Potgooi – Nuus & Weer 21 Februarie 2019

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus &  Weer  21 Februarie 2019 deur Corrie

Klik HIER om weer te luister

Weeksdae Aangebied
deur Yolanda om 9:30(CAT)

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda.

Die programme word aangebied in samewerking tussen FM Stereo & Netradiosa.

Nuus

  • Brandbestyders sukkel nog om die veldbrand in die berge by Fraschoek in die Boland onder beheer te bring. `n Woordvoerder van die Kaapse Wynland-munisipaliteit, Jo-Anne Otto, sê die sterk wind het die vordering sedert Sondagmiddag grootliks ongedaan gemaak en daar word nou op die Bohoek-gebied en Mont Rochelle gekonsentreer.
  • Die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane sê die Minister van Finansies, Tito Mboweni was verkeerd om die direkteurgeneraal van die Tesourie, Dondo Mogajane te verdedig. Mboweni het tydens ‘n mediakonferensie voor sy begrotingsrede gister gesê sy Departement steun Mogajane en sal Mkhwebane se verslag oor sy aanstelling op geregtelike hersiening neem. Mkhwebane sê in ‘n verklaring Mogajane is deur ‘n hof skuldig bevind in verband met ‘n verkeersoortreding en het versuim om dit in sy aansoek vir die werk te meld, soos wat die wet vereis. Mkhwebane sê President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat hy optree in verband met die kwessie en sy vind dit vreemd dat dit lyk of Mboweni die president weerspreek. Mboweni het tydens die mediakonferensie gesê Mogajane is ‘n goeie, christen man en dat die Departement van Finansies hom steun
  • Motoriste word gewaarsku om versigtig te wees in die Cosmo City-gebied, noordwes van Johannesburg, waar gemeenskapslede vanoggend betoog. Verskeie paaie word versper. ‘n Woordvoerderd van die Johannesburgse Metropolisie, Wayne Minnaar sê beamptes monitor die situasie.
  • Betogers in Bosbokrand in Mpumalanga het meer as een-komma-vyf miljoen rand se skade aangerig aan eiendom van die Bosbokrand-munisipaliteit. Sewe munisipale voertuie en ‘n satelietkantoor van die munisipaliteit is aan die brand gesteek, en twee polisievoertuie is beskadig. ‘n Vragmotor in privaat besit se voorruit is ook beskadig. Die inwoners betoog sedert Maandag en het die R40 tussen Dwarsloop en Shatale versper om beter padinfrastruktuur te eis. Die munisipaliteit sê die inwoners is ingelig dat die opgradering van die pad beplan word, maar hulle is ongeduldig. Die polisie het vroeër bevestig dat sake van kwaadwillige saakbeskadiging en brandstigting ondersoek word.
  • Die petrochemiese reus Sasol sê hy gaan aansoek doen by die Menseregtekommissie om die getuienis te bekom van die fluitjieblaser wat die maatskappy betrek het by die besoedeling van die Vaalrivier. Die MRK het sy derde en laaste sitting afgehandel oor bewerings dat rou riool in die Vaalrivier gestort word. Die Kommissie het laat verlede jaar ‘n ondersoek ter plaatse gedoen by verskeie punte in Ekhuruleni. Die MRK het bevind dat die regte van inwoners van die gebied geskend word. ‘n Woordvoerder van Sasol, Alex Anderson sê hulle was nie daarvan bewus dat die ondersoek voortgaan nie en het derhalwe nie ‘n verteenwoordiger gestuur om voor die Kommissie te verskyn nie. Anderson sê as belanghebbende party gaan hy aansoek doen om die getuienis te bekom.
  • President Donald Trump sê `n vrou wat Amerika verlaat het om propoganda vir die Islamitiese Staat-millitantegroep te verkondig, sal nie toegelaat word om na Amerika terug te keer nie. Hy sê hy het die minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, gelas om nie die 24-jarige Hoda Muthana weer in die land toe te laat nie. Haar familie en prokureur hou egter vol dat sy `n Amerikaanse burger is. Muthana het in Albama grootgeword en na Sirië gegaan toe sy 20 jaar oud was. Sy het destyds aan haar familie gesê sy gaan `n geleentheid by `n Turkse universiteit bywoon. Muthana wil nou met haar seun van 18 maande na Amerika terugkeer.

So raak die begroting ons

Met die begrotingsrede is motoriste aangeslaan met 29 sent en 30 sent vir petrol en diesel respektiewelik.

Rokers betaal R1.14 meer vir 20 sigarette, bier drinkers moet Ro-12 meer betaal.  Wyn word met R0-22 sent per bottel belas terwyl die harde drinkers R4,54 meer gaan betaal vir hul bottel drank.

Al goeie nuus is dat ouderdoms pensioenarisse R80 meer per maand sal ontvang.  Die deel van die bevolking wat aanwas gaan in April R10 meer kry en in Oktober ‘n verdere R10 wat kinder toelaes op  R430 per kind te staan sal bring.

