Potgooi – Nuus & Weer 21 Mei 2020

Alpha Lipid™ Lifeline™ -7067

Potgooi – Nuus & Weer 21 Mei 2020

Weeksdae Aangebied deur Corrie om 10:00(CAT)

 

Luister weer…

 

Kennisgewing

Die Radio raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.

Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.

Die Radio gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda.

Nuus

 

Coronavirus Gevalle wêreldwyd: 5 090 977 Sterftes:  329 757 Herstel: 2 025 878 soos laaste berig einde 20 Mei 2020. SA 18 003 met 339 sterftes en 8 980 herstel uit 506 861 getoets vir die virus

Die aankondiging van die minister dat skole se besture en onderwysers gereed moet wees om op 1 Junie aan te meld by hulle skole, het ’n geskarrel veroorsaak by menige wat gereed moet maak.Minister Motshekga het nadat sy vyf keer die tyd van aankondiging verander het, gesê die skole heropen eers vir Graad 7 en Graad 12 leerlinge. Sy het bygevoeg dat skole wat nie gereed is en die vereiste veiligheidsmaatreëls kan instel om die koronavirus se verspreiding te voorkom by die skole nie, eers moet sorg dat hulle alles gereed het voor dit kan heropen. Skole moet alle klaskamers deeglik behandel met sanitasie middels, en moet die skool daagliks beveilig teen enige moontlike infeksie toestand. Die heropening van skole kom in ’n tyd wat gelyktydig van krag word met die instel van Fase 3 van die inperkings maatreëls. Deskundiges wys daarop dat die maatreëls gebrekkig is aangesien baie skole nie gereed sal wees om die vereistes na te kom nie, wat ’n groot aantal kinders sal benadeel.

Die IVP het die regering se besluit om skole vir leerlinge in graad-7 en graad-12 op 1 Junie te heropen, verwerp. Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het Dinsdag die aankondiging gedoen en gesê die skole sal veilig wees wanneer leerlinge daarheen terugkeer. Die IVP se woordvoerder oor Onderwys, Siphosethu Ngcobo, sê dit sal egter vir die regering moeilik wees om die veiligheidsprotokol na te kom, veral wat sosiale afstand betref, asook die nodige geriewe waar leerlinge hul hande kan was.

Tot hede het die regering geswyg oor die moontlike uitkoms van die koronavirus pandemie in Suid-Afrika. Benewens die finansiële impak wat die land tot ’n tweede Zimbabwe lei, is daar die groter kwelling, dat duisende mense van nou tot November hulle lewens kan verloor. ANC regeringswoordvoerders swyg oor wat kan kom in die maande wat voorlê, maar as gekyk word na die stygende kurwe van infeksies en sterfgevalle, word beraam dat daar teen die einde van November so veel as 40,000 mense kan beswyk aan die aansteeklike koronavirus. Die wintermaande lê en wag, en die vermoë van die gesondheidsdienste is uiters beperk terwyl hospitale nie die toenemende getal infeksie gevalle sal kan akkommodeer nie.

Die Werkloosheid Versekerings Fonds (WVF) het reeds R14 miljard uitbetaal aan werkers wat geraak is deur die koronavirus pandemie. Die WVF is ’n afdeling van die Departement van Arbeid, en sê die Fonds het reeds aan 149,263 werkers uitbetalings gedoen wat by 9,362 werkgewers in diens is. Dit bring glo die totaal tot meer as 2,5 miljoen werkers wat hulp ontvang tydens die inperkings tydperk, en die verwagting is dat baie werkloos gaan bly en steeds gehelp sal word. Vooruitskouings wat gemaak word deur ekonome sê dit is moontlik dat vier tot ses miljoen mense werkloos gaan word en skryf dit toe aan die pandemie, maar ook weens die resessie en die swak ekonomiese stand van die land.

Ekonome voorspel dat die Reserwebank waarskynlik die rentekoers verder kan verlaag wanneer die monetêrebeleidskomitee vandag sy vergadering afsluit. Die bank het verlede maand die repokoers met honderd basispunte verlaag tot vier-komma-twee-vyf persent. Die prima uitleenkoers staan tans op sewe-komma-sewe-vyf persent. Die rentekoers was in 1973 laas ónder die huidige syfer toe dit tot drie-komma-een-vier gedaal het in reaksie op die destydse olieprys.

President Cyril Ramaphosa het gisteraand ‘n groot aantal kerkleiers geraadpleeg oor die regering se voorbereidings om in dele van die land na Vlak Drie van die Covid-19-inperkings af te skaal.  Organisasies wat by die virtuele vergadering ingeskakel het, sluit in die Suid-Afrikaanse Katolieke Biskoppekonferensie, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die Nasionale Intergeloofsraad van Suid-Afrika, die Moslemregsraad en die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes. Ramaphosa het hom vroeër daartoe verbind om raadplegende vergaderings met alle sektore van die samelewing te hou sodat almal insette kan lewer oor die bestuur van die voortgesette stryd teen Covid-19.

Die Departement van Gesondheid het medelye betuig met die families van ‘n vroeggebore baba en ‘n Wes-Kaapse gesondheidswerker, wat onder die jongste sterftes weens Covid-19 is. Die baba was twee dae oud. Die kind se ma het ook positief getoets vir die coronavirus, en herstel in die hospitaal.

