Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  6 Februarie 2019

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  6 Februarie 2019

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie, maar wel die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen FM Stereo & Netradiosa.

Hooftrekke

  • Die waarnemende premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala het ‘n taakspan van LUR’e aangestel om ‘n oplossing te probeer vind vir die krisis in tersiëre onderwys in die provinsie. ‘n Student is by die Durbanse Universiteit van Tegnologie doodgeskiet tydens studentebetogins op die Steve Biko-kampus. Twee personeellede van die Universiteit is beseer. Vier mense is intussen in verband met die voorval in hegtenis geneem. Zikalala sê geweld sal niks vermag nie. Hy sê dit is skokkend dat studente gewelddadig raak tydens betogings. Hy sê wanneer geboue en voertuie aan die brand gesteek word, word die ware griewe wat kan bestaan, ondermyn. Hy sê met arrogansie sal ook niks bereik word nie. Zikalala sê die provinsiale regering wil ‘n dringende vergadering byeenroep om oplossings te probeer vind.
  • Die leier van die UDM, Bantu Holomisa sê kommissies van ondersoek moet gereelde tussentydse verslae bekendmaak sodat die relevante instellings daarop kan reageer. Hy het by die Kaapstadse Persklub gesê die finale verslae van kommissies kan jare neem om af te handel. Holomisa sê dit is ook duidelik dat die staatsintelligensiediens en wetstoepassingsagentskappe geen absolute verbintenis het om diegene aanspreeklik te hou wat by korrupsie en staatskaping betrek word nie. Holomisa sê dit is ‘n gevolg van die ANC se beleid van kaderontplooiing.
  • Een van die Zondo-kommissie na staatskaping se eie ondersoekers, Patrick Mlambo, het die getuienis gestaaf van ‘n voormalige personeellid van Bosasa, Richard le Roux oor veiligheidsopgraderings by die huise van verskeie senior regeringslui. Mlambo was gister die laaste getuie voordat die kommissie tot Maandag verdaag het. Mlambo het saam met Le Roux verskeie van die eiendomme besoek. Le Roux het vir die Bosasa-filiaal, GTS gewerk wat vroeër as Sondolo IT bekend was. Mlambo sê Le Roux het hom na vier huise geneem van mense wat voordeel getrek het uit die Spesiale Projekte van die maatskappy. Mlambo sê een van die eiendomme behoort aan Nomvula Mokonyane. Hy sê tydens die besoek het Le Roux gesien dat die kameras wat destyds geïnstalleer is, steeds daar is.
  • Inwoners van Olifantshoek in die Noord-Kaap het gistermiddag die N-14 met brandende bande versper. Hulle is ontevrede oor onderbrekings in die watertoevoer wat reeds sedert verlede maand duur. Die Gamagara-munisipaliteit beskuldig die Sedibeng Water vir die probleem. Dié maatskappy sê hy is bewus van die probleem en werk saam met die munisipaliteit om die vraag na water te bestuur terwyl waterpype opgegradeer word.
  • Vyf mense is op Lindley in die Vrystaat in hegtenis geneem in verband met veediefstal. Die polisie het in reaksie op ‘n wenk, ‘n verdagte voertuig op die pad tussen Lindley en Bethlehem voorgekeer. Die vier insittendes het probeer vlug. Die verdagtes het blykbaar skaapkarkasse verkoop. Al vier is in hegtenis geneem en die vyfde is later op Lindley vasgetrek.
  • Die adjunk nasionale direkteur van openbare vervolgings, Willie Hofmeyr sit vandag sy getuienis voort by die Mokgoro-ondersoek. Hy het gister ontken dat hy ‘n belangrike rol gespeel het om die korrupsieaanklagte in 2009 teen die vorige president, Jacob Zuma te laat vaar. Hofmeyr het vroeër getuig hoe die geskorste NVG advokate, Nogcobo Jiba en Lawrence Mrwebi by hoëprofielsake ingemeng het. Die kommissie stel ondersoek in na die geskiktheid van Jiba en Mrwebi vir hulle poste.
  • Die vakbondfederasie Cosatu het na ‘n vergadering van sy sentrale uitvoerende komitee in Johannesburg aangekondig dat sy lede op 13 Februarie gaan staak. Cosatu se president, Zingiswa Losi, sê hulle wil met die staking beswaar aanteken teen beplande afleggings in die private sektor en in die staatsdiens. Volgens Cosatu is dit ‘n beskermde staking waaraan al sy lede mag deelneem. Cosatu beplan ook ‘n optog in Kaapstad op die vooraand van die minister van finansies, Tito Mboweni, se begrotingstoespraak op 19 Februarie.
  • Onderrig by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark word nie vandag hervat soos wat beplan is nie. Die Gautengse departement van Onderwys sê ‘n finale besluit sal geneem word nádat ‘n verslag oor die veiligheid van die skool ontvang is. Vroeër is oorweeg om onderrig vir matrikulante vandag te hervat. Ingenieurs van die Departement van Arbeid het die strukturele veiligheid ondersoek ná ‘n brug tussen twee geboue Vrydag ineen gestort het. Vier leerlinge is dood en 20 is ernstig beseer. Die woordvoerder van die onderwysdepartement, Steve Mabona sê dit is moontlik dat klasse eers Maandag hervat sal word. Drie van die leerlinge wat in die ramp dood is word môre en Vrydag tydens afsonderlike geleenthede begrawe.
  • President Cyril Ramaphosa het beleggers probeer gerusstel oor die regering se planne oor onteiening sonder vergoeding. Hy het by die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê Suid-Afrika is ‘n gunstige beleggingsbestemming met verskeie geleenthede, veral in die mynbousektor. Hy het die versekering gegee dat onteiening ingevolge die grondwet en die oppergesag van die reg sal plaasvind.
