Potgooi – Nuus & Weer 17 Februarie 2020

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus & Weer 17 Februarie 2020

Weeksdae Aangebied deur Corrie om 10:00(CAT)

Luister weer deur op die skakel te klik

Kennisgewing

Die Radio raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.

Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.

Die Radio gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda.

 

 

 

Nuus

 

Plaasaanval NW tussen Bloemhof en Christiana. 3 Aanvallers te voet. Alle nooddienste op toneel en alle beseerdes medies versorg. Geen verdere besonderhede tans beskikbaar nie.

Die polisie ondersoek ook ‘n Plaasaanval op die 14de Februarie 2020 om 19h30 by die Plaas ‘Eureka’ 25km buite Delportshoop, toe 3 onbekende mans hulle plaashuis ingedring het en hulle oorweldig en aangerand het

Nuwe gevalle van die COVID-19-stam van die coronavirus toon weer ‘n aansienlike styging in die Hubei-provinsie, nadat daar gister op ‘n enkele dag 1900 mense positief vir die virus getoets het. Dit is ‘n skerp styging nadat daar die afgelope dae ‘n afname in nuwe gevalle was. Die dodetal weens die virus staan nou op meer as 1770 waarvan 100 gister in China was met meer as 70 000 in China wat die virus het. Die siekte het reeds vyf lewens buite China geëis, met meer as 500 bevestigde gevalle, wat wêreld wyd meer as 71204 gevalle is

Amerika n Kanada gaan hul burgers wat reeds vir sowat twee weke op ‘n Japannese passasierskip in kwarantyn is vanaf die skip oppik. Minstens 350 van die drie-duisend 700 passasiers het positief getoets vir die Corona Covid-19 virus. Die Amerikaanse ambassade in Tokio sê hy is van mening dat die kwarantyn wat op die Diamond Princess ingestel is, nie doeltreffend is nie en dat Amerikaanse burgers in gevaar gestel word.

Die bestuurshoof van Facebook, Mark Zuckerberg, het op ‘n sekuriteitskonferensie in Munchen, Duitsland, gesê hy is bekommerd oor die toename van staatsbeheer oor die internet. Hy sê 35-duisend werknemers van Facebook is belas met sekuriteit, wat die platform méér kos as wat die maatskappy verdien het toe dit in 2012 gestig is. Zuckerberg sê met 100-miljard inskrywings wat daagliks op Facebook geplaas word, is dit egter elke land se plig om regulasies te skep wat internetmaatskappye kan help om instrumente te ontwikkel waarmee dit gepolisieer kan word.

‘n Motoris wat ‘n saamrygeleentheid aan twee rylopers aangebied het, is in ‘n hospitaal opgeneem nadat hy met ‘n skietwond in die been in sy motor aangetref is. ‘n Woordvoerder van ER24, Inneke van Huyssteen, sê die man het na die skietery na die naaste tolhek gejaag waar hy om hulp gevra het. Hy is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling. Die polisie ondersoek die saak.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het berigte ontken dat hy ‘n reuse verlies ly van miljoene rand om maatskaplike toelaes by betaalpunte landwyd af te lewer. Dit volg op ‘n berig in ‘n naweekkoerant dat die uitbetaling van welsynstoelaes die Poskantoor minstens 60 miljoen rand per maand kos. Die situasie is na wat berig word so erg dat die Poskantoor dit oorweeg om verskeie betaalpunte regdeur die land, te sluit. Die waarnemende bestuurshoof van die Poskantoor, Ivumile Nongogo, sê die berig is buite konteks geskryf. Nongogo sê hoewel die koste vir transitovoertuie en veiligheidswagte hoog is, verdien die Poskantoor ‘n goeie inkomste uit die kontrak.

Eskom sê hy is nie van plan om vandag beurtkrag in te stel nie. Die kragvoorsiener sê die beurtkrag wat die naweek gegeld het, het hom in staat gestel om reserwes op te bou om die komende week aan die vraag te voldoen. Eskom waarsku egter dat beurtkrag oor die volgende 18 maande meer gereeld sal voorkom namate dringende instandhouding gedoen word. Die kragvoorsiener sê verder dat sou die situasie verander, beurtkrag wel op kort kennisgewing ingevoer kan word.

Die polisie in Muizenberg naby Kaapstad ondersoek ‘n saak van moord nadat drie mense gisteraand in Hillview in ‘n brand dood is. Die identiteit van die slagoffers is nog nie bekend nie.

