Meer as 80 Ford Kuga’s het aan die brand geslaan, sedert Jimmy se dood, en sowat vierduisend voertuie is herroep. Advokaat Gerrie Nel van Afriforum het sy ontevredenheid uitgespreek met die uitstel van die saak en sê die Jimmy-familie is nie daaroor ingelig nie.
  • Die Department van Landbou hoop om die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid binnekort te vra om die land weer vry te verklaar van bek-en-klouseer. Die hoop bestaan dat daar binne 14 dae geen nuwe gevalle aangemeld word nie. Die minister, Senzeni Zokwana, het in ‘n SAUK-onderhoud gesê inspekteurs werk onverpoosd om te verseker dat die siekte nie versprei nie sedert die betrokke diere onder kwarantyn geplaas en ingeënt is. Zokwana sê talle van Suid-Afrika se handelsvennote het reeds maatreëls verslap rakende die uitvoer van verwerkte produkte sedert die siekte in Januarie in Limpopo uitgebreek het.
  • Die Kaapstadse Metropolisie het vier mans in Seepunt in hegtenis geneem nadat toerusting wat gebruik word om by huise in te breek, in hul besit gevind is. Een van die twee voertuie waarin die mans gery het, is voorgekeer toe die bestuurder ‘n onwettige U-draai gemaak het. Die ander voertuig is ook van die pad getrek. Die woordvoerder van die Metropolisie, Ruth Solomons, sê die beamptes het die voertuie deursoek en op die toerusting afgekom. Twee van die mans word ook verbind met voertuigdiefstal. Solomons sê die vier is in die polisiestasie in Seepunt in aanhouding tot hulle hofverskyning.
  • Akademiese bedrywighede by drie universiteite in KwaZulu-Natal is opgeskort weens gewelddadige protesoptrede deur studente. Dit sluit in die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Durbanse Universiteit van Tegnologie en die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie. Twee voertuie is tydens betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal se Westville- en Howard-kampusse in Durban aan die brand gesteek. Studente is onder meer ontevrede oor studieskuld, die studentehulpskema asook verblyf. Die studente het onderneem om vandag met die protesoptrede voort te gaan. Polisiebeamptes is ontplooi om die situasie te monitor.
  • Intussen dreig die studenteraad by die Universiteit van die Witwatersrand ook om alle akademiese aktiwiteite tot stilstand te dwing uit protes oor kwessies soos studenteverblyf en -registrasie.
  • Die voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het haar medelye betuig met die naasbestaandes van leerders van die Hoërskool Driehoek in Vanderbiljpark. Nomalungelo Gina het namens die komitee hul simpatie betuig met die gebeure waartydens vier leerlinge dood is toe ‘n voetgangerbrug op die skoolterrein meegegee het. Negentien leerders is steeds in ‘n kritieke toestand. Gina sê die ongeluk en lewensverlies van dié jongmense is ‘n tragedie. Intussen duur die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk voort.
  • Die Zimbabwiese minister van Mynbou sê dié land se sentrale bank sal binnekort maatreëls aankondig om die tekort aan buitelandse valuta te verlig. Mynboumaatskappye word die ergste geraak. Die minister, Winston Chitando, het by die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê een van die grootste struikelblokke in die bedryf is die tekort aan buitelandse geld. Die Zimbabwiese goudmynmaatskappy, RioZim het verlede jaar drie myne gesluit weens ‘n tekort aan Amerikaanse dollar. Chitando sê ‘n monetêre beleidsverandering sal ingestel moet word om die kwessie op te los.
  • Onderwysers in Zimbabwe gaan vandag voort met ‘n beplande staking nadat onderhandelings met die regering ‘n dooiepunt bereik het. Verlede week het die grootste staatsdiensvakbond sy planne laat vaar vir ‘n landwye staking oor beter salarisse en gesê gemoedere in die land loop steeds hoog ná veiligheidsmagte se gewelddadige optrede teenoor betogers. Die regering en onderwysvakbonde het gister in Harare samesprekings gevoer, maar geen ooreenkoms is bereik nie. Die onderwysvakbonde sê daar word nie aan hulle eise voldoen nie en die staking sal onbepaald voortduur. Zimbabwe se 305-duisend staatsamptenare eis onder meer om in Amerikaanse dollar betaal te word. Die Zanu PF regering beskuldig Westerse lande daarvan dat hulle die opposisie finansier om gewelddadige betogings aan te hits.
  • Minstens sewe mense is dood en 28 is beseer in ‘n brand in ‘n residensiële gebou in Parys in Frankryk. Brandbestryders poog steeds om die brand te blus in ‘n agt verdieping gebou in die stad se gegoede 16de distrik. Die brand het gisteraand oor twee verdiepings van die gebou versprei, en inwoners het na die dakke van nabygeleë geboue gevlug om van die vlamme en rook weg te kom. Sowat 200 brandbestryders is ontplooi om die brand te blus en te help om diegene te red wat op dakke vasgekeer is. Die beseerdes sluit drie brandbestryders in, en minstens een persoon is in ‘n ernstige toestand. Omliggende geboue in die gebied is as ‘n voorsorgmaatreël ontruim.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Bewolk en warm met donderbuie

Min 17  Max 26

Nelspruit –  Bewolk en warm

Min 19  Max 26

Pretoria – Bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 16  Max 26

Johannesburg – Bewolk en matig

Min 15  Max 24

Vereeniging – Bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 15  Max 26

Rustenburg – Bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 17  Max 27

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 15  Max 30

Kimberley – Sonnig en baie warm

Min 19  Max 32

Durban – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 21 – Max 27

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 17  Max 25

Upington –       Sonnig en bloedig warm

Min 23  Max 37

Kaapstad – Sonnig en warm

Min 18  Max 26

Port Elizabeth –  Gedeeltelik bewolk en warm

Min 17  Max 26

En laastens

Sutherland – Sonnig en baie warm

Min 14  Max 31


 

Be the first to comment

Leave a Reply