Daar word bereken dat teen 2021 sowat 13 miljoen ontvangers sal wees van kinder toelaes.

Bron: Die Vryburger

 

Staats entiteite onder kuratorskap

Tito Mboweni het aangekondig dat die regering effektiewelik staatsentiteite  onder administrasie gaan plaas sodra hulle vir lenings waarborge aansoek doen.

Sperdatums van waarborge gaan ook streng toegepas word.  Staatslening aan instellings soos Evkom, SAA, SABC, Denel en ander se waarborge het met R51 miljard toegeneem gedurende die afgelope finansiële jaar.

Mboweni het ook van die geleentheid gebruikgemaak om gerugte die nek in te slaan dat hy binnekort gaan bedank as minister, en gesê “hy gaan nêrens heen nie”.

Bron: Die Vryburger

Mboweni laat SA regop sit

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het gister in sy begrotingsrede gesê Suid-Afrika spandeer R243 miljard per jaar meer as wat sy inkomste is.

Finansiële ontleders sê dit beteken dat die land se skuldlas daagliks met R1,2 miljard styg.

Deskundiges sê die groeiende skuldlas veroorsaak dat die land uiteindelik in rommel status sal verval en dat die terugbetaling van die skuld, wat miljarde per jaar beloop die land nog verder in ’n finansiële verknorsing druk.

Mboweni het vroeër te kenne gegee dat hy kort na die afhandeling van die begroting die amp as Minister van Finansies neerlê, en waarnemers sê dit is nog ’n spyker in die doodkis van die land wat potensiële beleggers op die vlug laat slaan.

Bron: Die Vryburger

Mboweni bewillig R30 miljard vir skole

Die Minister van Finansies het in sy begrotingsrede R30 miljard bewillig vir die bou van nuwe skole, waarvan R2,8 miljard aangewend moet word vir die vervanging van die put toilette by sowat 2,400 skole.

Van die fondse sal ook aangewend word om herstelwerk by talle skole te doen en om sekere skole op te gradeer.

Die Minister sê die geld sal beskikbaar wees waar daar konstruktief gewerk word en waar ouer betrokkenheid sigbare verskille teweegbring.

In Januarie vanjaar is ’n nuwe skool aan die Oos-Rand geopen met die versoek aan leerlinge om die skool op te pas, maar enkele dae daarna is die skool beroof van duur toerusting en die gebou is geplunder.

Bron: Die Vryburger

Vreemde besluit oor Gupta onderneming

’n Aansoek om die Gupta onderneming, Oakbay Investmnts, te likwideer, is ingedien deur ’n suster maatskappy, Tegeta Exploration & Resources, wat ook del van die Guptas se ondernemings is.

Tegeta Exploration & Resources het aansoek gedoen by die Hooggeregshof met die eis dat die entiteit R3,8 miljoen aan rente verdien het maar nie in ’n posisie is om sy finansiële verpligtinge na te kom nie.

Vroeër het Oakbay kantoorruimte gehuur by die sustermaatskappy vir R150,000 per maand, wat jaarliks met 10% verhoog is.

Waarnemers sê die vreemde optrede bly onverklaarbaar en geen duidelike uiteensetting is bekend vir die handeling nie.

Bron: Die Vryburger

Taxi laat 48 saamry

’n Toyota Quantum minibus het waarskynlik ’n nuwe rekord opgestel toe die bestuurder toegelaat het dat die 16-sitplek voertuig 48 mense opgelaai het.

Die 26-jarige taxi bestuurder is kort daarna deur die polisie gearresteer vir die toelating van soveel mense wat die voertuig tot sy uiterste beproef het.

Die voorval wat in Port Elisabeth was, is so oorlaai dat die mense tot drie opmekaar moes sit, waarvan enkele insittendes kinders was.

’n Polisie woordvoerder het later gesê hy het nog nooit gesien dat so baie mense uit ’n minibus kom nie, en bygevoeg dat die kinders behandeling moes kry weens die ongerief wat hulle moes deurstaan

.Bron: Die Vryburger

 

Weer

Temperature vir vandag soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo.

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n

Min 20 Max 34

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk met swaar reën met tye baie warm met ‘n

Min 20 Max 31

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm met ‘n

Min 24 Max 37

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n

Min 22 Max 31

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n

Min 21 Max 34

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n

Min 20 Max 33

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n

Min 17 Max 33

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ’n

Min 22 Max 35

Durban – Gedeeltelik bewolk en baie warm met reën plek plek met ‘n

Min 23 Max 27

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en warm met reën plek plek

Min 21 Max 25

Upington – Gedeeltelik bewolk en bloedig warm met ‘n

Min 23 Max 37

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n

Min 20 Max 27

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk met reën in die nabyheid met ‘n

Min 15 Max 22

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n

Min 13 Max 28


 

Be the first to comment

Leave a Reply