Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  8 Februarie 2019

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  8 Februarie 2019

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen FM Stereo & Netradiosa

Nuus Hooftrekke

  • President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat Suid-Afrikaners op 8 Mei na die stembus gaan om die nasionale- en provinsiale regerings te verkies. Ramaphosa het in sy staatsrede gesê hy het met die Verkiesingskommissie en premiers beraadslaag en is van plan om 8 Mei as verkiesingsdatum te proklameer. Hy het aan stemgeregtiges, wat nog nie as kiesers geregistreer het nie, gesê hulle kan dit steeds doen voordat die datum in die staatskoerant aangekondig word.
  • President Cyril Ramaphosa het in sy Staatsrede gisteraand ook gesê die onthullings wat voortspruit uit die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping asook ander kommissies is uiters verontrustend. Hy sê dit openbaar die omvang van die misdadigheid wat die kern van ‘n demokratiese land binnegedring het. Ramaphosa het ook die Mokgoro-ondersoek van stapel gestuur wat die geskiktheid ondersoek van twee senior advokate in die NVG, Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi. Ramaphosa het die betrokke kommissies, insluitende die ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie, geloof in hulle strewe om die waarheid bloot te lê.
  • Die president het in sy staatsrede vyf hoofprioriteite uitgelig waarop sy administrasie vanjaar gaan fokus. Dit is ekonomiese groei, werkskepping, die verbetering van die onderwysstelsel en vaardigheidsontwikkeling. Ramaphosa het die stryd teen korrupsie en die staat se vermoë uitgelig as die kern van sy strategie.
  • Ramaphosa het sy staatsrede gelewer sonder enige onderbreking of ontwrigting. Die EFF het vroeër laat blyk dat hulle Ramaphosa se toespraak gaan onderbreek indien hy nie ‘n verduideliking gee oor die geld wat hy van Bosasa ontvang het vir sy veldtog as ANC-president nie.
  • Die sakegemeenskap het President Cyril Ramaphosa se staatsrede grootliks verwelkom. Ekonome het die ontbondeling van Eskom as goeie nuus beskryf. Sakeondernemings het ook die regering se voorgenome stryd teen korrupsie en die regering se planne met staatsinstellings verwelkom. Ramaphosa het ook `n reeks planne aangekondig om die ekonomie `n hupstoot te gee en beleggersvertroue op te bou. Hy het verder aangekondig dat goeie vordering gemaak word met beleidsekerheid, veral met die regulasies vir mynbou en visums aan buitelandse besoekers. Tanya Cohen van die sakevereniging Busa sê veral die planne vir Eskom is gunstig ontvang. Die klem op onderwys en vaardighede en gepaardgaande toekomsplanne is verwelkom. Sy sê daar is baie waarmee gewerk kan word hoewel die besonderhede nog vaag is.
  • Ramaphosa het ook gesê die onthullings wat voortspruit uit die kommissies van ondersoek na staatskaping, bedrog en korrupsie is uiters verontrustend. Hy het die betrokke kommissies, insluitende die Mokgoro-ondersoek, geloof vir hul strewe om die waarheid bloot te lê.
  • Die DA-leier, Mmusi Maimane, sê President Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede nie daarin geslaag om Suid-Afrika se huidige probleme aan te spreek nie. Hy sê die meeste planne wat hy aangekondig het, moes reeds tien jaar gelede gebeur het. Maimane sê korrupte politici moes lankal in hegtenis geneem gewees het. Volgens hom moet daar nou beplan word om die probleme op te los en die korruptes te vervolg.
  • Die EFF sê hy is tevrede hoe President Cyril Ramaphosa die Bosasa-kwessie in sy staatsrede hanteer het. Die party het vroeër gedreig om die staatsrede te ontwrig, wat nie gebeur het nie. Die EFF-leier, Julius Malema, sê hulle is tevrede dat Ramaphosa aan die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, die Bosasa-gebeure verduidelik het en dit nie nodig was om hom in die Nasionale Vergadering daaroor te ondervra nie. Malema sê hulle wou hê die president moes verantwoordelikheid aanvaar en dat hy dit gedoen het.