  • Nuwe verwikkelinge in die voortslepende saak van die omstrede Nigeriese pastoor, Timothy Omotoso het aan die lig gekom en die Verdediging sal vermoedelik nog vandeesweek ‘n aansoek in dié verband bring. Die SAUK het betroubaar verneem dat die regter in die saak aandele het in een van die plekke waar getuies in Port Elizabeth tuisgaan. Die verhoor wat verlede jaar begin het, is tot 16 April uitgestel. Omotoso en sy twee medebeskuldigdes staan tereg op meer as 90 seksverwante aanklagte.
  • President Cyril Ramaphosa sê maatreëls om die finansiële en strukturele krisis by Eskom te takel word eersdaags aangekondig. Hy het aan afgevaardigdes by die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê die regering sal nie toelaat dat die sukkelende kragverskaffer in duie stort nie. Eskom het die nasionale energiereguleerder, Nersa, gevra om ‘n jaarlikse tariefverhoging van tusen 15 en 17 persent toe te staan vir die volgende drie jaar in ‘n poging om sy skuld van 50 miljard rand te finansier. President Ramaphosa sê die beoogde maatreëls is daarop gemik om Eskom te verbeter en bestendigheid by die instelling te bring.
  • Die Zondo-kommissie na Staatskaping het tot Maandag verdaag nadat getuienis van twee van sy eie ondersoekers aangehoor is. Een van die ondersoekers, Frank Dutton het getuienis gestaaf wat vroeër deur die voormalige bedryfshoof van Bosasa, Angelo Agrizzi gelewer is oor die voormalige SAL-voorsitter, Dudu Myeni. Agrizzi het getuig dat Myeni hoogsvertroulike dokumente aan hom oorhandig het in die Sheraton hotel in Johannesburg. Volgens Dutton is die mat wat in foto’s gesien kan word wat Agrizzi van die dokumente geneem het, wél die van die hotel. Hy het die hotel besoek en die mat in die foto’s met dié in die hotel vergelyk. Die dokument wat ter sprake is was bestem vir NVG-amptenare en het name bevat van individue en instansies wat vervolg kon word weens afpersing.
  • Die polisie het ‘n saak van moord en openbare geweld geopen ná die dood van ‘n 20-jarige student van die Durbanse Universiteit van Tegnologie. Die student is gister in die hospitaal dood ná ‘n skietery op die Steve Biko-kampus tydens ‘n gewelddadige studentebetoging. Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, Thembeka Mbhele het veiligheidswagte tussenbeide probeer tree toe studente ‘n gebou wou binnedring. Vier mense is in verband met die skietery in hegtenis geneem. Die woordvoerder van die Universiteit, Alan Khan het gisteraand gesê die Universiteit is tot verdere kennisgewing gesluit. Hy sê ondersoek word ingestel na die rede waarom skerppunt ammunisie gebruik is.
  • Drie mans wat skuldig bevind is aan oortredings wat verband hou met perlemoensmokkelary, word vandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis. Van die aanklagte teen die mans sluit in bedrog, regsverydeling en die oortreding van die wet op marienehulpbronne. Regter Mandela Makaula het tydens skuldigbevinding uitgewy oor die drie se onderneming wat perlemoen verpak en voorberei vir verkope buite Suid-Afrika. Hy het ‘n aansoek van die hand gewys dat hulle borgtog verleng word en gesê hulle moet in aanhouding bly tot vonnisoplegging plaasvind.
  • President Donald Trump het sy staatsrede gebruik om die kwessie oor onwettige immigrante uit te lig en het dit opnuut as ‘n nasionale krisis beskryf. Hy hou vol dat ‘n muur op die grens met Mexiko gebou sal word. Trump lewer uiteindelik sy staatsrede in Washington, nadat dit vir ‘n week uitgestel moes word weens die gedeeltelike sluiting van die federale regering weens ‘n geld geskil oor Trump se beplande muur. Die president het verskeie kwessies uitgelig. Hy het onder meer aangekondig dat hy op 27 en 28 Februarie vir die tweede keer met die Noord-Koreaanse leier in Viëtnam gaan vergader en dat onderhandelings versnel sal word om ‘n politieke ooreenkoms met Afghanistan te bereik. Oor handelsonderhandelinge met Sjina sê die Amerikaanse president dat ‘n ooreenkoms moet sorg dat onregverdige handelspraktyke gestaak word en dat Amerikaanse werkgleenthede beskerm moet word.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 19  Max 31

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 20  Max 30

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 18   Max 28

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 17  Max 27

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 16   Max 28

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min  17  Max 30

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 16   Max 33

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm

Min  19   Max 35

Durban – Gedeeltelik bewolk en warm

Min  21   Max 27

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 18  Max 25

Upington –       Sonnig en bloedig warm

Min 25  Max 38

Kaapstad – Sonnig en warm

Min 18   Max 28

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 18  Max 24

En laastens

Sutherland – Sonnig en bloedig warm

Min 13  Max 35


 

Be the first to comment

Leave a Reply