Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  7 Februarie 2019

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  7 Februarie 2019

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda.

Die programme word aangebied in samewerking tussen FM Stereo & Netradiosa.

Hooftrekke

  • Die DA sê die party is verbied om ‘n inspeksie by die Hoërskool Roodepoort aan die Wes-Rand uit te voer. Die party het die skool besoek nadat die onderwysvakbond, SAOU, onthul het dat 18 klaskamers nie gebruik word nie omdat hulle as onveilig beskou word. Die vakbond sê ‘n ingenieursmaatskappy wat die skool indiens geneem het, het bevind dat van die klaskamers se vloere gesak en daar sigbare krake op die versterkte betonvloere is. Dit volg nadat ‘n deel van ‘n loopbrug tussen twee geboue by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineengestort en die lewens van minstens vier leerders geëis het. ‘n Woordvoerder van die DA, Khume Ramulipho, sê die skool het hulle meegedeel dat hulle opdrag van die departement gekry het om nie die DA se inspeksie toe te laat nie. Ramulipho sê hulle het klagtes ontvang van ouers wat bekommerd is oor hulle kinders se veiligheid.
  • Gauteng se Departement van Onderwys sê intussen Hoërskool Driehoek sal soos ‘n kampskool funksioneer wanneer dit volgende week heropen. Die skool sal Maandag heropen nadat ‘n strukturele ineenstorting verlede week tot die dood van vier leerders gelei het terwyl nog meer as 20 leerders beseer is. Die departement sê sekere dele van die skool is veilig verklaar deur strukturele ingenieurs. ‘n Woordvoerder van die department, Steve Mabona, het ook aangekondig dat een van die beseerde leerlinge gister ontslaan is.
  • Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, sê kostebesnoeiingsmaatreëls sal nie die glansrykheid van die opening van Parlement wegneem nie. Sy het met die media gepraat terwyl sy voorbereidings in die Parlementêre kompleks geïnspekteer het. Die Parlement het twee-komma-vyf miljoen rand vir vandag se opening begroot, byna die helfte minder as verlede jaar se vier-komma-sewe miljoen. Mbete sê die kostebesnoeiings sal nie die geleentheid minder statig maak nie. Sy sê daar is steeds genoeg seremoniële aspekte wat dit ‘n geleentheid sal maak om op trots te wees.
  • Die DA-leier, Mmusi Maimane het gister sy alternatiewe staatsrede gelewer in die aanloop tot die amptelike staatsrede wat vanaand deur President Cyril Ramaphosa gelewer word. Maimane sê ten spyte van beloftes wat Ramaphosa in sy toespraak sal maak, bly die president deel van die ANC en al die party se mislukkings
  • ‘n Aantal paaie in Kaapstad sal intussen vandag gesluit wees in die aanloop tot die opening van die Parlement en die staatsrede. Strate in die omgewing van die Parlement, soos Roeland-, Plein-, Waal- en Hoopstraat is sedert sesuur vanoggend gesluit. Dit sluit ook openbare plekke in soos Kerkplein en die Kompanje Tuine. Teen vyfuur verskuif die beperkinge tot ‘n paar blokke verder. Paaie wat na die stad toe lei, soos Klipper, Princes Anne weg, Woolsack hoofweg en Setlaarsweg sal tydelik gesluit wees van kwart voor ses tot sewe uur. Strate en openbare plekke naaste aan die Parlement sal gesluit wees tot net voor middernag.
  • Die getuienis van die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid, Willie Hofmeyer, is by die Mokgoro-ondersoek in Pretoria op ys geplaas. Dit volg nadat hy geweier het om vrae te beantwoord oor kwessies wat hom kan inkrimineer, insluitend die Zuma-spioenasiebande saak. Regsverteenwoordigers vir die geskorste senior NVG-advokate Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi wil hê Hofmeyer se bevoegdheid moet getoets word hoewel dit nie deel vorm van die opdrag van die ondersoek nie. Die ondersoek moet bepaal of Jiba en Mrwebi geskik is vir hul poste. Hofmeyer het vroeër getuig dat Jiba en Mrwebi ingemeng het by hoë profielsake vir politieke gewin. Die voorsitter van die ondersoek, die afgetrede regter Yvonne Mokgoro het beslis dat ‘n nuwe datum vir Hofmeyer se kruisondervraging later vasgestel sal word.
  • ‘n Span kundiges sal na verwagting vanoggend begin met ‘n reddingsoperasie by die Gloria-steenkoolmyn in Middelburg, waar meer as 20 mense vermoedelik ondergronds vasgekeer is. Mynboukundiges het gister op die toneel aangekom om die situasie te evalueer. Die onwettige myners het na bewering Sondag by die myn ingegaan om koperkabels te steel. Hulle is vermoedelik weens ‘n gasontploffing ondergronds vasgekeer. Inwoners van die gebied het gister een persoon gered en een liggaam uit die myn gehaal. Die myn is op die oomblik in sakeredding omdat hy nie verlede jaar sy werkers kon betaal nie.