  • Die Vryheidsfront Plus sê President Cyril Ramaphosa se staatsrede was `n goeie samevatting van die land se probleme sonder dat `n enkele oplossing aangebied is. Die leier van die party, Pieter Groenewald, sê die ANC het by herhaling gewys hy het doodeenvoudig nie die vermoë om die land se probleme en uitdagings die hoof te bied nie. Hy sê onteiening sonder vergoeding was weer op die agenda sonder om enige aanduiding te gee hoe dit uitgevoer gaan word. Groenewald wys ook daarop dat Ramaphosa simpatie betuig met die families van leerlinge wat tragies in skooltoilette verdrink het, asook met die swart student wat in Durban doodgeskiet is, maar kon nie enige tyd vind om te simpatiseer met die ouers en gemeenskap van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar vier leerlinge in ‘n staatskool gesterf het nie.
  • ‘n Senior konsultant van die Strategiese Groei- en Innovasie maatskappy – Frost en Sullivan – sê die gaskondensaat wat die Franse oliereus – Total – aan die Suid-Kaapse kus ontdek het, gaan ‘n aansienlike ekonomiese hupstoot vir die land beteken. Dit sal Suid-Afrika ook aan die voorpunt plaas van olie- en gaseksplorasie ten opsigte van ontwikkelende lande. Total het vroeër aangekondig hy het op ‘n wesenlike vonds gaskondensaat afgekom in sy Brulpadda-eksplorasieveld aan die Suid-Kaapse kus, sowat 175 kilometer, suid van Plettenbergbaai. Dit is in die sogenaamde Outeniekwa-kom geleë. President Ramaphosa het in sy Staatsrede na die aankondiging verwys en sê die regering is verheug daaroor. Hy het dit as ‘n keerpunt vir die land se energiesektor bestempel. ‘n Senior konsultant van Frost en Sullivan se Energie-filiaal, Chirag Rathi sê die ontdekking sal op die langtermyn lei tot nuwe aanlegte en werkskepping.
  • Die ANC het President Cyril Ramaphosa se staatsrede verwelkom en dit as `n uitstekende toespraak beskryf wat kernkwessies aangespreek het. Die party se tesourier-generaal, Paul Mashatile, sê Ramaphosa het ook die rigting aangedui van die komende paar maande.
  • Die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, het President Cyril Ramaphosa se staatsrede verwelkom. Hy sê Ramaphosa het die land se probleme goed opgesom, maar die groot uitdaging is nou om sy planne in werking te stel. Buthelezi sê probleme soos armoede, ongelykheid, werkloosheid en geslagsgeweld teen vroue en kinders moet aangespreek word. Volgens hom moet die fondse nou gevind word om dié probleme op te los.
  • President Ramaphosa het gisteraand in sy Staatsrede bekendgemaak dat ‘n teenkorrupsie-eenheid, soortgelyk aan die destydse Skerpioene, ingestel gaan word om te help met ondersoeke na ernstige korrupsiesake. Die nuwe direktoraat sal onder die vaandel van die Nasionale Direktoraat van Openbare Vervolging wees. Die vorige eenheid – die Skerpioene – is ontbind toe die ANC dit van magsmisbruik in die ondersoek na politieke sake beskuldig het.
  • Die brandbestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, Phillip Prins, sê die veldbrand is onder beheer wat gistermiddag naby Kampsbaai uitgebreek het. Vier helikopters het die brandbestryders bygestaan. Meer as 70 brandbestryders van die Nasionale Park, en brandbestryders van die Kaapstadse Metro, asook Working on Fire, het te midde van ‘n versengende hitte, die brand bestry. Talle paaie, insluitende Kloofnekweg, moes gesluit word.
  • Twee leerders wat dood is in die tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, sal vandag begrawe word. Marli Currie en Roydon Olckers is ‘n week gelede dood toe ‘n loopbrug by die skool meegegee het. Nóg ‘n leerder is op die toneel dood en ‘n vierde leerder het later in die hospitaal beswyk. Sowat 20 kinders is ernstig beseer. Twaalf is nog in die hospitaal. Gister is die Graad 8-leerder, Jandre Steyn begrawe. Die skool sal Maandag weer heropen. Tydelike klasse sal in tente op die rugbyveld opgerig word.
  • ‘n Onderwyser wat na bewering 23 kinders by ‘n laerskool in Valhalla in Pretoria gemolesteer het, sal vandag in die hof verskyn. Die verdagte is gister in hegtenis geneem na berigte van die seksuele misbruik van 23 meisies van tussen 10- en 12-jaar. Die onderwyser is reeds deur die Gautengse Onderwysdepartement geskors. Die kinders het na vore gekom nadat die Metropolisie ‘n werkswinkel oor veiligheid, misbruik en geweld by die skool gehou het. Die Departement het ook berading vir al die kinders gereël.