Die brand aan die hange van die Slanghoekberg in die Boland woed steeds buite beheer. ‘n Woordvoerder van die Wynland-distriksmunisipaliteit, Jo-Anne Otto, sê die vlamme word deur sterk wind aangeblaas. Sy sê egter brandbestryders kon wel daarin slaag om die Slanghoek-wynkelder te beskerm en geen skade aan infrastruktuur is aangemeld nie. Nuwe brandspanne sal vanoggend in die gebied ontplooi word.

Die Beweging vir die Bewustheid van Verdraagsaamheid deur Onderwys sê die FW de Klerk-stigting se reaksie op die standpunt van die oudpresident, het sake vererger. De Klerk het vroeër in ‘n onderhoud gesê hy stem nie ten volle daarmee saam dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom was nie. Die FW de Klerk-stigting het later sy kommentaar beaam. Die EFF het intussen gesê hy gaan die Nobel-vredeskomitee skriftelik versoek om De Klerk se Nobelprys vir vrede terug te trek, wat hy in 1993 saam met oudpresident Nelson Mandela ontvang het. Hulle is vereer vir die vreedsame beëindiging van die apartheidsregering en die totstandkoming van ‘n nuwe demokratiese Suid-Afrika.

‘n Jong man is by ‘n gewilde piekniekplek in Uitenhage in die Oos-Kaap doodgeskiet. Die polisie sê die 23-jarige man was saam met vriende by Willow Dam toe twee gewapende mans opgedaag en op hulle geskiet het. Die jong man is deur verskeie skote getref en is op die toneel dood. Die aanvallers het te voet gevlug. Die motief vir die moord is nie bekend nie.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, OPOD, het bevestig dat die vrou wat verlede maand in Alexandra by Johannesburg tydens ‘n skietery tussen die polisie en vermeende misdadigers doodgeskiet is, deur ‘n koeël uit ‘n polisieman se pistool geteref is. Die skietdood van die 31-jarige Samantha Radebe het gelei tot ‘n misdaadberaad vandag in Alexandra. Inwoners het hul kommer uitgespreek oor die hoë voorkoms van misdaad, die beskikbaarheid van dwelms asook beweerde korrupsie onder polisielede in die gebied. Die polisie sê die polisielid wat Radebe geskiet het, se naam kan nog nie bekendgemaak word nie.

Twee leerlinge is geskors nadat hulle skynbaar gehelp het om daggakoekies by ‘n skool in Gauteng te verkoop. Die eienaar van die onderneming wat die koekies verkoop het, ‘n 21-jarige vrou, is ook in hegtenis geneem nadat 16 leerlinge van die Ikusasalethu High School in Soweto sleg voel het nadat hulle van die daggakoekies geëet het. Die leerlinge het hospitaalbehandeling ontvang. Die departement van Onderwys in die provinsie sê die geskorste leerlinge is in die sorg van hul ouers geplaas en sal ‘n tugverhoor ondergaan. Die vrou is in aanhouding en sal eersdaags in die hof verkyn.

Die premier van Gauteng en voorsitter van die ANC in die provinsie, David Makhura, sê hy is vol vertroue dat ‘n besluit oor e-tol tot Gauteng se voordeel sal wees. Makhura het dít op die ANC se kadervergadering in Irene by Pretoria gesê nadat ‘n besluit oor die toekoms van e-tol in Gauteng verlede jaar uitgestel is tot die eerste kabinetsvergadering. Makhura sê hy verwag goeie nuus en wil inwoners van die provinsie die versekering gee dat hulle gelukkig sal wees met die aankondiging.

Ekonome is bekommerd oor die gevaar wat dreig om die land se staatspensioene, ten bedrae van sowat R240 miljard, wat stuk-stuk opgeslurp kan word deur bankrot staats entiteite. Die kommer is uitgespreek nadat Cosatu met die verwronge gedagte na vore gekom het dat sowat R26 miljard uit die staatspensioene gebruik moet word om Eskom uit sy bankrotskap te red. Ekonome wys daarop dat so ’n stap sal lei tot die volgende een om Denel, SAL, Poswese, Prasa spoor agentskap, munisipaliteite, en andere uit bankrotskap te red. Dit kan die pensioenfonds knak en miljoene mense se pligsgetroue bydraes tot die Fonds kan oornag in ’n nagmerrie van geen pensioen verander. Die vraag wat gevra word in finansiële kringe, is wat gaan gebeur as die staats entiteite na die reddingsboei ook uitgemors is, doen om die pensioen terug te betaal terwyl hulle die een na die ander bankrot verklaar word.