Die polisie in Mpumalanga het met ‘n soektog begin na die verdagtes wat ‘n 13-jarige seun in sy ma se huis in Klarinet, Emalahleni, doodgeskiet het.

‘n Gesoekte vermeende transitorower sal vandag in die Nelspruitse landdroshof verskyn nadat hy in Mpumalanga aangekeer is. Die 41-jarige Elvis Press Makhubela is aangekeer nadat die Valke ‘n lasbrief bekom het. Makhubela word verbind met twee transitorooftoge in 2017 en 2018 by onderskeidelik Sabie en Mbombela. Hy is ná die Sabie-transitorooftog in hegtenis geneem, maar is daarna op borgtog vrygelaat. Hy is egter intussen ook met die Mbombela-rooftog verbind, waarvoor die lasbrief bekom is. Sy verhoor vir die Sabie-rooftog is vroeër vir Oktober op die rol geplaas.

Die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Tedros Ghebreyesus, sê dit gaan baie lank duur voordat die coronaviruspandemie verslaan is. Ghebreyesus het gepraat nadat 106-duisend nuwe bevestigde gevalle wêreldwyd in ‘n enkele dag by die WGO aangemeld is. Dit is die grootste daaglikse styging tot dusver. Daar is ook kommer oor die aantal gevalle in ontwikkelende lande. Die direkteur van die WGO se Europese streke, Hans Kluge sê die organisasie is nou meer nodig as ooit. Kluge sê die WGO moet meer befondsing kry en dat almal in solidariteit moet staan om die virus te beveg.

Die Oos-Kaap se departement van Gesondheid het vyf verpleegsters by die Grey-hospitaal in King Williams Town geskors nadat hulle na bewering met die dood van ‘n pasiënt verbind is. Die verpleegsters het skynbaar geweier om die pasiënt te versorg omdat hy vermoedelik Covid-19 onder lede gehad het en hulle glo nie die nodige beskermende toerusting gehad het nie. Die departement sê die verpleegsters is geskors hangende ‘n ondersoek.

Sewe mense is gisteraand by KwaMakutha suid van Durban vermoor. Daar word vermoed dat die moorde met dwelmhandel verbind kan word. ‘n Polisiewoordvoerder, Jay Naicker, wou gisteraand geen besonderhede bekendmaak nie, aangesien die polisie steeds besig was om bewyse in te samel. ‘n Groep gemeenskapslede het buite die huis byeengekom terwyl die polisie op die toneel was.

Meer as dertig mense is in Mosambiek dood gevind na ‘n aanval op ‘n dorpie in die land se noordelike Cabo Delgado-provinsie. Volgens berigte uit die gebied is die mense vermoedelik vroeër die maand vermoor. Die liggame is intussen op ‘n pad gevind. Dit volg te midde van toenemende aanvalle deur terreurgroepe met bande met die Islamitiese Staat-militantegroep. Die IS het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar.

Oorstromings kom in die Amerikaanse staat Michigan voor nadat aanhoudende reën sedert Sondag tot gevolg gehad het dat riviere hul oewers oorstroom. Twee damme se walle het ook intussen gebreek. Amptenare in die staat sê duisende mense is uit die stad Midland na veiligheid geneem nadat rekordreënvalsyfers van sowat 120 millimeter in minder as twee dae daar aangeteken is.

Bronne: Worldometer Coronavirus, Die Vryburger & SABC.Pixabay

 

Weer

Temperature vir vandag soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo.

 

Warmbad – Sonnig met ‘n Min 7 Max 22

Nelspruit – Sonnig met ‘n Min 10 Max 23

Brits – Sonnig met ‘n Min 7 Max 22

Pretoria – Sonnig met ‘n Min 8 Max 21

Johannesburg – Sonnig met ‘n Min 6 Max 19

Vereeniging – Sonnig met ‘n Min 6 Max 21

Rustenburg – Sonnig met ‘n Min 7 Max 22

Bloemfontein – Sonnig met ‘n Min 5 Max 22

Kimberley – Sonnig met ‘n Min 7 Max 24

Upington –     Sonnig met ‘n Min 11 Max 28

Durban – Sonnig met ‘n Min 14 Max 25

Oos-London – Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 17 Max 31

Kaapstad – Bewolk met reën met ‘n Min 12 Max 20

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk met ‘n Min 15 Max 31

Sutherland – Bewolk met ‘n Min 3 Max 22

Windhoek – Sonskyn met ‘n minimum van 3 en Max 24

Keetmanshoop – Sonskyn met ‘n Min 8 Max 29

Grootfontein – Sonnig met ‘n Min 5 Max 25

Geniet jou Donderdag saam Netradiosa

10:00 – Nuus en Weer saam met Corrie

15:00 – Fanie met  Pittige Allegaartjie

19:00 – Meditation with Dr. Tienie Eilers

Luisterskakels

web https://netradiosa.co.za/

http://tunein.com/radio/NetRadioSA-s273972/


 

Please follow and like us:

Be the first to comment

Leave a Reply