  • Een van die vier slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie word vandag begrawe. Die graad 8-leerder, Jandre Steyn, se begrafnis word later vandag in Vanderbijlpark gehou. Steyn is een van die vier leerders wat dood is toe ‘n loopbrug wat twee skoolgeboue met mekaar verbind, ineengestort het. Meer as 20 ander mense is beseer. Die ander slagoffers, Marli Currie, Manus Nagel en Roydon Olckers sal môre ter ruste gelê word. Die skool sal na verwagting Maandag heropen.
  • Die polisie het ‘n transitoroofpoging in Kimberley gefnuik. Elf gewapende verdagtes is vasgetrek. Vyf is op die toneel aangekeer terwyl die ander ses by ‘n huis in die stad in hegtenis geneem is. Die polisie sê twee van die verdagtes wat aangekeer is, is uit op borgtog vir ‘n rooftog waarby hulle in 2015 betrokke was. Al die verdagtes sal in die hof verskyn op aanklagte van die besit van die onwettige besit van vuurwapens en sameswering om te roof.
  • Die Visekanselier van die Durbanse Universiteit van Tegnologie, Thandwa Mthembu, sê slegs ses van die 250 veiligheidswagte wat op hulle kampusse werk, dra vuurwapens. ‘n Student, Mlungisi Madonsela is Dinsdag na bewering deur ‘n veiligheidswag doodgeskiet tydens studentebetogings by die universiteit. Mthembu sê die gewapende veiligheidswagte is op plekke ontplooi waar voorvalle van roof voorheen aangemeld is. Hulle dra dus vuurwapens omdat hulle diens doen op kampusse wat in hoë misdaadgebiede geleë is. Hy sê die wagte is Dinsdag ingebring omdat daar nie genoeg opgeleide openbare orde polisielede was om te help met die moeilike situasie waarmee hulle gekonfronteer is nie.
  • Die gemeenskap van Lindokuhle op Middelburg in Mpumalanga sê niemand sou ondergronds in die Gloria steenkoolmyn vasgekeer gewees het indien die myn nog steeds operasioneel was. Meer as 20 mense is vermoedelik sedert die naweek in die myn vasgekeer na ‘n gasontploffing terwyl onwettige myners na bewering kabels gesteel het. Minstens een persoon is gister gered en een liggaam is uit die myn gehaal. Die myn is op die oomblik in sakeredding nadat hy nie sy mynwerkers verlede jaar betaal het nie. ‘n Inwoner het die regering gevra om in te gryp.
  • Die polisie en wetstoepassingsagentskappe monitor ‘n betoging in Parkwoord naby Wynberg in Kaapstad. Inwoners gebruik brandende buitebande om verskeie roetes te versper. ‘n Verkeerswoordvoerder, Maxine Bezuidenhout sê Prins George-rylaan is in albei rigtings gesluit tussen De Waal-weg en Hyde-weg.
  • Die Verenigde Nasies het ‘n beroep op alle partye in Venezuala gedoen om nie te midde van ‘n krisis in die land humanitêre hulpverlening vir politieke doeleindes aan te wend nie. Hulpverlening is ‘n belangrike twispunt in Venezuela. Amerika het ‘n beroep op die regering van Venezuela gedoen om voedsel en medisyne te aanvaar om die lewens van duisende mense te red. President Nicolas Maduro het dit egter duidelik gestel dat hy dit nie sal toelaat nie, aangesien hy die lewering van noodvoorraad as ‘n poging beskou om sy regering te destabiliseer. ‘n Brug by die grens met Colombië is vroeër deur die weermag gesluit om te keer dat vragmotors met noodvoorraad die land kan binnekom. Die noodvoorraad is gereël deur die opposisieleier, Juan Guaidó wat homself as tussentydse president verklaar het.
  • KRIEKET: Pakistan het die laaste van drie T20 kragmetings teen Suid-Afrika op Centurion met 27 lopies gewen. De besoekers het 168 vir nege in hulle toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Suid-Afrika kon slegs 141 vir nege aanteken. Die Proteas het reeds die reeks beklink nadat hulle die eerste twee wedstryde gewen het.

 Weer

 

Temperature vir vandag soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo.

Warmbad – Bewolk en baie warm met ‘n donderbui in die oggend

Min 17  Max 30

Nelspruit – Bewolk en matig met reën in die oggend

Min 17  Max 24

Pretoria – Bewolk en baie warm met  donderbuie

Min 17  Max 30

Johannesburg – Bewolk en warm met donderbuie

Min 16  Max 28

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en warm met donderbuie

Min 16  Max  29

Rustenburg – Bewolk en baie warm met ‘n donderbui

Min 18  Max 31

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 18  Max 33

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm

Min 23  Max 36

Durban –  Bewolk en warm

Min 22  Max 27

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en matig met verspreide reën

Min 20  Max 24

Upington –       Gedeeltelik bewolk en bloedig warm

Min 26  Max 38

Kaapstad – Sonnig en baie warm

Min 18 Max 33

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en warm, met verspreide reën in die oggend

Min 18  Max 25

En laastens

Sutherland – Sonnig en bloedig warm

Min 17  Max 36


 

Be the first to comment

Leave a Reply