Die hoof beampte van die Nasionale Lotery Kommissie, Philemon Letwaba, het ingewillig om met verlof te gaan tot begin Maart 2020 tot die beskuldigings van korrupsie in ’n ondersoek afgehandel is. Die beskuldigings is glo dat grootskaalse korrupsie waarby miljoene Rand aan welsyn fondse betrokke is, deur ’n politieke party gemaak is, en nou ondersoek word. Sommige individue eis dat mense afgedank moet word, maar ondersoeke is reeds aan die gang, waarna besluite geneem sal word, is gesê. Die Departement van handel en Nywerheid het nog nie op die bewerings gereageer nie, en het ook nie bevestig dat so ’n ondersoek gedoen word nie. Bewerings en beskuldigings is gemaak dat die kommissie wat die loterye reguleer en verspreiding van fondse kontroleer, by ongerymdhede betrokke is en die onregmatige gebruik van fondse wat bedoel is vir welsyn.

Die Direkteur-Generaal in die presidensie het die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, see verslag oor perdewedrenne industrie beskryf as “irrasioneel, ongrondwetlik, en onwettig”.  eningsvormers reken die uitspraak kan die einde van die OB se loopbaan wees.

Die nuutste statistiek deur Statistiek SA toon dat daar ‘n netto verlies van 108,000 werke in 2019 was.  Dit ten spyte van 45,000 poste wat in die laaste kwartaal van 2019 geskep is terwyl 16,000 huishoudelike werkers hul werk verloor het wat tekenend is van die swak ekonomiese toestand van die land.  Sowat 587,000 meer werkers het hul aangesluit by die werkloses van die land.  Dit was slegs die landbousektor wat ʼn toename van 36,000 poste getoon het.

Die Trump administrasie het Suid Afrika verwyder van ʼn lys van lande wat voorkeur handels ooreenkomste het.  Dit beteken dat Suid Afrika meer invoer belasting en heffings sal moet betaal op goedere uit die VSA.  Die Nasionale Vereniging van Voertuig Vervaardigers verklaar dat die skuif ʼn tragedie is vir die industrie aangesien die VSA die laaste drie jaar Suid Afrika se grootste ekonomiese vennoot was.

Die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het die uitspraak in die Pretoria Hooggeregshof verwelkom waarin Eskom se geldgierige eis van onredelike tariefverhogings van die hand gewys is Eskom se sielkundige pogings het weer nie geslaag nie, en die “eis” vir ’n 17% tariefverhoging van 2020 en ’n soortgelyke verhoging in 2021 is aanvanklik deur Nersa verwerp. Eskom se gierigheid het gelei tot ’n hofbeslissing wat sy onredelike hoë eise verwerp het en Nersa gelyk gegee dat 8% en 5% onderskeidelik voldoende en realisties is.

Bronne: CNN, Die Vryburger & SABC

 

Weer

Temperature vir vandag soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo.

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 20 Max 32

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 16 Max 32

Brits – – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 21 Max 32

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 19 Max 33

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 19 Max 32

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 18 Max 33

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 19 Max 31

Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 16 Max 31

Kimberley – Gedeeltelik bewolk en baie warm met ‘n Min 19 Max 31

Upington – Bewolk en warm met reën plek plek met ‘n Min 22 Max 28

Durban – Gedeeltelik bewolk en baie warm met reënbuie met ‘n Min 22 Max 30

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en warm met motreën met ‘n Min 20 Max 27

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 18 Max 22

Port Elizabeth – Bewolk en warm met reën plek plek met ‘n Min 19 Max 25

Sutherland – Sonnig en warm met ‘n Min 12 Max 28
Windhoek – Bewolk en baie warm met reën met ‘n minimum van 17 en Max 30

Keetmanshoop – Bewolk en baie warm met reënbuie met ‘n Min 19 Max 31

Grootfontein – Bewolk en warm met donderbuie met ‘n Min 18 Max 27

 

Geniet jou Maandag saam met Netradiosa

10:00 – Nuus en Weer saam met Corrie
12:00 – Arlene met Afrikaans bly Groot (met Vakansie)

15:00 Ludwig met heruitsending  van Treffers van Toeka tot nou
19:00 – Meditation with Dr. Tienie Eilers
Luisterskakels vir die Radio:
http://netradio.gq – werk op alles op die internet
web https://netradiosa.co.za/ http://tunein.com/radio/NetRadioSA-s273972/
https://www.liveonlineradio.net/south-afri…/net-radio-sa.htm

http://www.radioonlinelive.com/south-africa/netradiosa/


 

Please follow and like us:

Be the first to comment

Leave a Reply