  • Die streeksbestuurder van die Holy Cross-laerskool in Zonnebloem in Kaapstad, Junaid Daries, sê hulle is besig om reëlings te tref vir leerders wie se klaskamers gister deur `n brand vernietig is. Niemand is beseer nie. Die brand het die klaskamers vir Graad R, Graad Vier en Sewe, die biblioteek asook die rekenaarsentrum in puin gelê. Daries sê ondersoek word ingestel om plek te kry waar sowat 600 leerders hul skoolonderrig kan voortsit. Ouers sal ook op hoogte gehou word.
  • Talle brandbestryders is nog op die toneel waar `n veldbrand gistermiddag naby Kampsbaai ontstaan het. Die brandbestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, Phillip Prins, sê meer as 80 brandbestyders was deurnag op die toneel nadat die brand gisteraand onder beheer gebring is. Prins sê die brandbestryders probeer nog om vlamme bó en ónder Kampsbaai-rylaan te blus. Die brand het in `n stadium tot naby die huise in Kampsbaai gevorder, maar geen eiendom is beskadig nie. Talle paaie moes egter gesluit word.
  • Johannesburgse motoriste word aangeraai om Marlboro-rylaan in die noorde van Sandton te vermy weens protesaksie deur inwoners. Die metropolisie is op die toneel, maar dit is onseker waaroor die protesgangers ontevrede is. `n Woordvoerder van die metropolisie, Wayne Minaar, sê die betogers het die pad met brandende bande versper en verbygaande voertuie word met klippe bestook.
  • Die polisie in Oeganda het ‘n mediaspan van die Britse Uitsaaikorporasie in Kampala in hegtenis geneem. Die joernaliste het ondersoek ingestel na die onwettige verkope van medisyne wat aan die staat behoort. Hulle is Woensdagaand aangekeer. Die polisie het die joernaliste aangekla vir die onwettige besit van geskeduleerde medikasie. Die regeringswoordvoerder, Ofwono Opondo, het egter geëis dat die joernaliste vrygelaat word. Opondo sê die joernaliste het met die Gesondheidsmoniteringseenheid saamgewerk om die diefstal en verkope van staatsmedisyne in die naburige Soedan en die DRK te ondersoek.
  • Die Britse eerste minister, Theresa May, wat met senior leiers van die Europese Unie vergader het, sê die Verenigde Koninkryk is vasbeslote om die EU mét ‘n ooreenkoms te verlaat. May sê daar gaan verdere samesprekings wees oor veranderinge aan die Brexit-ooreenkoms sodat dit deur die Britse parlement goedgekeur kan word.
  • Frankryk het sy ambassadeur in Italië teruggeroep vir samesprekings oor wat hy bestempel het as ‘n aantal ongegronde aanvalle en bewerings deur Italië. Die Franse het die Italiaanse regering daarvan beskuldig dat hy verskille uitbuit met die oog op verkiesing. ‘n Leier van die Italiaanse Vyfsterbeweging, Luigi di Maio, het gesprekke gehad met leiers van die Geelbaadjiebetogers sonder die medewete van die Franse regering. Die Franse president Emmanuel Macron het dit bestempel as ‘n skending van die ongeskrewe reël dat lande nie inmeng in die interne politiek van buurlande nie.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Bewolk en baie warm

Min 18  Max 31

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 17  Max 30

Pretoria – Bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 18  Max 29

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 17  Max 27

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n donderbui in die middag

Min 16  Max 29

Rustenburg – Bewolk en baie warm

Min 18  Max 32

Bloemfontein –  Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n donderbui in die middag

Min 18  Max 31

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en baie warm met donderbuie

Min 20  Max 32

Durban –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 24  Max 31

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 20  Max 31

Upington – Gedeeltelik bewolk en baie warm met swaar donderbuie

Min 20  Max 32

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 18  Max 25

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 19  Max 28

En laastens

Sutherland – Bewolk en baie warm

Min 18  Max 32


 

Be the first to comment

Leave a Reply